reeds word dit lig buite
kom die berge se strakke ingekeerdheid na vore
in boom en struik
en die see se geruis
skitter sigbaar soos die wind
vorm vang in wolke
om ’n uiterlykheid te span
lig soos ’n huid
oor die verhuidiging van vergeet:
om ons teen die tyd te beskerm
The Ridge 80A, Clifton – 9 Maart 2013
bruid in die water met swaeltjies
wanneer dit lig word
dryf ek op my rug in die see
tussen opdrifsels plastiek en papier
al die ou gedagtes
aan die een kant het die maan gaan lê
in die gevlekte lakens van ’n sterwende nag
ver oorkant ’n ander land
van woude en woestyne
gaan die son opstaan uit wolke
soos komberse oor die see
al die ou gedagtes
bo draai swaeltjies die tydwiel se ratte
eers net twee want so was die teken
van paring en verbintenis
en dan ’n dartelende en uitrygende swerm
vliegwieletjies
soos gate in die huweliksrok
motte se ou-onrus gedagtes vertel
hierdie rots gaan swart gloei
die stank van bokbloed weggesyg in die sand
sal mettertyd uitspel
tot sillabes vlieë van die eindelose taal
wanneer die begrawe derms vervel
en die bruid se hemelruim ’n slaapvertrek word
in die woorde van die moskeeroeper
wat al die ou gedagtes bring en laat kring
tot bid in die gebede bed
dancing in other words
(vir Ko Un)
daar is wérklik ’n vlugstreep woordenaars –
nagreisigers, dagsangers –
hulle met die gloeiende kool soos ’n derde oog
in die hand
en die stank van verbrande vlerke in die neus
hulle dink hulle dra vlae
maar dis lap om op te skrywe
met swart vingers
want die wind is alleen
en die maan is kaal
en die dansers weef woorde
om die stank van verbrande vlerke
in die neus te weer
daar is wérklik oorsprong
en trekroetes en stippellyne van binding
om aan te gee
van die een hand na die ander –
die kool en die vlam en die rook
en die klank van verbrande vlerke
weer en weer en weer
hoe is dit moontlik om nie vry te wees nie?
gedig
neem my deur ’n streek van sneeu
landerye met bale hooi in die somer
waar voëls die lappe woorde vreet
om tot bewegende ritmes te swerm
na helderheid, na ’n bietjie helderheid
neem my terug oor die lope van ’n lewe
waar geliefdes lê met vergane gesigte
in krippe stof
wys my die skilpadspoor se doel in die sand
laat my die sterre nog ’n laaste
eerste keer die aarde sien seën
met helderheid, met dorstige helderheid
laat my begryp hoe hang die wind
vlae en vreugdes vir die wapper
in boomtoppe se bewing
laat my die kind hoor huil
die seun se lag op pad skool toe
die klag van die duisternisroeper in die nag
om helderheid, om die droom van helderheid
laat my hierdie lyf nog ’n wyle strek
oor die voue en die sugte van die vrou
laat die ruggraat se rilling ’n vlam wees
dis goed dat donker soos dag teen die ruite
die onthoue laat stort in saad van vergeet
en dat liefde en leed genoem is
om helderheid, om die stil lied van helderheid
neem my na die hoogste berg
laat my klippe in my broeksakke dra
prakseer die vlerke van plastiek oor my skouers
dat ek mag opstyg na waar alles blou knetter
en net die leë seespieël glinster
van helderheid, van helderheid se verblinding
laat my neer in die diepste put
waar wande klam is van die soek van hande
na die maan wat soos ’n gedagte
sonder gesig in die afdonker dobber
snoer die woordvloei soos ’n tou om my nek
en laat my hang aan helderheid se ruwe vervlegting
maar laat my gehurk in stilte sit
laat dit alles kom en gaan
laat my vergeet en opgaan in kom en vergaan
laat my die hart hoor kwaggel in die niet
wat ’n reis is, ’n asemruimte
van helderheid, o die helderheid
26/1/2015
gedigmaak gedig
Kraus sê: hoe nader jy die woord wil interpreteer
(jy kan jou wil tot toenadering nie beheer nie)
hoe groter die afstand waarvandaan dit jou
in die gate hou
dis in daardie heen-en-weer
in die niemandsland tussen julle
waar toegewings gemeet en geweeg
dans, waar in voëltaal gepreek word
om die dooies te bekeer deur skyn te penetreer
dat die gang en samesang van ooreenkomste
mag ontstaan en aan mag gaan
eetvers 3
dit het gereën in die nag
sterre