wens ek kon dit ontken,” antwoord Katinka sag. “Ek wens ek kon vir jou sê dat Theo en ek net goeie vriende was, dat daar niks tussen ons is nie en dat dit vir jou is wat hy liefhet, Janie. Jy is so jonk en weerloos. Dit sou vir jou beter gewees het as jy en Theo mekaar nooit ontmoet het nie. Jy sou met Okkie of iemand getrou het, iemand wat jou na regte kon waardeer, en julle sou gelukkig gewees het. Dis ’n bitter ding vir ’n vrou om met ’n man getroud te wees wat haar nie liefhet nie, om elke dag saam met ’n man te lewe en te weet wanneer hy na sy vrou kyk, sien hy ’n ander meisie, wens hy dis sý wat oorkant hom aan die ontbyttafel sit, wat elke dag met hom deel …”
“Hoekom het jy weggegaan, Katinka? Hoekom het jy hom nie liefgehad en met hom getrou nie?” Janie is verlig dat haar stem ietwat kalmer klink.
Die meisie haal haar skouers op, maar daar is ’n trek van pyn op haar mooi gesig.
“Dit het alles te maklik gekom en wanneer iets op ’n skinkbord aan ’n mens gegee word, waardeer jy dit nie. Theo en ek het saam gespeel as kinders, maats gewees, vriende gewees. Die liefde het vanself gekom toe ons ons kinderskoene ontgroei het. Ons het jare gelede al besluit ons gaan eendag trou en almal het dit so aanvaar. Ons twee is altyd saam na partytjies uitgenooi, sy ouers en myne was tevrede, almal het gesê ek is ’n gelukkige meisie en ek het dit so aanvaar.
“Maar … maar ek het gevoel iets haper. Theo was die eerste en enigste kêrel wat ek ooit gehad het. Ek het nooit met ander ouens uitgegaan sodat ek ’n maatstaf gehad het waaraan ek hom kon meet nie. Ek was nie seker of die gevoel wat ek vir hom gehad het, liefde was en of ek maar net aan hom gewoond was nie. Ek was bang ek trou met hom en dan ontmoet ek eendag ’n ander ou en vind uit wat liefde werklik is. Ek wou nie so iets aan Theo doen nie. Ek wou vir ’n ruk van hom wegkom om heeltemal seker te maak voordat ek met hom trou.”
Katinka neem ’n slukkie lemoensap en kyk pleitend na Janie.
“Dink jy dit was onredelik van my? Dink jy nie dit was ten beste dat ek weggegaan het om van my gevoel seker te maak nie, eerder as om met Theo te trou en later om te draai en te sê ek was nog te onvolwasse om te weet of ek hom liefhet?”
“Ek weet nie. Seker, ja,” antwoord Janie onsamehangend. Sy het tyd nodig om die feit in te neem dat Theo hierdie meisie liefhet, om daardie feit te assimileer en te verwerk en te besluit wat haar te doen staan.
“Dan was daar iets anders wat my laat voel het ek is nog nie ryp vir die getroude lewe nie,” praat Katinka verder. “Ek het my hele lewe lank in Pafuri gewoon. Afgesien van die skoolvakansies wat ek op Soetdorings deurgebring het, was ek twee keer in Durban, een keer in Kaapstad en ’n paar naweke saam met my ouers Johannesburg toe. Dit was die omvang van my ervarings. Ek het gevoel ek is ’n rou bosvelder, ek weet niks van die wêreld nie. Soos ’n jong meisie maar altyd droom, het ek ook beplan om eendag oorsee te gaan, die lewe te geniet, die wêreld en sy mense te leer ken, meer gesofistikeerd en wêreldwys te raak en nie te dink ’n klein en onbenullige ou wildreservaatjie is die begin en die einde van die wêreld nie.
“Ek wou eers die reislus uit my bloed kry en ’n mens met ’n wyer algemene kennis word, voordat ek tevrede sou wees om myself aan ’n man te bind en die res van my lewe in Pafuri te woon. Ek het gevoel die lewe gaan hier by ’n mens verby, daarom wou ek ’n paar weke oorsee gaan om te sien hoe die res van die wêreld is en terselfdertyd perspektief kry oor my gevoel vir Theo.”
“Maar hy het dit nie so verstaan nie.” Dis meer ’n stelling wat Janie maak as wat dit ’n vraag is.
“Hoe het jy geweet?” vra Katinka met ’n skewe glimlaggie.
“Ek ken darem ook vir Theo. Het hy gesê jy is moedswillig en jou daarvan beskuldig dat jy met ander ouens wil flankeer?”
“Ja, dit alles het hy gesê en meer ook. Hy het gesê ek het hom nie lief nie; ek moenie verwag hy gaan droëmond by die huis sit en wag totdat dit my eendag behaag om terug te kom en sy vrou te wees nie. Miskien moes ek tóé reeds besef het hy bedoel dit ernstig, letterlik. Maar miskien het ek ’n streep moedswilligheid in my. Ek kan dit nie verdra dat iemand my voorsê wat ek moet doen en my lewe probeer reël nie. Dalk, as Theo mooigepraat en gesoebat het ek moet bly, sou ek geluister het. Maar hy is nie daardie tipe persoon nie, nè?”
“Nee. Theo soebat nie. Hy is te trots.”
“En ek miskien ook. Dalk was ek nooit van plan om regtig oorsee te gaan nie. Miskien sou dit maar by jongmeisiedrome gebly het. Maar toe Theo kwaad word en met my rusie maak en sê hy gee nie om of ek ooit terugkom nie, het dit my gesterk in my kwaad. Ek het net die volgende naweek stad toe gegaan, my plek op die vliegtuig bespreek, vir my tasse en klere gekoop en met ’n sakvol brosjures en toerplanne na Pafuri toe teruggekom.
“Al een wat na my planne geluister en saam opgewonde geraak het oor die vreemde en eksotiese plekname, was Walt. My pa en ma het reguit gesê ek moet ’n sielkundige gaan raadpleeg. Om ’n man soos Theo Vermaak deur my vingers te laat glip, was ondenkbaar. Dit het my vies gemaak, laat voel asof ek die kans moet aangryp om Theo gevang te kry, want ek sal nooit iets beters kry nie.
“In my drif het ek gesê ek is nie oor Theo verleë nie. Ek sal oorsee vir my ’n man uitsoek. Of dalk trou ek nog met Walt de Witt! Hy het tog visie, ideale … ’n talent wat hom miskien ver gaan bring. Hy sal nie tevrede wees om sy hele lewe lank op ’n stuk stowwerige bosreservaat te sit en vergaan nie. Theo is oninteressant, oud voor sy tyd. Hy is met doringbome en wilde diere getroud. Ek verlang iets meer van die lewe as om met ’n onbenullige ou veldwagtertjie getroud te wees en sal myself binne die eerste maand van getroude lewe bitterlik verveel.
“My pa het gesê Theo het baie geld en sal my na ons troue oorsee neem. Dit het vir my koud en berekenend geklink, so asof Theo se baie geld die deurslag moet gee. ‘Sal hy?’ het ek gevra. ‘Sal daar nie altyd die een of ander verskoning wees van drade wat gespan moet word of renosters wat gaan kalf en damme wat gebou moet word nie? Sal ek nie horingoud wees en nog steeds in daardie beknopte rondawel sit en wasgoed was en kouse stop voordat ek my jong lewe geniet het en Parys en Rome en al daardie plekke gesien het nie? Nee dankie, ek wil nie honderd jaar oud wees voor ek dertig is nie,’” het ek gesê.
“Daar was hewige rusies. My ma en pa en Theo was al drie teen my. Hulle kon nie verstaan dat ek gefrustreerd gevoel het nie, en Theo het my nie vergewe vir al die dinge wat ek teen Pafuri en die lewe van ’n veldwagter gesê het nie. Al een wat begryp het, was ou Walt. Hy het geweet ek moet eers daardie hunkering na verre plekke uit my gestel kry voordat ek tevrede sou wees. Arme ou Walt het gedink hy doen die regte ding en bewys my ’n guns deur met Theo te gaan praat …”
“Maar dit was net mooi die verkeerde ding?” vra Janie. “Theo het gedink jy verkies Walt bo hom?”
Katinka was so verdiep in haar eie vertelling dat sy skrik toe Janie praat.
“Dis presies wat Theo gedink het. Hy het Walt daarvan beskuldig dat hy die vergesogte idee in my kop geplant het. Dis mos hy wat altyd sê: Sien Parys en sterf. Dis ook hy wat sê dat ’n mens eers oor die water moet gaan en sien hoe die ander helfte leef, voordat jy die geheim leer ken oor hoe om die lewe te geniet.
“Theo het verder gegaan en gesê Walt en ek het agter sy rug gekonkel en Walt het sy verloofde afgerokkel. Walt is self nie ’n baie geduldige man nie en hy het sedert sy kinderdae ’n grief teen Theo. Hy het die berugte Vermaak-humeur van sy ma geërf en hy het hom vererg. Hy het gesê ja, hy en Katinka het mekaar lief. Hý kan haar waardeer. Hy is nie van plan om haar tussen die vaal gras en miershope te begrawe nadat sy van verveling dood is nie. Hulle twee gaan saam weg en nie hy óf Katinka hoop hulle sien Pafuri ooit weer nie.”
Katinka spring op en stap heen en weer deur die rondawel, soos Theo daardie dag – hoeveel jaar gelede? – gedoen het. Dit voel vir Janie asof sy die afgelope uur vyftig jaar ouer geword het.
“Theo kon my dít nie vergewe nie,” gaan die meisie voort. “Nie Walt nie. Enige ander man miskien, maar nie Walt de Witt nie. ‘Walt is ’n parasiet,’ het hy uitgeroep. Hy is iemand wat ’n grief teen die wêreld het omdat sy ma nie die ou familieplaas geërf het sodat hy die lewe van ’n rykmanseun kon voer nie, iemand wat uit die