wig tussen haar en die res van die gesin in te dryf. Mignon besef dat dit die rede vir die ontwrigting in die gesinsband is, maar hoewel dit haar diep seermaak en ontstel, kan sy nie haar rug op haar vriendin draai nie. Die feit dat haar intense meegevoel met Eugenie die ander drie gesinslede duidelik begin irriteer, versterk net haar lojaliteit teenoor haar vriendin.
Mignon kyk die ouer vrou onseker aan. Sy het ’n geweldige agting vir Lorna Verbeuk. Sy is deur en deur ’n dame. Sy is ook ’n gevoelsmens. Sy sal verstaan, daarvan is Mignon oortuig.
“Mevrou, het u nie miskien die naweek tyd om by ons te kom eet nie, asseblief?”
Ook Lorna aarsel ’n oomblik. Intuïtief weet sy dat dit nie sommer net ’n gewone uitnodiging vir ete is dié nie. Daar skuil iets agter … Maar dan glimlag sy.
“Dankie, Mignon. Hoor by jou ma wanneer dit haar sal pas en bel my. Ek is die hele naweek beskikbaar.”
Mignon stap ’n rukkie later onseker na die telefoon om haar ma te bel. In die verlede sou sy dit net gedoen het ter wille van goeie maniere, wetende dat enige gas wat sy vir ete huis toe wil bring, altyd welkom sal wees. Maar sy sou amper nie hierdie naweek huis toe gegaan het nie.
Haar pa het haar teen die einde van verlede naweek na sy studeerkamer ontbied. Sy gesig was ernstig, vreemd geslote.
“Mignon, ek weet jy voel baie jammer vir Eugenie. Ons is almal jammer vir haar. Maar dis nou die vierde agtereenvolgende naweek dat sy hierheen kom en nie na haar eie huis toe gaan nie. Sy kom nie aanstaande naweek weer saam met jou nie.”
Sy kon haar ore nie glo nie. “Is sy dan onwelkom hier, Pa?”
Fred se hartspiere het saamgetrek. Hy was nog nooit iets anders as ou Papsie vir haar nie. Vandag is dit kortaf “Pa”. Maar hy het geweet dat hy nou streng sal moet optree, hoe seer dit sy dogter en homself ook al maak. Dinge het reeds te ver gegaan.
“Jy weet sy is welkom, maar Eugenie het ouers en ’n ouerhuis van haar eie.” Hy het haar kans gegee om hom hierop terug te antwoord, maar Mignon het hom net aangekyk en toe gesê: “Goed, Pa. Sy sal nie kom nie.”
Vrydagoggend het sy huis toe gebel, natuurlik net haar ma tuis gekry en gesê sy kom nie die naweek huis toe nie. Anita se hart het in haar omgeslaan. Sy en haar man het so iets verwag. Sy het die gehoorbuis vasgeklem, oënskynlik kalm gevra: “Wat het jy hierdie naweek aan die gang, my meisie?”
Mignon het haar oë ’n oomblik gesluit. Sy kon ’n lang kluitjie vertel, maar sy is nie gewoond om vir haar ouers te jok nie. Haar antwoord was reguit: “Pa wil nie hê Eugenie moet weer hierdie naweek saam met my huis toe kom nie. Sy bly hier en ek … ek wil haar nie hier alleen laat nie. Nou bly ek maar by haar.”
“My kind …”
“Jammer, Mamsie, maar ek is nie ’n mooiweersvriendin nie. Eugenie gaan deur ’n moeilike tyd. Sy het my nou nodig.”
Anita kon net die telefoon neersit. Ja, dit is so. Mignon is seker die lojaalste mens wat sy ken. Sy is beslis nie ’n mooiweersvriendin nie. Maar hierdie mooi eienskap maak dinge juis moeilik … baie moeilik …
Fred Preller wou nie aan homself erken, toe hy ’n rukkie later die dameskoshuis se nommer skakel, dat dit vrees en nie gramskap was wat hom Mignon laat bel het nie. In sy beste bankbestuurderstem, soos sy dogter daarna verwys, het hy net kortaf gesê: “Jou ma sê my jy het gebel om te sê jy kom nie hierdie naweek huis toe nie. Jy sorg dat jy vanaand, soos elke ander Vrydagaand, by die huis is, Mignon – alleen.”
In haar hart weet Mignon dat dit nog ’n rede is hoekom sy haar dosent vanaand vir ete huis toe wil neem. Haar pa se stemtoon het haar vertel dat daar vanaand in die Preller-huis gepraat gaan word en dit wil sy tot elke prys vermy. Sy ken nie rusies in haar ouerhuis nie. Nie dat hulle nooit verskil nie. Daarvoor het elkeen sy eie siening van sake. Maar hulle kon nog altyd in kalmte en liefde met mekaar verskil sonder dat daar ooit kwetsende dinge gesê word. Maar sy is nie so seker van vanaand nie. As sy en haar ouers mekaar vanaand moet konfronteer, weet sy gaan daar dinge gesê word wat liewer moes gebly het. Sy besef dis maar net uitstel en nie afstel nie, maar terwyl sy met haar ma oor die telefoon praat, kry sy ’n plan wat miskien die eerste rusie in die Preller-huis vir die hele naweek kan afweer.
Anita is maar te verlig om te hoor haar dogter kom wel huis toe. Sy stem onmiddellik in toe sy hoor dat Mignon graag haar dosent vir ete wil nooi.
“Mevrou Verbeuk het gesê enige tyd oor die naweek wat Mamsie pas, sal haar ook pas.”
“Enige tyd pas my, skat. Besluit julle twee maar en laat my net weet dat ek iets spesiaals kan maak.”
“Ek het gedink vanaand, maar … dit sal miskien laat word en dan moet sy alleen terugry woonstel toe. Sy hét gesê die hele naweek pas haar … Mag ek haar nie maar vra om die naweek by ons oor te bly nie?”
Anita aarsel effens. Sy weet wat haar dogter beoog. ’n Vreemdeling in die huis sal die byna onafwendbare woordewisseling tussen pa en dogter uitstel. Sy weet haar man sou liewer dit wou afhandel, maar sy besluit om haar aan haar dogter se kant te skaar.
“Natuurlik, my skat. Gee haar telefoonnommer vir my, dan bel ek haar self en nooi haar sommer vir die hele naweek.”
Toe Lorna Verbeuk haar naweektassie pak, is sy vol bedenkinge oor die komende naweek. Maar Mignon se ma het haar onverhoeds betrap en sy kon aan geen oortuigende rede dink om nie die gulle uitnodiging te aanvaar nie.
Toe sy haar tassie toeknip, draai sy terug en kyk lank na die foto wat op haar spieëltafel staan. Dan tel sy dit op, trek die boonste laai oop en sit dit daarin. Miskien is dit beter as dit ’n tyd lank nie op die spieëltafel staan vir enigeen om te sien wat miskien by haar kamer kan instap nie. Sy gaan eers hierdie naweek die Prellers deurkyk. Ná hierdie naweek sal sy weet … Maar of dit goed is om sekerheid te vind, weet sy nie so mooi nie.
Fred Preller se gesig wys nie dat hy sou verkies het dat daar nie hierdie naweek ’n gas aan huis is toe Mignon met haar dosent die sitkamer binnestap. Haar ouers se verwelkoming is gul en Mignon sug verlig. Haar hart word ’n bietjie ligter. Dit was swaar om Eugenie alleen in die koshuis agter te laat. Wat sy egter nie geweet het nie, was dat haar pa ook intussen die Bothmas gebel het.
“Eugenie is nog onmondig, Adolf. Ek glo jy moet jou gesag laat geld en haar eenvoudig dwing om huis toe te kom. Ja, ek weet dit sal nie lekker wees nie, maar sy is jul dogter. Sy was dit twintig jaar lank en is dit nog, of sy dit wil weet of nie. Dit kan nie so voortgaan nie. Gaan haal haar en bring haar die naweek huis toe en praat kaalkop. Ek het Mignon verbied om haar weer na ons te bring alvorens sy nie eers weer by haar ouerhuis was nie. Jammer, vriend, dat ek en Anita nog nie by julle was nie. Ons sal so gou moontlik probeer om daar uit te kom, maar julle weet julle is ook altyd welkom by ons. Ons wil nie indring nie, want ons weet dis ’n baie teer saak by julle, maar as ons kan help, weet jy ons sal dit met graagte doen. Eugenie is ’n te oulike dogter om op so ’n manier te verloor. Sterkte, Adolf, en groete vir Marie.”
Dis ’n vreemde, onbekende Adolf Bothma wat Eugenie op hierdie oomblik voor haar in die koshuis se sitkamer sien staan. Nie alleen is sy hele houding en optrede anders as normaalweg nie, maar hy lyk ook anders – ouer en gryser met nuwe, diep kepe op die voorkop en om die oë en mond.
“Ek het jou kom haal.”
“Waarheen?”
“Waarheen anders as huis toe? Gaan pak in. Ek wag.”
“Ek gaan nie …”
“Ja, jy gaan. Ek sê so. Jy kom hierdie naweek huis toe – na die plek waar jy twintig jaar lank onderdak en versorging en liefde gekry het. Dit was twintig jaar goed genoeg, dis hierdie naweek ook goed genoeg vir jou.”
“Dis nie wat ek …”
“Dis die indruk wat jy by ons laat, Eugenie. Dat ons nou nie meer goed genoeg vir jou is nie.”
Haar oë rek in ontsetting. “Pa … e … julle weet dis nie hoekom ek nie wil … huis toe kom nie.”
“Ons kan al jou redes