het nog nie geantwoord nie, net bly staar … en toe eindelik haar kop gedraai, Mignon vas in die oë gekyk.
“Ek het vandag uitgevind ek is ’n aangenome kind.”
Mignon het haar aangegaap. “Jy … speel.”
“Ek sal nie met so iets speel nie.”
“Maar … hoe … jou inligting moet verkeerd wees. Eugenie … dis tog nie moontlik nie! Jy …”
Eugenie het stil geluister totdat haar vriendin se stem onbeholpe weggesterf het. Toe het sy op daardie vreemde stemtoon verduidelik: “Mense behoort tot verskillende bloedgroepe. Nou, twee ouers wat tot die A-groep behoort, kan nie ’n kind hê wat tot die B-groep behoort nie. My ma en pa, weet ek toevallig, is albei van die A-groep. Ek val onder die B-groep.”
“Maar … maar, Eugenie … êrens is daar ’n fout …”
“Daar is nie ’n fout nie, Mignon. Ek stel bloot ’n mediese feit. Ek kan nie my ouers se eie kind wees nie. Dis al.”
Maar dis nie al nie. Sedert daardie oomblik het dit veel verder uitgekring as ’n mediese feit wat in ’n laboratorium vasgestel is. Dit het veel dieper gegaan as die bloedstroom. Dit het die harte van mense ook aangetas, diep afgesak in die donker gange van hul emosies. Vergeefs het Mignon na strooihalmpies gegryp, wat net verwerp is deur haar koelkopmaat, die mediese student.
“Ek wéét my ouers behoort albei tot die A-groep, Mignon. En ek behoort tot die B-groep. Geen nuwe toetse sal iets daaraan verander nie.”
’n Dag later het sy haar vriendin sien wegry van die dameskoshuis af. Intuïtief het Mignon geweet dat sy nie dié naweek na haar eie ouerhuis moet gaan nie. Sy moet in die koshuis bly, Eugenie sou nie die hele naweek weg wees nie, en wanneer sy terugkom, moes daar iemand wees om haar die skok te help verwerk. Mignon het self goeie maniere oorboord gegooi en gesê sy wil saam met Eugenie huis toe gaan. Maar Eugenie het geweier.
“Nie hierdie naweek nie, Mignon. Jammer …”
“Wat gaan jy doen? Eugenie, moenie oorhaastig …” Maar haar vriendin het haar nie eens gehoor nie, en met diepe kommer het Mignon Eugenie se motortjie agterna gestaar. Sy het vir die soveelste keer haar kop in ongeloof geskud. Dit kan nie waar wees nie! Sy ken Eugenie se ouers van skooldae af, weet hoe lief oom Adolf en tannie Marie vir hierdie enigste kind van hulle is … en sy weet hoe innig lief haar vriendin hulle het. En nou …
Sy was nog wakker toe die kamerdeur daardie selfde aand oopgaan en ’n sfinksagtige Eugenie met haar oornagtassie in haar hand binnestap. Sy het uit die bed opgespring en wou haar arms om haar maat slaan, maar Eugenie was koud en afsydig.
“Eugenie, wat … wat het gebeur?”
“Ek het hulle gekonfronteer met die mediese feite en hulle moes die waarheid erken.”
“Die waarheid?”
“Ja. Dat ek ’n aangenome kind is.”
Die vreemde, doodse kalmte wat die skok aanvanklik veroorsaak het, het nie lank geduur nie. Die opstand en verbittering het ná ’n dag soos ’n seer oopgebreek en na buite gebars. Mignon het alles aangehoor, alles aanskou. Al haar simpatie het by haar vriendin gelê. Sy kon haar so goed in Eugenie se gemoed indink. As sý vandag moes uitvind dat sy nie haar ouers se eie kind is nie … Dis ’n ondenkbare gedagte, iets wat sy nooit sal kan verwerk nie. Magteloos moes sy aanskou hoe Eugenie al meer verstrik raak in die onsekerheid – ’n skaduwee van haar ou self.
Sy het haar vriendin aangehaal toe sy daardie wrede woorde teenoor haar moeder gebruik het. Waar kom sy vandaan? Wie en wat was die man wat haar verwek het … wie en wat die vrou wat haar gebaar het? En in watter omstandighede is die groot onreg gepleeg?
Eugenie se verslae ouers kon die vreemde, skielik vyandige meisie nie gemoedsvrede gee nie, al sou hulle hul bloed tap om dit te kon doen. Sy moes hoor dat geen besonderhede twintig jaar gelede verstrek is nie. Hulle kon ’n storie versin, ja, maar hulle het Eugenie al twintig jaar geken. Hulle het geweet wat dit is wat van haar so ’n goeie student maak – dat sy iemand is wat dinge naspeur en op bewyse aandring.
Hulle kon maar net hartseer bid dat hul dogter sou aanvaar wat hulle haar vertel – dat ’n mens twintig jaar gelede jou naam op ’n waglys geplaas het en dat jy jou nuwe baba gaan haal het wanneer jou beurt gekom het; dat geen vrae gestel is nie. Van jou kant moes jy wel bewys dat jy vir ’n kind kan sorg, maar die welsynsorganisasie het geen inligting verstrek nie. Hulle kon voorwaar net bid dat hul dogter nie sou probeer delf in twintig jaar gelede se aannemings nie, want hulle het geweet dat daar dan ’n baie erger skok op haar sou wag.
Maar meer as net die vrae oor wie en wat, was die ontstellende feite wat die jong mediese student nou met byna fanatiese ywer in die mediese boeke begin naslaan het. Die erfenis wat die bloedstroom in hom kan dra, was ’n lang lys van grusaamhede wat sy voor haar kamermaat oopgespalk het. En wat Mignon, die kunsstudent, nie ten volle begryp het nie, het Eugenie in die fynste besonderhede aan haar oorgedra, totdat sy later bewend en in trane uitgeroep het: “Hou op! Hou op! Ek wil niks meer hoor nie!”
Haar vriendin het die lysie opgestel, opgevou, toe weggedraai, en Mignon het gesluk aan haar trane. “O, Eugenie, jy is pragtig en gesond. Hoe kan jy vir een oomblik dink dat hierdie verskriklike goed … of van hulle … selfs net één van hulle in jou is?”
Die koel stem het geantwoord, onweerlegbaar. “Dis nie goed wat met die blote oog gesien kan word nie. Dis in die bloed. Ek kan dit op my nageslag oordra.” Dit was ’n oomblik stil. Toe: “Ek kan nooit trou nie.”
“O, Eugenie!”
Die oë wat in Mignon se betraande oë teruggekyk het, was byna emosieloos. “Daar is genoeg gesondig. Ek gaan nie ook nog teen ’n onskuldige kind sondig nie.” Mignon se hart kon breek. “Is dit hoekom … hoekom jy skielik niks meer met Jan van Zyl te doen wil hê nie?”
“Ja. Enige vriendskappe met die teenoorgestelde geslag is taboe.”
Mignon wou dit nie aanvaar nie. “Maar vriendskappe … Jy hoef mos nie te trou nie …”
“In hemelsnaam, Mignon, gebruik jou verstand!” Die stem was driftig. “Vriendskappe kan lei tot diepere gevoelens, en vir my is dit fataal om ’n dieper gevoel vir enige man te ontwikkel. Dus, geen vriendskappe nie.”
Dit was kommer en hartseer wat Mignon amper kwaad laat sê het: “’n Huwelik is nie uit nie. As jy dan só sterk daaroor voel, kan jy sorg dat jy nie kinders het nie, dis al.”
Maar Eugenie se antwoord was weer nugter en beredeneerd: “Elke man wil graag ’n kind hê … een van sy eie.”
“As hy jou lief genoeg het …”
“Aan die begin sal hy sê dit maak nie saak nie. Later … later sal die verwyte kom … en al verwyt hy ook nie openlik nie, sal jy weet …”
Mignon het gevoel soos iemand wat teen ’n klipmuur vasgeloop het. Sy het maar liewer die gesprek in ’n ander rigting probeer stuur. “Gaan jy hierdie naweek huis toe?”
“Nee.”
“Dan kom jy saam met my. Ag toe, Eugenie. Jy was lank laas saam met my vir ’n naweek.”
Die daaropvolgende twee naweke is Eugenie ook saam met Mignon huis toe, en nou sal dit al die vierde naweek wees dat Eugenie nie na haar eie huis toe gaan nie, maar saam met haar vriendin. Mignon was te bang om daaroor met haar te praat. Liewer haar saamnooi as dat Eugenie naweke alleen in die dameskoshuis agterbly. Haar vriendin se ouers het al ’n paar keer gebel, en elke keer het Eugenie geweier om met hulle te praat. Een keer het hulle koshuis toe gekom, maar dit was ’n baie kort besoek. Eugenie kon nie baie tyd aan hulle afstaan nie. Wat daar gepraat is, weet Mignon nie en sy wou nie vra nie. Sy het net deur hul kamervenster gesien hoe tannie Marie snikkend deur oom Adolf na hul motor gelei is. Sy het gesien dat hy ook eers vinnig ’n traan afvee voordat hy agter die stuurwiel inskuif. Eugenie se gesig was heeltemal onleesbaar toe sy die kamer ’n paar oomblikke later binnekom.
Mignon