Tryna du Toit

Minnaar uit die vreemde


Скачать книгу

het, het Aletta weer iets van die ou sprankel in haar suster opgemerk.

      Ná haar stiefpa se dood het Susan begin planne maak om terug stad toe te gaan. Sy wou ’n model word, maar Aletta het haar gevra om tot die einde van die jaar op Tiervlei te bly, sodat hulle drie saam stad toe kon gaan. Tot haar verbasing het Susan ná ’n bietjie teëstribbeling ingewillig.

      Miskien was sy self bly oor die paar maande grasie, het Aletta gedink. Dit sal moed kos om terug te gaan stad toe waar sy weer al haar ou vriende sal sien en Anton en sy nuwe vrou dalk ook sal raakloop.

      Susan het intussen werk gekry by ’n bougenootskap in die dorp, maar sy was dikwels rusteloos en buierig en Aletta het gewonder wat die toekoms vir haar mooi jong suster inhou.

      Betsie was van jongs af ’n dromerige, teruggetrokke kind en ’n mens het nie altyd geweet wat in haar gedagtes omgaan nie. Sy is mooi, met haar rooibruin hare, sagte bruin oë en romerige vel, maar sy is begaafd ook, en het dit as vanselfsprekend aanvaar dat sy die volgende jaar universiteit toe sal gaan. En hoewel Aletta enigiets sou doen om Betsie te help, het sy werklik nie geweet waar die geld vandaan sou kom nie.

      Behalwe Susan en Betsie, moet sy ook aan haarself en haar eie toekoms dink. Sy wil natuurlik weer skoolhou, maar hoewel sy reeds maande vantevore om ’n pos in Pretoria aansoek gedoen het, het sy nog niks van die departement gehoor nie.

      Sy is ook bewus van Gawie Pretorius se toenemende belangstelling. As Gawie haar sou vra om met hom te trou, wat sal haar antwoord wees? Sy weet nie. Tyd genoeg om aan haar eie sake te dink as Frans Naudé terug is, besluit sy.

      By die stasie hoor sy dat die trein ’n verdere tien minute vertraag is. Sy gaan op een van die harde spoorwegbankies sit en haal Frans Naudé se brief uit haar sak. Sy is gretig om te sien wat hy skryf. In die maande wat verby is, het ’n interessante briefwisseling tussen hulle ontstaan. Ná die inhoud van haar stiefpa se testament bekend geword het, het Aletta aan Frans geskryf om hom meer besonderhede van sy oom se siekte en dood te gee. Hy het dadelik geantwoord en gevra dat sy hom meer van sy oom, Tiervlei en haarself en haar susters moet vertel. Sy was eensaam, daar was allerhande probleme wat sy graag met hom wou bespreek, en sy het gou teruggeskryf. Sy het hom van die boerdery vertel, van haar probleme met die plaasbestuurder en van die droogte. Geleidelik het die briewe meer persoonlik geword en het sy hom ook van haarself en haar susters vertel.

      Op sy beurt het Frans haar vertel van die lewe in die Amerikaanse stad waar hy navorsing doen, van sy werk, sy reise en die mense wat hy ontmoet. Hy het interessant en prikkelend geskryf en later het sy gretig begin uitsien na die blou lugposbriewe. Frans is nou dikwels in haar gedagtes, en die vooruitsig dat sy hom binnekort persoonlik sal ontmoet, maak haar vreemd opgewonde. Dat die werklikheid moontlik hemelsbreed gaan verskil van die man om wie sy allerhande drome weef, besef sy goed, maar tot tyd en wyl hy kom, sal sy maar ’n bietjie droom.

      Toe hulle ’n aanbod vir Tiervlei kry, het sy aan hom geskryf dat sy en haar susters gretig is om te verkoop en dat Gawie Pretorius dink dis ’n baie goeie aanbod. Sy was diep teleurgesteld toe hy weier – dit sou so ’n wonderlike oplossing vir hulle probleme gewees het. Sy het weer geskryf en Gawie het ook geskryf, maar Frans wou na geen argumente luister nie.

      Skielik haastig om te sien wat hy skryf, maak Aletta die getikte brief oop en lees:

      Liewe nig Aletta

      Dankie vir jou brief. Ek het al begin dink jy is kwaad vir my, dat jy glad nie meer gaan skryf nie!

      Jou briewe het die afgelope maande baie vir my beteken, nig! Ek verlang huis toe – drie jaar is lank om van jou land en jou mense weg te wees – en jou briewe was ’n riem onder die hart. Jy is verniet bang: Ek verseker jou ek sal nie ’n dag langer hier bly as wat nodig is nie.

      Ek is jammer jy en jou susters is teleurgesteld omdat ek nie wil toestem dat julle Tiervlei verkoop nie. Wat is die haas? Ja, ek weet jy sê jy het die geld nodig – vir Betsie se universiteit, om vir jou en Susan ’n woonstel in die stad te huur, maar ons het tog ooreengekom dat julle tot die einde van die jaar op Tiervlei bly, dus kan daardie dinge ’n bietjie wag. En ek het tog gesê dat as jy geld nodig het, jy ’n voorskot by die prokureur kan kry. Ek hoop jy het dit gedoen.

      Wees dus maar nog ’n klein bietjie geduldig. Sodra ek klaar is, kom ek huis toe en ek belowe jou, ek gaan net my ma groet, dan kom ek direk Tiervlei toe. Dan kan ons saam besluit of ons die grond wil verkoop of nie.

      Ek is jammer oor al die moeite wat jy met die plaasbestuurder gehad het, om van die skade nie te praat nie. Maar jy is gelukkig nou van hom ontslae en die nuwe bestuurder sal binnekort daar wees. Ek hoop hy is meer bevredigend.

      Hier in Amerika is dit herfs. Dis ’n wonderlike belewenis, die herfstyd hier. Die bome en bosse is ’n vlam van kleure. Jy moet self eendag kom kyk hoe mooi dit is.

      En by julle bly dit droog en warm en alles is vaal en verskroei. En as dit nie reën nie, kan julle nie ploeg nie en sal daar geen oes wees nie. Arme nig Aletta! Jy moet al die verantwoordelikheid dra, terwyl ek hier in die vreemde rondrinkink! (Jou fyn skimpe het my nie verbygegaan nie, soos jy sal opmerk, nig Aletta!) Toe maar, ek is een van die dae tuis, dan is jy van al die ergernis ontslae. Sterkte tot dan! Groete ook aan jou susters, en pas jou op.

      Onderaan is sy naam geteken, skaars leesbaar: Frans Naudé.

      Daar is ’n glimlaggie om haar mond toe sy die brief opvou en weer in die koevert steek.

      Skielik hoor sy die hees gefluit van die trein, en ’n paar oomblikke later stoom dit rammelend die stasie binne. Aletta staan eenkant en wag, om te kyk wie almal afklim. Sy het die man egter dadelik raakgesien: ’n lang, skralerige man van omtrent dertig, netjies maar onopsigtelik aangetrek in ’n grys broek en grys sportbaadjie. Sy stap na hom toe.

      “Goeiemôre,” groet sy saaklik. “Is jy miskien Jim Muller?”

      Die man kyk haar ’n oomblik ondersoekend aan, dan knik hy. ’n Valerige man, dink sy, maar sy blougrys oë is helder en vol belangstelling. Hy lyk soos ’n man op wie sy kan staatmaak.

      “Ek is juffrou Vosloo,” sê sy en hou haar hand uit. “Aletta Vosloo.”

      “Aangename kennis, juffrou Vosloo,” sê hy net so saaklik soos sy. Jim Muller se handdruk is ferm en versterk haar eerste gunstige indrukke. Die nuwe bestuurder lyk soos ’n ordentlike man en haar hart voel heelwat ligter.

      “Is dit al jou bagasie?” vra sy effens verbaas, terwyl sy kyk na die enkele koffer en verbleikte reënjas wat hy oor sy arm het. Vir ’n man wat gekom het om te bly, reis hy darem baie lig.

      “Dis al, juffrou.” Indien hy bewus is van haar verbasing, laat hy dit nie blyk nie. “Ek is jammer die trein is so laat. Ek hoop nie jy is verontrief nie.”

      “Ek het heelwat op die dorp te doen gehad en kon my sake intussen klaarmaak. Nou kan ons dadelik plaas toe gaan.”

      ’n Paar minute later lê die dorp agter hulle. Aletta ry vinnig, want sy is haastig. Hulle is genooi om die middag op Welgenoeg, een van die buurplase, te gaan tennis speel.

      Terwyl hulle ry, vra sy Jim Muller uit oor sy vorige pos en die tipe werk wat hy gedoen het.

      “Ek het eintlik ervaring van sitrus- en beesboerdery,” sê hy. “Van mielies, sonneblom, grondboontjies en die ander dinge wat julle in hierdie wêreld kweek, weet ek maar min. Om die waarheid te sê, ek het eintlik maar net hierheen gekom om meneer Brand-hulle uit te help tot tyd en wyl hulle ’n geskikter persoon kry. As ek hou van die werk, besluit ek miskien om langer aan te bly, maar soos sake nou staan, duur ons kontrak net tot die einde van Desember.”

      “Ek sien,” sê sy. Die mense kon haar darem laat weet het wat hulle planne is, dink sy wrewelig. Sy hoop aan die een kant Jim Muller hou nie van die werk nie en hulle sit een van die dae weer sonder ’n bestuurder. Dit sal Frans Naudé miskien tot ander insigte dwing.

      Sy sien Jim Muller leun effens vorentoe en kyk na die snelheidsmeter, en sy sien dat sy meer as honderd-en-twintig kilometer per uur ry. Sy wil net haar voet van die petrolpedaal afhaal – die nuwe plaasbestuurder is blykbaar ongerus – toe ’n donkie onverwags