sy moed.
Maar die tante is kortaf. “Wat wil jy hê?” vra sy. “Ek hét jou mos betaal vir daardie spul pille wat jy my gegee het. Ek het dit in harde kontant vir jou gegee.”
“Dis reg, ja, tante het. Ek het maar sommer net gou hier aangery om te kom verneem of tante beter voel.”
“Wel, die naarheid is beter. Maar is dit al waarvoor jy hiernatoe gekom het?”
“Ja. En om sommer so ’n bietjie te gesels, as tante tyd het. As u nie tyd het nie, ry ek maar verder.”
“Ek het altyd tyd vir gesels. Maar ek het nie tyd vir mense wat geld uit my wil maak nie. Kom sit, ek maak vir ons koffie.”
“Onthou tante nog die mense wat daar onder langs die meer gewoon het, Anna en Kerneels Pretorius?” vra Nadia toe hulle met die koffie voor hulle sit.
“Pretorius? Ek herinner my so iets, ja. Die man het soos ’n vis gesuip. En sy vrou het wasgoed gewas om hulle aan die lewe te hou.”
“Kan tante onthou of hulle kinders gehad het?”
“Ja, ’n dogtertjie. So ’n maer skepseltjie met vlegsels. Sy’t my alte veel aan ’n verskrikte hasie laat dink. Dis ’n skande hoe hulle haar behandel het. Ou Anna het altyd net twee stukke vis gekoop – vir haar en die ou suiplap. Dan het hulle vir die kind net ’n stukkie van die stertkante afgesny. Geen wonder sy was so maer nie.”
“Was dit hul eie kind, of het hulle haar aangeneem?”
“Daar was baie stories destyds. Maar ek het my nie daaraan gesteur nie. My oorlede man was ’n afgetrede bankbestuurder. Ons het ons nie opgehou met die armlastiges van die oewer nie.”
Dit word gou vir Nadia duidelik dat tant Jana geen verdere inligting vir haar kan gee nie. Sy vertrek dan ook sonder om die tante in te lig dat dit sý was wat destyds soos ’n verskrikte hasie gelyk het.
Toe sy by die huis kom, staan Dimitri in sy voortuin. “Is jy nie lus om saam met my te gaan stap nie?” vra hy nadat hulle mekaar gegroet het. “Kom ons gaan klim Slangkop uit.”
“Dis al laterig. Sal die donker ons nie vang nie?”
“Nee wat, dis nie só ver nie. Dis in elk geval volmaan, so ons sal nog die pad kan sien as die skemerte ons vang.”
“Dan moet jy my net kans gee om iets anders aan te trek.”
“Maak so. Ek wag hier buite vir jou.”
Sy moes eerder ’n verskoning uitgedink het, flits dit deur Nadia se gedagtes terwyl sy verklee. Dit gaan nie ’n goeie ding afgee as sy en Dimitri so baie in mekaar se geselskap is nie. Die een of ander tyd gaan hy agterdogtig raak, of sy praat dalk haar mond verby. Aan die ander kant, sy is lus vir stap. Wat sal sy tog nou die hele aand alleen in die huis sit en doen?
Dis nie lank nie, of hul voete sak so diep weg in die sand dat hulle nie anders kan as om te lag vir mekaar se potsierlike bewegings nie. Ná ’n rukkie trek hulle hul tekkies uit om kaalvoet verder te stap. Toe hulle by die punt kom waar die pad doodloop, neem hy haar aan die hand om haar oor die rotse te help na waar die groot rots oor die meer hang. Dog, tot Nadia se ontnugtering kom sy agter die hoogte vang haar.
“Ek kan nie verder nie,” erken sy skaam toe hy agterkom sy rem terug. “Lyk my ek het hoogtevrees ontwikkel. My kop draai as ek afkyk.”
“Goed, kom ons sit sommer net hier op die rots, dan bekyk ons die dorp. Miskien onthou ons nog wie waar gewoon het.”
Dit word ’n lekker speletjie. Soms stry hulle, soms stem hulle saam, en wanneer hulle glad nie ’n huis kan eien nie, dink hulle sommer iets uit. Soos om te sê dis die dorp se pastorie, polisiestasie, poskantoor of brandweerstasie. Plekke wat nooit bestaan het nie.
Amper soos toe ons kinders was, dink Nadia by haarself. Tog jammer die horlosie kan nie teruggedraai word nie.
Hulle vertoef langer as beplan, want die sonsondergang is so aanskoulik dat dit hulle in verwondering vasvat. Dis reeds sterk skemer toe hulle teruggaan. Nadia sien nie die motor wat voor haar huis staan alvorens Dimitri haar daarop attent maak nie.
“Wie kan dit wees?” wonder sy verskrik. “Niemand weet mos ek is hier nie.”
“Daar staan ’n man op jou stoep. Wil jy hê ek moet saam met jou stap tot by hom?”
“Nee, dis nie nodig nie. Miskien is dit maar sommer iemand wat dink die huis is nog in die mark.”
“As jy nie gerus voel nie, roep my. Ek sal op my stoep talm vir ingeval jy hulp soek.”
“Dankie. Ek hoop nie dis nodig nie.”
Nadia is verras toe sy die persoon op haar stoep herken. “Advokaat Duvenhage! Wat … waar kom u vandaan? Het jy nuus oor my weldoener? Is hy … dood?”
“Stadig,” sê hy laggend. “Een vraag op ’n keer is genoeg. Nee, ek het nie nuus oor jou weldoener nie. Ek is op George vir ’n saak en het op die ingewing van die oomblik besluit om te kom hoor hoe dit met jou gaan voordat ek teruggaan Kaapstad toe.”
“Dit gaan goed met my. Ek werk lekker, en het my huis se binnekant ook al amper klaar na my smaak ingerig. Maar kom ons gaan in. U sal seker koffie of tee drink?”
“Koffie sal lekker smaak, dankie.”
“Wil u nie maar vir my sê wie die barmhartige Samaritaan is wat hom so oor my ontferm het nie?” vra sy terwyl hulle die koffie drink.
Hy skud sy kop glimlaggend. “Hoeveel keer gaan jy my nog probeer omhaal om jou te vertel?”
“En die weldoener se prokureur, wie is hy?”
“Los maar jou nuuskierigheid. Jy gaan niks uit my kry nie.”
Sy gee ’n suggie. “Vir hoe lank kan ’n terminaal siek persoon bly leef?”
“Dit klink kompleet asof jy die persoon wil dood wens.”
“Nee, allesbehalwe. Maar u kan tog seker verstaan ek is nuuskierig.”
“Ek weet nie hoe lank dit nog kan duur nie. Met deesdae se gevorderde mediese behandeling kan hulle dikwels ’n lewe met ’n hele paar maande verleng. Maar sê my: wat op aarde het jou laat besluit om jou hier op jou geboorteplek te kom vestig? Jy kon my met ’n veertjie omtik toe my pa vir my sê jy bly nou hier. Jou kinderdae hier was dan so ongelukkig.”
“Dit was so half op die ingewing van die oomblik dat ek tot die besluit gekom het.”
Hy lag toe sy hom vertel van die vorige eienaar se misverstand en die verrassend lae prys wat sy vir die huis betaal het.
“Eintlik is jy deksels gelukkig. Vir daardie prys sou ek hom ook gekoop het. Die natuurskoon hier is pragtig.”
“Ja, dis vir my verbasend dat die plekkie nog so ongeskonde is. Maar gelukkig vir my, verkies die meeste mense die see bo die meer. Het u al geëet, of kan ek gou iets vir ons saamflans?”
“Dankie, maar ek het nie soveel tyd nie. Die Kaap lê nog ver.”
Toe hy gereed maak om te ry, vra sy hom om haar groete aan sy pa oor te dra. “Sê vir hom ek het nog nie die son se hart gevind nie, maar ek is hard op soek daarna.”
“Die son se hart … wat bedoel jy daarmee?”
“U pa sal verstaan. Dra maar net my boodskap oor.”
Daardie nag kom die nagmerries weer. Nuuskierige blikke van ander gevangenes; mieliepap sonder melk; die hofsaal met sy jurie en die regter met sy streng gesig en deurpriemende oë. Die staatsaanklaer wat haar in ’n hoek wil dryf. Amper soos ’n kat-en-muis-speletjie – hy is die kat en sy die muis. Advokaat Duvenhage wat keer dat sy opgevreet word …
Nadia voel suf toe sy die volgende oggend werk toe gaan. Sy het nie weer geslaap ná die drome nie, want sy was bang die nagmerries teister haar verder. En nou is Santjie ook weg. Sy moet alleen die mas opkom.
Boonop