om met Becker te trou. Sir Henry was egter met afgryse vervul. Op sý beurt gewoond om in alles sy sin te kry, het hy sy gesin eenvoudig op die skip gesit en teruggebring Schoongelegen toe. Becker moes stil-stil gevolg het, want kort daarna, toe die huishouding een oggend ontwaak het, is gevind dat Laura saam met hom weg is. Sy het ’n briefie gelaat waarin sy sê dat ’n lewe sonder Claude Becker vir haar geen sin inhou nie. Die briefie word nou nog op Schoongelegen in ’n spesiale lêer in die biblioteek bewaar. Ryk het dit eendag vir my gewys. Die twee seuntjies het by hul pa en oupa agtergebly. Enkele dae later het sir Henry ’n ernstige beroerte gehad. Dit kon seker toevallig gewees het, maar die meeste mense het dit aan sy ontsteltenis oor Laura se vlug toegeskryf. Hy was daarna ’n algehele invalide en is tot sy dood ’n paar jaar later deur sy skoonseun versorg. In sekere opsigte het sir Henry gelyk gehad oor sy keuse van ’n man vir sy dogter. Alexander Hofmeyr het geblyk ’n baie betroubare man, ’n toegewyde vader en skoonseun te wees. Maar Laura wou iets anders gehad het.”
“Ja, ’n mens weet ook nie altyd watter versoekings oor jou pad kan kom nie, en veral nie watter afdraaipaadjies jy dan gaan kies nie,” sê Louise.
“Kom, die skape het gewyk; dit word laat,” vervolg James. “Dit is tyd om terug te gaan. Hoe lyk dit, kan ek vir Ryk Hofmeyr laat weet jy sal kom vir die onderhoud?”
“Natuurlik! Ek is nou so nuuskierig dat ek kan vrek,” sê Louise. “Dit is die boeiendste verhaal! En al kry ek nie die werk nie, sal my vriendinne in Bloemfontein my dit nooit vergewe as ek die kans om Ryk Hofmeyr te ontmoet deur my vingers laat glip het nie.” Dan kyk sy ernstig in sy oë. “Ek spot sommer, James. Ek besef wat ’n wonderlike geleentheid jy hier vir my geskep het. Ek wil dit aangryp. Om met so ’n versameling te werk, is presies wat ek graag wil doen. Ek sal nie nog so ’n geleentheid so vroeg in my loopbaan kry nie. Ek waardeer jou voorspraak by die Hofmeyrs ontsettend baie! Ek sal probeer om jou, en hulle, nie teleur te stel nie.”
In die platboomskuit op pad terug die dorp in, verval Louise weer in mymering. Sy het baie om te beplan vir haar oppak en terugkeer na Suid-Afrika en meteens begin die toekoms ’n moontlike en baie opwindende vorm aanneem. Sy kyk op wanneer James se stem haar gedagtes onderbreek.
“Terloops, Becker se portret van Laura van der Byl Hofmeyr is na haar vlug van Schoongelegen af deur die Hofmeyrs opgepak en weggebêre, en nooit weer uitgehaal nie. Dit kan dalk een van jou eerste take wees: om die Claude Becker-portret van Laura Hofmeyr in al sy aansienlike glorie te herstel en uit te stal.”
* * *
Die volgende paar dae is Louise baie besig met die voorbereidings vir haar vertrek. Sommige van haar goed, soos haar bekers, teepotjie en ander breekgoed, deel sy uit onder haar vriende. Die wegpak van die boeke is ’n groot taak en sy stuur dit weg na haar ma se adres in Bloemfontein. Hoewel sy nou hoop om haar moontlik in die Kaap te vestig, is dinge nog te onseker om vaste planne te maak.
Sy knyp ook tyd af om vir oulaas gou te gaan uiteet of ’n drankie in ’n pub te geniet saam met van die talle vriende wat sy deur die jaar in Oxford gemaak het. Haar naaste vriende, Audrey, Anjeli en Heinrich, neig om soos ’n kokon om haar toe te vou – bewus daarvan dat hul tyd saam tot ’n einde kom. Van James, wat eintlik die naaste aan haar was en wie se vriendskap sy die meeste in die toekoms sou koester, sien sy maar min. Hy is besig met sy eie verantwoordelikhede aan die kollege en universiteit. Tussen al die bedrywighede deur het sy min tyd om oor die pos in die Kaap te tob. Sy bel wel haar ma in Bloemfontein en lig haar oor die opwindende moontlikheid in.
Op Dinsdag, twee weke na haar laaste vraestel, het Louise haar verpligte mondeling, haar viva voce, om die eksamen te voltooi. As daar enigsins onduidelikheid oor die uitslag van haar geskrewe eksamen is, word dit hier besleg. Angstig gaan sy die oggend na die kennisgewingbord in die Examination Schools om die rooster vir die mondelinge te bekyk.
Haar ervare medestudente het aan haar verduidelik dat ’n lang tyd toegestaan vir ’n mondeling moeilikheid beteken – jy moet jou nog bewys, is die implikasie. Andersyds kan ’n kort tyd toegestaan vir die mondeling óf beteken dat alles in orde is, die mondeling is bloot ’n formaliteit, óf dat jy so hopeloos gevaar het dat daar geen salf aan jou te smeer is nie.
Verlig sien Louise dat daar net ’n kwartier aan haar toegestaan is. Sy glo darem nie dat sy in die “geen salf te smeer”-kategorie kan val nie, en vertrou dat die kort tydjie ’n aanduiding is dat die eksaminatore tevrede met haar prestasie in die eksamen is.
Om kwart voor drie die middag meld sy haar weer in volle akademiese drag aan by die Examination Schools. Die student wat by die lokaal uitkom, lyk ’n bietjie bleek en Louise se hart klop senuweeagtig vinniger. Die meisie glimlag darem nog vir haar. Wanneer sy die lokaal binnestap, voel sy egter dadelik ’n ligte, selfs vrolike atmosfeer aan wat haar gerusstel.
Die drie eksaminatore skerts met haar oor sommige van haar antwoorde, maar komplimenteer haar ook met haar wye en tog diepgaande kennis.
“Wat is u toekomsplanne?” vra die voorsitter van die paneel.
“Wel,” antwoord sy versigtig, “daar is die moontlikheid dat ek die kuratrise kan word van een van Suid-Afrika se groot privaat kunsversamelings. Dit is egter nog nie bevestig nie; ek moet vir ’n onderhoud gaan sodra ek terug in die land is. En, dit hang seker ook af van die eksamenuitslag vandag!” glimlag sy.
“Nou ja,” sê die eksaminator wat links sit gemaak ernstig, “ons kan nooit tussen ’n jong dame en so ’n wonderlike geleentheid staan nie.”
Sy besef dadelik dat, hoewel die eksaminatore nie veronderstel is om die uitslag tydens die viva voce bekend te maak nie, hy eintlik vir haar gesê het sy was suksesvol in die eksamen. Sy glimlag verlig vir hom.
Dit is met geveerde tred dat sy terugstap kollege toe. Haar vriende wag angstig vir haar en na haar beskrywing van die mondeling, word sy opnuut omhels en gelukgewens. Die nagaan van haar naam op die eksamenlys later die middag is werklik net ’n formaliteit.
* * *
Die volgende dag haal sy die bus van Oxford na Heathrow. Sy voel gevlei dat Audrey, Anjeli en Heinrich daarop aandring om heelpad saam te gaan Heathrow toe. Hulle kan haar ook met die klomp bagasie op die bus help. Hulle praat nie veel gedurende die reis nie, almal deeglik bewus daarvan dat hul paadjies nou gaan skei en dat hulle mekaar waarskynlik maar selde in die toekoms sal sien. Daar is gelukkig e-pos, troos hulle mekaar.
James het haar die oggend gebel om tot siens te sê en haar volledige uitslae, wat hy as haar tutor ontvang het, oor te dra. “Very good marks, my dear. You can be proud of yourself.”
Dit is maar ’n bedremmelde groepie wat mekaar by die versperring waar sy moet deurgaan na haar vlug groet. Hulle druk mekaar styf vas en belowe om gereeld in kontak te bly. Audrey gaan haar voorberei op die groot Britse staatsdienseksamen en daarna die nog mededingender Foreign Office-eksamen. Sy wil haar graag by die diplomatieke diens aansluit. Anjeli gaan terug na Indië – sy het ’n pos by ’n universiteit in Bombaai gekry. Heinrich bly vir eers op Oxford aan, sy studie nog nie voltooi nie.
Net voordat sy deurstap, hoor sy iemand haar naam roep. James kom uitasem na hulle aangehardloop. “Die bleddie trein was laat – soos gewoonlik,” hyg hy. “Ek moes darem self kom groet.” Hy omhels Louise en druk haar styf teen hom vas. Toe sy na sy gesig opkyk, sien sy dat hy trane in sy oë het.
“Jou afspraak by Ryk is gereël vir die vyftiende Julie, om tienuur die oggend. Dit gee jou twee weke voor die tyd by die huis. Jy moet jou by die Van der Byl-Hofmeyr Trust-gebou in Kaapstad aanmeld. Dit is die familiemaatskappy wat na die Hofmeyrs se persoonlike finansiële belange omsien, afgesien van hul belange in die vele ander maatskappye.” Hy stop ’n nota met die besonderhede vir die afspraak in haar hand.
Terwyl sy deurstap na die vertrekuitgang, roep hy agterna: “Sê groete vir Ryk – ek verlang na hom. En, o ja, hy het ’n baie gawe – en aantreklike – privaat sekretaris, Martin Lander. Hy sal vir jou ’n groot steun wees!”
2
Vryday 15 Julie is 'n tipes Kaapse winterdag met grys lug en sagte reën. Die vyfster-hotel in die voorstrandgebied