ection>
Vroue
van die
Bybel
… praat met ons vandag
ESTÉ GELDENHUYS
Lux Verbi
Voorwoord
Op die vraag wat die grootste wonder van vrouwees is, is daar soveel heerlike dinge om op te noem. Tog is daar uiteindelik twee fasette van vrouwees wat waarlik ’n definisie gee: nuwe lewe word uit ’n vrou gebore, en hierdie lewe word deur ’n vrou tot selfstandigheid versorg en vertroetel. Wat ’n wonderbare geskenk! Selfs vir dié vroue wat moet werk deur die pyn om nie self lewe te kan gee nie, is daar steeds die versorging en die liefde, die gee uit jou diepste wese, wat vrouwees intens groot en goed maak.
Die belangrikste uitdaging van vrouwees is die feit dat daar nie ’n “skool” is waar ons kan leer van vrouwees nie. Elke vrou moet maar haar pad van val en opstaan stap. Almal kry êrens seer, en ’n seer wat ’n vrou nie verwerk nie, dra sy aan haar kinders oor, sonder dat sy dit weet of dit wil. Dit is eenvoudig soos dit werk. Kinders word as’t ware die produk van hul ouers se lewe.
Niemand se ontwikkeling behoort deur pyn, “onvoldoendheid” of shame belemmer te word nie. Dit is juis waarvoor Jesus mens geword het – om vir ons genesing en vryheid te bring sodat ons ons almagtige God waarlik kan aanbid. En watter beter bron is daar om ons te help in ons soeke na gebalanseerde, gelukkige vrouwees as die Woord van God, die Bybel wat die gemanifesteerde Jesus is. Johannes 17:17 leer ons die Woord is waarheid, en dit is al wat ons voor ons Vader kan heilig.
In die wonderbare inhoud van die Bybel is daar soveel verhale van vroue opgeteken – sommige is merkwaardig, goed, ’n voorbeeld om na te volg; ander het sommer net drooggemaak. Waarom sal ons die wiel herontwerp? Waarom moet vroue geslag ná geslag deur dieselfde “droogmaak-dinge” werk? Kom lees saam oor en leer uit die foute van die vroue in die Bybel, maar ook uit die suksesverhale van vroue wat eeue voor ons geleef het.
Terwyl jy oor hierdie vroue se verhale nadink, sal jy hopelik besef dit maak nie saak waar en wanneer jy op hierdie aarde jou lewe leef nie. Daar is sekere dinge wat nooit verander nie. Ons werk geslag ná geslag deur presies dieselfde uitdagings, seerkry en herstelprosesse.
Verder is dit ook wonderbaar om raak te lees hoeveel elemente in die verhale van die vroue wat in die Bybel vir ons opgeteken staan vir ons ’n profetiese heenwysing is na die ewige Bruidegom wat sal kom om sy bruid te ontmoet. Dink ’n oomblik oor ’n bruid. Sy kies om met ’n spesifieke bruidegom te trou. Sy kies om haarself slegs vir hierdie bruidegom te gee. Sy kies om rein te bly en om haar op elke moontlike manier vir hom voor te berei, want sy is lief vir hom en sy wil haar aan hom oorgee. Ons elkeen wat dieselfde keuses maak oor die ewige Bruidegom sal waardering hê vir die voorbereidingslesse wat ons uit die lewe van die vroue in die Bybel kan leer. Soek gerus in elke vrou se verhaal na hierdie voorbereiding van die bruid vir haar Bruidegom.
Omdat al die waarhede uit hierdie talle vroue se lewe uitloop op die grootse gebeurtenis van die bruilof van die Lam, word die meisie in die boek Hooglied nie chronologies op haar plek in die Bybel se volgorde geplaas nie, maar aan die einde van die boek. Die waardevolle lesse van al die ander vroue kom letterlik bymekaar in die verhaal van die Sulammitiese meisie. Daarom word sy as “die laaste woord” aangebied.
Mag ons elkeen kies om deur al die ander vroue se lesse te werk juis sodat ons uiteindelik by “die finale afronding” van hierdie Sulammitiese vrou kan kom, almal saam deel van die bruid van Christus, elkeen soos een pieksel van ’n digitale foto.
Ek moet laastens bieg daar was ’n tyd in my lewe toe ek werklik gestoei het om God waarlik te leer vertrou. In daardie tyd het ek ontdek vertroue is 100% aan karakter gekoppel. Ek moes God se karakter leer ken, en ek het Hom toe ook leer ken in die baie Name wat in die Woord vir God gebruik word om sy karakter in verskillende situasies uit te beeld. Sy verskillende Name het so ’n diep indruk op my gemaak dat dit nou vir my baie moeilik is om slegs van God en Here te praat. Daar is vandag soveel gode en “heer” of “here” is eintlik maar net nog ’n titel. Oral in hierdie boek waar HERE met vier hoofletters geskryf word, verwys dit na Jehova, die Groot EK IS, die Een wat op sy eie bestaan, die Verbondsnaam van God. Deur sy Naam as HERE te skryf, gee ek erkenning aan sy grootsheid.
In liefde
Esté
Eva
Sy het haarself en haar ganse nageslag uit die tuin van Eden uit geredeneer.
Lees Eva se verhaal in Genesis 1–3.
Wat is nou lekkerder vir ons as vroue as ’n heerlike geselsie? Kry ’n groep vroue bymekaar om saam tee te drink en die geluide wat opklink, herinner ons aan die digter en skrywer Hester Heese se uitstekende beskrywing – “vinke by die water wat kwinkeleer en snater”. Ons het immers altyd iets om te vertel.
Klink dit bekend? Het jy jou al ooit probeer indink in die omstandighede van die eerste vrou van wie ons in Genesis lees, die vrou wat uit die rib van haar man geskep is? In die tuin van Eden was daar, buiten die baie mooi tuin vol eetbare vrugte, Man en Mannin en die Skepper. Dis al. Daar was geen boeke om te lees of uit te leer nie. Geen ander afleidings nie. Nie eens stokperdjies nie, want dit was nie nodig nie. Hulle het nooit kerk gehou of biduur toe gegaan of ’n kursus bygewoon nie. Daar was vir hierdie eerste vrou niemand anders om mee te gesels as haar maat en haar Maker nie. Die verhouding wat hierdie twee wesens met hul Skepper gehad het, was volmaak en beslis in alle opsigte voldoende.
Maar toe verskyn die ekstra “gespreksgenoot”. Die Woord verwys na hierdie gespreksgenoot as “listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het”. Wat tussen hulle gepraat is, was geen gewone gesprek nie. Dit was wel ’n besonder belangrike gesprek. Dit hét immers die ganse mensdom in sonde gedompel.
Dit is vir ons elkeen belangrik om te probeer begryp wat tydens hierdie ontmoeting gebeur het. Daar is ’n paar belangrike gedagtes om in ag te neem.
Ons almagtige God is die Skepper van alles wat bestaan. Hy doen alles wat Hy wil doen vanuit goeie beplanning; Hy het ’n plan vír alles en ’n plan mét alles. Daar is niks wat Hom kan ontglip nie. Hierdie Skepper het dit goedgedink om Man en Mannin aan te stel om te heers oor alles wat Hy geskep het. Man kon selfs name gee vir die diere wat God geskep het. Wat ’n voorreg, maar ook groot vertroue in hierdie wese wat na die beeld van God geskep is.
Daar was egter baie duidelike reëls oor wat Man en Mannin mag geëet het. Alles wat geleef het, mens en dier, sou van plante leef. Dink net daaraan, tot in daardie stadium is niks ooit doodgemaak nie. Geen dier het selfs ’n ander dier doodgemaak om dit te eet nie. Daar was geen bloedvergieting nie. Alles wat moes eet, het van die plante in die tuin geleef. Dít is dan ook ’n baie belangrike gedagte: Niks in daardie tuin het doodgegaan nie. Alles het bly leef. In daardie tuin was daar lewe, nie dood nie.
Vir Man en Mannin was daar baie duidelike instruksies oor watter bome se vrugte hulle mag geëet het, en watter nie. Daar was “die boom van lewe” in die middel van die tuin. Of hierdie boom letterlik in die middel van die tuin gestaan het en of dit profeties of simbolies die middelpunt van belangrikheid ten opsigte van “lewe” was, sal ons nie weet nie. Die belangrikste, ook vir ons, is egter om te weet dat lewe in ons Vader vir Hom die heel belangrikste is. Dit is ons Skepper en hemelse Vader se begeerte dat ons sal leef en dan lewe in Hom sal beleef.
Die ander boom word beskryf as “die boom van die kennis van goed en kwaad”. Kennis van reg en verkeerd. Hierdie boom was ook in die middel van die tuin. Twee bome sentraal in die tuin. Kyk hoe word die keuse reg van die begin af voor die mens neergesit. Die mens moet bedag wees daarop dat hierdie boom van reg en verkeerd teenwoordig is, anders kon hulle dalk ’n fout maak en van sy vrugte eet.
Die waarskuwing wat saamgegaan het met die verbod op die vrugte van hierdie tweede boom was baie ernstig: “… die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” En dit is presies wat met Man en Mannin gebeur het nadat hulle van hierdie boom se vrugte geëet het. Hul lewe in die tuin van Eden het tot ’n einde gekom. Hulle moes weg uit die tuin. Waarom?
Dit is