Hanlie Retief

Anderkant uit


Скачать книгу

Die volgende oomblik bars hulle in ons kamer in, pistole in die hand. Ons het nog gedink dis ’n siek grap, toe sê hulle dis ’n roof.”

      Geld. Sizzlers, sien, het gesizzle daardie dae.

      “Ons was tien masseurs wat ten mínste vyf kliënte per dag ‘diens’. Dis hoekom die twee gedink het daar’s R200 000 op die perseel. Maar hulle’t nie geweet Aubrey Otgaar, die eienaar, was ’n friggin’ freak wat sy geld heeltyd gaan bank het nie.”

      Toe die rowers minder as R2 000 in die kluise kry, breek alle hel los. Die verskrikking het amper drie uur lank voortgewoed, met die rowers wat die huis omkeer op soek na geld.

      Quinton onthou hoe’t hy geweier om op sy maag op die vloer vasgemaak te word. “Ek het gesê no ways, ek lê op my rug, ek wil sien wat gebeur, julle in die oë kyk. Ek was al een wat só gelê het, dis seker wat my lewe gered het.

      “Ons het heeltyd geweet hulle gaan ons doodmaak, want hulle’t daar ingekom met toue, pistole en ’n mes, en nié hul balaklavas gedra nie. Adam Woest, die jonger hardcore een, het swetend in die gang op en af gemarsjeer, ons almal het gedink hy’s high op iets. Trevor Theys was ouer, in sy veertigs, maar swakker, hy’t Woest net gevolg. Die motief was geld, maar die gewelddadigheid daarvan was waarskynlik homofobies – Woest se meisie het hom vir ’n ander meisie gelos.”

      Ons sit vooroor om die tafeltjie, vasgevang in Quinton se vertelling van daardie verskriklike nag. Sy oë is donker.

      “Ek onthou hoe Aubrey se asemhaling ál vlakker geword het, ek’t hom hoor prewel: ‘Ek is so koud… Dis so koud.’ Hulle’t hom in die bors en nek gesteek nadat hy opgespring het om hulle aan te val. Die bloed was tot teen die plafon.

      “Toe het ek geweet: Dis nou die einde. En ek was vol regrets, nè, ek meen, báie berou.

      “Want die ding is, voor die aanval het ek nog niks as mens reggekry nie. Ek wás niks. En as jy só doodgaan, waarvoor word jy onthou, dat jy in ’n friggin’ hoerhuis gewerk het?

      “Skaamte en spyt oor hoe my lewe uitgedraai het…”

      Toe begin hy bid, oor en oor ’n gebed uit sy kinderhuisdae: Now I lay me down to sleep, I pray the Lord my soul to keep, if I die before I wake, I pray the Lord my soul to take.

      Hy onthou die pleite, die reuk van die petrol wat oor hulle gegooi is, Woest en Theys wat dreig om hulle aan die brand te steek en die kamer te sluit.

      Hoe hulle huilend in ’n sekelmaan op die vloer gelê het, met Woest wat op die een punt begin skiet, Theys aan die ander kant.

      “Ek was so derde aan die beurt. Die een koeël is by my linkeroor in dwarsdeur my kakebeen. Die tweede by my voorkop in, onder my kopvel oor my skedel tot in my nek. Ek was gelukkig: Dit het my brein én my rugwerwels gemis.

      “Toe ek bykom, was daar ’n gesuis in my ore. Ek het badkamer toe gestrompel, en toe ek die bloed uit my oë vee en my gesig in die spieël sien, kon ek dit skaars inneem. By my voete het Gregory Berghaus in ’n poel bloed gelê.”

      Toe vlug hy, die huis uit, strompelend om die straathoek tot by die motorhawe waar hy inmekaarsak en uitroep: “Ek wil nie doodgaan nie…”

      Van die res onthou Quinton net flertse. Maar een ding, sê hy, bêre hy vandag nog in sy hart: “Ek het opgegooi in die ambulans, toe trek die polisiekaptein sy baadjie uit en vee dit daarmee op. Sy báádjie, om dít op te vee…”

      Hy glimlag skewerig, trek die rolkraag van sy seemanstrui af om vir ons die letsel op sy keel te wys. Voel met sy vinger daaraan, so ’n strepie onthou.

      “Partykeer glo ek self nie my lewe nie. Net 35 jaar oud, al in drie kinderhuise, op 14 deur mense aangeneem en vier jaar later onteien, tien jaar as warlock okkulte gedoen, twee keer in die tronk vir dwelmhandel, deur ’n rastafariër opgelei, op ’n hippieplaas trance-partytjies gereël, én ek speel die didjeridoe! En nou is ek ’n Christen.”

      Nee, kwalifiseer hy wyeglimlag, ’n vúrige Christen, al amper tien jaar lank. “God het my lewe kom verander.”

      Vandat Quinton kan onthou, het mense hom in die steek gelaat. Hy’s op twee, totaal verwaarloos, vir die welsyn gegee nadat sy ma hom byna in die bad laat verdrink het. Sy ouers en vier broers en susters het hy nooit weer gesien nie. Sy kinderjare was ’n waas van eensaamheid en kinderhuise en seksuele molestering. Hy’t gesukkel op skool, pleegouers het gekom en gegaan.

      “Ek het mense begin haat.”

      Op 14 is hy aangeneem. “Stabiliteit, uiteindelik, maar ek was toe al só wanaangepas, dit was uit die staanspoor gedoem. Ek was op dwelms, lank voor matriek uit die skool, diefstal…”

      Net sy aanneem-pa het deur dik en dun – en later Pollsmoor – by Quinton gestaan. Sy aanneem-ma het moed opgegee.

      Op 18 het hulle hom uit die huis geskop tot in ’n kommune.

      Van daar af was sy lewe ankerloos. “My ouers het Kaap toe getrek terwyl ek in die tronk was, en my nie eens gesê nie.”

      Hy’s later Kaap toe. Daar’t hy rondgeplak tussen backpackers en die strand, geleef op dagga en shrooms, sy kicks gekry in heksery.

      Einde 2002, ná maande op ’n hippieplaas in Knysna, weke voor die aanvalsnag, het hy ’n onverwagte kalm Kersfees saam met sy ouers gehad. “Ek het daar opgedaag met die idee dat hulle my nie eens in die huis sou toelaat nie.”

      Op 5 Januarie moes hy weer vort, en in die dun, leë dae daarna het Aubrey Otgaar hom op die promenade gewerf om vir Sizzlers te werk.

      “Ek wou eers nie. Maar dis goeie, maklike geld, en dís die trap. Ek is nie gay nie, was nog nooit. Maar in daai stadium, anything went. Toe word ek Tristan, active, die masseur.”

      Ná die aanval was hy vir dertien maande in getuiebeskerming.

      “Woest en Theys is op 8 Maart 2004, my verjaardag, gevonnis – nege keer lewenslank. Buite die hof, saam met my pa wat my heeltyd bygestaan het, het die mense my toegejuig. Dit was vir my erg, want toe’s ek hierdie groot hero, terwyl die res dood is.”

      Eintlik was hy ook maar dood, sê hy sagter. In al die maande het hy nooit enige traumabehandeling gehad nie. “Ek was verlore, het nie ’n idee gehad wie en wat ek is nie.”

      Toe Quinton later terugswerf Knysna toe, was daar ’n sakbybeltjie in sy rugsak – ’n geskenk tydens getuiebeskerming. “Dít was die saadjie. ’n Paar dae later het my lewe handomkeer verander. ’n Pastoor het my na God gelei.

      “Vir die eerste keer in my lewe het iemand my net liefgehad as mens, hierdie ou was real, sonder bymotiewe. ’n Plat-op-die-aarde- Afrikaanse pastoor met ’n groot bos rooi hare. On fire!”

      “Maar dit was moeilik, moeilik. Ek moes die heksery afsweer, dwelms en rook los, heeltemal oor begin.”

      Tristan begrawe.

      Hy begin lag, sê wow, hoe ánders is hy nou… “Hoe ek praat, dink, optree, hoe ek is teenoor mense. Selfs in die manier hoe ek loop.

      “Jy weet, die kinderhuise het my geleer dinge wat met jou gebeur sal jou óf breek óf sterker maak. Dis rêrig so. God het my geleer terugveg. En ek weet nou almal kan. So, eintlik was daardie moordnag, deur Sy genade, die beste ding wat met my kon gebeur het.”

      Hy werk by ’n gastehuis in Knysna, en tussendeur is hy amper klaargeskryf aan sy boek.

      “Vir die eerste keer kyk ek verder, kan ek begin dínk aan ’n vrou en kinders.”

      Later, donker al, ry ons rond in Seepunt op soek na ’n gastehuis vir hom. Verby die ou backpackers met sy wilde nagte, ’n ferm “nope” vir die gastehuis reg langs die Sizzlers-moordhuis, tot by ’n blyplek halfpad Seinheuwel op, met ’n uitsig.

      Terwyl hy hek toe draf, sak op die rug, onthou ek sy woorde vir ons kelner in La Perla.

      “Jy’t ’n mooi naam, Blessing.

      “’n Móói naam.”