dat presies dieselfde gebeur met koning Abimeleg. Weer lieg Abraham. Weer onderwerp Sara haar aan die liegstorie. Dink daaraan dat Sara haar tydens die insident met Hagar so sterk teen Abraham uitgespreek het dat hy haar voorstelle aanvaar het. Hoekom sou sy in hierdie twee gevalle ingegee het om saam met hom te lieg? Dit kon nie vir haar maklik gewees het nie. Twee keer beland sy in ’n vreemde koning se harem. ’n Vreemde taal. Vreemde gebruike. Die moontlikheid dat die koning haar kon laat haal …
Wanneer ons kyk na die laaste groot insident in hierdie twee mense se lewe saam, kan ons nie anders nie as om te wonder of al die ander dinge wat tussen hulle gebeur het dalk iets in Sara laat opbou het, tot by die punt waar sy gevoel het “genoeg is genoeg”. Moes sy dalk net met soveel dinge verlief neem dat alles te veel geraak het?
Ons elkeen staan in verhoudings – ’n huweliksverhouding, ons verhouding met ons kinders, ouers, familie en vriende. Vra jou af: Hoeveel eerlikheid handhaaf ek in my verhoudings? Watter grense het ek in my verhoudings ingebou sodat negatiewe dinge nie my verhoudings sal besoedel nie? Knak ek onder ander mense se oorheersing, of heers ek dalk oor hulle? Laat ek toe dat ander my misbruik of dalk selfs verinneweer? Onderwerp ek my aan ander mense se besluite terwyl ek weet dit sal in my gees nie tot die lewe lei nie, maar tot die dood?
Dit behoort nie nodig te wees nie. Nooit nie. As dit in jou lewe waar is, soek hulp. Praat met iemand daaroor, verkieslik iemand wat oor Goddelike wysheid beskik en wat objektief sal kan bly.
Elke mens het liefde, koestering en doodgewone vriendskappe nodig. Het jy ’n behoefte daaraan? Kyk om jou rond. Word so ’n mens vir iemand anders en kyk wat gebeur dan met jou! God is liefde. Sy voorbeeld van liefhê, lê in “gee”. Liefde is ’n daad. Liefde is nie woorde of ’n emosie nie. Liefde word ’n werklikheid wanneer ons liefdesdade aktief uitleef. Wat ons saai, sal ons maai. Gaan word liefde vir ander en dit sal na jou toe terugkom.
Neem hierdie woorde uit 1 Johannes 4:10-12 ter harte:
Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.
Here Jesus Christus, ek bely dat dit nie vir my maklik is om sommer net lief te hê nie. Veral party mense laat my sukkel. Help my om mense deur u oë te sien. Gee dat ek die nood van ander raaksien eerder as hul irriterende gedrag. Jesus, ek kies om te oefen om liewer te gee as om weg te draai. Amen.
Sara
Deel 2
Hierdie vrou was so ontsteld oor haar man se doen en late dat sy haar goed gevat en op ’n ander plek gaan bly het.
Lees Sara se verhaal in Genesis 12 – 23.
Die laaste druppel aan Sara se emmer
Abraham was die een wat die roeping ontvang het, en Sara was met hom getroud. Waar hy sou gaan, sou sy saamgaan. In die tyd toe hulle in Ur gebly het, het mense in lieflike dubbelverdiepinghuise gewoon, meestal gebou rondom ’n oop binnehof – ’n tuin, stoep en dak waar hulle kon vertoef. Hulle het ’n voorloper van spoeltoilette gebruik en ornamente van suiwer goud in hul huise gehad. Toe Sara saam met Abraham en sy karavaan begin trek het, het sy die lewe van ’n dame agtergelaat.
Buiten die nomadiese lewe wat vir haar ’n groot aanpassing moes gewees het, het Sara voorwaar haar kwota uitdagings gehad om te oorkom. Dat Isak vir haar op ’n hoë ouderdom gebore is, moes beslis vir haar veel meer as ’n troos gewees het. ’n Mens kan jou nie voorstel hoeveel liefde en aandag sy op haar kind moes uitgestort het nie.
Toe staan sy een oggend op en Abraham, Isak en ’n klompie van Abraham se diensknegte is skoonveld … en hulle kom nie terug nie. Hulle bly ’n hele week weg. Hoeveel vrae het sy nie gevra nie? Ons kan ons nie Sara se ontsteltenis voorstel toe sy uiteindelik uitvind wat die rede vir die reis was waarop die twee mans in haar lewe so skielik in die nag vertrek het nie.
Haar Maker wat haar beter geken het as enigeen, het geweet hoe Sara hierop sou kon reageer. Daarom is die manier waarop Abraham hierdie opdrag ontvang het betekenisvol, en natuurlik sy reaksie daarop. In Genesis 22:2 lees ons hoe die almagtige God baie duidelik met Abraham praat: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en … offer [hom] as brandoffer …”
Dit is asof ons Vader baie seker wou maak Abraham weet van watter seun Hy praat. Abraham het toe vroeg klaargemaak sonder om enigiets vir Sara te sê. Hy moes geweet het Sara sou hom probeer keer. En Abraham wou aan God meer gehoorsaam wees as aan mense (Hand 5:29).
Hierdie man van God het net alles geneem wat hy sou nodig kry, gereed om in gehoorsaamheid aan die almagtige God te doen wat Hy gevra het. Want volgens Hebreërs 11:19 het Abraham geglo hierdie selfde almagtige God sou sy seun uit die dood opwek. Die uitkoms ken ons.
Jahweh Jireh – die God wat voorsien – het Homself aan Abraham geopenbaar. Dis vir my so mooi dat daar in die Hebreeuse kultuur van “the binding of Isaac” gepraat word. Hy is immers toe nié geoffer nie.
Abraham en sy hele gesin en geselskap het in Berseba gebly toe hy hierdie opdrag gekry het. Ná die gebeure op die berg Moria sou Abraham se huis nooit weer dieselfde wees nie. In Genesis 22:19 lees ons dat Abraham met sy dienaars na Berseba teruggegaan het.
En dan begin die volgende hoofstuk met die woorde:
En die lewensdae van Sara was honderd-sewe-en-twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween (Gen 23:1-2).
Later lees ons dat Abraham sy dienskneg gestuur het om vir Isak ’n vrou in Mesopotamië te gaan haal. Wanneer hierdie dienskneg met Rebekka terugkom, neem hy haar nie na Berseba nie, maar weer na Hebron, daar waar Isak in die tente van sy ma Sara gebly het.
Daar speel die mees romantiese verhaal in die Bybel af wanneer Isak in die veld stap en Rebekka hom gewaar, van haar kameel af gly, haarself versluier en in die veld na Isak toe stap. Hy het ook nadergekom om haar te ontmoet. Toe neem hy haar na sy moeder se tent … en Isak het Rebekka sy vrou gemaak.
Dit is veral hier waar ons die draaiboek moet skryf om te kan sien wat werklik gebeur het. Berseba lê ’n hele ent suid van Hebron. Die “binding of Isaac” moes die rede gewees het waarom Sara haar goed, haar tente, haar bediendes en ook haar seun gevat en van Berseba na Hebron getrek het. Dit is waar sy gesterf het, en dit is waarheen Abraham van Berseba af gegaan het om oor haar te ween en haar te begrawe. Ons lees nie weer dat sy en Abraham kontak met mekaar gehad het nie. Ook nie dat Isak weer veel met sy pa te doen gehad het nie.
Abraham het daarna wel vir Isak versorg deur vir hom ’n vrou te laat haal. Verder lees ons in Genesis 25 dat Abraham weer getrou het – met Ketura. Sy het vir hom ses kinders in die wêreld gebring.
Ons lees ook nie van enige verdere groot gebeure tussen Jahweh en Abraham nie. Dit is asof daar hierdie reuse hoogtepunt was … en toe algehele stilte. Omdat gehoorsaamheid vrede in sy boesem dra, kan ons aanvaar dat Abraham nie ’n verbitterde ou man geword het nie. Hy moes vrede ervaar het – daardie ontsaglike vrede wat geloof en gehoorsaamheid meebring. Ons Vader het dan ook die wonderwerk van die kind wat Abraham op 100 verwek het, uitgebrei na nog ses kinders ná die ouderdom van minstens 140.
En Sara? My aangetroude Hollandse familie sou sê “sy het haar stert in ’n krul getrek” en op ’n ander plek gaan bly. Genoeg is immers genoeg. ’n Mens wil nie eens begin bespiegel oor wat alles in haar gemoed moes omgegaan het nie. Maar dit kon nie baie positief gewees het nie. Die ergste wete is dat sy van Abraham wou wegbreek. Hierdie man wat sy soveel jare lank deur dik en dun gevolg het, wou dit waaragtig waag om haar kind se keel af te sny. En dit was vir haar die laaste druppel aan die emmer.
Dit laat ’n mens wonder … Wat hét Sara verstaan van wat tussen Abraham en God gebeur het? Daar was die verbond, die beloftes … daar was ’n verhouding tussen hulle. En wat ’n intense verhouding was dit nie! Wat het Sara van hierdie dinge verstaan?
Uit