nie ’n gepaste opmerking sal wees net voor ’n onderhoud met die man nie. Martin is blykbaar ’n lojale werknemer en vriend van sy baas. Sy volstaan dus deur gelykmatig op te merk: “Ek het verstaan dat meneer Hofmeyr soms ’n moeilike persoon kan wees.”
Martin haal sy skouers op. “’n Hofmeyr van Schoongelegen kan seker nie anders as om ’n bietjie arrogant te wees nie. Hy het egter ’n baie goeie hart,” sê hy bedaard. “Terwyl ons nou vir Ryk – meneer Hofmeyr – wag, kom ek gaan wys jou ons jongste projek,” vervolg hy. “Dit sal jou as voornemende kuratrise interesseer.”
Hy help Louise om uit die stoel op te staan. Hulle stap deur ’n dubbeldeur uit die ovaal vertrek in by wat duidelik ’n klein raadsaal is, met ’n lang stinkhouttafel en tradisionele riempiestoele.
Teen die mure hang portrette van mans, wat sy aan hul voorkoms herken as waarskynlik nog Van der Byls of Hofmeyrs. Langs die een punt van die tafel staan ’n reuse houtesel met ’n lewensgrootte skildery van ’n beeldskone jong vrou. Sy het donker hare in Edwardiaanse styl in ’n groot, los bolla op haar kop, pragtige blou oë en is in ’n elegante lang, wit somertabberd geklee met ’n toegevoude wit sonsambreeltjie in haar hand. Die agtergrond is ’n groen tuin of woud met groot bome en enkele peoniebosse; voor haar op ’n klippaadjie staan ’n klein wit-en-bruin brakkie met ’n lewendige gesiggie, die een oortjie opgeslaan. Hy lyk of hy half terugkyk na sy meesteres. Die pragtige gesig van die vrou en die detail van die rok laat Louise aan die beroemde portrette van die keiserin Elisabeth van Oostenryk en Eugénie van Frankryk deur Winterhalter dink. Dit is egter duidelik ’n post-Victoriaanse portret hierdie. Dit kan net die Claude Becker wees, besluit sy.
Op daardie oomblik kom Ryk Hofmeyr die vertrek binne. “O, jy wys vir juffrou Le Roux ons nuwe speelding,” merk hy teenoor Martin op. “Ryk Hofmeyr,” sê hy en steek sy hand na Louise uit.
Sy voel lus om iets soos “ek sien so” te sê. Omdat hy so dikwels in die nuus is – wie het nie al sy foto êrens gesien nie? – kan daar geen twyfel daaroor bestaan nie. Sy bedink haar egter betyds en volstaan met ’n saaklike: “Aangename kennis, meneer Hofmeyr.”
Ryk Hofmeyr is korter as wat sy verwag het, so net onder die outydse ses voet sou sy dink, en ’n hele entjie korter as sy privaat sekretaris. Hy is ook nie so formeel soos Martin aangetrek nie. Hy dra ’n vaal olyfgroen chino, ’n bypassende geruite hemp en ’n mooi Italiaanse trui, wat hy nou uittrek. Sy moet egter toegee dat die bohaai oor sy voorkoms nie oordrewe is nie. Hy lyk inderdaad soos ’n tydskrifmodel, met die lyf van ’n tennisspeler eerder as ’n rugbyspeler: breë skouers en skraal heupe, swart hare wat natuurlik krul sodat ’n mens jou kon voorstel dat dit spesiaal vir ’n fotogeleentheid voorberei is, en fynbesnede maar ferm gelaatstrekke. Hy en Martin se kontrasterende voorkoms – die een blond en bloesend, die ander donker en ferm – wys mekaar ten beste af. Miskien is dit wat Martin bedoel het toe hy gesê het hulle is ’n goeie span, dink sy ’n oomblik geamuseer. Wat die twee mans deel, is die onwaarskynlike blou van hul blik. Hul oë is so ’n uitsonderlike blou dat dit amper ’n hipnotiserende ervaring is om so onder vier oë gespreek te word. Wat egter heeltemal afwesig is in Ryk Hofmeyr se blik, is die duidelike waardering wat Martin vir háár voorkoms en teenwoordigheid het.
“So, juffrou Le Roux, wat is u professionele indruk van hierdie werk?” vra Ryk Hofmeyr en beduie na die skildery terwyl hy sy een wenkbrou skepties lig. Louise weet die formele onderhoud het nou begin. Hulle gaan sit by die konferensietafel.
“Ek dink dit is pragtig,” sê sy dadelik, “een van die beste voorbeelde van Becker se werk wat ek nog gesien het, persoonlik of in afbeeldinge.”
“O,” sê hy oor haar kop teenoor Martin, “sy herken nogal die werk van Claude Becker. Of het jy haar die wenk gegee?”
Martin skud sy kop ontkennend en Louise voel hoe die verontwaardiging in haar ontplof.
“Meneer Hofmeyr,” sê sy met kille ontsteltenis, “ek is ’n kunsgeskiedkundige. Ek het Kunsgeskiedenis as hoofvak op universiteit geneem en daarna ’n nagraadse kwalifikasie aan ú alma mater, die Universiteit van Oxford, behaal. Ek kan nie insien hoe u dit kan oorweeg om my aan te stel as u so verras is dat ek die werk van een van die belangrikste portrettiste van die afgelope tweehonderd jaar herken nie!”
Die waarheid is dat, hoewel sy natuurlik van Becker geweet het, sy beslis nie die portret so onmiddellik sou kon plaas as James nie vir haar die verhaal van Becker se verbintenis met die Hofmeyrs vertel het nie. In sekere sin was Ryk Hofmeyr in die kol – sy het ’n wenk gehad, nie van Martin nie maar van James af, en uit nuuskierigheid het sy spesiaal nagelees oor Becker se werk en afbeeldinge van sy bekendste skilderye bestudeer. Dit is inderdaad die rede waarom sy so onmiddellik seker was dat dit ’n uitstaande voorbeeld van Claude Becker se werk is. Sy sou dít egter nooit teenoor hierdie onuitstaanbare, arrogante man erken nie.
Hy kyk haar koel, selfs ietwat lui aan. “My verskoning, juffroutjie, ek het net my verrassing uitgespreek, nie bedoel om u professionele bekwaamheid in twyfel te trek nie. Herken u dalk die besondere portret?”
“Nee,” sê sy, “ek het nog geen afbeelding van hierdie skildery teëgekom nie. Maar die Britse kunshistorikus Walters meld wel dat hy bevoorreg was om ’n besondere mooi portret deur Becker van mevrou Laura Hofmeyr van die Kaap de Goede Hoop te sien, voordat dit na Suid-Afrika geneem is. Ek wonder dus of dit nie die portret van u voorsaat is nie? Ek weet net nie hoekom u dan sou sê dat dit ’n ‘nuwe’ speelding is nie. Dit was tog seker al die tyd in u familie, of is dit ’n misplaaste veronderstelling?” Steeds laat sy nie blyk dat James vir haar die hele storie vertel het nie. Sy moet net onthou om hom te waarsku dat hy tog nie met die sak patats voor Ryk Hofmeyr uitkom nie.
“Ja,” sê hy, “dit is my oumagrootjie, Laura Georgiana Henrietta van der Byl Hofmeyr. Die skildery was om die een of ander rede jare der jare weggepak. Martin, met sy kunshistoriese agtergrond, het ook op ’n verwysing daarna afgekom en wou nie rus voordat ons dit gevind het nie. Dit kon nie hoër of laer nie. Hy het ’n hele speurtog en ’n soektog aan die gang gesit, deur ou dokumentasie en deur die kelders en solders van Schoongelegen. Daar is, soos jy sal sien, baie moontlike opgaarplekke in die huis en op die plaas. Uiteindelik het sy moeite hom geloon en het ons dit opgespoor. Dit is herstel en gister hier afgelewer. Ons vat dit eersdaags na Schoongelegen waar dit na al die jare ’n ereplek sal kry.”
“Was dit erg beskadig oor die jare heen?” wil sy weet.
“Nee, eintlik glad nie; dit moes net behoorlik skoongemaak word en ’n bietjie liefdevolle versorging kry.”
“Dit is pragtig gedoen,” sê Louise, “dit lyk of dit nou pas geskilder is. Wie het dit vir u gedoen?”
“’n Kontak van Martin,” sê hy en knik na sy privaat sekretaris, “volgens hom die beste restoureerder in die land, die gravin Falconeri.”
“Jy sal haar waarskynlik binnekort ontmoet. Sy doen heelwat werk in die versameling vir ons,” sê Martin.
Louise besef dat Martin en Ryk Hofmeyr ten spyte van haar uitbarsting praat asof sy reeds die pos gekry het. Die vraag is, wil sy vir die arrogante vent werk? Sal hy nie so op haar senuwees werk dat sy dit nie kan uitstaan nie? Aan die ander kant is die werk self, om na die versameling om te sien en orde daarin te skep, presies wat sy graag wil doen. En Martin is so innemend – en natuurlik baie aantreklik. James het mos gesê hy sal vir haar ’n groot steun wees.
Ryk Hofmeyr onderbreek haar gedagtes. “Hoe lyk dit, juffroutjie, in watter mate stel jy belang in die werk? Ek weet James het aan jou verduidelik wat ons wil hê: iemand wat die versameling behoorlik sal katalogiseer, sodat ons nie weer op speurtogte hoef te gaan om lank verlore kunsskatte terug te vind nie; iemand met die nodige kennis om dit behoorlik in stand te hou en as langtermynprojek te bestuur, hoewel laasgenoemde nie ’n deurslaggewende vereiste is nie; iemand om die versameling en sy geskiedenis, provenance, en so meer behoorlik te boekstaaf in ’n mooi boek met behoorlike illustrasies. Wat ek nie wil hê nie, is ’n fly by night, iemand wat ’n bietjie op ’n ryk man se wynplaas wil kom bly ‘vir die ervaring’, wat ’n lekker verposing soek ná haar verblyf in die buiteland, en ’n paar maande later soos ’n vlinder