en dan jou tepeltjies blink
te vryf tussen voorvinger en duim
tot stuiwers om die beurs te styf
en na die hemelse ruim gesleeptou te word
met jou daar te saamsaam
tot in lendeverstrengelde lengte van dae
en ons nagte
wat rym met nagte?
ek verbeel my geslagte het so gedroom
in die sagte skedes en skagte van jou lyf
ek versteek my in die gedagte
aan die sterbevonkte wagte
en kwartiere van ons wakkerslaap
die magte wat ons loslaat
wanneer ons dit die minste verwag
soos ’n drag voëls in die takelwerk
opskrik van die glans in die water
as jy ragfyn die asemstilte oor ’n ander boeg
gooi om te kom
en die vreugdevlae wat jy my dan bring
voor jy wegvaar met gestrykte seile
om te verdwyn
o lieflike koninginneboot
die diep spieël van see in
die veerboot
die Coumba Castel kom laai al om die uur
bokke met klokke en dik stemme af –
oor drie dae is die massa-offering
van diere, dié wat in die plek
van die eersgeborenes geslag word
veertig dae na die einde
van ’n maand se vas –
die bloed sal nog warm wegsypel
in slootjies in die sand –
maar intussen hang hulle peesters
lank en pienk en viriel uit die harigheid
tussen die bene
vroegoggend met die eerste oorvaart
verskeep die Coumba Castel
die toegelakende lyke van hulle
wat in die nag gesterf het
na die vasteland waar die laasgestorwenes
in vlak grafte weggelê verword
om vir ewig te vas
intussen van land na die eiland se kaai
en terug wanneer die dag in lig baai
bring die Coumba Castel jong meisies
met donker borste en trosse ingerygde krale
waaroor eindeloos gekibbel word
om die ure om te kry
raad vir die jagter
’n knop in die broek is beter
as ’n knyp in die keel
of ’n klip in die sakdoek
en sou jy voël gaan soek
in die bos waar dit lig steel
om aan die donkerte te knoop
is die kluit in die riet
beter as die klop in die krop
of ’n knoopsel vloeke in die niet
die digter en die gedig: ’n ghazal
die lewe was lank bysaak:
ek kon met die heuning boer
wanneer die gedig ryp was
’n sluier oor my kop vou
en bewierook om die woedende woorde
weg te hou soos ’n weduvrou
in rou die vloeiende goud gleuwende
uit stanzas teen die lig laat gloei
maar nou is die korf leeg geroof
met slegs miere wat nog ’n saak probeer pleister
waarom so droewig, Byeboer? om te bou
aan lewe asof daar ’n lewe sou wees
vir die onthou
is immers ’n bevrugting van die verlede?
(die digter en die gedig)
jy vra of ek in my gedigte is
en ek moet nadink
die woorde deur ’n siffie syg
om te sien of ’n muggie
sig sou manifesteer
die marsjerende geledere klanke
ledige betogers
wat uit één keel
die afwesige gesig se bewering
probeer besweer
jy vra of ek in my gedigte is
en ek moes dink aan die nadrink
van die versuipte denker
in die leivoor terwyl die rye
leuseskellende ketters om die hoek
verdwyn soos waarhede
vergek tot ekke
se holle betoog
wegsyg in ’n boeksoekbeweging
geletter in papier
en die wêreld het met my gepraat
en die wêreld/die skepping/die kosmos
het met my gepraat in Afrikaans
en ek het gesug en gesê:
no comprende, please don’t speaka dog
wiz mich –
sou dit nie beter wees
om die wis en die onwis
vir my uit te lê in Mandaryns nie?
maar nee, het die wêreld/skepping/kosmos
geadem: die bedoeling is nie om volledig te wees
of dat jy alles sou verstaan nie –
dis dan juis om jou seer te maak
in daardie naelstringvloei tussen wees en weet
wat die lus sal vleg en vergestalt
wat wil jy tog méér begryp voor jy hang
anders as koekemakranka, koek, ma, krank,
kake, klem-in-die-kaak,
ongehoordhede, ont, oor, gede,
aa vrotpootjie?
is dit dan nie diep bevredigend
om die laaste duisternis van jou asem
te mag mond in Afrikaans nie,
ondankbare hond!
die dubbele ontkenning
jy kan tog nie wil sê
ek mag nie treurig wees
wanneer ek die nuus kry
dat my vader oorlede is
en ek