Sy het egter ook geweet dat die feite haar ouers sou ontstel, want Eugenie was amper soos ’n tweede dogter in hul huis. Hul vriendskap met die Bothmas kom al uit die tyd toe die twee meisies op hoërskool maats geword het. Hulle het nooit intieme huisvriende geword nie, maar dit was hoofsaaklik omdat die twee pare in teenoorgestelde rigtings buite die stad gebly het, sodat persoonlike kontak min was.
Mignon sou op hierdie oomblik toe sy terugry universiteit toe nooit kon raai hoe groot haar ouers se ontsteltenis wel is nie.
Steve tref sy ouers stilswyend in die sitkamer aan toe hy tuis kom. Met die eerste oogopslag is dit vir hom duidelik dat iets gebeur het. Sy ma se oë is rooi gehuil en sy pa se gesig het ’n bekommerde uitdrukking.
Hy luister in stilte en hy kan begryp hoekom sy ouers bekommerd voel. “Ek sal met Mignon praat.”
Fred lyk openlik verlig. “Ek sal dankbaar wees, seun. Ek dink nie enigiets wat ek nou sê, sal indruk maak nie. Sy sal net dink ek probeer Eugenie se ouers beskerm en hul optrede goedpraat.”
“Ja. Soos dit vir my klink, is dié twee meisies albei ’n bietjie van balans geruk, en het hulle perspektief verloor. Ek sal liewer nie met Eugenie praat nie. Miskien sal sy nie van die idee hou dat Mignon haar groot geheim aan ander uitgeblaker het nie, hoewel sy tog seker sal besef dat ons die een of ander tyd daarvan sou hoor. Maar ek sal Mignon onder hande neem.”
Anita vee weer die trane af. “Haar houding ontstel my natuurlik die meeste, Steve. Eugenie beïnvloed haar baie en sy ondersteun haar kamermaat se houding en alles wat sy sê in hierdie saak.”
Steve verteder. “Kom nou, Mams. Moet asseblief nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie.”
“Daar ís ’n bobbejaan agter die bult.” Die ouer vrou se oë is baie stil.
“Wat daar sal bly. Daar is hoegenaamd geen rede om nou sommer aan te neem dáárdie bobbejaan gaan ook oor die bult kom nie. Bly net asseblief kalm.”
Anita knik en probeer merkbaar om haar reg te ruk. “Maar jy sal met haar praat? Jy is al een na wie sy sal luister.”
“Ek belowe ek sal. Hierdie naweek nog.”
Die ouers is albei baie verlig, maar toe Steve voor sy kamervenster gaan staan, is sy gesig bekommerd.
Hoewel alles oënskynlik baie normaal is toe die twee meisies daardie Vrydagaand die huis binnestap, is almal intens bewus van die onderliggende spanning wat heers. Nietemin speel elkeen sy rol, word daar selfs gesels en geskerts, asof niemand se gedagtes met iets anders besig is nie. Soos altyd is Mignon bly om haar ouboet te sien toe hy later die huis binnestap. Met susterlike spontaneïteit gooi sy haar arms om hom en druk hom teen haar vas. Wyslik laat Steve nie blyk dat hy dié ongewoon warm verwelkoming vreemd vind nie.
Sedert hierdie ding met haar vriendin gebeur het, het haar ouers en ouboet vir haar nog dierbaarder as ooit tevore geword. Hoe wonderlik is dit om tuis te kom en te weet dat hulle wat jy teen jou hart druk, werklik joune is. Dit kon so anders gewees het … soos in Eugenie se geval. ’n Oomblik probeer sy haar indink in haar vriendin se situasie, en haar arms om Steve se nek klem ’n bietjie stywer vas. Veronderstel sy moes vanaand by die huis gekom en geweet het sy is nie regtig een van hulle nie, nie regtig eie nie, maar iemand wat uit ’n onbekende oord gekom het en deur die ontferming van vreemdes vanaand ’n dak oor haar kop het.
“Toe nou, jy is besig om die asem uit my te wurg. Is jou geldelike nood só hoog dat jy my omtrent wil vermoor?”
“Nou darem nie só erg nie, maar jy sal mos jou ou kleinsus ’n bietjie help, sal jy nie, boetie?” terg sy saam.
Fred sê betigtigend: “Hy doen dit nie. Jy kry genoeg sakgeld. Regtig, Mignon, jy moet begin leer om met geld te werk.”
Sy lag en hierdie keer is dit haar pa wat ’n wurggreep om sy nek kry. “O, Papsie, jou ou groot ekonoom en bankbestuurder! Papsie begroot net vir die noodsaaklike, en ’n universiteitsdametjie het so baie ou ekstratjies ook nodig. My ouboetie help my maar altyd daarmee.”
“Hy bederf jou tot in die afgrond en sterk jou in jou kwaad.”
“Maar dis mos waarvoor ouboeties daar is, dan nie? Anders kan ek nie juis hul doel insien nie.”
“O so, nè? Nou goed dan. Hierdie keer kan jy maar in jou eie sop braai, dametjie,” laat Steve streng hoor.
Maar sy is gou om wal te gooi: “Ag, ek speel maar, ou Steve. Regtig! Ek kan my nie my lewe sonder jou voorstel nie – en ek bedoel dit.”
Hy frommel haar hare deurmekaar. “Ditto, kleinsussie.”
Sy pruil haar mond. “Wanneer sal jy ophou om my as jou kleinsussie te sien? Ek is ’n jong dame van twintig.”
“Ek weet dit. Ek weet jy is twintig, maar … jy sal maar altyd my kleinsussie bly.” Hy gee haar ’n vinnige drukkie, fluister hier by haar oor: “Ek wil met jou praat … vanaand in my kamer.”
Sy dink sy weet waaroor hierdie skielike geselsie sal gaan toe sy later die aand, terwyl Eugenie in die badkamer besig is, by sy kamer inglip. Haar ouers sou Steve vanselfsprekend ingelig het omtrent Eugenie se skokkende ontdekking. Een van die mooiste kenmerke van die Preller-gesin is dat alles openlik tussen ouers en kinders bespreek word. Openhartigheid was nog altyd een van die wagwoorde van hierdie gelukkige gesin.
Sy maak haar op die voetenent van sy bed tuis en val sommer met die deur in die huis. Hy luister stilswyend en met aandag na wat sy te sê het, en sy stort alles wat in haar hart lê, voor hom uit. Sy kon nog altyd haar diepste ervarings en emosies met Steve deel met die seker wete dat hy haar verstaan. Sy het nog altyd gevoel hy het die verkeerde rigting gekies.
Hy is wel goed in sy vak – doseer ekonomie aan die universiteit – maar sy het nog altyd gedink hy sou ’n briljante psigiater kon wees, want haar ouboet, agt jaar haar senior, het die gawe ontvang om te kan luister en daarby nog ’n gesonde oordeel oor sake te hê. Daarom skok sy eerste woorde haar des te meer toe sy eindelik stilbly.
“Julle albei oordramatiseer die hele aangeleentheid. Wat is so vreeslik daaraan om ’n aangenome kind te wees?”
Haar oë rek in ongeloof. “’n Aangeleentheid? Om uit te vind jy is … is ’n mens sonder herkoms? Steve!” Haar oë is skielik vyandig … en sy hart krimp. “Ek het gedink jý sal verstaan. As jy jou in Eugenie se plek kan stel, môre moet uitvind jý is ’n aangenome kind en dat niemand jou kan sê wie jy regtig is nie … watter peste jy miskien alles in jou omdra en eendag op jou kinders kan oorplant … Wel, ek sê jou as so iets met my moet gebeur … Ek dink ek sal van my verstand af raak.”
“Twak!” Sy stem is juis strenger weens die ontsteltenis wat hier diep in hom verskuil lê. “Niemand weet werklik wat in sy voorgeslag lê nie. Daar bestaan nie ’n stamboom wat aandui watter swakhede elke lid van ’n geslag in hom omdra nie. Wie gaan ooit werklik sy voorgeslag na om te verseker dat daar nie die een of ander pes, om jou woord te gebruik, is wat jy aan jou kinders kan oordra nie?”
“Dis nie dieselfde nie, Steve, en jy weet dit!” verweer sy haar heftig. “Ons weet waarvandaan ons kom. Ons wéét daar is nie, om maar een voorbeeld te noem, oorerflike kranksinnigheid in ons families aan albei kante nie. Ons ken ons oumas en oupas en tantes en ooms en ons weet daar is nie sulke dinge nie. Maar hoe moet jy weet as niemand jou kan vertel wie jou voorgeslag was nie? Juis die feit dat jy naamloos gekry is, laat al ’n rooi waarskuwingslig flits. Daar moet ’n rede voor wees hoekom jy sommer net weggegooi is …”
“Die voor die hand liggende rede, ja. Twee mense wat, weens bepaalde omstandighede, nie kon trou en self hul kind ’n naam gee nie. Die algemene rede …”
“Ek is bereid om dit toe te gee, maar hoe moet Eugenie weet of haar geval ook die ‘algemene rede’ gehad het? Want daar kan baie ander redes ook wees, oorsake soos …”
“Spaar my dit, asseblief. Mams het my klaar van jul wilde verbeeldingsvlugte vertel.”
“Dis nie wilde verbeeldingsvlugte nie! Dis dinge wat moontlik is – en mediese feite