Ettie Bierman

Ettie Bierman Keur 11


Скачать книгу

As ons weer moeilikheid in hierdie verband het, jaag ek hom uit Pafuri weg, soos ek seker lankal moes gedoen het, maar nie die hart gehad het nie. Dit betaal nie om ordentlik te wees en vir hom jammer te voel nie. Ek moes hom lankal aangesê het om pad te gee, dan het ons nie nou ’n presiese herhaling van die geskiedenis gehad nie.”

      “Watter … geskiedenis?” vra Janie aarselend en hou haar asem op. Gaan Theo haar van daardie ander meisie vertel?

      “Dit sal geen doel dien om ou koeie uit die sloot te grawe nie. Wat verby is, is verby en behoort tot die verlede.” Theo sug swaar en daar is ’n peinsende uitdrukking op sy gesig toe hy sy pyp uiteindelik aan die brand kry.

      Hy het daardie meisie nog steeds lief, flits dit deur Janie se kop. Hoekom anders sou hy so half weemoedig gelyk het toe hy van die verlede gepraat het? En hoekom wil hy háár nie daarvan vertel nie?

      Theo betrap haar blik op hom, maar sy gesig versag nie.

      “Aangesien jy nie jou pligte as huisvrou nakom nie, het ek solank die vleis uit die yskas gehaal en sal ek vanaand vir die kos sorg. Ons braai vleis.”

      “Sal ek slaai en toebroodjies maak?” vra sy in ’n klein stemmetjie.

      “Toe maar,” antwoord hy kortaf. “Dosyn het vir ons pap gemaak. Dit behoort genoeg te wees.” Hy stap buitetoe en laat Janie alleen met haar koppie halfgedrinkte en koue koffie.

      Vandag glimlag sy nie eers oor die naam van Theo se veldwagter wat verlede keer vir haar en Riana so snaaks was nie. Dosyn het die naam gekry toe hy op jeugdige ouderdom oor die Mosambiek-grens kom werk soek het en toe hy gevra is hoe oud hy is, twee hande en nog twee vingers opgehou het. Al is hy vandag nader aan vyftig, het hy die naam behou en daar is ’n hegte band tussen hom en Theo. Theo sê hy werk eerder saam met Dosyn as saam met Flip Venter, want hy verkies iemand op wie hy kan vertrou.

      Terwyl Janie sit en wik en weeg of sy dit buitetoe kan waag, hoor sy iemand met Theo praat en sy vlug slaapkamer toe. Sy sien nie kans om vreemde mense in die gesig te kyk nie en as Theo haar roep, sal sy sê sy het hoofpyn of iets.

      Dis egter naderhand sesuur, en dan halfsewe, en steeds kom Theo haar nie soek nie. Janie het al haar gesig en hande gewas en hare gekam en grimering aangewend en ander klere aangetrek, en sy weet nie wat sy nog kan doen om die tyd om te kry nie. Uitpak? Nee, daarvoor is sy te moeg. Sy sal maar op die bed lê en probeer lees met die hoop dat dit haar aandag sal aflei. Nie dat enige held of heldin se lewe so frustrerend en ingewikkeld soos hare kan wees nie …

      Om seweuur kom staan Theo in die kamerdeur.

      “Gaan jy jou nie verwerdig om te kom eet nie?” vra hy koel. “Die kos is lankal reg en jy het nou-nou gaste wat kom koffie drink.”

      “Ek … ek het gewag dat jy my roep.”

      “Jammer, mý fout. In die toekoms sal ek ’n klokkie lui sodra ete gereed is. Sal dit jou goedkeuring wegdra?”

      “Ek het gedink jy wil my nie buite by die vuur hê nie,” probeer sy verduidelik.

      “Ek wil nie, maar jy kan tog nie heeldag in die rondawel lê en lees nie. Kom jy eet?”

      Janie maak die boek toe en spring op. “Ek kom dadelik.”

      Dis weer ’n hardekoolvuurtjie en die biefstuk en skaapwors is seker net so smaaklik soos verlede keer, maar vanaand smaak dit vir haar soos saagsels en om die vuur is daar ook geen romantiese atmosfeer nie.

      “Johan Weideman en sy vrou Annatjie kom agtuur hierheen om jou in die reservaat welkom te heet,” sê Theo toe sy haar bord eenkant toe skuif. “Ek verwag dat jy vir ons almal koffie sal maak en die mense hoflik ontvang. En dit bring my by ’n verdere paar puntjies wat jy miskien nie verstaan nie en wat ek wil aanstip.”

      Janie se moed sak in haar skoene. Sy het gehoop Theo het klaar rusie gemaak, en sy is ook nie lus vir kuiermense nie.

      “Die mense van Pafuri is my kollegas en ’n paar van hulle is ook my vriende. Wat hulle betref, is hierdie huwelik normaal. Hulle is onder die indruk dat ons mekaar liefhet en ek wil daardie indruk behou. Wanneer ons kuiermense kry of iemand in die kamp of veld raakloop, verwag ek dat jy die skyn van ’n gelukkige huwelikslewe moet bewaar. Ek sê nie jy moet my om die nek val en ‘liefste’ en ‘skat’ noem nie – dié kon jy in elk geval nooit regkry nie en ek dink meer van jou omdat dit jou minder van ’n huigelaar maak – maar probeer darem vriendelik teenoor my wees. Of, as jy selfs dit nie kan regkry nie, bly dan net stil. Maar moenie my in die openbaar uittart nie en moenie my geduld té veel op die proef stel nie. Ek staan nie as ’n sagmoedige en verdraagsame man bekend nie en jy sal jou fout gou agterkom.”’

      Theo bly ’n oomblik stil en Janie verwag dat hy weer gaan vra of dit duidelik is. Hy gooi egter nog ’n stomp hout op die vuur en wanneer hy weer praat, is sy stem gelykmatig.

      “Ek sal my kant bring. Ek sal hoflik teenoor jou wees en jou behandel asof jy werklik my vrou is. Johan-hulle is goeie mense en dis vriendelik van hulle om met jou te kom kennis maak. Ek wil hulle nie skok of seermaak nie.”

      “Ek sal nie ongasvry teenoor jou vriende wees nie,” antwoord Janie stil. “Is hulle deel van die personeel?”

      “Johan is by ontvangs en Annatjie behartig die linnestoor – die beddegoed en handdoeke wat vir die toeriste se gebruik in die rondawels geplaas word. Annatjie is ouer as jy, maar dalk sal julle maats word en kan jy iets uit haar mooi geaardheid leer.”

      Janie hoor dat Theo vertel van ’n enigste seuntjie wat twee jaar gelede aan bilharzia oorlede is en dat Annatjie so moedig was, maar sy luister net met ’n halwe oor. Daardie verwysing na Annatjie se mooi geaardheid waaruit sy iets kan leer, was ’n doelbewuste steek en het diep getref. Dink Theo dan dat sy so ’n lelike geaardheid het?

      “Ek sal my uiterste bes doen om van jou onbaatsugtige vriendin te hou,” sê Janie koel.

      Theo se blou oë flikker gevaarlik, maar hy sê niks meer nie, want hy sien die Weidemans aankom.

      “Naandsê!” groet ’n joviale stem en toe hy in die vuur se lig kom, sien Janie ’n forsgeboude man van so tussen dertig en veertig jaar. Sy vrou is fyn gebou met ’n blonde bolla laag in haar nek gekam.

      “Naand, mense,” groet Theo in ’n gesellige stemtoon. Janie kan nie glo dat iemand binne ’n minuut so ’n metamorfose kan ondergaan nie. Sy besef dat sy Theo Vermaak nog stééds nie ken nie en daardie feit maak haar bang.

      Annatjie vertel vir Janie hoe bly sy is dat die geledere van die dames in Njelele-kamp aangevul is en bied haar hulp aan indien Janie probleme met die huishouding ondervind. Dis seker ’n geweldige aanpassing na die stadslewe: geen winkels naby nie, geen elektrisiteit, haarkapsters of vermaak nie, net bosse en wilde diere en grillerige insekte.

      Al was Janie bevooroordeeld, hou sy van Annatjie Weideman en vind dit maklik om met haar en Johan te gesels. Sy hou egter ongemerk haar horlosie dop, sodat sy binne ’n halfuur kan aanbied om koffie te maak. Sy gaan Theo nie weer die geleentheid gee om te sê sy verwaarloos haar pligte as huisvrou nie.

      “Johan, vertel vir Janie die storie van die man wat daar in jou kantoor ingestorm gekom het,” versoek Theo met ’n breë glimlag. “Sy sal dit geniet.”

      Johan lag eers klaar en dan vertel hy: “Gistermiddag, net so skuins na twaalfuur, kom daar ’n toeris in my kantoor ingehardloop, bleek en windverwaaid. ‘Meneer, sê my gou, is daar renosters in die wildtuin?’ vra hy. Ek sê toe ja, hier is agt witrenosters wat ons van Hluhluwe aangekoop het. ‘Dankie tog …!’ sê die man toe. ‘Ek het gedink ek sal moet ophou drink! Hulle het vir my gesê hier is leeus en olifante en sulke goed, maar niemand het iets van renosters gesê nie. Ek het gedink ek kry die horries toe die yslike kolos hier reg langs my motor agter ’n bos uitkom. Die volgende wat ek verwag het, was ’n pienk olifant!’ ”

      “Daardie toeris het natuurlik die reëls oortree,” merk Theo op, maar hy klink nie ergerlik nie. “Die pad na die renosterkamp het ’n duidelike ‘geen toegang’-bord.”

      “En vir diegene