sy teleurgesteld. Al beloning wat sy kry, is dat hy darem nie kwaad lyk nie.
“Dit sal lekker smaak.” Annatjie staan dadelik op. “Ek sal jou kom help, Janie.”
“Nee,” keer sy vinnig. Sy is bang Annatjie sien hoe ontuis sy in haar eie kombuis is. “Dis nie nodig nie. Sit jy gerus en ontspan. Jy het seker ’n lang dag in die linnestoor gehad,” voeg Janie by sodat sy nie onbeleefd moet klink nie,
“As julle mense nie omgee om ’n oomblik lank alleen by die vuur te sit nie …?” vra Theo. “Ek sal gou vir jou die gasstoof kom opsteek, skat.” Hy plaas sy arm om Janie se middel toe hulle wegstap.
Janie het vir die liefdevolle benaming geskrik en toe Theo sy arm om haar sit, verstyf sy onwillekeurig. Dis so lank laas wat hy haar so genoem het en sy moet haarself keer om nie haar kop teen die breë skouer te lê nie. Dit sal so maklik wees om haar gesig op te lig en hom ’n soentjie te gee …
“Moenie jou so styf soos ’n besemstok hou nie,” waarsku Theo. “Ontspan. Ons sal net so loop tot by die kombuisdeur en ek doen dit slegs om Annatjie en Johan se onthalwe.”
Net binne die kombuis neem hy sy arm vinnig weg, asof dit besig was om te brand.
“Toe maar, dit was vir my ook nie aangenaam nie,” sê hy koel. “Ons sal probeer om so iets te beperk, maar fisieke kontak tussen ons sal soms nodig wees. Jy sal dit moet verdra, hoe onaangenaam dit ook al vir jou is.”
Dis nie onaangenaam nie, wil Janie sê. En dat dit is omdat sy te veel daarvan gehou het en vir haarself bang was, dat sy verstyf het. Maar sy pers haar lippe styf opmekaar, bang die woorde borrel uit. Theo sal so ’n antwoord beslis nie waardeer het nie.
Toe sy weer buite kom, is Katinka ook daar en sy gaan haal nog ’n koppie.
“Jou koffie is heerlik, my liefste,” glimlag Theo goedkeurend. “En tien uit tien vir ’n gasvrou wat reeds die tweede aand vir haar gaste sjokoladekoek kan aanbied!” Hy spring op om Janie se koppie te neem en sy hand streel vlugtig oor haar wang. “Minder moeg as gisteraand, my splinternuwe vroutjie? Of vang die veranderde lugdruk jou nog? Vaak?”
Janie weet nie waar sy die inspirasie vandaan kry om te glimlag en ontkennend te antwoord nie. Sy sien dat Katinka haar en Theo ondersoekend dophou en sy voel soos ’n huigelaar. Oordryf Theo dinge nie ’n bietjie nie? Of geniet hy hierdie toneelspelery?
Om tienuur maak Johan en Annatjie verskoning dat dit ou mense se slapenstyd geword het, hoewel Katinka nog by Theo en Janie se vuurtjie kuier.
Katinka frons onbegrypend, bly dat Theo nie weer ’n stomp hout op die vuur gegooi het nie en dat sy die twee ongemerk in die skemerdonker kan dophou, sonder dat hulle haar gesig kan sien. Hoe het sake tussen Janie en Theo so vinnig reggekom? Gisteraand nog het hulle bitterlik rusie gemaak en vanaand lyk hulle so verlief soos twee jonggetroudes behoort te wees. Sy het haar met klein Janie misgis. Die meisietjie is blykbaar minder naïef en onskuldig as wat sy haar voordoen. En baie slimmer, meer uitgeslape. Dis jammer dat Janie so mooi is, en dat sy so vars en aantreklik in daardie gestreepte terrasrok lyk …
Katinka neem haar oë van die slanke figuurtjie in die rooi en wit rok weg en hou vir Theo dop. Is hy besig om toneel te speel? Sy ken hom baie goed en iets – sy kan haar vinger nie daarop lê nie – iets is nie heeltemal pluis nie. Sy moes miskien nie so lank gewag het en eers vanaand weer kom kuier het nie. Dit was ’n fout. Maar sy was bang dit is te ooglopend as sy die Vermaaks se drumpel heel van die begin af deurtrap … Vir Theo Vermaak is sy effens versigtig en sy weet dit is Janie wat bearbei moet word. Sy sal moet sorg dat die vriendskap tussen hulle twee op ’n hegte grondslag geplaas word.
“Oormôre is Saterdag,” merk Katinka vriendelik op. “Het jy nie lus om dan saam met my Messina toe te ry nie, Janie? Daar is seker goed wat jy by die winkels nodig het en jy het mos gesê jy gaan ’n haarkapster mis. Jy kan jou hare laat tooi en dalk kan ons by daardie oulike motel net buite die dorp middagete geniet. Dit sal vergoed vir die duur restourante in Johannesburg wat jy moes prysgee.”
Janie het nie gesê sy gaan die haarkapsters mis nie, maar sy sou graag die uitnodiging wou aanvaar, dog Theo antwoord eerste.
“Ek neem Janie môre na die Luvuvhu-dam toe en as daar tyd is, gaan wys ek haar die Dzata-ruïnes. Byna ’n bekendstellingstoer, kan ’n mens dit noem. Verlede keer, toe sy en Riana hier was, het hulle nie buffels gekry nie en ons gaan daardie trop van tweeduisend op die Limpopo-pad soek. Ek wil graag vir hierdie stadsjapie gaan wys hoe die rivier lyk as hy in volle vloed is.”
“Word ek nie ook genooi om na die buffels en die vloed te gaan kyk nie?” vra Katinka liggies.
Theo glimlag. “Jy weet hoe buffels lyk en ’n mens sal jou nie meer met ’n rivier in volle vloed kan beïndruk nie. Jy is te blasé, Tinka.”
Katinka glimlag ook, maar dis gedwonge en die res van die aand het sy nie veel te sê nie.
5
“Kelkiewyn! Kelkiewyn!” roep ’n voël na sy maat, maar Janie hoor dit skaars.
“Ons kan nie deur hierdie drif gaan nie, Theo!” roep sy ontsteld uit. “Dis te diep en die water sal die Land Rover meesleur.”
“Ek dink ek ken driwwe beter as wat ’n stadsjapie hulle ken,” antwoord Theo onverstoord. Hy skakel oor na laagste versnelling, hou sy voet egalig op die brandstofpedaal en sorg dat hulle in die middel van die pad bly.
Janie het haar ruit opgedraai en sy sit asof gehipnotiseer na die malende rooibruin water en kyk. Sy sien hoe dit golwe teen die buffer maak en sy waag dit nie om te kyk hoe hoog die water teen haar deur opstoot nie. Sy sit roerloos totdat die grys Land Rover die modderwater van hom afskud en teen die helling uit brul. Wanneer hulle bo kom, hou Theo stil.
“Vra ekskuus vir jou man,” sê hy tergend.
Die hele oggend was hy gaaf en vriendelik en het hy haar interessante staaltjies vertel van die diere wat hulle gesien het. Dit was amper soos die ou Theo wat dit verlede keer geniet het om die reservaat vir haar en Riana te wys. Maar nou is daardie bekende tergende glimlaggie om sy mond vir Janie te veel. Sy is bang hy sien die heimwee en verlange op haar gesig en draai haar kop weg.
“Ons kon in die modder bly sit het, of in ’n slaggat beland het,” sê sy styf.
“Jy behoort meer vertroue in jou man te hê. Of in sy kennis. Gister het ek ook hierlangs gery. Die water was toe nog nie so hoog oor die pad soos nou nie en ek kon sien daar is geen slaggate nie. En ek het persoonlik ’n sementblad in hierdie drif gegooi, juis sodat die voertuie nie in die modder moet vassit nie. Ek ken vol riviere en kan driwwe goed oordeel – beter as vroumense.”
Dit was ’n opening wat ek moes gebruik het, besef Janie. Ek moes ekskuus gevra het, al was dit dan in ’n grap. Ek moes hom nie gekritiseer en sy oordeel in twyfel getrek het nie, want nou het ek hom opnuut kwaad gemaak, net soos vroeër vanoggend daar by die ruïnes, toe ek onafhanklik wou wees en nie sy hand oor die los klippe wou neem nie. Maar as hy net weet hoe my hart breek elke keer as hy vriendelik teenoor my is of aan my raak en ek wonder of hy hom nie ingedagte verbeel dis daardie ander meisie wat by hom is nie. Want dan, sommer vir geen rede nie, kan hy skielik op ’n eienaardige manier na my kyk en word sy gesig hard en geslote …
“Daar’s die buffels!” roep Janie opgewonde, bly oor die verskoning om weer met Theo te kan praat. Die afgelope tien kilometer het hulle doodstil langs mekaar gesit en sy het al gewonder of sy ’n opmerking oor die weer sal waag, toe sy die buffel onder die mopanieboom sien staan.
“Dis ’n blouwildebees,” sê Theo ergerlik. Hy het dadelik sy voet van die brandstofpedaal afgehaal toe hy gedink het Janie sien die buffels, maar nou verwerdig hy hom nie om stil te hou nie.
“Ek is jammer, maar ek het regtig gedink dis ’n buffel,” sê sy in ’n klein stemmetjie.
“Dis ’n fout wat baie toeriste maak. Veral die groentjies.”
“En die stadsjapies?”
“Dié