Hanlie Retief

Anderkant uit


Скачать книгу

teruggekom. Hulle moes heelaand met gebuigde knieë dans, want die kêrels was aan die kort kant. Dit het ’n oneindige gespottery afgegee.

      Vandag nog is Wilma deel van ’n handjie vol Mej. Suid-Afrika’s soos Penny Coelen, Anneline Kriel en Margaret Gardiner wat hulle in die publiek se geheue kom tuismaak het.

      Toe sy ná haar Mej. SA-jaar ’n internskap by ’n apteek in Melville, Johannesburg, gedoen het, het die mense die apteek snuifgetrap om hul pille en poeiers en strope by Wilma te kry.

      “Ek het my geselsies met die mense so geniet. Melville is ’n gemoedelike plek en ná my modeljare (sy was ’n bekende model in München, Duitsland) was dit lekker om weer net ‘gewoon’ te wees, vir ’n baas te vra of ek op ete kan gaan.”

      Apteker, model, ma vir Alexia (13) en Nikolaos (12), 17 jaar reeds getroud met die Griekse sakeman, Ari Tapanlis, beskermvrou vir die Rooi Kruis-kinderhospitaal en sedert 2006 veral ook ’n pienkstrik-aktivis.

      “Die dag, ses jaar gelede, toe ek my vriendinne bel om te vertel ek het borskanker, was ek geskok om te hoor hoe min van hulle het al vir mammogramme gegaan.”

      Nadat sy van ’n dubbele mastektomie en chemoterapie herstel het, het Wilma ywerig betrokke geraak by borskanker-veldtogte.

      “Ons vroue praat mos nie oor ’n koppie tee oor mammogramme nie. Ons blaai verby die tydskrifartikels daaroor, want ons glo dit gaan nie met ons gebeur nie.”

      Sy glimlag. “En dan gebeur dit, nè.”

      Saam met die Suid-Afrikaanse Raad vir Radioloë kon Wilma nou, met borskankermaand, ’n 10%-afslag vir ses weke beding op mammogramme by deelnemende praktyke. “Dié ondersoeke kan tot R1 000 kos en die afslag help darem so ’n bietjie.

      “Ek was 42 toe ek in 2005 vir ’n roetine-ondersoek gegaan het.

      “Daar was vooraf geen waarskuwing nie; geen teken dat ek iets makeer nie. Ek het maar net gegaan vir my gewone jaarlikse ondersoek. En toe kry hulle die knop.”

      Waar sou sy nou gewees het as sy dit nié gedoen het nie?

      “Beslis in ’n baie hopelose situasie. Die kanker sou heel waarskynlik al versprei het na my bene of my lewer. Sou ek nou al dood gewees het?”

      Jaarliks sterf 3 000 Suid-Afrikaanse vroue aan borskanker, beklemtoon sy. “Dis almal vroue met families en mense wat hulle liefhet, wat iewers hoort, iets beteken. Weet jy hoeveel is 3 000?

      “Dit kan jou ma wees, of jou suster, jou ouma, ’n tannie, ’n vriendin … of jyself.”

      Op ’n manier het Wilma ’n steunpilaar geword vir baie vroue by wie borskanker gediagnoseer is. Hulle bel haar, deel hul kwellings en luister na die troos in daardie sagte stem van haar. Op haar selfoon, onder die hofie “kanker”, is ’n lang kontaklys.

      “Ek gee glad nie om as mense my bel nie, want kanker is so ’n ongelooflike alleenplek, so ’n skokkende plek om in te wees.

      “As ek vir enigiemand iets kan beteken dan moet ek dit doen, want ék is die tyd gegun.

      “As jy met ander praat wat ook daardeur is en gesond geraak het, gee dit jou meer moed. Die behandeling is aaklig, maar ten minste hoor jy: ‘Byt net vas. Jy voel naar vandag, maar môre gaan dit weer beter.’ ”

      Dit help nie ’n mens draai doekies om nie, sê Wilma.

      “Borskanker is ’n aaklige, nare, ingrypende siekte,” benadruk sy elke woord.

      “’n Bitter, bitter slegte siekte.

      “En as jy nie gesond word nie, as die kanker terminaal is, dan is die einde soms so moeilik.”

      Dis hoekom sy nie kan verstaan as vroue mammogramme vermy omdat die ondersoek jou borste “knyp” of “seermaak” nie. Dit weeg immers hoegenaamd nie op teen borskanker nie.

      Daar’s die vriendinne wat Wilma al finaal moes groet. “Dis ongelooflik hartseer as die besef kom dat iemand dit nou nie meer gaan maak nie, dis terminaal. Ten minste is dit nie plotseling soos in ’n motorongeluk nie. Jy word darem ’n afskeid gegun, ’n spesiale tyd waar jy jou kan voorberei vir die onvermydelike einde.”

      Haar kanker is in remissie en sy gaan een keer ’n jaar vir toetse.

      “Ek is 95% glad nie bang nie, maar vir die ander vyf nip ek maar so bietjie!” lag sy breed.

      Sy vertel hoe sy twee keer al bekommerd was oor sy nie lekker voel nie en uit haar eie vir toetse gegaan het, “want dis immers nie of ek nooit weer kan kanker kry nie”. “Als was reg, dit was seker net ipekonders. Maar die ding is, ’n mens moet luister na jou liggaam. Geen dokter gaan jou bel en sê jy’t ’n ondersoek nodig nie; dis jý wat na jouself moet kyk.”

      Sy was nog altyd ’n vreeslike perfeksionis, sê Wilma. Alles moet net reg gaan. En toe, vir die eerste keer, was sy nie in beheer nie. Dis die les van kanker: “Jy’s nie in beheer van jou lewe nie; God is. Ek is nie meer aanvallend oor my geloof nie, ek vra nie meer soveel vrae nie, ek aanvaar.

      “Dis ’n goeie plek om te wees, om kinderlik te glo.”

      Haar pa, die ontslape DA-raadslid Wim van der Bijl, het destyds al gesê sy kind is g’n softy nie, sy floreer op uitdagings. As hy haar nou kon sien, grinnik sy, hier by haar Engen-vulstasie besig om brandstof-volumes uit te werk …

      “Mense vra my heeltyd wat sóék ek hier, dan sê ek maar nee, dis ’n lekker uitdaging.”

      Veral as die joggie ’n diesel-Mercedes-Benz met die groen pomp volmaak en die motor begin ruk-ruk twee kilometer straataf.

      Sy klink soos ’n gesoute vulstasie-vrou: “Sê tog vir almal: As die verkeerde brandstof in jou kar beland, moenie ’n tree verder ry nie!”

      Die plek het oor hul pad gekom. Haar man het die grond, wat opsygesit is vir ’n vulstasie, besit. “Hy’s die entrepreneur, ek’s meer die doener. Dis ’n goeie kombinasie.”

      En dis wat jy moet wees as jy en jou 35 werknemers soveel dinge gelyk moet laat gebeur, van brandstof tot broodrolletjies tot die griller wat perfekte patties moet bak. “Jy moet sien hoe slaan ek ’n Wimpy-burger saam. My kinders is natuurlik ekstaties hieroor.”

      Die hele ding van 24 uur oop bly, laat haar soms in die middel van die nag wakker skrik.

      “Dan wonder ek of die personeel orraait is.”

      As jong meisie het sy gedroom van ’n groot huis met houtvloere en honde en kinders wat die trappe op- en afhardloop.

      “Nou’t ons nie houtvloere nie, maar ek het darem twee kinders en ’n klein hondjie! ’n Mens se drome word seker nooit presies bewaarheid nie. Maar die beste van my drome hét ek: my twee kinders. Hulle is waaroor my lewe eintlik gaan.”

      En haar huis hét trappe, sê sy stil.

      “Daar gaan seker nie ’n dag verby wat ek nie sê dankie Here, ek kan daardie trappe uitklim nie.

      “Toe ons daar ingetrek het, het ek steeds gesukkel met naarheid as gevolg van die chemoterapie.

      “Weet jy hoe voel dit as jy moet boontoe of ondertoe, maar jy’s so uitgeput jy bly maar liewer sit?

      “Daai moeg-moeg.

      “Ek weet nie hoekom nie, maar die trappe het vir my simbolies geword.”

      Van genesing. En groei, en dankbaarheid.

      Oktober 2011

      Nie ’n takkie om te breek nie

      Die broers Michal en Hennie Zeelie bly alleen in die Goudveld staatsbos naby Rheenendal – die laaste houtkappers in die Knysnabosse. Die onderhoud is in Desember 2012 buite hulle plankieshuis gevoer.

      Dis oë sonder agterdog wat jou groet by die paaltjieshek wat styf vasgewoel is met ’n ou stuk tou. Gesigte vars, agter die verweer, agter die baardstoppels.

      Bosmanne.

      Michal