en dit was die enigste manier om jou te kalmeer. Wat het gebeur? Het jy seergekry?”
Die gebeure van die afgelope paar minute spoel soos ’n golf oor Janie. Sy herleef haar diepgewortelde vrees vir vol riviere en onthou hoe sy met die paadjie geloop het, haar enigste gedagte om van die kolkende water af weg te kom. En toe die slang hier reg voor haar gesig …
“Ek was bang vir die water en toe is die slang hier amper bo-op my en toe val ek en … en ek roep na jou om my te help …”
“’n Slang?” Theo frons en hy voel weer lus om Janie te skud. “Watter soort slang was dit? Het hy jou gepik?”
“Ek weet nie …” Sy bewe asof sy kouekoors het en is te deurmekaar om te onthou hoe die slang gelyk het.
“Janie …!” Theo skud haar ’n paar keer. “Het die slang jou gepik? Hoe het hy gelyk?”
“Ek weet nie. So ’n gelerige, bruinerige een, dink ek. Hy het daar van die tak af gehang, reg voor my gesig …”
Theo onthou skielik van die ou molslang wat hy eenkant toe geklap het. Hy bid dat dit dieselfde een is waarvoor Janie geskrik het. Langs die Limpopo wemel dit gewoonlik van slange en hierdie wêreld is bekend vir sy mambas en boomslange.
“Was dit daardie molslang?” vra hy skerp.
“Ek ken nie slange nie.”
“Dan is dit hoog tyd dat jy hulle leer ken.” Sy stem is grimmig en hy pluk haar hardhandig regop. “Dáár …! Kyk, daar hang hy nog steeds. Was dit daardie slang?”
Janie gril en draai haar kop weg.
“Antwoord my!” sê Theo ergerlik. “Was dit daardie molslang waarvoor jy geskrik het? Daardie onskadelike ou molslang?”
“Ja!” roep sy net so hard uit, haar selfbeheersing opnuut baie na aan breekpunt toe sy weer die slang sien. “Ja, dit was daardie molslang! Behalwe dat ek nie geweet het dit was ’n onskadelike slang nie. Ek ken nie slange nie. Al waar ek hulle nog gesien het, is in die dieretuin en dit was agter glas. Jy sou ook geskrik het as die ding skielik hier reg voor jou gesig gehang het en … en …” Janie se skouers begin weer ruk. “En … pleks dat jy my troos, baklei jy weer met my. Dit was nie mý skuld dat ek geskrik het nie! Ek roep na jou om my te help, en jy – jy klap my en skud my heen en weer en maak met my … rusie …” Sy huil al hoe harder en sien nie hoe Theo se gesig ’n oomblik lank versag toe hy na die betraande gesiggie met die vier rooi hale op die wang kyk nie.
“Janie, luister na my …” Theo dwing homself om kalm en redelik te praat. “Ons is ’n rivierbreedte van Rhodesië af op hierdie oomblik. Oorkant in daardie bosse is terroriste, mense met gewere: mense wat op jou sal skiet as hulle die geleentheid kry. Ek het vir jou gesê om nie ver weg te gaan van die motor nie, maar toe ek weer kyk, is jy skoonveld. En terwyl ek bekommerd wonder in watter rigting om na jou te roep, hoor ek jou gil. Dit alleen het my al groot laat skrik, maar toe ek jou kry, babbel jy deurmekaar van ’n slang wat ek nie geweet het of hy jou gepik het en of dit ’n giftige slang was nie. As jy in my posisie was, sou jy nie ook kwaad gewees het nie?”
“Nee.” Die reaksie na haar histerie maak Janie skielik baie braaf. “Nee, ek sou nie kwaad gewees het nie. Ek sou besef het die ander persoon het groter geskrik as ek en ek sou simpatiek gewees het. Maar jy het geen gevoel vir ’n ander mens nie. Jou eerste gedagte is altyd om te raas en rusie te maak. Ek verwag nie jy moet my in jou arms neem en troos nie. Ek weet jy sal jouself nie kan dwing om iets so onaangenaams te doen nie. Maar is dit te veel gevra dat jy my met ’n paar gerusstellende woorde vertel het dit was ’n onskadelike molslang wat my laat skrik het, en dat ek in ’n gat geval het in plaas van in die water?”
“Ek is jammer,” sê Theo kortaf. “Sal dit help as ek sê dat ek kwaad was omdat ek vir jou veiligheid gevrees het? Dat dit ’n soort onredelike woede was, gebore uit die vrees dat jy iets oorgekom het? Dat ek jou so hardhandig behandel het omdat ek so gou moontlik wou vasstel of die slang jou gepik het en watter soort dit was, sodat ek noodhulp kon toepas?”
“Nee,” antwoord Janie net so kortaf. “’n Mens maak nie met iemand rusie oor wie se veiligheid jy ’n sekonde gelede bekommerd was nie. As ’n mens verlig is dat die persoon niks oorgekom het nie, toon jy nie jou blydskap deur die persoon rond te pluk en sleg te sê en te raas nie.”
“Dit spyt my,” herhaal Theo. “Ons is twee uiteenlopende mense en noudat daar geen liefde tussen ons meer is nie, vind ons dit moeilik om mekaar se reaksies te begryp. Ek kan begryp dat jy nie by my en my omstandighede kan aanpas nie en ek wil net weer herhaal: as ek minder bekommerd oor jou was, sou my reaksie minder heftig gewees het. As ek nie omgegee het of die terroriste jou laat skrik het nie, sou ek nie so hard met jou gewerk het nie. Sal ons teruggaan?”
Janie stap vooruit en ruk haar arm weg toe sy onverwags struikel en Theo ’n hand uitsteek om haar te help.
Theo onderdruk ’n ongeduldige opmerking, net soos die begeerte om Janie se arm met geweld te neem en te keer dat sy haar nek breek. Wat vang ’n man met so ’n moedswillige vroumens aan? Hy moet seker meer geduldig met haar wees, want hy het gesien sy begryp nie waarom hy elke keer wat sy ’n gevaarlike ding aangevang het, so omgekrap was nie. Sy dink dis vir haar persoonlik wat hy kwaad was. Maar miskien kan hy Janie nie kwalik neem nie. Sy reaksies is miskien onlogies of onredelik. En al verskoning wat hy daarvoor kan aanvoer, is dat dít is wat die liefde aan ’n man doen.
“Vroumense …!” brom Theo onderlangs en skop soos ’n gebelgde skoolseun na ’n klip wat voor hom in die paadjie lê. Net soos die toeriste, is hulle ’n noodsaaklike euwel wat teen wil en dank seker maar verdra moet word. Mansmense kan nie sonder hulle klaarkom nie, maar dié ou wêreld sou darem ’n heerlike, rustige plek gewees het as hier geen vroumense was nie: niemand vir wie jy altyd ’n das en boordjie hoef aan te sit nie, niemand vir wie jy skoon sokkies hoef aan te trek nie en niemand wat jou senuwees gedaan maak en jou uit bekommernis ’n maagseer sal laat kry omdat jy gedurig bang is sy kom iets oor nie.
Janie hoor dat Theo iets brom en sien die klip voor haar voete val, maar sy ignoreer dit. Theo gedra hom net soos ’n moedswillige kind, soos ’n standerdsessie wat voel sy nooi verstaan hom nie; sy pa en ma verstaan hom nie; niemand verstaan hom nie. Die hele wêreld is teen hom …
Ek dink ék verstaan hom so ’n klein bietjie, dink sy met ’n weemoedige glimlaggie. Omdat ek sy vrou is en so dom is, voel Theo vir my verantwoordelik. Dis immers hy wat my hiernatoe gebring het en hý moet sorg dat ek die reservaat eendag heelhuids verlaat. Hy is bang ek kom iets oor en dan wys almal ’n vinger na hom en sê beskuldigend hy moes na my gekyk het. Hy het mos geweet ek is ’n onervare stadsjapie, sal die mense sê, en hy moes my gewaarsku het om nie met die luiperd te speel nie, want ’n luiperd het lang, skerp tande …
Wanneer hulle bo op die gelykte uitkom met die paadjie, stap Theo skielik vinniger. Hy haal Janie in en toe hy langs haar kom, neem hy haar hand in syne.
Janie kyk verras na hom. Is dit ’n vredesgebaar? Is Theo jammer hy was so kortgebonde? Sy gee die hand ’n drukkie en in haar hart sing dit. Dis sy manier om te sê hy is jammer. Dinge tussen hulle gaan regkom!
Theo glimlag liefdevol vir Janie, maar sy onderlangse woorde maak van die glimlag ’n leuen.
“Nee, moenie allerhande idees kry nie. Ek is nie van voor af besig om op jou verlief te raak nie. Ek het nog net so ’n wrewel in jou as gister en eergister. Maar Flip staan daar anderkant vir ons en wag en dis ter wille van die skyn wat ek jou hand vashou, om geen ander rede nie.”
Sy woorde skok Janie en maak haar diep seer. Onmiddellik is sy skaam oor daardie drukkie wat sy sy hand gegee het en probeer haar hand uit syne ruk. Theo se vingers sluit egter vaster om hare.
“Hou op om jou soos ’n simpel bakvissie te gedra,” sis hy deur sy tande, nog met dieselfde liefdevolle glimlaggie. “Ek het ook ’n renons daarin om aan jou te raak, maar Flip kyk na ons.”
“Ek … háát jou!” bars Janie uit.
“Ek ook, maar dis nie nou ter sake nie. Glimlag