waarby fruktane gevoeg is om die kwaliteit en raklewe van die produkte te verbeter. Op die voedseletiket word dit dikwels as “flour enhancer” of “stabiliser” aangedui.
•Poliole soos laktose (melksuiker), fruktose (indien meer as 12% van die totale hoeveelheid koolhidrate as bygevoegde fruktose in koeldrank, vrugtesap, gegeurde water en energiedrankies teenwoordig is) en suikeralkohole soos sorbitol, mannitol, maltitol, xilitol, polidekstrose en isomalt in suikervrye dieetprodukte soos kougom en lekkergoed.
•Groente soos artisjokke, beet, Brusselse spruite, kool, vars sigorei, vinkel, knoffel, preie, uie, ertjies en groenboontjies, en vrugte soos perskes, pruimedante en waatlemoen – om maar enkeles te noem.
•Grane soos koring, rog en gort.
•Peulgewasse soos gaar droë bone, kekerertjies, lensies en sojaprodukte asook neute soos pistasieneute.
•Gedroogde sigorei in dranke soos koffie.
Die vasstelling van ’n voedselallergie of -onverdraagsaamheid
’n Voedselallergie kan vasgestel word deur velpriktoetse, elektrodermiese veltoetse, bloedtoetse en intestinale biopsies. In sowel die geval van ’n voedselallergie as ’n voedselonverdraagsaamheid kan rekordhouding van alle voedselinname en die daaropvolgende reaksie aangewend word om die siektetoestand te bepaal. Sien die drie voorbeelde van rekordhouding wat hierop volg.
Met ’n eliminasie- of uitsluitingsdieet word die verdagte voedsels vermy met die doel om die siektesimptome te verminder of heeltemal uit te skakel.
Die sogenaamde provokasie-dieet kan gebruik word om ’n voedselallergie of -onverdraagsaamheid te bevestig en volg gewoonlik op ’n eliminasie-dieet nadat die persoon as simptoomvry geëvalueer is. In die provokasie-dieet word die verdagte voedselitems in ’n bepaalde verhouding en volgorde een vir een by die dieet teruggevoeg. Veral met ’n geskiedenis van ’n anafilaktiese reaksie (lees die laaste punt onder “Simptome”) is dit noodsaaklik om hierdie dieet in samewerking met jou geneeskundige en dieetkundige te doen. Alle reaksies moet noukeurig gemonitor en aangeteken word.
Die belangrikheid van ’n behoorlike mediese evaluasie en diagnose ten opsigte van ’n voedsel-allergie of -onverdraagsaamheid kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die onnodige uitsluiting van voedselsoorte kan lei tot voedingstoftekorte in die liggaam, wat die immuunstelsel verder kan aantas. Raadpleeg ’n dieetkundige om ’n gebalanseerde dieet- en maaltydplan vir jou bepaalde voedingsbehoeftes en met inagneming van jou spesifieke siektetoestand saam te stel.
Voorbeeld 1: Voedsel en simptoomrekord
Datum | Tyd | Voedsel/drank gebruik | Simptome | Erns van simptome* |
* Simptome volgens skaal: 1 = gering of lig 2 = gering tot matig 3 = matig 4 = ernstig of hewig
Voorbeeld 2: Voedsel en simptoomrekord
Voedsel, vloeistowwe en medisyne geneemDag en datum | Negatiewe simptomeTyd van dag |
Ontbyt | |
Tussenin | |
Middagete | |
Tussenin | |
Aandete | |
Laataand | |
Omgewingsfaktore, bv. winderig, stof, stuifmeel, ens., wat siektesimptome vererger |
Voorbeeld 3: Weeklikse voedsel en simptoomrekord
Dag/datum | |||||||
Simptome ná nag se slaap | |||||||
Ontbyt | |||||||
Simptome | |||||||
Tussenin | |||||||
Simptome | |||||||
Middagete | |||||||
Simptome | |||||||
Tussenin | |||||||
Simptome | |||||||
Aandete | |||||||
Simptome | |||||||
Laataand | |||||||
Simptome | |||||||
Medikasie geneem | |||||||
Omgewingsfaktore, bv. stof, rook, ens. |
Gesonde voeding
’n Gesonde, gebalanseerde dieet bestaan uit ’n verskeidenheid voedselsoorte om in die liggaam se energiebehoeftes te voorsien, om prosesse in die liggaam te reguleer asook om as boustof te dien vir die herstel en instandhouding van ’n gesonde liggaam. Dit is ook belangrik om ’n gesonde liggaamsgewig te handhaaf.
Wanneer sekere voedselsoorte vermy word weens ’n voedselallergie of -onverdraagsaamheid, behoort die eliminasie-dieet steeds aan die riglyne vir optimale voeding te voldoen ten opsigte van geslag, ouderdom en lewensfase.
Die Suid-Afrikaanse voedselgebaseerde dieetriglyne is eenvoudig om na te volg en sluit die volgende in:
•Eet daagliks ’n verskeidenheid voedselsoorte en versprei dit eweredig oor jou maaltye vir die dag.
Wanneer voedselsoorte uitgesluit moet word weens ’n voedselallergie of -onverdraagsaamheid, moet die dieet- en maaltydplan sodanig aangepas word dat die persoon steeds voldoende voeding-stowwe uit die toegelate voedselsoorte kry vir die herstel, instandhouding en energieproduksie in die liggaam.
•Maak styselryke voedsel die basis van die meeste van jou maaltye. Eet meer lae-GI-voedsel.
Die uitsluiting van byvoorbeeld grane wat gluten bevat, maak die keuse van styselryke voedsel moeiliker en dit verg in sommige gevalle goeie beplanning om die glukemiese indeks van ’n maaltyd te balanseer. Daar moet na ander bronne van vesel gekyk word wanneer graan in die dieet uitgesluit word. Graan is ook ’n belangrike bron van B-vitamiene. Onverfynde grane sluit in volkoringprodukte, rog, gort, hawermout, sorghum, ongepoleerde of bruinrys en bokwiet.
•Eet elke dag minstens vyf porsies vrugte en groente.
Groente en vrugte bevat ’n verskeidenheid vitamiene en minerale wat die immuunstelsel kan versterk. Dit verskaf ook goeie vesel en energie.
Ongeskilde groente en vrugte, ongesifte vrugtesap en purees van heel vrugte is almal bronne van goeie vesel.
•Eet gereeld gaar droë bone, erte, lensies en soja.
Mits jy nie allergies is of ’n onverdraagsaamheid het vir een of meer van hierdie voedselsoorte nie, kan dit ’n goeie bron van vesel in die dieet wees. Dit kan ook bydra tot die verhoogde inname van plantproteïene, plantsterole en wateroplosbare vesel. Gaar peulgewasse kan as styselkos in die maaltydplan gebruik word en dra by tot ’n verlaging van die GI van ’n maaltyd.
•Sorg dat jy daagliks – volgens jou voedselbegroting – maer rooivleis, hoender, vis, eiers, melk, jogurt of kaas eet.
Hierdie keuse hang weer eens af van die voedselallergie en/of -onverdraagsaamheid wat ervaar word. Die proteïenbehoeftes word volgens die individuele omstandighede bereken. Wanneer melkprodukte uitgesluit word, behoort ’n kalsiumaanvulling geneem te word, veral in die geval van kinders wat nog groei. Die opname van yster word ook veral by kinders benadeel indien die proteïeninname nie voldoende is nie.
•Gebruik vet spaarsaam en kies meer dikwels mono- en poli-onversadigde vetsure.
’n Vetinname van tussen 25% en 35% van die totale energie-inname per dag word as ideaal beskou, met ’n balans tussen versadigde vette en vette met meer mono- en poli-onversadigde vetsure. Vetsure dra by tot beter immuniteit en versterk die selwande. Vet is ook ’n belangrike draer van vetoplosbare vitamiene A, D, E en K.
•Kweek die gewoonte aan om daagliks genoeg skoon, veilige water te drink.
•Gebruik sout en soutbevattende voedsel spaarsaam.
•Gebruik suiker en suikerbevattende voedsel spaarsaam en in oorleg met jou dokter en dieetkundige.
•Wees meer aktief en hou jou liggaamsgewig in toom.
Voedselaanvullings
Die toevoeging