druipende bome verniste klippe
die reuk van grond stilte
in die berg
skryf met die vinger in die as
van vulkane wat net in die gedig
gegloei het
onthou die verbeelding
wat net in die gedig gebloei het
aan ’n vrou aan jou
die verbeelding is vrou
met groen soetvytjie in die skoot
dit het gereën in die nag
sterre en herinnerde relase rook
soetvy tong in die mond
en jy vlammende stilte gespieël
en nou die oggendboek
dat jy my woorde kan eet
die betekenistong se swart as-smaak
in die dagregister van terugkeer
na geboortegrond
vrot die wrakwoorde van ’n skip wat vergaan
uitgevee aan die newelkus
dat die maan ’n gloeiende klip moes wees
gekreet in wolke se rou-rookkleed
skryf met die vinger in die as
begrawe gefluisterde hart
begrawe gedig in woordstilte
stapel maanskerwe oor die uitveegesig
maar dis ek dis maar net ek
hierdie singkende lyk
wat die soetvlees proe
van die laaste vrees
31/1/2015
en skielik is dit stil
(André, 7 Februarie 2015)
1
miskien was jy bly dat dit byna verby was –
die lang lewensvlug
na misverstande
na mooi maniere van ander na die mond te praat
miskien het jy uitgesien na ’n tuiskoms –
dat Europa uiteindelik koud en bar is
onder haar kors knarsende ys,
om in die koestering van ’n berg
en onder dekruimtes van sterre
weer hitte in die litte te kry
miskien het jy deur die patryspoort gesien
hoe naak en klipperig begelei ’n maan
in haar voleindiging
die metaalvoël se donker roete
miskien het jy kortpad gevat
ophou-lewe toe daar bo
omdat jy tog al halfpad was
na die doodsengel se skryfkamer
2
wat afkom aarde toe
is soos alle geskrifte in vuur geuiter
maar net ’n onvoltooide manuskrip sonder sin
geprewel met ’n verbrande tong
is maar net die lyk
wat nou sonder skynsel is
en woordeloos stof sal word
miskien sal kewers ’n stanza bou
in die holte in die grond
om daar te paar
soos brandende tonge
en vir mekaar verhale vertel
as vormgewing van die donkerte
se woordelose geknetter
die besoek
Ounooi, jy is nie aan die kronkelpunt
van my toutjie woorde op papier nie, ek weet
as ek bevry kon word van die geraastaal van mense
sou ek met jou kon praat, en sing
hier in die vallei met die suiderkruis geskeep
onder vlammende maste rinksinkende
deur nag se kantelsloepvaart na rook
van berge omheen se beskutting
op die heelalwerf. o Ounooi Moederdogter
hier is jy dan nog hiér deur donkerte tydverbleik
in die katjiepieringbos by die stoep
se wit geur onsterflikheid
die hartkraak
so van skryk na skrif
kry ek nie my woordryk
uitgestryk nie:
die skryfstok struikel
en die uitreikklok het van drif
’n kraak in die uitgewoedendheid
wanneer dit lig word
wanneer dit lig word
is die eiland nog stil:
die trae buitelyne en stylfigure
van mense wat buite slaap:
vodde versaakte vleis
gewikkel in veelkleurige lappe:
een vrou sit regop
en prewel met gebedekrale
die name van god:
die son wat ’n vuurglas
gaan maak van die see
sal skerfmaan en sterre wegvee
onder voue van die hemeldoek:
die lettergrepe van opsê en sterwe:
drie witterige honde soek baas
op die strand:
woue wiel
ons gedig
sal ek dit weer onder jou aandag bring?
dat die maan statig in die spieël se verblinding
die vaart is wat ons poësie noem
maar, leser, jy wat ingeskeep is
is die enigste gedig
die enigste oopgaanontdekking
en ek skryf net vir jou
ek skryf net vir jou dig bedagte
versinsels van hoe ek jou verlyf
en ervaar met die versugting om
aan boord geneem te word
dis seker jou straf
om nie teen die prikkels van milde tugtiging te skop nie
sodat jy ligter voel
en soms aan my dink
hoe nader woordsog kom
aan die wegsink van skyn
en dalk ’n glasie rooiwyn skink?
jy wéét tog ek dors daarna
om