volgende oggend sit Louise na ontbyt met haar bagasie in die foyer en wag. Sy hoop hulle het gereël dat iemand haar lughawe toe neem. Dit is wat sy afgelei het uit die aanwysings wat sy in Bloemfontein ontvang het, maar niemand het weer daarna verwys nie.
Sy sien ’n silwergrys Renault Scenic voor die hotel stilhou en spring verlig op. Dit is die lenige gestalte van Martin Lander wat uitklim. Sy gesig helder op toe hy haar sien. “Ek het sommer self gekom om jou lughawe toe te neem,” sê hy. “Hier is jou werkaanbod.” Hy druk ’n verseëlde wit koevert in haar hand. Dan tel hy haar tas en handbagasie op en begin uitstap na sy motor toe. “Kom, ons kan in die motor gesels.”
Dit neem skaars twintig minute van die stad na die Kaapse lughawe. “Ek hoor Ryk het jou gisteraand opera toe geneem,” sê hy. “Het jy dit geniet?”
“O, ontsettend; dit was wonderlik!” antwoord Louise.
“Die opera of die geselskap?”
Verbeel sy haar of is daar ’n tikkie norsheid in sy vraag? Kan dit wees dat Martin ’n bietjie jaloers is op sy baas – en dit oor haar? Hulle het mekaar almal gister die eerste keer ontmoet!
“Die produksie was fantasties, en Così fan tutte is in elk geval my gunsteling onder Mozart se operas; my gasheer was – ewe galant,” antwoord sy versigtig.
Sy kan sien hoe hy ontspan na die omsigtige, nie-oordadige antwoord. Hy draai sy kop heeltemal na haar sodat sy ’n bietjie senuweeagtig oor die verkeer word, en glimlag stralend.
“Maak oop die koevert, sodat jy kan sien of jy by ons wil kom werk,” moedig hy haar aan.
Sy sou verkies om dit in privaatheid te doen, maar sien nie kans om hom teleur te stel nie. Sy skeur die koevert oop en lees die uiteensetting op een bladsy. Die betrokke bedrae slaan haar asem weg. Dit is meer as wat sy ooit sou kon droom en die aanbod sluit ook ’n motor in. Dit is duidelik dat as Ryk Hofmeyr iets wil hê, hy nie baie dinge in sy pad laat staan nie.
“Die salaris is meer as wat ek sou kon droom,” antwoord sy eerlik maar versigtig, “maar ek wil darem net die hele opset met my ma bespreek. Sy is my beste raadgewer.” Na ’n oomblik stilte gaan sy voort: “Julle mag intimiderend wees, maar ek dink ek sien kans vir julle.”
Martin Lander flits weer sy skitterende glimlag na haar kant toe, en dié keer glimlag sy terug.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.