Tryna du Toit

Minnaar uit die vreemde


Скачать книгу

motor vol teen die kant tref, en eers ’n hele entjie verder bring sy die motor tot stilstand. Wit geskrik spring sy uit. Die arme donkie lê roerloos langs die pad en die Chev het ’n yslike duik aan die kant gekry. Sonder ’n woord stap die nuwe plaasbestuurder saam met haar terug tot by die donkie. Bloed loop uit die dier se bek en toe Jim Muller aan hom raak, bly hy roerloos lê.

      “Morsdood,” sê hy bondig, en Aletta voel skielik hoe haar maag draai. ’n Oomblik nog veg sy teen die gevoel wat in haar opstoot, en dan, tot haar groot verleentheid, raak sy daar in die pad voor die man hewig naar. Sonder ’n woord gee hy haar ’n skoon wit sakdoek, wat sy dankbaar aanvaar.

      “Ek is jammer,” sê sy toe sy weer kan praat en kyk vlugtig na hom. Sy gesig is streng, die grysblou oë koel, sonder ’n greintjie simpatie. “Dit was ’n ongeluk,” stamel sy, nog nie heeltemal van haar skrik herstel nie.

      “Dit kon ’n veel erger ongeluk gewees het,” sê Jim Muller streng en sy weet waarvan hy praat. Om die motor teen daardie snelheid opsy te ruk, is moeilikheid soek.

      Hy sleep die donkie ’n entjie uit die pad uit.

      “Ons kan nou niks verder doen nie,” sê hy saaklik. “Jy moet maar later bel en uitvind aan wie die donkie behoort.”

      “Dis oom Floors Buitendach se grond – hy het ’n klompie donkies. Ek sal bel.”

      Hulle stap terug na die motor toe. Saam betrag hulle die skade aan die ou Chev, dan maak Jim Muller die linkerdeur oop en sê in dieselfde koel, saaklike stem: “Kom, juffrou. As jy nie omgee nie, sal ek verder bestuur.”

      Sy kyk hom verbaas en half vererg aan. “Ek makeer niks nie. Ek sal self bestuur.”

      Beleef maar beslis sê hy: “Jy is ontsteld; ek dink dit sal beter wees as ek bestuur.”

      Met groeiende ergernis en verbasing gluur sy hom aan. “Jy is besig om ’n berg van ’n molshoop te maak,” sê sy koud.

      Die blougrys oë kyk koel en bedaard terug in hare. Daar is geen teken van versagting in die streng gesig nie, en tot haar eie verbasing klim sy sonder ’n verdere woord in die motor en hy maak die deur toe.

      In ’n gespanne stilte ry hulle verder. Sy is so kwaad en gekrenk dat sy kan huil. Die vermetelheid van die man! Om haar soos ’n stout, onverantwoordelike kind te behandel! Sy moes nooit toegegee het nie!

      Langs haar sê Jim Muller terwyl hulle teen ’n sedige vyf-en-tagtig kilometer per uur ry: “In die toekoms kan jy gerus onthou, juffrou – veral as jy teen honderd-en-twintig kilometer per uur ry – om nooit te probeer uitdraai as daar skielik iets voor jou in die pad verskyn nie. Jy sal net die motor omgooi.”

      “Ek sal onthou, meneer Muller,” sê sy kil. “Dit spyt my as ek jou ontstel het, maar dis verby en jy het gelukkig niks oorgekom nie. Kan ons dit nou maar vergeet?”

      “Ek sal nie weer daarna verwys nie, as dit is wat jy bedoel,” sê hy beleef. “Maar jy sal die eienaar van die donkie en die polisie in kennis moet stel en jy sal seker die duike in die motor wil laat regmaak voor doktor Naudé terugkom. Ek dink die skade is nogal aansienlik.”

      Sy kyk vinnig, vererg na Jim Muller, maar sy oë is stip voor hom op die pad gerig en sy wonder hoeveel die nuwe bestuurder van hulle sake af weet. Sou hy opdrag gekry het om ’n ogie oor Frans Naudé se belange te hou? Hoe langer sy by hom is, hoe minder hou sy van hom. En daardie eerste oomblik op die stasie het sy nogal gedink hulle sal goed oor die weg kom!

      Hoofstuk 2

      Aletta is so verdiep in haar gedagtes dat sy nie opmerk dat hulle by Tiervlei se hek verbyry nie. Eers toe hulle oor die nekkie ’n kilometer verder gaan, van waar hulle bure se huis sigbaar is, skrik sy wakker. Sy maak haar mond oop om vir die man te sê hulle het verbygery, maar besluit dan om niks te sê nie. Waarom sal sy hom reghelp? As hy die motor wil bestuur, kan hy self sy pad vind. Maar onmiddellik daarna besin sy haar. ’n Grap is ’n grap en al is Jim Muller ’n onaangename, vermetele vent, is hy ’n vreemdeling in hulle kontrei. Sulke gedrag is allesbehalwe dié van ’n volwasse en verantwoordelike persoon.

      “Is dít Tiervlei,” vra Jim Muller op daardie oomblik. Sy stem klink onseker.

      “Tiervlei?” Sy glimlag geamuseerd, maar haar hart klop in haar keel. “Jy is lankal by Tiervlei se hek verby. Tiervlei lê ’n goeie drie kilometer terug in die pad waarlangs ons gekom het.”

      Jim Muller bring die motor tot stilstand. Dan kyk hy ’n lang oomblik na haar. Die uitdrukking in die grysblou oë laat haar vreemd ongemaklik voel en dis sy wat eerste verleë wegkyk.

      “Was dit nie ’n bietjie kinderagtig nie, juffrou?” vra hy en iets in sy stem laat haar weer vinnig opkyk. Daar is ’n sweem van ’n glimlaggie om sy mond, ’n glinstering diep agter in sy oë.

      Die nuwe bestuurder het, dankie tog, ’n sin vir humor.

      “Dit lyk kinderagtig, maar dit was darem nie opsetlik nie,” sê sy. “Ek … ek het nie na die pad opgelet nie. Ek vra om verskoning.”

      Sonder om te antwoord, draai hy die motor om en ry terug in die rigting van waar hulle gekom het. Toe sy ’n rukkie later waag om versigtig na hom te loer, is die glimlaggie nog om sy mondhoeke.

      Tuis het Betsie en Susan al onrustig vir haar gewag.

      “Waar het jy so lank gebly?” vra Betsie wat hulle tegemoetkom. “Ons het al begin dink jy het verongeluk.”

      “Die trein was byna twee uur laat en ons het oponthoud op die pad gehad. ’n Donkie het in die motor vasgehardloop.” Sy is bewus van die man wat langs haar staan en die herinnering aan alles wat gebeur het, aan die tyd wat hulle verkwis het deur tot by Welgenoeg te ry, laat ’n ligte kleur op haar wange uitslaan. Sy besef nou eers regtig hoe kinderagtig haar gedrag was. Saaklik vervolg sy: “Dis meneer Jim Muller, Betsie, en dit is my suster, meneer Muller.”

      Susan, haar hare suiwer goud in die helder oggendson, aangetrek vir tennis in ’n kort wit broekie en moulose hempie wat haar mooi kurwes beklemtoon, kom na hulle toe aangestap. “En dit is Susan, my ander suster.”

      Jim Muller groet die twee meisies beleef. Aletta sien die belangstelling in sy gesig en oë, en voel skielik oud en verlep langs haar twee jonger susters.

      “Sal jy meneer Muller rondawel toe neem, Betsie?” sê sy. “Ons eet seker so oor ’n halfuur, meneer Muller.”

      Die nuwe plaasbestuurder en Betsie stap saam na die rondawel langs die huis, net anderkant die blomtuin.

      “Die man lyk nie onaardig nie,” sê Susan. “Op sosiale gebied seker nie ’n groot aanwins vir die dorp nie, maar ek glo nie jy sal moeilikheid met hom hê nie.”

      “Ek sal dit liewer nie nou al waag om ’n mening uit te spreek nie,” sê Aletta lakoniek. “Ekskuus, ek wil gou vir oom Floors Buitendach gaan bel en vra of dit sy donkie is wat ek doodgery het.”

      Dit wás oom Floors se donkie en hy was – soos sy verwag het – erg omgekrap.

      “Jy het natuurlik soos gewoonlik te vinnig gery. Jy is vir almal ’n gevaar op die pad, Aletta,” raas hy ergerlik.

      Sy vra om verskoning, maar wys hom daarop dat die donkie die gevaar op die pad was: dit is ’n bestiering dat net hulle motor beskadig is, dat sy en die nuwe plaasbestuurder nie verongeluk het nie.

      Brom-brom aanvaar hy haar verskoning en met ’n gevoel van verligting sit Aletta die telefoon neer.

      As dit nie vir die nuwe plaasbestuurder was nie, kón dit ’n lelike ongeluk gewees het!

      Die middag is hulle na Welgenoeg. Hulle het Jim Muller beleefdheidshalwe genooi om saam te gaan en met die bure kennis te maak, maar hy het die uitnodiging bedank. Hy speel nie tennis nie en sal homself op die plaas besig hou. Aangesien hulle vir aandete ook genooi is, het Aletta vir die huishulp gesê om vir hom kos te maak, en toe hulle terugkom, was die rondawel reeds donker.

      “’n Regte ou plaasjapie,”