Hanlie Retief

Anderkant uit


Скачать книгу

en lag sonder dat jy tande sien.

      Maar daar wás mooi nooientjies.

      “As ons Saterdagaande gaan dans, ja. Was lekker gewees. Baie gedans, ja. Dan speel ou Pieter Koen-hulle viool en kitaar.

      “Dan maak hulle heuningkarrie en jy het lawwigheid. As ’n ou hom nie gewoond is nie, hou jy nie op agter daai lekkergeit aan nie.”

      Hy het nog ’n bietjie karriemoer in die huis, sê Hennie en verdwyn vol belofte die donker huisie in, kom terug met ’n lapsakkie en wikkel dit los, eerbiedig amper. Onderin lê ’n paar krummels karriemoer.

      Lawwigheid.

      Sy duim kry plek in sy pyp. Hy stop hom bedrewe, trek die Lion-vuurhoutjie, suig. Dié pyp het hy op 17 gekry.

      “Ek het hom al verloor. Dan dink ek: Jou gaan ek nie weer kry nie. Maar later tel ek hom weer iewers op.” Grinnik. “Dan sê ek: Nee, jy weet van my; jy kruip vir my weg.”

      As die broers siek word, drink hulle sommer bosmedisyne, vertel Michal.

      “Gansies. Dis soos gal, so bitter. En bergboegoe vir verkouente en jig en sulke goete. Vernaam as jou maag pyn.”

      “Ons stel ons nie aan om dokter toe te gaan nie,” knik Hennie.

      Hulle praat saam-saam, pruttel soos ’n koffiepot op die vuur.

      Wat onthou hulle van hul ma?

      “Haar hart. Sy was ook maar ’n vrou gewees.”

      Nadat sy soggens haar huiswerk kant en klaar het, dan vat sy haar bitter koffie en gaan skoffel in die groentetuin. Kort-kort gaan sy binnetoe, kyk hoe rys die brooddeeg. Knie af, maak toe, gaan skoffel verder. “Dis haar ding daai gewees.”

      Sy oë raak ver, sy ma se onthou kom lê in hom.

      “Ons eet nog so die aand, toe vra sy ek moet vir haar iets doen. Vat daai groot waskom, gooi water in, maak hom lekker lou, sê sy. Ek moet haar voete was.

      “Sy’t my dit nog nooit gevra nie. Maar ek doen dit toe. Daarna drink sy bitter koffie en eet ’n toebroodjie en sê: ‘Ai, nou’t ek lekker koffie gedrink en toebroodjie geëet,’ ” onthou hy die stukkie detail.

      “Ons lees uit die Bybel, en onse ma sê sy dink altyd aan ons twee. Oukei Ma, good night, lekker slaap.

      “’n Rukkie later word ek wakker. ‘O, my kinders,’ roep sy, ‘ek het nou so ’n bittere pyn.’

      “Ek hardloop uit na haar broer. Hy kom sommer in sy pajamaklere, hy trek net boetse aan. Ek hardloop deur die kloof, roep haar suster en swaer.

      “Maar toe haar broer daar kom, ag, sy staar so, toe druk hy haar oë toe. Hulle vat ’n kombers, gooi dié oor haar. Liewe Jesus het haar kom haal.”

      Hy sluk droog.

      “Dís darem gou gewees.”

      Maria Magdalena Zeelie (58) is begrawe in ’n swarthoutkis wat haar seuns vir R560 gekoop het, R10 afslag vir kontant.

      “Sy’s gebêre in Bramekraal, ja. Onse ma.”

      Die middagson sif deur die blare, laslap die grond in lig en skadu. Langsaan kan jy amper hoor hoe haal die oerbos asem.

      En die twee broers sit hul vredige sit.

      Januarie 2013

      Oor eensaamheid

      Die goue draad deur al drie die onderhoude is alleenheid of eensaamheid. Tog is hierdie konsepte nie presies dieselfde nie – en die eensaamheid of alleenheid wat die Zeelies, Grace Boltney en Wilma van der Bijl ervaar, stem ook nie noodwendig ooreen nie.

      Die Zeelie-broers leef in totale isolasie, maar hulle het mekaar, hulle stap in gelid dorp toe, hulle woon in die middel van die bos met hul vuurtjie en hul geelhoute.

      Grace Boltney, in die middel van ’n plakkerskamp langs ’n lughawe, alleen teen die wind en die weer en die wêreld wat haar só vyandiggesind is. Sy kan nie eens ’n pot op die konkavuur buite haar hut los nie, dan word dit gesteel.

      En dan die isolasie van siekte, wat Wilma van der Bijl so treffend beskryf. ’n Diagnose skei jou van die ander, die “gesondes”, jy word skielik tot stilstand geruk. Hoe stap ’n mens die pad met alleenheid, eensaamheid, isolasie?

      Eensaamheid, of die gevoel dat jy alleen staan teen die lewe, is ons almal se grootste geheime vrees. Die woord “geheime” word met opset gebruik, want pasiënte erken dit vertroulik teenoor my (Louis) asof dit ’n swakheid is en ’n algehele ramp sal wees as ander mense dit moet agterkom.

      Depressie word die siekte van ons tyd genoem, en die ervaring van eensaamheid is ’n onlosmaaklike deel van ’n wêreldwye depressievlaag. ’n Mens moet egter onthou dat almal die een of ander tyd oorval word deur ’n gevoel van verlatenheid, die donker gedagtes en die swart gemoed. Dit is ’n normale deel van menswees. Maar word dié emosies die reël eerder as die uitsondering, kan dit ’n epidemie raak, op individuele sowel as kollektiewe vlak.

      ’n Mens kan keer dat so iets gebeur, maar dit is nie maklik nie. Die wonder in dié onderhoude is dat iemand soos Grace Boltney geweier het dat die eensaamheid wat oor haar pad gekom het, die oorhand kry.

      Wilma van der Bijl het tydens haar siekte ’n gevoel van isolasie ervaar, maar sy kon dit verwerk en nou reik sy deur haar praatjies en kommunikasie uit na mense wat deur dieselfde trauma gaan. Sy weet watter alleenpad dit is, hoe nodig dit is dat mense hande vat.

      Sy verwys baie treffend na haar gevoel van alleenheid ná die diagnose en tydens die verwerking van haar siekte. Mense by wie ’n lewensgevaarlike siekte gediagnoseer word, getuig deur die bank van die eensaamheid wat hulle ervaar. Dit is asof die diagnose hulle onmiddellik isoleer van almal om hulle; daardie gevoel van “ek is nou anders” of “ek is nie meer soos die mense rondom my nie”. Daar word baie oor siektes en diagnoses in die media gepraat, maar die universele ervaring van eensaamheid en isolasie wat sulke mense ervaar, word selde belig.

      En tog is dit baie algemeen. Enige medies diagnoseerbare toestand, van kanker tot major depressie (die kliniese term vir “erge depressie”), lei tot die ervaring van isolasie. Wilma praat baie inspirerend oor die manier waarop sy hierdie eensaamheid oorkom het. Maar daar is baie mense wat nie die wapens het om hul eensaamheid te beveg nie – dikwels weens faktore buite hul beheer.

      Uit die reaksie wat ons van luisteraars na ons radioprogram kry, is dit ook duidelik dat die taal waarmee mense konsepte soos “alleenheid” en “eensaamheid” beskryf, verskil.

      ’n Mens kan hierdie verskille waarskynlik soos volg opsom: “Alleenheid” verwys oor die algemeen na die fisieke afwesigheid van ander mense, terwyl mense wat eensaam is dit beskryf as ’n gevoel van geïsoleerdheid “binne hulself”. Teoreties kan ’n mens dus alleen wees sonder om eensaam te wees. Dit is trouens een van die kerndefinisies van introversie.

      “Eensaamheid” verwys nie soseer na die afwesigheid van mense nie, maar meer na die afwesigheid van gedeelde ervaring. Hoe kleiner iemand se deelwêreld, hoe eensamer is die persoon. Hiermee bedoel ek die ervaring dat jy deur ander mense verstaan word, dat julle “dieselfde taal praat”.

      ’n Eenvoudige voorbeeld is wanneer jy ’n grap vertel en niemand in die geselskap daarvoor lag nie. Om “uit” te voel omdat mense jou nie hoor of verstaan nie, is eensaamheid. As jy voel jou gedagtes en ervarings word gedeel, dat daar na jou geluister word, is dit moeilik om eensaam te voel of depressie te ontwikkel. Die feit dat depressie “die siekte van ons tyd” genoem word, is daarom nogal ’n ernstige vingerwysing na ons samelewing.

      Daar is natuurlik sommige mense wat letterlik kiés om alleen te leef en glad nie eensaam voel nie. Daar is niemand om hulle nie, maar hulle ervaar nie die gevoel van verlatenheid of emosionele isolasie nie.

      Sulke sogenaamde lone wolves is eintlik ’n baie rare en spesifieke tipe persoon. Dit is eintlik die mees ekstreme vorm van introversie, wat selfs as skisoïed beskou kan word deur die samelewing – veral as dit uiteindelik die oorheersende