van hierdie lotjie ontslae is, is dit die C-klas se beurt. Dan is die Filistyne regtig op my. Teen die C-klas lyk hierdie spul amateur-moeilikheidmakertjies soos ’n Sondagskoolklassie wat met engelstemmetjies in die kerkkoor sing.
Die C-klas maak my bang, regtig bang. Want die C-klas het vir Julius Malema. Ek twyfel of iemand anders, behalwe ek en sy registeronderwyser, nog weet onder watter naam hy geregistreer is. Sy regte naam word nooit gebruik nie. Ons eie, liewe Julius het geleer by die bestes. As hy eers in ’n rigting neuk, sal hy selfs die Voortrekkervroue wat kaalvoet oor die Drakensberge wou foeter in hul spore laat stuit. Julius van die C-klas wat Vrydag sy flick knife met ’n gekletter laat val het. ’n Regte slagtersmes wat op die vloer in die son lê en blink het.
“En dít, Julius?” wou ek ewe dapper weet. “Wat is dit dié?”
Hy’t na my gekyk asof ek nie slim genoeg kan wees om matrieks te leer nie. Hy’s nie ver verkeerd nie, want ’n mens vra nie so ’n simpel vraag vir ’n matriekleerder soos onse Julius wat g’n vriend van die akademie of enige vorm van struktuur is nie.
“It’s a knife,” het hy uiteindelik geantwoord. “You want me to spell it for you?”
“Jy weet wat die reëls van die skool is,” het ek voortgeploeg, al dieper die modder in.
“Rules are made to be broken.” Daar was spot in sy oë toe hy na my kyk.
“Not this one.”
“Which one is that, Ma’am?”
“No weapons …” Ek het oorgeslaan na Afrikaans toe, want ek het geweet in Engels gaan die mannetjie my ore aansit. “Geen wapens word op die skoolterrein toegelaat nie.”
Hy het na sy gatsak gevoel. “You want me to hand over my gun?” wou hy weet. My voetsole het begin brand, reg om weg te hardloop. “Oh, no, wait,” het hy kamma verbaas gesê. “I remember now. I left it at home. School rules, you know, Miss.” Die laaste woord is met sarkasme uitgespreek. Hý sal my nie “Ma’am” noem nie. Dis hopeloos te onderdanig.
“Julius, moenie vir jou slim hou nie. Wat maak jy met ’n mes in jou sak?” Nog ’n dom vraag, ’n vraag wat onder geen omstandighede eerlik beantwoord kon word nie.
Julius was nie vir ’n oomblik gegooi nie. Of ontsteld nie. Of sonder woorde nie. Die mes is daar om sy appel te skil, wat anders? Hoe’t ek dan gedink, hoe moet hy sy appel geskil kry? Die appel wat hy gebring het om pouse te eet, omdat dit so gesond is.
“An apple a day keeps the doctor away, you know, Miss.”
Ja, ek was verras dat hy die spreekwoord ken, het hom amper ’n kompliment daarvoor gegee, maar so maklik laat ek my nie breinspoel nie.
“Waar’s die appel?” wou ek weet. “Wys my die appel.”
“Are you sure, Miss? You want to see my apple?”
Die C-klas het vasgenael gesit, hierdie vertoning sou hulle vir niks mis nie. Daar is gegiggel en aan mekaar gestamp.
Ek het opgestaan en om die lessenaar na Julius toe gestap. My eer was op die spel. My lewe ook. “Julius, wys my die appel wat jy met jou mes wil skil,” het ek domastrant aangedring.
Julius het hom omgedraai na die klas, eers vir Seya, die Malawiese outjie wat die helfte kleiner is as hy, in Engels aangespreek. Hom gevra of hy ’n appel in sy sak het. Seya het seker ’n appel laas op ’n prentjie in ’n boek gesien. Seya het net sy skouers opgetrek en sy kop gedwee laat sak, heel moontlik in die wete dat hy wel daarvoor sal boet dat hy nie ’n appel gereed gehad het toe Julius dit wou hê nie. Vreemdelingehaat is ’n feit van die lewe, ook hier tussen die skool se vier mure.
Toe spreek Julius die hele klas in sy taal aan. Al het ek nie verstaan nie, kon ek raai wat hy vir hulle vra. Drie, vier van hulle het in hul tasse begin krap en appels uitgehaal. Soos die generaal wat hy is, het Julius al drie uit hul hande geneem en geïnspekteer. Toe hy sy keuse gemaak het, het hy na my gedraai, die appel voor my neergesit en teruggestaan.
“There, Miss, the apple you wanted to see.”
Hy het sy voete hoorbaar teen mekaar gestamp en ’n saluut uitgevoer. “You can have it, Miss. It’s yours now.” Hy het weer na die klas gedraai. “You see? I gave Ma’am an apple. I’m a good boy.”
Die C-ers het geskaterlag. Daar was werklik niks wat ek kon sê of doen nie. My ore was rooi, alles aan my en om my was rooi, gevaarlik rooi.
“Thank you,” het ek geprewel.
Dit was die laaste strooi. Hoe kón ek? Dis wat gebeur as ’n mens se ouma jou grootmaak, jou van asseblief en dankie leer nog voordat jy behoorlik kan praat. Jy tree op sonder om te dink, jy haal jou goeie maniere uit ook waar dit nie van pas is nie.
Hoe op aarde kón ek hom vir daardie appel bedank? Is ek mal? Was ek mal? Ja, ek was, en ja, ek is. Ek het daardie stryd verloor, sommer ver verloor. Stel en spel vir Julius Malema die Tweede. As ek kon, sou ek ’n gat grou en daarin kruip. Gooi toe, sou ek smekend vra, gooi my nou maar toe en trap die grond plat.
Maar die laaste woord was nog nie gespreek nie. Toe Julius gaan sit, nog met die mes in die hand, het hy weer na my gekyk. “You can borrow my knife if you want to peel your apple, Miss,” het hy ewe grootmoedig aangebied.
En ek het dit laat gaan … Omdat ek nie geweet het wat om daaromtrent te doen nie en omdat Karel toe nooit oor die naweek opgedaag het om my te help besluit nie. Dit het my die hele naweek gevat om net-net van die vernedering te herstel.
En hier staan ek nou weer – oorgelewer aan die wolwe. Die Sondagskoolklassie in vergelyking met die C-ers, ek weet, maar nogtans ’n klomp wolwe met gevaarlike slagtande. Ek knip my oë vervaard toe ek die trane daarin voel brand. Kyk, as jy jou regtig wil blootstel, moet jy voor ’n trop wolwe aan die tjank gaan. Dan word jy verskeur en klaar.
“Julle almal kan Vrydagmiddag detensie sit as die tablet nie voor die tyd in die lessenaarlaai teruggeplaas word nie,” dreig ek. Hoe ek tot dan daarsonder gaan klaarkom, weet ek nie. Hoe ek my dreigement gaan uitvoer sonder om met ’n sementblok aan my been vir die visse gevoer te word, weet ek ook nie. Hoe dit moontlik sal wees vir die tablet om weer sy verskyning te maak, weet ek nog die minste. Ek weet niks! Niks!
“En nee, dis nie teen die grondwet nie. Ek stel julle lank voor die tyd in kennis daarvan, en ek sal julle ouers ook daarvan laat weet sodat daar alternatiewe reëlings vir julle vervoer huis toe getref kan word.”
Daar word luid protes aangeteken, uit vele kele. Die enkeles wat nog deur die debakel kon slaap, se slaap word ernstig deur die lastige geluide versteur.
“Friday, Ma’am?” word daar ongelowig gevra. “Just before the weekend?” ’n Paar van hulle lyk asof ’n doodsvonnis oor hulle uitgespreek is.
“Ek is Moslem,” herinner Rasied my. “Ek sal nie hier kan wees nie.”
“Me too,” verseker Tommy Ackerman my.
Selfs die stoere-boere Janse van Rensburg-outjie wat my gewoonlik nie backchat nie, verander blitsvinnig van geloof.
Dis Pulani wat tot ons almal se redding kom. Miskien moet ek seker maak die tablet is regtig nie in enige van die laaie nie, gee sy raad. Ek het niks om te verloor nie. Ek weet mos hoe dit is – vreemde goed gebeur in hierdie klas. Spooky goed. Miskien was daar ’n sangoma betrokke. Of die tokkelossie. Mens weet nooit.
Ek sien rooi en pluk die onderste laai oop, nie net oop nie maar met ’n gewoel en gewerskaf heeltemal uit. Plak toe die ding met ’n helse knal op die lessenaar neer. “There!” gil ek. “See for yourself, Pulani. Die bleddie tablet is nie in die onderste laai nie, sien jy nou?”
“But it is, Miss, see for yourself.”
Die klas skaterlag en dit voel vir my of die dak op my kop inval toe ek die tablet, mooi netjies in sy omhulsel, in die onderste laai kry. Wat gaan aan? Het ek nou regtig heeltemal mal geraak? Toe ek na die see van gesigte om my kyk, voel ek soos die keiser sonder klere. Poedelnakend kaal. Gestroop van alle