nie gisteraand nie. Dit was al ’n week gelede. Waar was jy al die tyd?”
“Jy lieg dit! Ek was nie so lank weg nie!”
“Natuurlik was jy! Dit lyk my jy was die hele tyd so dronk dat jy nie eens weet wanneer jy hier weg is nie.”
Sy oë verstar. “Wanneer word jy mondig?”
“Ek het gister verjaar.”
“Gister? Jy lieg!”
“Hoekom sal ek lieg? As jy nie gelyk het soos jy nou lyk nie, sou jy dit onthou het.”
’n Lelike grynslag verskyn op sy gesig. “Klaar verjaar! Nou waar’s die geld?”
“Ek het dit gebruik om vir ander blyplek te betaal. Daar staan my tasse agter jou, klaar gepak. Ek trek môre daar in.”
“Ander blyplek? O, noudat jy ’n ryk vrou is, wil jy my eenkant toe smyt! Vergeet daarvan! Jy gaan nie alleen wegkom met daardie geld nie.”
“Ek het niks geld oor nie. Regtig. My fooitjiegeld moes ek vir mevrou Koen gee vir die huur van die kamer. Waar jy geld gaan kry om haar langer te betaal, weet ek nie. Ek is klaar met jou!”
“Vroumens, ek soek daardie geld!”
“Ek sê mos vir jou daar is niks oor nie! Waar sit jou ore?”
Toe die woorde uit is en sy sien hoe sy gesig vertrek, besef sy sy dryf hom te ver. Hy duld nie parmantigheid nie. Hy het al vantevore gewelddadig geraak.
“As jy dink jy gaan alleen wegkom met daardie klomp geld wat jy vir jou verjaardag gekry het, maak jy ’n helse fout!” skree hy waansinnig. “Trek uit jou klere en klim op die bed. Ons sal sien of jy nog gaan loop as jy swanger is!”
Sy rig paniekbevange die pistool op hom. “Bly waar jy is! As jy aan my vat, skiet ek jou! Ek wou môre loop, maar ek dink dis beter as ek sommer nou dadelik gaan!”
Hy lag honend. “Ek skrik nie vir koue pampoen nie.”
Toe storm hy nader, gryp haar hand met die pistool vas, en begin haar voetjie vir voetjie bed toe dwing. Sy drankasem in haar gesig is walglik, en sy worstel verbete om haar te bevry. Toe, plotseling, die weergalming van ’n skoot in haar ore …
Nadia gil haarself wakker, soos menige nag die afgelope maande. Dieselfde nagmerrie wat hom oor en oor herhaal.
Sy skakel die lig aan en staan op om te gaan water drink. Besluit dan dat sy net sowel kan aangaan met die skoonmaak van die huis. Slaap sal sy immers nie weer nie.
Toe dit dag word, ry sy George toe om te gaan verf koop. Terug by die huis dra sy al die meubels wat nie te swaar is nie, buitentoe. Dis makliker om die mure te verf en die vloere te skrop as die vertrekke leeg is. Boonop is sy nie wat jy ’n verwer van formaat sal noem nie, dink sy selfspottend.
Maar dit lyk darem beter daar waar sy klaar is. Of sy egter betyds gaan klaarkry, weet sy nie. Want sy het vir Santjie gesê sy sal die laaste week voor haar vertrek spreekkamer toe kom om touwys gemaak te word.
Die volgende oggend kom sy agter sy het te min verf gekoop. Sy sal weer George toe moet ry. Daar aangekom, koop sy op die ingewing van die oomblik ’n bos blomme om op die grafte van oom Jacques en tannie Mercia te gaan sit.
As hulle nog geleef het, sou sy geglo het oom Jacques is haar weldoener, dink sy toe sy langs die grafte staan. Johny moes geweet het wie dit is. As jy dink jy gaan alleen wegkom met daardie klomp geld wat jy vir jou verjaardag ontvang het …
Sy het daardie verskriklike nag geen benul gehad waarvan hy praat nie. Sy het geglo dis maar weer die drank en dwelms wat hom so deurmekaar laat praat.
Want sommer van die derde dag ná haar aankoms in Kaapstad het sy agtergekom Johny is nie die man wat sy gedink het hy is nie. Hy was uitermate slordig; die paar stukkies klere in sy kas was vodde; sy motor het hy glo vir ’n vriend geleen, wat dit afgeskryf het; sy geld was op ’n vaste belegging; ’n rampokker het die duur horlosie van sy arm afgeruk … Sy het spoedig ook nie meer die huisboustorie geglo nie, want hy het knorrig geraak wanneer sy dit ophaal. En hy was knaend platsak.
Die juwele wat hy op George vir haar gegee het, het begin wegraak. Hy was aan die begin oënskynlik net so geskok soos sy daaroor. Maar toe betrap sy hom waar hy die goue hangertjie wat sy by tannie Mercia gekry het in sy broeksak druk. Toe weet sy sommer waar hy geld kry vir drank en dwelms.
Sy het geskrik vir sy woedebui toe sy hom konfronteer. Hy het haar rondgestamp en gesê sy moet dit nooit weer waag om te sê hy is ’n dief nie, want dan maak hy haar dood!
Daarna het dinge net vererger. Hy het nagte lank weggebly, en het elke keer óf besope óf stilstarend van die dwelms opgedaag. Sy het dit op ’n dag gewaag om vir hom te sê hy moet kies tussen haar of die dwelms en drank. Hy het soos ’n besetene te kere gegaan en haar gewurg totdat haar verstand begin swymel het.
Ná sulke rusies was hy gewoonlik vreeslik berouvol, en het hy weer daarop aangedring dat hulle dadelik moet trou. Maar sy wou nie, want sy het geweet hy sal nooit verander nie.
Sy sal haarself nooit ophou verwyt oor sy nie dadelik getrek het toe sy ander blyplek bekom het nie. Dog, sy wou ondanks haar walging darem self vir hom sê dis verby tussen hulle.
Nadia is besig om ’n stoel in die agterplaas af te skuur toe sy ’n getimmer in die buitekamer langsaan hoor. Waarmee is haar bure besig? wonder sy. Sy het hulle nog nie met ’n oog gesien nie. Dis seker haar plig om te gaan kennis maak, maar dit moet wag. Sy het net eenvoudig nog te veel werk in die huis.
Toe sy klaar is met die stoel, is sy natgesweet van die inspanning en hitte. Die meer lyk so aanloklik dat sy besluit om eers te gaan afkoel. Daar is mos darem ’n spreekwoord wat sê: Rome is nie in een dag gebou nie.
Die water is te vlak om te swem, maar dis lekker om sommer net daarin te plas. Dis lankal nie meer die besoedelde water van destyds nie. Daar word nie meer rioolafval in die meer gestort nie, en dis ook nie meer ’n plek waar wasgoed gewas word nie.
Toe sy op ’n keer huis se kant toe kyk, sien sy ’n man in die agterplaas van die buurhuis staan. Sy skrik, want hy lyk baie soos die man met wie haar pad nou al drie keer gekruis het. Toe haar motor vasgeval het, by die kerkdiens en by die rots in die meer. Maar nee, probeer sy haarself wysmaak, dit sal nie hy wees nie. Dis ver; sy kan hom nie so mooi sien nie.
Toe sy begin koud kry, kyk sy weer in daardie rigting. Hy staan nog steeds daar. Sy sal nie uit die water kan klim sonder om met hom kennis te maak nie. Sy besluit om nog ’n rukkie te wag; hopelik gee hy pad. Maar puur verniet.
Toe sy begin bibber van die koue water, skraap sy haar moed bymekaar. As dit nie anders kan nie, dan kan dit nie. Hy sal maar vir lief moet neem met haar baaikostuum. Vir al wat sy weet, koel sy vrou ook soms hier in die meer af.
Natuurlik, sy moes kon dink haar hoop gaan verydel word, flits dit deur haar gedagtes toe sy die bouvallige trappe na haar agterplaas bestyg. Hopelik is sy vrou darem minder nors as hy – indien hy haar buurman is. Hy staan so naby die trappe, sy sal bykans teenaan hom verby moet loop om haar agterdeur te bereik. En nou het sy nie eens haar jakkie of ’n handdoek saamgebring nie.
“Goeiemiddag,” groet hy en kom nog nader.
“Goeiemiddag,” groet sy halfhartig terug.
“Jy voel seker nou beter. Ek het gehoor jy werskaf al van vroeg vanoggend af hier langsaan.”
“Ja, die water was ’n lafenis. Kuier jy hier?” beduie sy hoopvol met haar hand na die buurhuis.
“Nee, ek wóón hier,” word haar hoop weer eens verydel.
Toe steek hy sy hand uit. “Dis seker tyd dat ons nader kennis maak, of hoe? My naam is Dimitri Kossivas.”
Haar hand val terug langs haar sy en sy staar hom begogel aan. “Di… Dimitri!”
“Dis reg,” sê hy fronsend. “Hoekom lyk jy so onthuts?”
“Dimitri? Jy bedoel … Dimitri!”