en die saaklikheid van die landdros het dit vererger. En toe word twee wildvreemde en onbelangstellende klerke geroep om as getuies te dien. Dit was nie hoe sy altyd gedroom het oor haar huweliksdag nie.
Of miskien moes sy en Theo in die kerk getrou het. Dit sou baie gehelp het as daar gewyde orrelspel was en dalk blomme in die kerkgebou, en ’n vaderlike predikant met ’n mooi boodskap …
Die vlamme is baie erger as wat Janie verwag het en nou besef sy ook dat dit nie swaar reënwolke is wat sy op die horison gesien het nie, maar rook.
“Bly in die motor!” skree Theo bokant die gedruis van die vlamme uit. Hy spring uit en hardloop na ’n man wat ook die uniform van ’n veldwagter aanhet.
Janie kan nie uitmaak hoeveel mense daar is en wat hulle met die sakke en stukke afgebreekte takke probeer doen nie. Sy sien ook nie ’n brandweerwa nie en wonder bekommerd of Theo nie te naby aan die smeulende bosse stilgehou het nie. Daar is so ’n lawaai en dit lyk of almal deurmekaar rondhardloop. Sal iemand hoor as sy skree?
“Dankie tog jy is hier!” skree Flip vir Theo. “Ons het ’n voorbrand gemaak, maar dit gaan nie genoeg wees nie. Ons moet ’n breër een agtertoe maak – teen die spruit. Daar is darem nog ’n bietjie water in en daar is die bosse effens groener.”
“Hoe lyk dit?”
Flip skud sy kop. “Ons vorder, maar dit lyk nog steeds sleg. Ek het Njelele toe geradio vir nog hulp. Enigiemand – selfs gewillige vakansiegangers. Die brandweer op Messina staan op ’n gereedheidsgrondslag indien ons hulle nodig kry.”
“Ek wil g’n toeris hier hê nie,” sê Theo kortaf. “Hulle weet net hoe om ’n brand te stig, nie hoe om dit te blus nie. Wat maak daardie kinders hier?”
“Katinka het die skool gesluit sodat hulle kon kom help. Sy is ook hier iewers …”
“Ons kan dit nie toelaat nie. Sê sy en die kinders moet onmiddellik padgee voordat nóg ’n ramp ons tref.”
Theo volg Flip se voorbeeld en bind ’n nat lap oor sy mond en neus. Dan tel hy ’n brandblusser op, voel dis leeg en gooi dit eenkant toe. Hy gryp ’n mlalapalmtak, roep ’n span werkers en hardloop af na die spruit se kant toe. “Ek gaan saam met Theo!” roep iemand in ’n pikswart besmeerde denimlangbroek en serp om die kop en gesig.
Janie kon nie bokant die gedruis hoor wat die persoon skree nie, maar aan die manier van hardloop kan sy sien dis ’n meisie. Sou dit die Katinka wees van wie daardie ouerige man by die ingangshek gepraat het?
Deur die rookwolke sien Janie dat Theo vassteek en wild met sy arms vir die meisie beduie sy en die twee seuntjies wat haar gevolg het, moet teruggaan. Dit lyk asof Theo baie ergerlik is en of daar ’n woordewisseling volg – ’n hewige argument wat blykbaar deur die meisie gewen word, want slegs die twee seuntjies draai terug en die meisie klouter-val agter Theo aan teen die skuinste af.
Die ander veldwagter roep die kinders en beduie hulle na ’n Land Rover van die Parkeraad toe. Hulle lyk eers onwillig, maar merk dan dat ’n paar ander kinders reeds by die voertuig staan en dat een van die beamptes agter die stuurwiel sit.
“Toe, oom Theo slag julle lewendig af as hy terugkom en julle nog hier kry!” jaag Flip hulle aan. “En julle juffrou gaan ook raas kry omdat julle stokkiesdraai. Dis nie meer die goeie ou dae toe die skole gesluit is wanneer daar ’n brand of ’n dreigende sprinkaanplaag was nie.”
Na omtrent twee of drie uur is die spektakel van rook en smeulende boomstompe nie vir Janie meer so aanskoulik nie. Dit wil lyk asof die vuurvegters die brand onder beheer het en daar is nie meer veel aksie nie. Die mense is almal dieper die veld in, na ’n kol waar die lug nog donker bokant die bosse hang.
Dis ondraaglik warm in die motor en Janie het die vensters oopgedraai. Die rook brand haar keel en die bedompige reuk maak haar naar en laat haar voel asof ’n klomp hamers van binne af teen haar kop slaan. Sy besluit om uit te klim en iewers ’n slukkie water te gaan soek. Theo-hulle het seker waterbottels, of dalk is die water in die spruit drinkbaar.
Buite is dit amper nog warmer as in die motor. Daar waai ’n ligte windjie, maar die skerp rookreuk is oorweldigend. Janie is baie lus om om te draai, maar sy is bitter dors en sy sien ook nie kans om langer in die motor te sit nie.
Theo kon darem al ’n kansie gemaak het om te kom kyk hoe dit met haar gaan, dink sy wrewelrig. Of hy kon iemand gestuur het om vir haar water te bring. Vir al wat hy weet, het die leeus haar al opgevreet. Hy was dan daardie eerste dag so bekommerd oor haar veiligheid! Hoe kan hy haar nou ure lank alleen in die motor laat bly, sonder kos of water?
Daar is geen teken van Theo of enigeen van die ander mense nie. Janie draai haar kop skuins om beter te kan hoor. Iewers ver kan sy nog ’n geknetter hoor, maar nie stemme nie.
Die spruit is baie verder as wat sy gedink het. Die grond is ongelyk en brand haar voete deur haar skoensole. Janie kyk vies na haar pikswart sandale en wonder of sy nie liewer al met die pad langs moes geloop het nie. Maar sy kan onthou dat sy en Theo nie oor ’n bruggie gekom het vroeër vanmiddag nie. Dit beteken dat die spruit nie die pad kruis nie. Dit loop parallel met die grondpad en dit kan nie meer te ver wees nie, anders sou Theo die motor gebruik het en daardie meisie nie agterna gehardloop het nie.
’n Neushoringvoël kras skielik van iewers naby haar en Janie skrik haar yskoud. Sy wonder hoekom dit nie saam met die ander voëls gevlug het nie. Die hele middag het sy geen voëls of dieregeluide gehoor nie, nie eers insekte nie, en dit was ’n onverwagte en welkome geluid. Die voël se teenwoordigheid gee haar hoop dat die spruit naby is en sy strompel moedig verder deur die swart as en verkoolde bome en bosse. Dit maak lankal nie meer saak dat haar voete en klere pikswart is nie. Die sweet loop in strepe teen haar nek af en sy weet sy lyk seker smerig vuil, maar niks maak meer saak nie. Om water in die hande te kry, het ’n obsessie by haar geword.
Dit kan nie meer te ver wees nie, praat Janie haarself vir die soveelste keer moed in. Die spruit behoort nou net hier voor te wees …
Dis reeds ’n geruime tyd dat sy nie meer voetspore in die verskroeide grond voor haar gesien het nie en dis met ’n gevoel van verligting dat sy ’n ry spore reg voor haar gewaar. Sy het begin vrees dat sy heeltemal in ’n verkeerde rigting geloop het.
’n Ander persoon het pas tevore hierlangs gestap, dalk ook op pad spruit toe. Sy bestudeer die spore met die hoop dat dit dalk Theo s’n kan wees, maar sy sien dat dit iemand met hoëhakskoene was. Seker daardie ander meisiekind …
Meer om haar met iets konkreets besig te hou en ook uit ’n bietjie nuuskierigheid, meet Janie die grootte van die voet aan haar eie. Katinka is blykbaar net so lank soos sy en hulle dra ongeveer dieselfde nommer skoen.
Dan tref dit Janie met ’n siek gevoel op die krop van haar maag dat Katinka donkerblou seilskoene aangehad het. Dis nie Katinka se ry spore hierdie nie; dis haar eie …
Eers weier sy om die feit te aanvaar, dan begin sy besef dat sy in ’n sirkel geloop het. Sy het al gehoor dat mense so verdwaal.
Paniek dreig om haar te oorweldig en Janie besef dat sy kalm moet bly. Sy moet nugter bly. As sy nou paniekbevange raak, verloor sy kop en kry sy Theo se motor nie weer nie. Al hierdie verkoolde swart bosse en bome lyk eenders en dis maklik om jou sin vir rigting in die veld te verloor.
Janie haal ’n paar keer diep asem om haarself tot logiese denke te dwing. Sy begeer om net ’n oomblik lank iewers te sit, maar die grond en klippe is vuurwarm en sy is bang sy het nie die moed om weer te begin aanstap as sy ’n bietjie gerus het nie.
Sy gaan staan ’n rukkie in die koelte van ’n knoppiesdoringboom en wil dit nie teenoor haarself erken dat sy netnou onder hierdie selfde boom gerus het nie. Dis ’n ander boom; dit móét ’n ander boom wees … maar dan sien sy die amper verkoolde stuk skilpaddop waarna sy netnou ook gestaan en kyk en wonder het of die arme skilpad lankal reeds dood was en of dit te stadig was om die vuur te ontsnap.
Sonder dat sy ag gee in watter rigting dit is, begin Janie aanstap. Dis nou koeler as vroeër die middag en sy merk met ’n skok dat die son reeds onder is. Sy kan nie meer