jy dan heeltemal onnosel, Janie?” vra hy woedend. “Hoekom het jy nie jou sitplekgordel vasgemaak nie?”
“Ek … ek het nie daaraan gedink nie.” Janie vee verdwaas met die agterkant van haar hand oor haar oë en dan begin sy ook kwaad word. Theo bestuur hierdie motor soos ’n maniak en dan is hy vir háár kwaad as sy haar kop stamp! Hy uiter geen woord van verskoning of van bekommernis dat sy dalk seergekry het nie … Hy het geen konsiderasie vir haar nie en ’n mens sal nie sê hulle is skaars ’n dag getroud nie.
“Jy kon my gewaarsku het jy gaan soos ’n mal mens deur die bosse jaag en ek moet my gordel vasmaak!”
“Moet ek dan alles vir jou sê? Ek het gereken jy is darem in staat om vir jouself te dink. Maak daardie sitplekgordel nóú vas!”
“Ek weet nie hoe die knip werk nie,” antwoord Janie stuurs.
Theo haal sy voet met ’n gesmoorde uitroep van die brandstofpedaal af.
“Jy gedra jou soos ’n moedswillige kind, Janie.”
Hy pluk die sitplekgordel oor haar skouers, trek dit baie styf om haar middel en knip dit vas.
“Theo! Dis te styf. Dit maak my seer!”
“Jammer,” sê hy kortaf en verstel dit effens. “Het jy netnou seergekry?”
“Nee,” sê Janie sarkasties. “Dis mos nie seer as ’n mens ’n verblindende slag teen jou kop kry nie. ’n Mens se kop is mos van klip gemaak.”
“Janie …” Theo moet homself inspan om kalm te bly. “Ek kon nie dadelik stilhou nie omdat daardie olifant ou Eentand was. Hy is ’n verstote bul en baie aggressief. As ek dadelik stilgehou het, sou hy gestorm het.”
“Jy kon darem oor my bekommerd gelyk het en nie so lelik met my gepraat het nie.”
“Ek het met jou geraas juis omdat ek geskrik het toe jy val en oor jou bekommerd was. Het jy seergekry?”
“’n Bietjie. Dit was ’n harde slag, ek het sterretjies gesien en … en …” Janie is skielik na aan trane en kan nie verder praat nie.
“Janie, moet om liefdeswil net nie nóú kies om in trane uit te bars en histeries …” Theo beteuel sy ongeduld en dwing homself om redelik te praat.
“Janie, dertig kilometer van hier af is ’n vernietigende veldbrand aan die woed. Dit kan die ganse reservaat in puin lê as ons dit nie betyds onder beheer kry nie. Ek is jammer ek het so woes gery en vra om verskoning dat jy jou kop gestamp het. Ek is nog steeds baie lief vir jou en jammer jy het seergekry. Ek sou jou graag in my arms wou neem en troos, maar daar is nie tyd nie. Ek wil so gou moontlik by die ander veldwagter kom en met die brand help. Sal jy nou soos ’n soet dogtertjie vasgegord sit en jou venster opdraai sodat die takke nie jou arm krap as ek nie betyds vir die bosse kan uitswaai nie?”
“Dis te warm as die venster opgedraai is. Ek is nie ’n kind nie, Theo. Ek is ’n getroude vrou. Al sal ’n mens nooit raai dis my bruidegom van ’n paar uur wat langs my sit nie …”
Janie kyk onderlangs na Theo en verwag dat hy sal glimlag of haar ’n haastige soentjie sal gee. Dit was hulle eerste rusie as man en vrou en sy is nie met die versoening tevrede nie. Sy weet uit ondervinding sy het met ’n man met ’n haastige humeur getrou, maar ’n jong bruid verwag darem ’n bietjie meer romanse van haar splinternuwe bruidegom. Veral pas nadat sy haar kop so seer gestamp het …
Theo is egter reeds besig om die enjin aan te skakel.
“Draai op die venster,” is al wat hy sê. “Hier is baie doringbome in die omgewing en die takke kan jou lelik krap. En sluit ook die deur aan jou kant.”
“Theo, sê my …” Janie skuif effens nader aan hom. “Sou jy stilgehou het netnou as ek dalk uitgeval het?”
Theo knik afgetrokke, sy aandag weer by die pad en by die lug aan die oostekant, waar hy reeds tekens van die rook kan sien. Dis ’n verwoestende brand daardie. Hy hoop die damwal en die twee nuwe windpompe bly nie in die slag nie …
“Sou jy regtig?” Janie laat haar kop teen sy skouer rus en gee die bruingebrande hand op die stuurwiel ’n ligte drukkie.
“Sou ek regtig wat? Oppas, die pad is nou en ek sal nie vinnig kan uitswaai as jy so naby aan my sit nie.”
Janie skuif dadelik weg, so ver moontlik in haar eie hoekie en vas teen die deur.
“Dit spyt my,” sê sy koel. “Ek wou net weer vriende maak. Dis vir my belangrik dat ons huwelik nie so gou reeds moet skeefloop nie. Ek sal nie weer teenaan jou sit of jou hand vashou nie. Ek sal nie weer aan jou ráák nie.”
“Janie, dis omdat jy jou soos ’n moedswillige kind gedra dat ek jou soos een behandel. Ek wil nie hê jy moet agterna sê dis mý skuld dat jy bloedvergiftiging gekry het omdat die dorings jou gekrap het nie.”
Sommer so in die ry leun Theo oor, druk die deurknoppie af en draai Janie se venster toe. Sy arm skuur teen haar wang en skouer en Janie skuif dadelik agtertoe, weg van hom af en stywer teen die rugleuning.
As Theo dit opgemerk het, lewer hy geen kommentaar nie. Langs die motor kom reeds ’n paar verskrikte voëls verbygevlieg en nou kan hy ook die rook begin ruik. Hoekom breek ’n brand altyd uit juis wanneer hy nie in die reservaat is nie? En hoekom is daar vandag nie die geringste teken van reënwolke in die lug nie? Hy hoop Flip Venter en sy helpers het reeds met ’n voorbrand begin.
En hopelik is daar nog ’n bietjie water in daardie droë loop van die Mutale-rivier wat die vlamme effens sal demp. Met die Johannesburg-toe-ganery het hy nie verlede week daardie pad gepatrolleer nie en hy weet ook nie of daardie trop van bykans dertig waterbokke nog in die Dzata-omgewing is nie. Hy kan maar net hoop die tropleier het betyds onraad geruik en deur die Pafuri-rivier na veiligheid gevlug …
“Steenbokkie!” sê Theo skielik. Hy beduie nie waar nie en laat dit aan Janie self oor om in die ruie gras na die klein bokkie te soek. “Het jy hom gesien?”
“Nee,” en sy doen ook nie moeite om rond te kyk nie. Dis drukkend warm in die motor en sy het ’n dowwe hoofpyn ontwikkel. En so maklik vergewe sy ook nie vir Theo nie …
“Dáár hardloop hy! Dis ’n mooi rammetjie.”
“Baie mooi,” stem Janie koel saam, maar sy staar stip voor haar in die pad en lewer ook geen kommentaar toe die motor se skokdempers weer eens deurstamp in ’n slaggat wat Theo nie betyds gesien het nie.
Sy hoop hierdie duur motor van hom breek. Sy wens hy stamp die Mercedes teen ’n klip of iets – of stamp sy eie kop teen die ruit, tien keer seerder as wat sy háár kop gestamp het …
Dan kry Janie skielik skaam oor haar wraakgedagtes. Dis kleinlik van haar; amper net so kleinlik as wat Okkie was. ’n Veldbrand is ’n ernstige saak en sy kan Theo seker nie kwalik neem as hy ongeduldig met haar is of nie aandag aan haar gee nie. Dis nie dat sy regtig kinderagtig is nie, dis sommer maar dat sy huis toe begin verlang: na haar vriende en die kantoor en haar ou woonstelletjie oorkant die park, na die bekende dinge wat haar minder onseker en bang vir die toekoms sal laat voel.
En na haar ma … Hoe bitter graag sou sy nie gistermiddag haar ma by haar wou gehad het nie! Dit was haar huweliksdag en daar was nie ’n ma of ’n pa of selfs ’n tante of ’n suster om haar by te staan en te sê sy doen die regte ding en Theo Vermaak is die regte man vir haar en sy sal gelukkig woon in ’n verafgeleë wildreservaat nie.
Dit was net Theo. Maar gister was hy so lieftallig en bedagsaam teenoor haar. Nie soos vandag nie. Vandag is sy heeltemal alleen …
Die dowwe hoofpyn het erger geword en dit voel nou soos hamerslae teen haar slape. Janie voel weer die branderigheid van trane agter in haar keel, maar sy onderdruk dit. Sy gaan Theo Vermaak nie weer die geleentheid gee om te sê sy moenie in trane uitbars en histeries raak nie. Hy het haar gewaarsku hy het nie veel kennis van vroumense nie, maar sy het darem ’n groter mate van begrip van hom verwag. Hy het haar immers lief.
Miskien