Hester Careen Geldenhuys

Vroue van die Bybel


Скачать книгу

in ons lewe belangrik is.

      Die eerste vraag wat jy moet vra, is: Is ek en my huweliksmaat op dieselfde vlak ten opsigte van ons verhouding met ons Vader? As die antwoord nee is, moet jy weet, die oomblik dat jou verhouding met die almagtige God ’n wig tussen jou en jou huweliksmaat indryf, doen jy iets verkeerd. Julle verhouding met julle hemelse Vader moet julle juis nader aan mekaar bring. Die liefde van God kan nie verwydering bring nie. As ons verwydering beleef, leef ons God se liefde nie uit soos Hy dit bedoel het nie.

      Vra jou in die tweede plek af: Is ek nou al 25 of 35 of dalk 40 jaar getroud? Weet ek nog watter soort kos vir my man lekker is? Weet ek wat op sy bucket list is? Verstaan ek hoe sy begeertes en verlange na dinge oor die jare heen verander het? Alle mense wat leef, groei. Niemand bly dieselfde mens as wat hulle 30 of 40 jaar gelede was nie. Ons moet waak daarteen om so aan mekaar gewoond te raak dat ons mekaar nie meer waardeer, in ag neem of selfs ken nie.

      En ons moet asseblief nie ons stert in ’n krul trek nie.

      Neem hierdie woorde uit Hebreërs 10:15-18 ter harte:

      En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.

      Dankie, Vader, dat ook ek in ’n verbond met U kan leef. Dankie dat U Self u liefde op my hart skryf. Dankie dat u liefde my lei en begelei en dat U aan die slegte dinge in my verlede nooit meer dink nie. Vader, dit is my begeerte om waarlik in ’n intieme liefdesverhouding met U te leef. Begelei my daarin. Ek vra dit in die Naam van Jesus. Amen.

      Rebekka

      Hierdie vrou was allesbehalwe ’n onbetroubare ma wat haar een kind bo die ander wou bevoordeel; Sy was ’n profetes wat aan God se woord gehoorsaam was. Wat sê God vir jou oor jou kinders en kleinkinders? Weet jy hoe om hulle binne en vir sy beloftes te beskerm?

      Lees Rebekka se verhaal in Genesis 24–27.

      Rebekka was ’n dapper meisie.

      Stel jou ’n jong meisie voor, jonk genoeg dat sy nog ’n oppasser as metgesel gehad het. Sy klim saam met ’n vreemde man op een van sy tien kamele en skommel-skommel ry sy saam na ’n ver land. Toe sy daar aankom, ontmoet sy skaars haar bruidegom of ’n besonder eenvoudige huwelikseremonie vind plaas toe hy haar na sy ma se tent neem en haar sy vrou maak. Geen ouers van die bruid of bruidegom was daar teenwoordig nie; geen bruidsmeisies of selfs iemand wat hulle in die huwelik bevestig het nie; geen bruilofsfees waarvan ons lees nie … nie eens ’n skoonma vir wie sy kon raad vra of vir wie sy haar kon vererg nie.

      Net Rebekka en haar oppasser. Hoe sou enige meisie dit kon regkry?

      Daar is ’n paar merkers in hierdie gebeure ingebou wat vir ons lig werp en ’n antwoord gee op die vreemde verslaenheid wat hierdie meisie se huwelik by ons laat.

      In die eerste plek was daar die plegtige belofte wat Abraham van sy kneg gevra het en wat hy moes verseël deur te sweer – ’n gewone belofte was nie voldoende nie. Abraham se versugting het twee kante gehad. Eerstens moes hierdie kneg belowe dat hy Isak nie sou terugneem na die land of stede waar Abraham vandaan gekom het nie. Tweedens was daar die absolute verbod om vir Isak ’n vrou uit die Kanaäniete te kies. In hierdie versoek hoor ons net een ding: Abraham se gehoorsaamheid aan die opdragte en versugtings van die almagtige Skepper-God. Dit is ter wille van die verhouding wat Abraham met die Skepper-God gehad het dat sy kneg selfs met sy hand onder Abraham se heup moes sweer. Dit was ’n ernstige saak hierdie.

      ’n Tweede kosbare merker is dat hierdie kneg in Haran, die regte land, die regte stad, aangekom het. Maar waar sou hy nou die regte meisie vind?

      Daar is een waarheid wat ons almal moet ontdek. Wanneer jy by die punt kom waar jy ’n belangrike besluit moet neem, maar jy het geen idee waar om te begin of hoe om die besluit te benader of te hanteer nie, doen in die eerste plek wat jou hand vind om te doen. Dit is presies wat Abraham se kneg gedoen het. Sy kamele moes water kry ná die lang tog en hy het hulle na die openbare put geneem waar hy hulle laat kniel het sodat hulle kon drink.

      Is dit nie die mooiste prentjie wat jy jou kan voorstel nie! Tien kamele op ’n ry op hul knieë. En wat maak hul begeleier? Hy bid! Hy het egter sy tyd goed gekies, want dit was net mooi die tyd dat die vroue uitgegaan het om water te gaan skep.

      Volgens Genesis 24:12 het Abraham se kneg gebid: “HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.”

      Wat ’n eenvoudige gebed, wat weer bevestig dat opregtheid nooit by ons Vader verbygaan nie. ’n Omhaal van woorde is nooit nodig nie. Praat sommer net met die HERE oor presies wat in jou hart is.

      Hierdie kneg se gebed word dubbel en dwars beantwoord. Hy ontmoet die meisie, sy oorweeg sy aanbod en besluit om saam met hom te gaan.

      Wanneer die familie haar roep voordat hulle haar vaarwel toeroep, spreek Laban ’n seën oor haar uit. En dit is hier dat die laaste en verstommendste merker voor ons opspring. Die seën wat Laban oor Rebekka uitspreek, is woordeliks dieselfde seën as wat die almagtige Skepper kort tevore oor Abraham uitgespreek het.

      Hierdie seën bevat twee gedagtes: Dit bevestig dat Rebekka ingesluit is in die verbond wat met Abraham gesluit is, en dit bevestig ’n uitreik, ’n kontak – kan ons selfs sover gaan om te sê ’n verhouding? – tussen Rebekka en die HERE wanneer daar aan haar belowe word dat haar nageslag die poorte van sy vyand in besit sal neem. Gaan lees hierdie twee tekste in Genesis 22:17 en 24:60.

      Dit is egter vir ons belangrik om ook na ’n ander interessante feit te kyk. Die HERE maak die keuse om vir elk van die drie groot volksvaders, Abraham, Isak en Jakob, vrouens te gee wat nie sommer maklik swanger raak nie. Sara moes wag totdat sy 90 jaar oud was. Toe kom Rebekka, en ook sy raak nie swanger nie. Volgens Genesis 25:21 het Isak gebid en gesmeek dat sy sou swanger raak. Later het ook Jakob en Ragel hul oomblikke beleef waarin haar onvermoë om swanger te raak erge spanning meegebring het.

      Isak het gebid … en sy gebed is beantwoord toe Rebekka swanger geraak het. Sonder die moderne wetenskap was dit onmoontlik vir haar om te weet dat sy ’n tweeling verwag het. Maar tegnologie is nie nodig vir ’n swanger vrou om te weet dat daar wild en woes in haar skoot gestoei word nie. Sy voel dit. (Met ons laaste swangerskap het ek waarlik ’n tussenribspier-besering opgedoen as gevolg van my baba se geskop.)

      Rebekka het geweet wat in haar skoot gebeur, het te doen met iets wat sy moet verstaan. Sy het na die enigste ware plek vir hulp en raad gegaan: Sy het haar Skepper gevra wat aangaan. Gaan lees hierdie mooi verhaal in Genesis 25:22-23. Dit is sterk woorde wat Rebekka oor die gestoei in haar skoot uitspreek: “As dit so gaan, waarvoor leef ek dan?”

      Die antwoord wat sy gekry het, was nie slegs ’n antwoord op haar situasie nie; dit was ook ’n profesie oor die uitkoms van hierdie twee kinders se lewe en veral oor die plan wat die Almagtige met hul lewe gehad het. Is dit moontlik dat dit ook vir Rebekka ’n toets van gehoorsaamheid was?

      In die antwoord was daar ’n duidelike opdrag waarvan net Rebekka geweet het. Sy het dit beslis nie met Isak bespreek nie, anders sou latere gebeure in hul lewe heeltemal anders uitgespeel het. Ook dit, moet ons aanvaar, was deel van God se plan. Soos sake verloop het, het Jakob immers self in Haran beland om vir hom ’n vrou, of vrouens, te gaan kry wat nie Kanaänitiese meisies was nie.

      Dink mooi oor die antwoord wat sy gekry het. Twee nasies was in haar skoot. Uit hierdie twee babas sou twee volke ontstaan en die een sou sterker as die ander wees. Ons besef dit verwys na twee leiers van gehalte wat gebore sou word. En dan die baie belangrike opmerking wat die opdrag ingehou het – die oudste sal die jongste dien.

      My lewe lank hoor ek al mense na Rebekka verwys as ’n vrou wat vir haar man gelieg het, wat hom gekul het en wat met haar lieflingkind saamgespan het om sy pa en broer te verneuk. Haakskeengryper, bedrieër. Dit is waarvoor hulle uitgeskel word. Toe ek op ’n dag die spreekwoordelike draaiboek oor hierdie gebeure