hy uiteindelik geloop het. Sy het nie die vrae as buite verband beskou nie, want sy was nog nooit vantevore met tronk- en regsake deurmekaar nie. Sy het gedink dis inligting wat alle gevangenes móét gee. Eers later sou sy uitvind hy is ’n prokureur.
’n Dag of wat daarna het nóg ’n man in ’n netjiese pak klere haar met vrae bestook. Toe sê hy hy is ’n advokaat en hy gaan as haar regsverteenwoordiger optree. Sy het gesê sy’t nie geld om hom te betaal nie, hy moet loop.
Toe vertel hy haar dat iemand anders hom gaan betaal. ’n Anonieme persoon. En dat dié persoon nie net die regskostes sou betaal nie, maar ook aan die prokureur wat by haar was opdrag gegee het om ’n som geld in haar bankrekening te deponeer. ’n Bedrag geld wat sy as geskenk vir haar mondigwording moet aanvaar, al het sy amper drie weke gelede reeds verjaar.
Sy het steeds geglo dis ’n droom. Nêrens in die wêreld sou jy tog so ’n goeie mens kry nie. Sy het geen familie nie, geen ryk vriende of vriendinne nie. Dalk net êrens in die wêreld ’n biologiese pa …
Tydens die hofsaak het Joan na vore gekom en getuig dat sy en Johny vier maande lank minnaars was. Sy is ’n weduwee wat goed nagelaat was deur haar man. Sy het vertel hoe Johny haar oorrompel het met sy sjarme en gladde mond. Dit het aan die lig gekom dat hy haar net so bedrieg het soos vir Nadia deur haar te laat glo hy is ’n welaf sakeman.
Gedurende die vier maande wat hulle saam was, het hy haar finansieel só geruïneer dat sy weer moes begin werk. Hy het haar feitlik nuwe sportmotor – dieselfde motor waarmee hy destyds in George by Nadia opgedaag het – afgeskryf deur dit in sy dronkenskap om te gooi. Die juweliersware waarmee hy Nadia so beïndruk het, was uit Joan se voorraad gesteel.
Sy het hom weggejaag toe sy uitvind hy het haar geheime kode vir die kluis opgespoor en enorme bedrae geld uit haar bankrekening onttrek. Eers nadat sy hom weggejaag het, het sy agtergekom haar pistool is ook nie meer in die kluis nie. Sy het dit by die polisiekantoor aangemeld, maar niks weer daaromtrent gehoor nie – tot dit aan die lig gekom het dat dit háár pistool was wat afgegaan het tydens die rusie tussen Nadia en Johny.
Niemand het na vore gekom om vir Johny te getuig nie. Daar kon nie vasgestel word of hy ooit enige vaste werk gehad het nie, en waar hy aan die dwelms gekom het. Joan kon ook geen inligting oor sy herkoms gee nie. Dit was asof hy sommer net op ’n dag uit die lug geval en sy opwagting eers in Joan se lewe en daarna in Nadia se lewe gemaak het.
Nadia se harde werk werp vrugte af. Sy is tevrede met wat sy vermag het toe haar eerste werksdag by dokter Louw aanbreek. Die binnemure wat so sleg gelyk het, het sy eiehandig geverf. Sy het die plankvloere blink geskrop en gepolitoer. Vir die buitemure se verf sal sy seker iemand moet aanstel. Sy sien nie kans om self die leer te bestyg nie.
Die werk in die spreekkamer is totaal nuut vir haar. Gelukkig is Santjie nog daar om haar touwys te maak. Op die tweede dag daag tant Jana op vir medikasie. Nadia onthou haar vaagweg. Sy was een van die vroue vir wie haar ma soms gewas en gestryk het. Dit raak ook gou vir haar duidelik dat die tante se geheue nie meer so goed is nie.
Maar Nadia skryf haar adres af en druk dit in haar handsak. Dalk sal dit die moeite loon om met haar te gaan gesels. Dit kan net wees dat sy iets onthou, of weet hoe dit gekom het dat Nadia die aangenome kind van Kerneels en Anna Pretorius geword het.
Toe sy ná werk by die huis kom, wag Dimitri haar by haar voorhekkie in. “Dis so ’n lieflike aand, ons kan dit nie vermors nie. Ek het lekker tjops van George af saamgebring, en die hout is klaar gepak. Gaan trek jou gemaklik aan, dan kom braai jy saam met my.”
Sy weifel lank voordat sy toegee aan sy uitnodiging. Hoe minder hulle met mekaar te doen kry, hoe beter. Maar as sy weier om sy uitnodiging aan te neem, gaan dit nie net onbeskof klink nie, dit kan hom ook agterdogtig maak.
“Goed, maar wat kan ek saambring?”
“Niks. Ek het vir ons ’n lekker vars mieliebroodjie gekoop en klaar ’n mengelslaai aanmekaargeslaan. Hulle sê wat nie doodmaak nie, maak vet. Ek glo darem dit sal nie doodmaak nie.”
Toe sy ’n rukkie later in sy agterplaas by hom aansluit, steek hy eers die vuur aan voordat hy ook op ’n stoel plaasneem. “Hoe hou jy van jou werk?”
“Ek sukkel maar nog ’n bietjie, veral om die regte pille en medisyne te vind tussen die hordes bottels op die rak, want ek wil nie elke keer vir Santjie vra nie. So die pasiënte moet soms geduld gebruik, maar ek leer vinnig.”
“En dokter Louw, hoe vind jy hom?”
“Ek het nog nie so baie met hom te doen gekry dat ek regtig ’n opinie oor hom kan lug nie. Hoe vorder jy met die bou van jou skuit?”
“Ons sal hom een van die dae kan gaan toets, daar op die dieper kant van die meer. Hoe ver het jy gekom met jou huis se dinge?”
“Die binnekant is klaar. Ek moet net iemand kry om vir my die buitemure te verf. Die tuin sal ek self probeer regruk.”
“Ek kan iemand aanbeveel om die verfwerk te doen. Hy’t my huis ook geverf. Sy naam is Thomas en hy’s betroubaar, jy hoef nie heeldag agter hom te staan nie.”
“Hoe kan ek met hom in aanraking kom?”
“Hy bly so ’n kilometer of wat buite De Meer. Ek sal hom sê om jou te kom sien.”
“Hoe gaan hy bedags hier kom? Moet ek hom gaan haal en wegbring?”
“Nee, hy’t ’n fiets. Jy moet maar net die verf koop en sê wat jy gedoen wil hê. Hy sal ’n tydjie besig wees, want die ou verf sal eers afgeskraap moet word.”
“Ek sal bly wees as jy hom sal vra om my te kom help. Maar eers later. Ek moet eers die verf gaan koop, en ek wil ook eers meer vertroud raak met die dinge by die werk.”
“Ek hoop dit gaan vir jou die moeite werd wees om al die verbeteringe aan te bring.”
“Hoekom sê jy so?”
“Ek het al ’n paar keer fluisteringe gehoor dat die ontwikkelaars van Vissersbaai hulle oë op De Meer ook het.”
“Wat beteken dit? Hulle kan tog nie ons huise onteien nie, kan hulle?”
“Nee, hulle sal ons uitbetaal, maar teen markwaarde. Nie teen die prys wat die huise vir ons werd is nie.”
“Waarheen moet ek gaan as hulle die huis onder my uitkoop? Ek kan nie ’n ander plek bekostig nie.”
Hy lig sy skouers. “Dalk is dit net praatjies.”
“En as dit waar is, wat gaan jý doen?”
“Eers baklei. En as dit nie werk nie, sal ek maar Vissersbaai toe verskuif. Maar daar gaan ’n ou betaal dat jy bars vir ’n huis.”
“Ek sal nooit ’n huis daar kan bekostig nie.”
“Dan kom trek jy maar by my in.”
“So nooit as te nimmer nie!”
Haar stem klink so bitter dat sy self skrik daarvoor. Sy kyk vinnig anderpad toe hy na haar kant toe kyk.
“Toe maar,” hoor sy hom egalig sê. “Dit sal nie gou wees nie, want ek kan ook nie ’n huis daar bekostig nie. En dit sal maar koud raak onder ’n bos.”
Nadia se senuwees is omtrent gedaan toe die ete verby is en sy kan teruggaan na haar huis. Die aand kan seker as suksesvol beskryf word. Maar daar was tye dat sy Dimitri se blik peinsend op haar betrap het. Dit het gemaak dat sy die hele aand op haar hoede was.
Die volgende oggend, net nadat dokter Louw by die spreekkamer opgedaag het, word hy na oom Jorsie Potgieter se huis uitgeroep. Maar dis nie lank nie of hy’s terug.
“Trombose. Daar is niks wat ek kon doen nie,” deel hy Nadia mee. “Hy was klaar oorlede.”
Oom Jorsie dood! Sy wou hom nog uitgevra het. Nou bly net tant Jana oor. Gelukkig dat sy haar adres het. Die gedagte dat haar anonieme siek weldoener haar biologiese pa is, wil haar nie verlaat nie. Maar hoekom wil hy haar dan nie sien nie? Het hy dalk ’n vrou