terwyl sy so gly-gly teen die rots af seil dat sy onthou van die dag toe sy teen ’n rots uitgeklim en hy ewe ernstig vir haar gesê het daar is ’n gaatjie in haar broek. Sy moet dit heelmaak, want anders gaan die lekkers wat sy daar vir hulle wegsteek, uitval. Dié herinnering maak dat sy onwillekeurig bloos en liewer haar kop wegdraai toe hy haar in die skuit help.
Die aand toe sy gereed maak om te gaan slaap, kan sy nie anders as om te erken sy het die dag geniet nie. Hulle het iets ligs by Dimitri se huis geëet, en daarna vir Thomas gaan haal sodat hy haar ’n kwotasie vir die verfwerk kon gee. Nadat hulle hom teruggeneem het, het hulle in Dimitri se agterplaas ’n vleisie gebraai vir aandete. Hulle het oor ditjies en datjies gesels, sonder om een keer na die verlede te verwys. Hy het ook ’n pakkie foto’s gaan haal en vir haar gewys. Foto’s van sy ouers en grootouers in Griekeland.
Dis duidelik dat sy grootouers welaf mense is, dink sy by haarself. Die huis waarin hulle woon en die foto’s wat by die skeepsraffinadery geneem is … Dis geen wonder dat sy ma, wat in so ’n weelderige huis opgegroei het, destyds gesukkel het om hier aan te pas nie. Sy het lanklaas so ontspanne gevoel as toe sy in die bed geklim het. Maar in die vroeë oggendure gil sy haarself weer wakker. Verdere slaap vir haar is onmoontlik, dit weet sy sommer.
Toe staan sy op, maak vir haar ’n koppie tee, en gaan haal die koerantuitknipsels oor die hofsaak uit die laai. Sy sal dit verbrand. Miskien hou die drome op as sy dit verbrand.
Maar toe sy in die kombuis kom, sit sy dit besluiteloos op die tafel neer. As hier ’n houtstoof was, kon sy dit daarin verbrand het. Maar daar is geen manier hoe sy dit kan verbrand sonder dat dit ’n reuk sal afgee nie. En as Dimitri rook ruik, mag hy dalk besluit om te kom ondersoek instel.
Toe raap sy dit maar weer van die tafel af op om dit in die laai onder haar onderklere te gaan wegsteek. Sy sal eendag veld toe ry en dit ver iewers gaan verbrand. Net jammer sy kan haar herinneringe nie ook tot as verbrand nie.
5
Voor sy die oggend werk toe vertrek, kom klop Dimitri aan die kombuisdeur. “Ek kom net hoor waar Thomas met die verwery moet begin. By die voordeur, of hier aan die agterkant?” wil hy weet.
“Dit maak nie saak nie. Die hele huis moet tog geverf word. Maar ek het gewonder of hy nie eers die stukkie muur hier in die kombuis bokant die kaste kan verf nie. Dit het nie vir my so sleg gelyk toe ek die ander mure geverf het nie, maar nou steek dit af. Of dink jy hy moet dit liewer doen wanneer ek tuis is?”
“Thomas is eerlik en betroubaar, jy hoef nie bekommerd te wees nie. Terwyl ek weg was Griekeland toe, het hy my huis se sleutels by hom gehou om die potplante nat te maak. En ek is ook mos hier om ’n ogie te hou oor sy werkery.”
“Dankie. Ek gaan dan sommer my kombuisdeur oop los.”
“Geniet jou dag.”
“Dankie, jy ook. Ek waardeer jou hulp en moeite.”
Die eerste pasiënt wat by die spreekkamer opdaag, is Marda Kotze. Nadia kan nie anders as om geamuseerd te voel nie. Sou Marda regtig glo sy lyk goed in die stywe, byderwetse klere wat eintlik vir tieners bedoel is? En haar grimering … Om Bets Vos se beskrywing te gebruik: jy kan dit met ’n skopgraaf van haar gesig afskraap. Arme dokter Louw. Sal hy nou weer na moesies op strategiese plekke moet kyk?
Marda is dan ook kwalik by die deur uit of dokter Louw kom steek by die ontvangstoonbank vas. “Vanaand sal jy my tot redding moet kom.”
“Hoe so?” vra Nadia verbaas.
“Mevrou Kotze het my vir aandete genooi. Sy gaan bonesop kook en patats bak. Toe sê ek vir haar baie dankie, maar ek het te veel werk by my huis. Daar draai sy die hele besigheid om en sê dis ook maar reg. Sy sal die sop en patats bring, dan eet ons dit by mý huis.”
Nadia glimlag. “En toe?”
“Toe val dit my gelukkig by ek het ’n afspraak vir vanaand.”
“Nou hoekom moet ék jou dan tot redding kom?”
“Die afspraak is met jou. Ek het vir haar gesê ek het jou belowe ons gaan vanaand op George uiteet.”
“O, ek snap nou. Maar hoekom het jy nie net gesê jy eet nie bonesop nie?”
“Ongelukkig het ek eendag in haar teenwoordigheid laat val dat ek in die middel van die nag wakker gemaak kan word vir ’n bord bonesop en gebakte patats. So dit sou nie help nie. En sy’s kapabel om vanaand by my huis te kom seker maak ek is wel weg.”
“Wel, ons hoef nie George toe te ry nie. Ek het toevallig bonesop in my vrieskas, en ek het patats wat ek kan bak.”
“Dankie, maar dit was nie my plan om vir jou moeite te gee nie.”
“Dis nie moeite nie. Jy is meer as welkom. Maar daar sal seker ’n dag kom dat jy vir haar reguit sal moet sê haar attensies staan jou nie aan nie, of hoe?”
“Dis nie so maklik nie. Marda Kotze se tong het ’n angel. Sy sal my naam só vuil praat in hierdie omgewing dat ek nie ’n enkele pasiënt sal oorhê nie. Ek wil nie in skuld verval nie.”
Hul gesprek word kortgeknip deur tant Jana se binnekoms. Nadat dokter Louw haar ondersoek het, kom steek die tante voor die ontvangstoonbank vas.
“Jy’t my mos anderdag so uitgevra oor die Pretorius-mense wat daar op die oewer van die meer gebly het. Ek weet nou hoekom jy so nuuskierig oor hulle was,” sê sy tot Nadia se konsternasie. “Ek hoor jy’t die huis gekoop waarin hulle gewoon het. Jou van is ook mos Pretorius, maar jy hoef nie bang te wees jy’s familie van hulle nie. Enigeen kan sien jy is ’n goed opgevoede meisie. Daardie mense was regte uitvaagsels. Van die soort wat nooit êrens in die lewe sou kom nie. Te lui om hul hande uit die moue te steek.”
En sommerso in dieselfde asem: “Hier, dokter Louw sê jy moet hierdie pille vir my gee. Ek twyfel of dit sal help, maar gee maar voordat ek weer ’n floute kry.”
Toe sy loop, blaas Nadia verlig haar asem uit. Vir ’n oomblik het sy geglo haar geheim is uitgelap. Die een of ander tyd sal dit seker gebeur, maar … Sy sit net daar ’n stop aan haar gedagtes. Sy wíl nie so ver dink nie!
Die middag toe sy by die huis kom, is sy verstom om te sien hoe ver Thomas al gevorder het met die verwery. Toe hy ’n rukkie later daar wegry op sy fiets, stap sy om na Dimitri se huis om hom te bedank dat hy toesig gehou het. Toe hy nie antwoord op haar klop nie, draai sy ietwat teleurgesteld om. Sy sou graag vir hom wou vertel hoe mooi die gedeelte lyk wat al klaar is.
Eers ’n rukkie later, toe sy toevallig deur haar kombuisvenster kyk, gewaar sy hom op een van die rotse in die meer. Hy sit met sy hande om sy opgetrekte knieë, en al is dit ’n bietjie ver, lyk dit vir haar asof hy in die rigting van die twee oewerhuise tuur. Toe maak sy die kombuisdeur oop en waai vir hom. Net om haar half buite weste te skrik toe sy agterkom wat sy doen.
Sy klap summier die deur toe. Wat besiel haar? Dis die laaste ding wat sy wil doen, om toenadering te soek! Sy moet hom op ’n afstand hou. Hulle is klaar te vriendelik met mekaar.
Sy gee ’n suggie. Eintlik is dit makliker gesê as gedaan. Sy is afhanklik van sy hulp, want dis nie vir haar moontlik om ’n oog oor Thomas te hou nie. En daar is hul kinderdae … iets wat ’n soort band tussen hulle skep. Dinge wat jy eenvoudig nie net by die agterdeur kan uitvee nie.
Dit val haar by van die sop wat sy uit die vrieskas moet haal en die patats wat in die oond moet kom. Toe sy daarmee klaar is, kyk sy weer deur die venster. Dimitri sit nog op die rots.
’n Uur later sien sy dat hy steeds daar sit. Wat hou hom so lank daar? Het hy regtig sy teleurstelling afgeskud? Wat het hy bedoel toe hy gesê het hy het dit oor homself gebring?
Die kos is gereed toe dokter Louw opdaag. Hy snuif behaaglik die lug toe hulle die huis binnegaan. “Niks ruik lekkerder as boontjiesop en gebakte patats nie. En ek het boonop onthou om vir ons ’n bottel wyn saam te bring.”
“Ja, dis iets waaraan ek nie gedink het nie. Sal ons eers ’n glasie hier in die sitkamer geniet, of