redakteur van Kerkbode, voormalige moderator van die sinode van die Wes- en Suid-Kaap en skriba van die algemene sinode van die NG Kerk. Sy seun Laurie is ook ’n predikant, tans verbonde aan die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit. Hulle gesels oor Laurie se bekentenis aan sy pa dat hy gay is en die feit dat longkanker by hom gediagnoseer is.
Hulle sit saam op die bank.
Eintlik moes hulle pole gewees het: die gay aktivis en die behoudende kerkleier. Daar was immers ’n tyd toe Laurie Gaum sy pa as simbool van apartheid beskou het. ’n Tyd toe Frits Gaum, soos sy kerk, homoseksualiteit verwerp het. Noord en suid was hulle, weerskante van ’n skeur wat afgrond kon word.
Maar dit het nie.
In twee sinne lê die verhaal van pa en seun wat in liefde oor afstand kon uitreik:
Die eerste was tydens ’n formele afspraak wat Laurie, toe jong predikant by die St. Stephens-gemeente in Kaapstad, met sy pa in sy kantoor gemaak het. Frits onthou dit nog presies, soos ’n mens sulke oomblikke onthou.
“Jy sien mos nie eintlik ooit maklik ontsteltenis by Laurie nie, hy kan nogal sy goed binnekant homself hou. Hy het dit net stil vir my kom sê: ‘Pa, ek is ook gay.’”
Ook. Saam met alles wat jou middelkind óók is.
Einde laasjaar het Laurie weer oorkant sy pa gesit, weer met tyding, weer net so kalm soos destyds: “Pa, ek het longkanker. Nou moet ons koelkop bly.”
Só anders as hý, onthou Frits. Toe hý destyds gehoor het hy het testikelkanker, op ’n midsomerdag in 1975, was sy ontsteltenis ’n damwal wat gebreek het, sy vertroosting in sy vrou, Henda, se arms.
Op die tafel by ons brand ’n kers, buite val reën, om ons is boeke en beelde en stilte in die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit in Rosebank, Kaapstad.
Handbewegings. Ore. Die skuins kuif. Dit deel hulle. En konfrontasie met doodgaan in die middel van die lewe.
Ná ’n rowwe paar maande se chemoterapie het Laurie se vorige longskanderings die onkoloog tevrede gehad. Volgende week kom die volgende sarsie toetse, hoor jy.
Frits het destyds ’n boek geskryf oor sy pad met kanker. ’n Heruitgawe van dié boek, Nie van hoorsê nie, Here, het pas verskyn. Die boek is onveranderd (“my belewenis bly”), met ’n nawoord nou bygeskryf. Hy het dit aan Laurie opgedra.
In Laurie en Frits se brieweboek, Praat verby grense, skryf Laurie vir sy pa hy het hom versoen met sy gaywees toe hy opgehou het om die sin daarvan in die oorsprong van dinge te probeer soek.
En só is dit ook met kanker.
“Ek sou nie sê ek het alles uitgewerk en besluit dit steek nou só inmekaar nie. Dis op die ou einde ’n mediese toestand, maar dit laat jou bestek neem van jou lewe, jy kyk terug na waarmee jy besig was, jy kyk baie diep terug.”
Toe Frits siek geword het, was dit vir hom ’n brandvraag: Hoekom laat God so iets gebeur met iemand wat predikant is, met drie jong kinders? Dit het hom opgevreet, dié oënskynlike onredelikheid.
Laurie: “Ek gaan nie eintlik in op die hoekom-vraag nie. Ek probeer meer konsentreer op die lewe, die hier en nou.”
Frits vertel hoe hy aanvanklik, nadat hy gesond verklaar is, probeer het om die tyd góéd te gebruik, te woeker met wat God hom “geleen” het.
En nou, nadat God dié getal jare meer as verdubbel het, vra hy homself af: Het hy by sy voornemens gehou? “Op dié vraag kan ek net antwoord: Ek het probeer.” En partykeer beter as ander kere daarin geslaag, sê sy nawoord.
Hy glimlag. Sê as die lewe weer oustryk aangaan, vergeet jy van die noute waarin jy was.
Die intieme deel van ’n amper-doodvonnis was in ’n sin vir albei ’n hawe ná ’n stormreis waar hulle radikale verskille oor politiek, oor kerkpolitiek, oor gaywees moes konfronteer.
Maar dit het deurdruk gekos, vele ure by ’n pastorale sielkundige, om dié teenstrydighede byeen te bring. Soos Laurie dit stel: die saamvashou van verskil en liefhê.
Vir Laurie was die laagtepunt in hul verhouding toe hy teologie gestudeer het en sy pa deel van die kerkleierskap was. “Dit was die vroeë 1990’s en ek en my pa, van verskillende generasies, was aan verskillende kante van apartheid. Dit was nogal komplekse goed om mee te deal – dat jy soveel verskil van die ouer wat jy liefhet.”
Hy kug, vertel van die hewige gesprekke om hul eetkamertafel oor waarheen land en kerk op pad was.
Frits: “Ter verdediging van myself: Ek het altyd gedink ek is krities lojaal teenoor die kerk, nie blindelings lojaal nie. Ek het die NG Kerk se 1986-besluite oor die gaykwessie aanvaar. Ek het nie genoeg daaroor nagedink nie, dit was nie vir my ’n sáák nie. En daaroor voel ek skaam, régtig skaam.
“Eers as dit naby jou kom, herbesin jy ernstig. Die liewe Here het dit nou op my tafel geplaas. En ek plaas dit nou op die kerk se tafel.”
Frits herinner my aan ’n tydskrifonderhoud met hom, lank gelede, toe ek hom gevra het: Sê nou jou seun is gay, hoe sal jy reageer? Sy kinders was toe nog op skool.
“Ek het gesê dit sal vir my ’n skok wees, maar hy bly my kind.”
Sy onthulling aan sy pa, het Laurie besef, het nie net persoonlike implikasies gehad nie. Frits, kerkleier, was skielik deel van ’n geheim wat lynreg teen NG Kerk-beleid was.
“In private ruimte kan jy nog ’n pad probeer vind. Ek het vir Laurie gesê dié skinkbord gaan kantel, jy kan tog nie verwag dit gaan nié.”
Hoe verskriklik dit sou kantel, kon hulle nie voorsien nie.
In 2005 het Laurie se lewensmaat, Douw Wessels, kaalfoto’s van hom aan koerante gestuur, hom by die kerk van promiskuïteit aangekla en dae later selfmoord gepleeg. Laurie is uit sy amp as NG predikant ontslaan. Sy appèl was later suksesvol.
Dit was die begin van ’n hewige NG debat oor homoseksualiteit. Dit was ook die volgende hoofstuk in pa en seun se lewe, die begin van ’n Gaum-kruisvaart om homoseksualiteit in die kerk aanvaar te kry.
“Laurie is een van die 25 NG lidmate wat nou in ’n brief vra dat die 2007-besluite oor homoseksualiteit, veral dat gay NG predikante selibaat moet bly, by die algemene sinode in Oktober weer bespreek word.
“Dis ’n oop versoek, dit sê nie nóú moet julle besluit nie, dit sê kom ons praat daaroor en dan kom julle oor ’n paar jaar met aanbevelings.
“Of die kerk nou regtig daarvoor kans sien, weet ek nie. Aartsbiskop Tutu het gesê hy skaam hom om ’n Anglikaan te wees oor hul anti-gay-houding. Ek wil nog nie sê ek skaam my om ’n NG lidmaat te wees nie. Ek het nog hoop vir die kerk. Maar,” sê hy met ’n waarskuwende toon, “ons hou hulle dop.”
Daar is kritiek op die Gaums dat hulle die gay-agenda opportunisties in die media dryf. Dat hulle nie begrip het vir die ver pad wat die NGK reeds hiermee geloop het nie, dat dié kwessie kerke wêreldwyd al laat skeur het, dat ryp druk gevaarlik kan wees.
Frits: “As mens ’n saak nie op die tafel hou nie, dit nie ‘dryf’ nie, verdwyn dit.” Kyk maar na die wapenskandaal, sê hy. En die groot les van apartheid: Die kerk moes duideliker, vroeër, gepraat het.
“Mens moenie ’n ding ryp druk nie, dit verstaan ek. Maar ’n samelewing se siening verander net as kwessies duidelik in die openbaar aandag kry.”
Laurie: “Daar is mense wat die status quo verkies, wat wil hê jy moet liewer net verdwyn soos ’n lastige probleem. Maar ons gaan nie evaporate nie, ons is hier om te bly. Ons vra die erkenning wat ons verdien, sodat ons die bydrae kan lewer wat ons kan. En dis wat die kerk verloor: al die gawes waarmee God ons geseën het. Al hoe dit gaan verander, is wanneer mense besef hul vooroordele is eintlik op onkunde gegrond.”
Frits: “Onreg is onreg is onreg en die kerk kan nooit stilbly daaroor nie. Ek glo dis sonde as die kerk weier om dit raak te sien.”
Sy stem is driftig, Laurie s’n sagter, aarselend.
In