Hilda Lategan

SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit


Скачать книгу

>

      Suid-Afrikaanse

      KOOKBOEK VIR ALLERGIEË EN VOEDSELSENSITIWITEIT

      Hilda Lategan RD (SA)

      Tafelberg

      Die uitleg in hierdie digitale uitgawe van Suid-Afrikaanse kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

      Voorwoord

      Om lekker te kan eet is ’n natuurlike behoefte en vir baie van ons is “eet” deel van ’n daaglikse roetine. Wanneer kos en bymiddels die oorsaak is van voedselallergieë en -sensitiwiteit en die negatiewe gevolge ’n mens siek maak, kan ’n mens verward en moedeloos raak oor die keuse van geskikte kos en die bereiding daarvan.

      Op versoek van Tafelberg-Uitgewers het ek die beste resepte uit Suid-Afrikaanse kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit (2004), my vorige boek oor hierdie onderwerp, geneem en nuwe inligting asook staatmakerresepte bygewerk om mense met hierdie siektetoestande te help. Die gedagte is om, ondanks die beperkings op die dieet vanweë voedselallergieë en -sensitiwiteit, resepte te verskaf vir smaaklike en bekostigbare geregte wat van algemeen beskikbare bestanddele berei is. Elke resep is saam met die voorgestelde variasies vir ’n verskeidenheid van toestande geskik.

      Die herstel en instandhouding van ’n gesonde liggaam dra by tot ’n sterker immuunstelsel, en die belangrikheid van ’n gebalanseerde dieet- en maaltydplan wat in jou unieke voedingsbehoeftes voorsien en jou spesifieke allergie of sensitiwiteit in ag neem, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Hierdie boek vervang dus nie ’n besoek aan ’n geregistreerde dieetkundige nie. ’n Dieetkundige wat bekend is met jou spesifieke toestand, kan vir jou nuttige wenke gee en help met die geskikste maaltydplan.

      Ek vertrou dat hierdie kookboek sal bydra tot goeie gesondheid en ’n positiewer ingesteldheid teenoor die beperkings van ’n dieet wat sekere kossoorte uitsluit.

      Lekker eet!

      Hilda Lategan RD (SA)

      Inleiding

      Wanneer ’n allergie of sensitiwiteit (onverdraagsaamheid of intoleransie) vir ’n bepaalde voedselsoort of bymiddel by jou of jou kind gediagnoseer word, beteken dit dikwels die einde van langdurige siekte asook ’n uitgerekte reeks mediese en ander toetse. Die feit dat die oorsaak van die siektetoestand blootgelê is, beteken die begin van ’n nuwe fase, naamlik die positiewe behandeling van die toestand. Juis in hierdie fase ontstaan daar egter dikwels ’n nuwe probleem deurdat jy met ’n lys van moets en moenies gekonfronteer word en radeloos wonder hoe daar met die skamele toegelate bestanddele iets eetbaars berei kan word. Ongeag die siektetoestand bly ’n gesonde en gebalanseerde dieet – met inagneming van die verbode voedselsoorte – noodsaaklik vir die instandhouding en herstel van die liggaam en immuunstelsel. ’n Kalm benadering is eweneens belangrik, aangesien volgehoue stres die immuunstelsel verder aftakel en inflammasie in die liggaam vererger.

      Die verskil tussen ’n voedselallergie en ’n voedselonverdraagsaamheid

      VOEDSELALLERGIE

      ’n Ware voedselallergie is ’n reaksie van die immuunstelsel wat volg op die eet van ’n spesifieke voedselsoort en klinies getoets kan word omdat daar veranderinge in die immuunstelsel voorkom. Teenliggaampies (ook genoem immunoglobuliene) ontwikkel in die bloed wanneer die kossoort, oftewel die allergeen, ingeneem word. Teenliggaampies is dus ’n reaksie van die immuunstelsel op ’n allergeen. Groot hoeveelhede daarvan kan in die bloed waargeneem word wanneer ’n voedselallergeen ingeneem word, en saam met die fisieke simptome kan dit die diagnose van ’n voedselallergie bevestig. Die diagnose word gewoonlik deur middel van bloedtoetse bevestig.

      VOEDSELONVERDRAAGSAAMHEID

      ’n Voedselonverdraagsaamheid is ’n reaksie op die inname van voedsel of voedselbymiddels wat nie ’n uitwerking op die immuunstelsel het nie. Die simptome kan wel ooreenstem met dié van ’n allergiese reaksie. Die bloedtoetse wat normaalweg vir allergiese toestande uitgevoer word, sal in so ’n geval nie ’n positiewe uitslag toon nie, maar die persoon ervaar nogtans siektesimptome. ’n Laktose-onverdraagsaamheid is ’n voorbeeld hiervan en is die gevolg van ’n tekort aan ’n spesifieke spysverteringsensiem, laktase, in die maagdermkanaal.

      Simptome

      Die verskyning van die simptome van ’n voedselallergie of -onverdraagsaamheid kan wissel van ’n paar sekondes ná inname tot selfs twee dae daarna. Soms het die inname van ’n klein hoeveelheid van die skadelike stof geen of weinig invloed nie, maar kan die sogenaamde stapeleffek mettertyd wel ’n reaksie tot gevolg hê. Dit wil voorkom asof voedselsoorte wat meer gereeld ingeneem word of as stapelvoedsel in ’n persoon se dieet beskou kan word, meer geredelik bydra tot ’n allergiese reaksie of onverdraagsaamheid.

      Mense neem ook deesdae heelwat meer geprosesseerde voedsel en versnaperings en drinkgoed met preserveermiddels en kleurstowwe as voorheen in, wat daartoe bydra dat ’n groot hoeveelheid bymiddels waarvoor hulle gevoelig kan wees, in die gestel beland.

      Simptome wat kan gepaardgaan met ’n voedselallergie en -sensitiwiteit, sluit in:

      •Erge hoofpyn, migraine en sommige epileptiese toevalle.

      •Depressie en onvoorspelbare gemoedskommelinge.

      •Tranerige oë, donker kringe onder die oë, geswelde ooglede en sigversteurings.

      •Kersierooi wange (rouge patches).

      •Oor-, neus- en keelsimptome:

      –’n Neus wat aanhoudend toe is, loopneus.

      –Hardnekkige verkoues wat nie opklaar met gewone behandeling nie.

      –Jeukerigheid en krapperigheid van die neus, ore, mond of keel.

      –Herhaalde middeloorontsteking en dreineringspypies in die ore.

      –Gehoorverlies.

      –Asma, brongitis en longontsteking.

      •Maagdermkanaalsimptome: Swak spysvertering, sooibrand, ’n opgeblase buik, maagpyn, diarree en hardlywigheid.

      •Spier- en gewrigspyne, fibromialgie, artritis en jig.

      •’n Drang na bepaalde voedselsoorte (food cravings).

      •Velreaksies: Ekseem, galbulte, aknee en dermatitis herpetiformis (’n chroniese uitslag).

      •Vogterughouding.

      •Erge menstruele simptome en premenstruele spanning (PMS).

      •Anemie.

      •Bednatmaak.

      •Swak konsentrasie, aandagafleibaarheid, swak korttermyngeheue en hiperaktiwiteit.

      •’n Toename in liggaamsgewig, gewigsverlies en uittering.

      •Anafilaktiese reaksie, wat insluit naarheid, diarree, borskaspyn, hartkloppings, asma, galbulte, lae bloeddruk, skok en selfs dood indien dit nie betyds behandel word nie.

      Siektetoestande wat verband kan hou met voedselonverdraagsaamheid

      MAAGDERMKANAALSIEKTES

      Seliaksiekte (coeliac disease)

      Seliaksiekte is ’n toestand waar die voering (villi) van die dunderm beskadig word deur gluten, ’n proteïen wat voorkom in koring, rog, gort en in ’n mindere mate in hawermout. Hierdie beskadiging belemmer die absorpsie van voedingstowwe uit die dermkanaal, wat tot simptome soos buikongemak, naarheid, vomering, los stoelgange, swak aptyt en eindelik wanvoeding en ongewenste gewigsverlies kan lei. Ek het al pasiënte met seliaksiekte in my praktyk gesien wat sukkel met gewigstoename, maar die oorsaak hiervan kon gewoonlik teruggevoer word na die medikasie wat vir die behandeling van die siektesimptome gebruik is. In uitsonderlike gevalle kan ’n gevoeligheid vir laktose (melksuiker) en suiker (sukrose) ook ervaar word. Dit is belangrik om ’n dieetkundige te raadpleeg met die beplanning van ’n gebalanseerde dieet-