Deel 1
Hierdie vrou het haar vererg, haar swak gedra en in ongeloof gelag in die gesig van haar Skepper-God, maar tog die moeder van alle gelowiges geword.
Lees Sara se verhaal in Genesis 12–23.
Daar is soveel dinge in die Bybel opgeteken wat ons mis lees. Dit is eers wanneer ons vanuit die oogpunt van ’n draaiboekskrywer na gebeure begin kyk dat ons verstommende dinge begin raaksien, dinge waarsonder ons armer sou wees as ons dit nie gesnap het nie.
Die verhaal van Sarai wat Sara geword het, is een so ’n verhaal. Ons moet eintlik letterlik in ons gedagtes alles sien gebeur, dalk selfs met ’n landkaart byderhand, om te verstaan wát presies tussen al die reëls vol woorde in die Boek opgeteken staan.
In my hart wil ek huil oor Sara, en dan ook hartseer raak oor Abraham. Ek weet egter wanneer ek eendag kom waar hulle reeds is en met hulle sou kon praat, hulle glad nie sou kon verstaan waarvan ek praat nie.
’n Baie goeie plek om met ’n gesprek oor Sara te begin, is die Nuwe Testament se verwysing na haar wat ons in Petrus se eerste brief lees:
Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig, soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie (1 Pet 3:5-6).
Sara word hier as ’n modelvrou voorgehou – iemand na wie ander vroue van alle tye kan opsien – en dit omdat sy haar man “heer” genoem het en aan hom onderdanig was. Dit is vir my die verstommende van ons Vader se genade. Hy onthou nie die slegte dinge nie. Wanneer ons deur ’n paar sleutelgebeure in Sara en Abraham se lewe stap, besef ons Sara was maar net ’n mens, en geen heilige nie. Sy het haar foute gehad. Ja, vir seker het ons Vader haar in ’n sleutelposisie gebruik wat tot die totstandkoming van sy volk van gelowiges gelei het, maar sy het haar foute gehad en foute gemaak.
Mag ons uit Sara se foute leer. En mag ons ’n al hoe dieper begrip kry van die genade en verdraagsaamheid wat ons Vader met ons het. Dit het vir Sara gegeld, en dit geld vandag nog vir ons: Ons Vader dink nooit weer aan ons oortredings wat Hy vergewe het nie.
Elkeen wat glo in die verlossing van Jesus wat die Christus is, het Abraham as hul vader in die geloof en daarom ook vir Sara as moeder in die geloof. Op grond hiervan is ons ook erfgename van hierdie geloofspaar. Omdat ons glo in die verlossing wat Jesus Christus vir ons bewerk het, is daar geen offers meer nodig wat ons kan bring vir ons oortredinge nie. Alles is klaar betaal. Ons Vader dink nooit weer aan enigiets wat ons verkeerd gedoen het nie.
Dit ontdek ons ook in Sara se verhaal. Wanneer ons kyk na die belangrike lesse wat ons uit haar lewe kan leer, is daar geen veroordeling nie, net uiters waardevolle lewenswaarhede.
Sara lag in ongeloof
Die eerste belangrike insident in Sara se lewe waarna ons moet kyk, is juis iets wat in skrille teenstelling met geloof staan. Genesis 18 begin met die woorde: “Daarna het die HERE aan hom [Abraham] verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag.”
Sien hom daar sit. Hul tent was gemaak van doek wat van kameelhaar geweef is. Dit het ’n baie growwe tekstuur gehad en was dig geweef, baie dig. Koel in die somer en beskut in die winter. Sara was seker binne-in die tent. As jy al in Israel was, sal jy weet presies hoe warm dit in die somer daar kan word “op die tyd van die dag wanneer dit die warmste is”. Op daardie uur rus mense. Tog is dit juis dié uur, die onwaarskynlikste uur, wat die HERE kies om by hierdie vader en moeder van alle gelowiges te kom besoek aflê. Ja waarlik, God Self kom Abraham besoek.
Die HERE wil weet waar Sara is, asof Hy nie geweet het nie. Dan kondig Hy aan dat Hy oor ’n jaar sal terug wees en dat Sara dan ’n kind sal hê. Omdat Abraham én Sara al baie oud was en Sara nie meer haar vroulike siklusse beleef het nie, het sy hieroor gelag.
Ja, in ongeloof het Sara gelag. Maar sy het nie alleen gelag nie. In hierdie stadium het Abraham reeds ’n hele paar ontmoetings met God gehad. Tydens een van die vorige ontmoetings is hierdie selfde boodskap aan Abraham oorgedra … en toe het ook hy gelag (Gen 17:17).
Wees gewaarsku: Die HERE God kan ook op die mees onverwagte tyd by my en jou opdaag. Sal ons Hom herken vir wie Hy is? En sê nou Hy kom na ons toe met ’n belofte wat ons as verregaande beskou? Sal ons ook dalk lag omdat ons dit snaaks en ongeloofwaardig vind?
Toe Abraham en Sara se seun op die vasgestelde tyd gebore word, noem hulle hom Isak. Dit beteken “lag”, en verwys na ’n pretlag, soms ook ’n spotlag of om uit trots te lag. Sara het immers gesê almal wat van haar situasie hoor, sal vir haar lag. Dis erg om te besef dat Isak hierdie naam moes dra. Op ’n manier moes hy sy lewe lank vir die gelag “betaal”.
Ja, Sara lag in ongeloof. Maar tog word sy die moeder van alle gelowiges.
Daag jouself gerus uit. Wat is daar in jou menswees waaraan jy kan dink as die één eienskap wat jou die meeste terughou om God se koninkryk uit te bou? In Sara se geval sou ons haar ongeloof kon uitwys. Sara het eenvoudig nie geloof gehad nie. Dit was sy wat by Abraham aangedring het om Ismael by haar slavin Hagar te verwek. Uiteindelik was dit weer Sara wat die swanger Hagar so sleg behandel het dat sy weggeloop het. En toe Hagar deur God se ingrype terugkeer en Ismael reeds ’n opgeskote seuntjie was, het Sara haar ’n tweede keer weggejaag. Lees gerus hierdie verhale in Genesis 16 en 21.
Ongeloof en die vermoë om die een dwase besluit ná die ander te neem is wat Sara in haar hand gehad het. Maar ons Vader het dit geneem en dit in sy groot genade omgedop en Sara die “moeder van alle gelowiges” gemaak.
Wat het jy in jou hand? Jy kan nie altyd jou situasie verander nie, maar daar is een besluit wat jy wel kan neem: om die almagtige Vader te vertrou en Hom te aanbid. Onthou, ’n voël kyk nie waar hy vlieg nie; waar hy kyk, daarheen vlieg hy. Moenie toelaat dat onbenullighede jou aandag van God af wegtrek nie. Fokus. Vertrou op ons Vader en leer om Hom waarlik te aanbid. Jy sal vind dat Hy jou verander, sommer so half ongemerk, sodat dié dinge in jou wat jou die kwaadste of die gefrustreerdste maak, omgedop en verander sal word in jou grootste bydrae tot die uitbreiding van sy koninkryk.
Sara behandel haar slavin sleg
Die tweede belangrike insident in Sara se lewe waaruit ons iets moet leer, is hoe sy haar slavin Hagar behandel het. Eers gebruik Sara vir Hagar om “hierdie swaard oor haar kop” om swanger te raak, te laat weggaan. Sy maak ’n plan om “vir God te help” met die plan om ’n seun vir Abraham te verwek. Toe die slavin swanger raak, mishandel Sara haar so erg dat sy wegloop, die woestyn in. Wat tussen hulle gebeur het, moes baie erg gewees het as Hagar ’n baie waarskynlike dood in die woestyn bo ’n lewe saam met Sara verkies het. En ’n paar jaar later herhaal hierdie insident hom sowaar.
Weer moet ons binnetoe kyk. Hoe hanteer ons ons huishulp? Met respek of agterdog? Met belangstelling of irritasie? Wat weet ons van ons huishulp? Vir hoeveel van ons is hierdie opregte uitreik na die mense wat in ons huise werk die enigste kontak wat ons met mense van ’n ander kultuur het? Waar staan ek en jy?
Sara lieg saam met Abraham
Dit is die derde insident in Sara se lewe waarna ons moet kyk.
Dit het twee keer gebeur dat Abraham vir Sara gevra het om saam met hom te lieg oor die feit dat hulle getroud is. In onderdanigheid aan haar man het sy albei kere saam met hom gelieg deur voor te gee sy is Abraham se suster. Sara was in werklikheid sy halfsuster, maar hulle was tog getroud.
Die eerste keer toe Abraham en Sara saam gelieg het, was toe hulle weens ’n hongersnood na Egipte moes gaan. Abraham het vir Sara gevra om saam met hom te lieg, en sy het ingestem. Sy hét toe in die farao se harem beland, waarvoor Abraham met ’n groot bruidskat vergoed is. Maar Sara se teenwoordigheid in die farao se paleis het groot plae oor sy huis gebring. Die HERE moes ingryp om Sara in haar huwelik rein te hou. ’n Mens wonder wat deur Abraham se kop gegaan het toe hy die groot bruidskat van die farao ontvang het. Hy moes vir seker baie sleg of skuldig gevoel het. Maar danksy die Vader se ingrype is hulle albei se lewe gespaar en kon hulle weer bymekaar wees.
’n