…” begin sy pleitend.
Theo se gesig verhard. “Ek kan sien jy maak gereed om te bieg en te sê jy is jammer, jy het ’n fout gemaak. Jy het jou misgis. Jy is nog jonk en jy het verliefdheid vir ware liefde aangesien. Ek moet jou asseblief vergewe en nie vir jou kwaad wees nie, en kan ons asseblief nog steeds vriende bly. Jy is jammer jy het my hele lewe opgemors, maar jy wil graag jou vryheid hê. Spaar my egter die melodrama en die seepkis-toesprake wat jy in goedkoop liefdesverhale gelees het, en spaar ook jou asem. Die antwoord is nee. Nee, ek gaan jou nie jou vryheid teruggee nie en nee, ek sal jou ook nie laat teruggaan Johannesburg toe nie. En beslis néé – jy sal nie op daardie trein wees sodat Ockert Smuts jou kan afhaal en troos en sy ewige liefde aanbied nie.”
Theo het so vinnig gepraat en sy stem was so onverbiddelik dat Janie nie alles ingeneem het wat hy gesê het nie. Maar die laaste paar sinne dring tot haar deur en sy staar hom ongelowig aan. Hy weier om haar haar vryheid te gee of te laat teruggaan Johannesburg toe. Hoekom?
“Hoekom, Theo?” vra sy gespanne. “Hoekom wil jy met hierdie huwelik voortgaan?”
“Ek gee toe dat dit onder die omstandighede seker vreemd klink dat ek jou hier wil hou en met die klug van ’n huwelik wil voortgaan, maar ek het my redes. Dit klink seker kleinlik of onseker van my, maar ek erken nie graag in die oë van die wêreld dat ek my met ’n meisie misgis het nie – veral nie met die een wat ek uitgesoek het om my vrou te wees nie. Ek weet die mense sal agteraf lag en spot met Theo Vermaak, wat nog gedink het hy sit met ’n vrou, toe steel ’n ander man haar en nou sit hy droëmond, soos ’n aap op ’n klip. Nee, Janie, ek is ’n trotse en selfsugtige man en ek gaan nie toelaat dat jy van my ’n gek maak nie.
“Of dalk sal sommige mense my jammer kry en sê: ‘Foei tog, arme ou Theo. Die stadsjapie sit toe vir hom ’n paar ore aan … Hy moet lesse neem oor hoe om ’n vrou gelukkig te maak. Skaars twee dae by hom, en Janie skud Pafuri se stof van haar voete af en hardloop weg. Ons moet die arme man vir ete oornooi en met hom gesels oor die weer en die veldbrand en allerhande ander dinge, maar net nie oor die vrou wat hy verloor het nie. Dit moet soos dood in die huis wees. Die stomme man …’ Ek háát bejammering, Janie. Daarvoor is ek te trots. Niemand kry my jammer nie en niemand lag ook in sy mou omdat ek vir die gek gehou is nie.”
Terwyl hy praat, gryp Theo sy pyp en steek dit op, maar toe die derde vuurhoutjie óók breek, gooi hy die pyp vererg eenkant en soek sy sigarette.
“Op die kas,” sê Janie meganies, maar dit lyk nie of hy haar gehoor het nie. Hy stap soos ’n vasgekeerde dier op en af en wanneer hy by die venster kom, vlieg hy om en kom staan reg voor haar. Hy is bleek en sy mond is in ’n onverbiddelike lyn getrek.
“En dan is daar nog twee redes,” sê hy afgemete. “Ek gaan Walt nie die bevrediging gee om te sien dat ek nóg ’n nooi verloor het nie. Hy het alreeds lekker genoeg gekry oor daardie … ander een. Hierdie keer gaan ek hom wys ek is in staat om my vrou te behou. En dan is daar natuurlik vriend Ockert Smuts: het jy gedink ek gaan jou op ’n skinkbord vir hom aanbied? Nee, wat myne is, is myne. Ek deel dit met niemand nie en ek gee dit ook nie present weg nie. Nee, my vrou, hoe onaangenaam die vooruitsig ook al vir jou is, ons bly getroud, in die oë van die wêreld altans. Ek sal jou nie lastig val of myself aan jou opdring nie, maar ons bly man en vrou en moenie weer praat van teruggaan Johannesburg toe nie. Jy bly hier in Pafuri en gee voor dat ons huwelik ’n sukses is.”
“Maar …” begin Janie. Sy weet self nie wat sy wou gesê het nie, maar dit maak nie saak nie, want Theo val haar weer in die rede.
“Jy is mos ’n goeie toneelspeelster,” sê hy en dis nie omdat hy haar ’n kompliment wil maak nie. “Jy het voorgegee jy het my lief. Of dalk is ek onredelik. Dalk het jy my wel so ’n bietjie liefgehad, maar toe jy my beter leer ken het en gesien het onder watter omstandighede jy gaan woon, het daardie klein bietjie verliefdheid verdwyn en het jy besluit Ockert is ’n beter proposisie. Wel, ek het nuus vir jou, my vrou: huweliksbeloftes is nie iets wat jy na willekeur kan maak en breek nie. En jou man is ook nie soos ’n speelding wat jy kan verruil vir ’n ander een as jy besluit jy hou nie meer van hom nie. Jy het jou in hierdie huwelik begeef en jy moet nou maar die beste van die slegte saak maak, want ek gaan jou by jou beloftes hou. Is dit duidelik, Janie?”
Janie knik, stomgeslaan oor die tirade en nie in staat om te antwoord nie. Sy besef nóú eers hoe sleg sy Theo Vermaak geken het en hoe reg die mense was toe hulle gesê het sy is oorhaastig en sy moet eers mooi dink voordat sy met ’n amper wildvreemde man trou. Maar wat daardie mense en ook hierdie man voor haar nie weet nie, is dat sy hom ten spyte van alles nog liefhet. Die liefde is nie soos ’n kraan wat jy na willekeur kan oop- of toedraai nie. Maar hoe sê ’n vrou vir haar man sy het hom lief wanneer hy met so ’n onverbiddelike gesig voor haar staan en vra of dit vir haar duidelik is? Hy sal haar nie glo nie, of haar uitlag of beledig, of sê sy is weer besig om toneel te speel. Nee, sy sal moet wag totdat hy afgekoel het voordat sy van liefde praat. Sy begryp nie mooi waarom Theo vir haar so kwaad is nie. Was die dinge wat sy gedoen het genoegsame rede dat hy dink sy het hom nie lief nie, dat sy spyt is hulle het getrou en dat sy na Okkie wil teruggaan? Hoekom oordeel hy haar so uitermatig kras?
“Ja, T-Theo, dis vir my duidelik,” hakkel Janie.
“Gaaf, dan verstaan ons mekaar. Afdeling een is afgehandel.” Theo is baie saaklik. Hy stap kombuis toe om iets uit die yskas te haal en toe hy terugkom, kom hy in die stoel oorkant haar sit.
“Nou kom ons by afdeling twee: hoe om die rol van getroude vrou suksesvol te vertolk. Vir ’n bedrewe toneelspeler soos jy behoort dit nie moeilik te wees nie, maar ek wil nietemin ’n paar puntjies aanstip wat jy tot dusver uit die oog verloor het. Jy ontvang geen oproepe van Ockert Smuts of enige van jou vorige kêrels nie. Ook geen telegramme of briewe nie. Alle telefoonoproepe gaan deur oom Gawie Labuschagne se hande, asook telegramme en ander pos. In Pafuri moet jy nie verwag om jou privaatlewe vir jouself te hou nie.
“Punt nommer twee. Ockert kom nie kuier nie – nie eers as platoniese vriend wat in ’n wildreservaat vakansie wil kom hou nie. Hy kan Kruger-wildtuin toe gaan as hy ’n liefde vir die veld het, of Mala-Mala toe, of na enige ander wildtuin toe, behalwe Pafuri. Is dit duidelik?”
“Ja, maar … Theo, moet asseblief nie so formeel en saaklik klink nie. En … moenie elke keer vir my vra of dit duidelik is nie – veral nie met daardie uitdrukking op jou gesig nie.”
“Dit spyt my, maar ek kan onder die omstandighede nie ’n vroliker uitdrukking op my gesig dwing nie. En ek vra of dit vir jou duidelik is sodat daar geen misverstand kan kom nie en jy nie later vir my kan sê jy het nie geweet nie. Nou kom ons by Walt …” Theo soek eers weer sy pyp en stap ’n paar keer op en af voordat hy verder praat.
“Ek gee nie om wat jou gevoel vir Walt de Witt is nie. Daarmee het ek niks te maak nie. Jy kan dolverlief op hom wees vir al wat ek omgee. Maar jou houding en optrede teenoor hom wanneer jy in die openbaar is – dis wat my raak en dis wat baie saak maak.” Theo se selfbeheer glip effens en hy gaan verbitterd voort: “Dink jy dit was vir my lekker om te sien hoe jy netnou vir Walt met leepoë agterna gestaar het toe hy rivier se kant toe geloop het?”
Dis bitter onregverdig van hom en Janie sê verontwaardig: “Ek het nie met … leepoë vir hom gekyk nie. As jy die waarheid wil weet: my oë was vol trane en ek kon hom nie eers behoorlik sien nie.”
“Trane in jou oë? Dis nóg erger. Daardie man is nie jou trane werd nie.”
“Ek het nie oor Walt gehuil nie. Hoekom sal ek oor hóm huil? Theo, dit was … dit was oor jou wat ek gehuil het. Ek het geweet jy gaan baie kwaad wees en ek was bang.”
“O, so jy het darem geweet ek gaan kwaad wees? Jy het darem ’n skuldige gewete? Dis die eerste stukkie goeie nuus wat ek in ’n lang tyd gekry het. Kan jy dink hoe ek gevoel het toe ek by die rondawel kom en jou nêrens kry nie, en Katinka vir my die nuus gee dat jy by Walt in sy rondawel is? Dink jy ek hou daarvan dat my vrou alleen is in ’n rondawel saam met iemand met Walt se reputasie? Die ganse Pafuri weet watter tipe man hy is en weet wat in die verlede gebeur het. Hulle ken die hele storie en plaas seker alreeds weddenskappe oor watter een van ons twee hierdie keer