soos Annatjie Weideman sê, “rondawel te hou”, en vir die olifantkalfie te sorg wat deur die brand ouerloos gelaat is. Theo het klein Ollie een middag alleen in die veld gekry, bulkend en op soek na sy ma wat blykbaar vir die vuur gevlug het en in die harwar van haar kalfie geskei geraak het. Eers het Theo na die onverantwoordelike ma gaan soek en toe hy die trop nie kon opspoor nie, uit radeloosheid die kalfie agter op die bakkie gelaai en Njelele-kamp toe gebring. Die volgende dag sou die klein olifantjie verder reis na Dzata toe.
Eers wou Theo niks daarvan hoor dat Janie die olifantjie aanneem nie.
“Nee,” het hy kortaf geantwoord. “Klein diertjies en veral ’n olifantkalfie raak baie gou geheg aan ’n mens en as jy die dag besluit jy is moeg vir hom, sal dit sy hart breek. Hy sal om die rondawel dwaal, sy oë op die deur vasgenael, en hy sal weier om kos van ’n ander persoon te neem. Klein Ollie sal van honger doodgaan en dit net omdat jy so wispelturig was. Hy gaan na die kwarantynkamp op Dzata.”
“Asseblief, Theo,” het Janie bly mooipraat en soebat. “Ek sal hom nie versorg net solank hy ’n nuutjie is nie. Ek sal hom nooit verwaarloos nie. Ek belowe. Kan hy asseblief hier bly?”
“En wat gebeur as jy die dag hier weggaan?”
Hy het darem as gesê, nie wanneer nie, het dit deur Janie se gedagtes geflits. So, dis nog nie ’n uitgemaakte saak dat hy oor ’n jaar of ses maande van haar gaan ontslae raak om met daardie ander meisie te trou nie. Sy het egter haar eie probleme opsy gestoot. Die klein grys olifantjie se posisie was veel meer wankelrig as hare.
“Dan neem ek hom saam,” het Janie vasberade geantwoord.
“Om hom aan ’n dieretuin te verkoop?” Theo het minagtend geklink.
“Natuurlik nie. Ek het net so ’n hekel aan dieretuine as jy, Theo. Dink jy ek sal dat hulle Ollie in ’n klein vierkantige hokkie met ’n sementvloer sit sodat stout kinders hom met skerp stokke deur die tralies kan steek of hom met klippe gooi wanneer die opsigter nie kyk nie? Nee, Theo, ek is teleurgesteld dat jy so min van my dink.”
Daar was ’n sweem van goedkeuring op Theo se gesig, die eerste keer in byna ’n maand. Maar dis miskien goed dat Janie nie sy gedagtes kon lees nie …
Is sy weer besig om toneel te speel? het Theo homself afgevra. Sy weet ek het ’n renons in dieretuine en vaar sy nie nou teen dié plekke uit net om my te beïndruk nie? Na wat Tinka my vertel het, bejeën ek alles wat Janie sê met agterdog.
“Jy het gesê jy sal die volgende paar weke baie besig wees en ek sal jou selde sien. Klein Ollie sal vir my geselskap wees,” het Janie bly soebat.
“En jou miskien van ander … geselskap weghou,” het Theo koel geantwoord. “Of wat word daardie tipe dinge deesdae genoem?”
“Hoflikheid. Goeie maniere. Of vriendelikheid teenoor jou medemens.”
Theo het minagtend gelag. “Hoflikheid! O, is dit uit hoflikheid dat jy ure lank by Walt in sy rondawel gekuier het? En uit goeie maniere dat jy nie vir hom gesê het sy attensies is onwelkom nie?”
“Ek het hom so laat verstaan,” het Janie verdedigend geantwoord.
“O, nou erken jy dat Walt miskien ’n … effe oorvriendelik was?” het Theo veragtend gevra. “Die vorige keer was dit: ‘Nee, daar het niks tussen ons gebeur nie. Walt het my geskets, dis waarom ek so lank daar was.’ Watter verskoning het jy vir wat in die motor tussen julle gebeur het?”
Janie het onbegrypend gefrons.
“Toe maar, dit help nie om jou oë so groot en onskuldig te maak en so verbaas te lyk nie. Ek is lankal immuun daarteen en ongelukkig ken ek my neef baie goed. En ek waarsku jou weer: bly van Walt af weg, anders is ek nie verantwoordelik vir my dade nie.”
Janie het weer probeer verduidelik dat daar niks tussen haar en Walt gebeur het nie, maar dit was asof sy met ’n klipmuur geargumenteer het. Ten einde laaste het sy haar humeur verloor en woedend uitgeroep: “Ek weet nie hoekom ek jou liefhet nie! Jy is die hardkoppigste mens wat ek ken! Dit sal jou verdiende loon wees as jy een oggend wakker word en ek is weg … en ’n week later kry jy ’n poskaart van my uit Parys.”
“Parys?” Theo se oë het vernou. “Hoekom Parys?”
“Omdat …” Janie het te laat besef watter flater sy begaan het en het dit gou probeer toesmeer. “Of Rome. Of Londen. Of Timboektoe. Of enige ander plek wat ver genoeg van Pafuri af is.”
Theo was egter soos die spoorsnyer van wie se dienste hy en Dosyn soms gebruik maak om die wilddiewe se spore te volg.
“Hoekom het jy juis gesê Parys?” het hy volgehou. “Dit klink vir my baie na Walt se idee. Het hy gesê jy moet saam met hom Parys toe gaan?”
“Nee. Ons het nog nooit oor Parys …”
“Spaar jou asem. Dis deel van Walt se tegniek om sy vriendinne Parys toe te nooi. Notre Dame. Die sypaadjiekafeetjies. Die Seine en die boemelaars. ’n Sypaadjiekunstenaar se droom! Het Walt jou ook van daardie oulike hotelletjie in een van die stil strate vertel en van die Parysenaars wat mos nooit lastige vrae vra nie?”
“Soos ek wou sê toe jy my in die rede geval het – Walt en ek het nog nooit oor Parys gepraat nie.”
“Daar was seker nog nie veel tyd vir … e … gesels nie,” het Theo onaangenaam gesê.
Hy het opgestaan, uitgestap en Janie het hom twee dae lank nie gesien nie. Hy moes van die bestaan van arme Ollie vergeet het, want niemand het opgedaag om die olifantjie Dzata toe te neem nie.
Janie het ’n handeroombottel leeggemaak, ’n watteprop voorin gedruk en die olifantjie begin voer. Teen die tyd dat Theo teruggekom het, was hulle twee reeds goeie vriende. Ollie het haar tot groot vermaak van die kinders en toeriste oral deur die kamp gevolg, slurp in die lug en op ’n drafstappie wanneer hy gevrees het sy gaan weer in een van die rondawels verdwyn en hom alleen buite laat wag.
Een aand, terwyl Johan en Annatjie by hulle gekuier het, het Janie weer die saak geopper.
“Jy het gesê Ollie se hart sal breek as ek hom nie meer voer nie en hy sal van honger doodgaan, maar dit sal mý hart breek as die arme dingetjie in die kwarantynkamp geplaas moet word. Hy het nie meer ’n ma nie en niemand om hom lief te hê nie. Hy is alreeds baie geheg aan my …”
Asof hy wou help soebat, het die klein grys olifantjie skielik buitekant ’n hartroerende gebulk opgesit en almal laat lag.
Theo het gegrinnik. “Nou goed dan,” het hy gekapituleer, dog brommerig bygevoeg: “Maar as ons elke nag ’n herhaling van daardie gekerm gaan hê, staan jý asseblief op om hom te troos. Ek is nie dol oor pajamaparades nie.”
Nog steeds brommerig, het Theo Janie die volgende dag Messina toe geneem om die grootste bababottels te koop wat die apteek aanhou en gereël dat daar elke dag ’n paar liter ekstra melk by die rondawel afgelewer word tot tyd en wyl Ollie vaste kos kan eet.
“En dan sorg jy dat hy nie ook Dosyn-hulle se pap steel soos daardie klomp vlakvarke wat jy makgemaak het nie,” het Theo gewaarsku.
“Ek het nie geweet olifante eet pap nie,” het Janie hom geterg.
Hy het egter reeds die radio aangeskakel om na die nuus te luister en het nie geantwoord nie.
6
“Jy was al my gesoebat werd, klein Ollie,” sê Janie vir die olifantjie en vryf haar neus teen sy slurp. “Oom Theo probeer so min moontlik by die huis wees en ás hy hier is, praat hy skaars met my. Jy is vir my goeie geselskap.”
Die olifantjie voel-voel met sy slurp in Janie se nek. Dis kielierig, maar sy verduur dit, bang om Ollie se gevoelens seer te maak. Toe hy egter ’n slurpvol sand opsnuif en gereed maak om dit oor haar te blaas, lig sy haar wysvinger vir hom.
“Nee, jy moenie stout wees nie, anders kry jy raas! Jy onthou wat gebeur het toe jy oom Theo se wag-’n-bietjieboom probeer omstoot het, nè? Jy en ek het albei lelik deurgeloop.