Amelia Strydom

Wat die hart begeer


Скачать книгу

      

      Wat die hart begeer

      Amelia Strydom

      Satyn

      1

      “Nee! Jy kan nie met hom trou nie!”

      Mienke dwing haar oë oop. Dís hoekom sy gewoonlik kamer toe vlug voor die middagsepies begin. Talitha kyk televisie soos die meeste mans rugby kyk: luidkeels en beterweterig.

      “Sê nee,” kreun haar vriendin weer en klem die bak springmielies stywer teen haar bors vas.

      “Jy weet sy kan jou nie hoor nie, nè?”

      “Sjuut, jy! Gaan klim in die kooi as jy nie wil kyk nie.”

      Uitstekende plan, dink Mienke. Sy sou dit lankal gedoen het as sy die energie kon bymekaarskraap. Vandag was nie ’n goeie dag nie. Gister ook nie … Wanneer laas het sy ’n goeie dag gehad? Nee, vrek, hierdie ontkenning moet end kry, sy word sieker. Vanmiddag kon sy nie eens albei bene in een sitting skeer nie. Ná die regterbeen was sy so lam en uitasem dat sy uit die bad moes klim, en sedertdien lê sy hier op die bank en muf.

      Sy byt haar lip. Net môre bel sy Deirdre se spreekkamer, sy kan nie so aankarring nie. Ma en Tallie kry aapstuipe as hulle weet sy sit kiertsregop en slaap om asem te kry.

      Deirdre gaan haar opneem, dis ’n feit. Haar met ’n klomp drade en pype aan ’n hospitaalbed vaskluister tot ’n geskikte skenkerhart opduik. Best-case scenario.

      Sien sy kans om haar laaste krummels vryheid en onafhanklikheid te verloor? Dis erg genoeg dat sy by Talitha in dié se derdeverdiepingwoonstel moes intrek. Dag en nag gons die verkeer daar buite, slaap die stad dan nooit nie?

      Die Jozi-toe-trekkery was Deirdre se idee. Sy wat Mienke is, sou veel eerder by haar ma-hulle in Pretoria wou gebly het.

      “Ononderhandelbaar,” het die hartchirurg gesê. “CitiMed is die enigste hospitaal in Gauteng met ’n oorplantingseenheid. ’n Skenkerhart het ’n rakleeftyd van vier uur, wat beteken jy moet binne twee hier wees. Maksimum.”

      “Maar Pretoria is net ’n uur weg,” het sy mooigepraat.

      “Nie in spitsverkeer nie. Ons speel nie roulette met organe nie. Indien jy jou naam op die lys wil hê, kom jy Johannesburg toe, en basta.”

      Dit was ses ellelange maande gelede. Sy kla nie, Talitha is goed vir haar. Meestal kom hulle uitstekend klaar; hulle is nie verniet van kleuterskool af pelle nie. Maar af en toe werk hulle op mekaar se senuwees. Soos nou.

      “Aargh!” Talitha slinger ’n skoot mikrogolf-springmielies na die plasmaskerm.

      “Sies, Tallie, jou ma het jou geleer om nie kos te mors nie.”

      Nee, nie “Sies, Tallie” nie; sies vir háár. ’n Paar pitte gaan kwalik wêreldwye hongersnood verhoed. Sy is net jaloers: die springmielies ruik hemels en sy mag nie sout eet nie.

      Gelukkig is Tallie min gepla – hoor en sien kan vergaan wanneer Stadsgeheime op die kassie is.

      Wat sien sy in sulke snert? Die storielyn is ongeloofwaardig, die karakters stereotiep, en die toneelspel aangeplak. Kopskuddend kyk Mienke na die skerm, net betyds om te sien hoe ’n traan oor ’n beeldskone blondine se wang rol.

      “Ja, Chloe, tjank maar solank.” Talitha plak die bak op die koffietafel neer. “Jy gaan nog ’n rivier oor hom huil.”

      Mienke draai op haar sy. Sy kan net sowel saam kyk. Haar kamer voel ’n dagreis ver, Tallie se lopende kommentaar maak lees onmoontlik, en Stadsgeheime is so melodramaties, dis eintlik vermaaklik.

      “Is sy blind?” vra Talitha toe die aktrise haar wimpers fladder. “Enige aap kan sien Bruno is ’n skurk.”

      “We-el …” Mienke skreef haar oë en bestudeer die man met die swart leerbaadjie en die skeermeslem wat aan ’n silwerketting om sy nek hang. Interessant, besluit sy. Hy het anderster gelaatstrekke – nie klassiek aantreklik nie. Prominente wangbene, mondhoeke wat afwaarts neig, ’n vierkantige ken met ’n diep keep in. Ultra-macho met sy borselkop en ontwerperstoppelbaard, tog ook geseën met die seunsagtige faktor wat aan sekere bevoorregte mans lewenslange jeug verleen. “As die skurk só lyk, wil ek die held graag sien.”

      Tallie snork. “Ja, orraait, hy’s hot, dis hoekom vroumense se pantyrekke smelt sodra hy in hul rigting kyk. Maar hy’s ’n derduiwel met die looks van ’n engel.”

      Die “derduiwel” kniel in die seesand. Sy geskeurde jeans span om sy bobene, maar laat ’n tikkie meer aan die verbeelding oor in sy sitvlak se geweste. Hy hou ’n fluweelboksie na Chloe uit.

      “Dít,” sê Mienke, “is een moewiese diamant.”

      “Blikskottel kan dit bekostig. Hy’t sakke vol geld gemaak met al sy schemes. Hei, los!”

      Sy besef eers sy het haar hand na die springmielies uitgesteek toe Talitha opvlieg en die bak bo-oor die snippermandjie omkeer.

      “Askies, ek moes gedink het jy gaan ook lus kry.”

      “Dis niks, man.”

      “Nee, dit was superselfsugtig.” Sy plof aan die ander kant van die bank neer en gee Mienke se voet ’n drukkie. “Ek sal nie … ” Sy buk af. “Jou voete is verskriklik geswel!”

      “Is dit hoekom ek jou Jimmy Choos vanoggend nie kon aankry nie?” Namaaksels, maar Tallie raak dikbek wanneer sy daaraan herinner word.

      “Kan jy vir twee sekondes ophou flou grappies maak? Weet jou dokter hiervan?”

      “Ek gaan haar môre bel.” Sy las nie beloftes aan nie; hulle weet albei dit kan nie anders nie.

      “Maak ’n bleddie afspraak, ek sal jou vat.” Talitha draai terug na die televisie en trek haar knieë tot onder haar ken. Ná ’n paar tellings hoor Mienke haar snuif.

      “Tallie.” Geen antwoord nie. “Moenie huil nie, toe.”

      “Ek huil nie.” ’n Natter snuif. “Fine, miskien net so ’n bietjie. Met goeie rede, Chloe is ’n skattebol en nou gaan sy met so ’n vark trou. Jy moet sien hoe knyp hy die kat in die donker, dis disgusting.”

      En dié simpel knop agter haar gorrel? “Jou storie is wragtig meer sepierig as ’n borrelbad.”

      Talitha grawe ’n verfrommelde snesie uit haar bra. “Bruno is nie seep nie, hy’s skuim. Jig, hy gaan haar soen, ek kan nie kyk nie.” Sy kruip kamma agter ’n strooikussing weg, maar kan die versoeking nie weerstaan om bo-oor te loer nie.

      Een vinnige dog vuurwarm vrysessie later vergruis Bruno Chloe teen sy borskas. ’n Nabyskoot van sy gesig vul die plasmaskerm. Gefolterde blou kykers staar die verte in en ’n bittersoet glimlag speel om sy lippe.

      “Ek kan daai grinnik van sy bakkies af klap,” sê Talitha.

      “Ek dog jy’t ’n sagte plekkie vir die bad boys?”

      “Oe eh-eh, hom wil ek nie present hê nie, nie eens as hy vir my so ’n yslike diamant gee en op sy kop staan en die troumars deur –”

      “Toemaar, ek twyfel of hy tot sulke uiterstes sal gaan. As jy my vra, hoef hy hom nie juis aan vroue op te dring nie.”

      “Hét ek jou miskien gevra?” Talitha klik haar tong voor sy effe onwillig byvoeg: “Hy ís getroud. Jare al, nogal met haar, die aktrise wat Chloe speel.”

      “Mooi paartjie.” Mienke gaap agter haar hand, sien dan haar vriendin se gesig. “Jy rol verniet jou oë soos ’n koei met malbeessiekte. Hy’s mos nie sy karakter nie. Vir al wat jy weet, is hy baie oulik.”

      “Gmf, vir al wat ek weet, bring die Paashaas volgende week vir my ’n Checkers-sak vol tjoklits ook.”

      Sit paaseiers op jou lysie, maak Mienke ’n kopnota. Tallie is nes ’n kleuter oor verrassings.

      Maar Paassondag is twee weke weg, ’n ewigheid vir iemand met een ongeskeerde been en voete soos uitgerysde vetkoekdeeg.

      Ag, sy sal in elk geval koop. Wie het gesê mens kan nie ’n skattejag in ’n hospitaalkamer hê nie?

      “Ry,