winsgewend op Vissersbaai gewees het nie?”
“Ek glo dit sou meer winsgewend op Vissersbaai gewees het, maar my geld was te min om ’n spreekkamer daar in te rig. Die huis op Vissersbaai waar ek nou woon, was pas klaar gebou toe ons skei. Die egskeiding het my sak geruk. Al wat ek toe kon bekostig, was die huis hier in De Meer waar ek nou my praktyk het. Maar wat het jóú laat besluit om ’n huis hier in De Meer te koop?”
“Ek het hier grootgeword.”
“O. Dis interessant.”
“Ek was ’n aangenome kind,” bieg sy. “Ek het in dieselfde huisie grootgeword wat ek nou gekoop het. Eintlik het ek teruggekom om te probeer vasstel hoe dit destyds gebeur het dat ek in die sorg van Kerneels en Anna Pretorius geplaas is, en om te probeer uitvind wie my biologiese ouers is.”
“Hier is min van die ouer inwoners oor. Jy moet met tant Jana gesels. Miskien sal sy jou kan sê.”
“Ek het haar gevra, maar sy kon my niks vertel nie.”
Dis vyfuur toe hulle met die inkopies klaar is. “Nog ’n bietjie vroeg,” sê Wilhelm. “Maar as jy ook klaar is met alles wat jy wou doen, kan ons maar ’n restaurant gaan soek. Ten minste kan ons dan rustig eet.”
“Dis reg met my.”
Maar toe hy uitswaai en sy sien voor watter restaurant hy die motor wil parkeer, skrik sy haar yskoud. “Nee! Ek bedoel … nie hierdie restaurant nie. Kan ons nie op ’n ander plek gaan eet nie?”
Hy kyk haar dronkgeslaan aan. “Wat is fout? Was jy dan al vantevore hier?”
“Ja. Ek bedoel … Dié plek hou nie sulke aangename herinneringe vir my in nie.”
“Dis soms goed om ou herinneringe oop te krap, dit kan genesing bring.”
“Ek sal nogtans verkies om nie hier in te gaan nie.”
Hy lig sy skouers en skakel die motor aan. “Goed, stel jy dan ’n plek voor.”
’n Rukkie later, in ’n ander restaurant, kom sy agter haar optrede by die vorige restaurant het hom nuuskierig gemaak. Sy betrap telkens sy blik op haar. Nugter alleen weet hoekom sy nie haar mond gehou het nie. Dis hoogs onwaarskynlik dat daar nog van die kelners sal wees wat haar onthou of herken. Dog, dis ook nie onmoontlik nie.
“Jy verstaan seker nie hoekom ek nie by die ander restaurant wou ingaan nie,” besluit sy om gedeeltelik die waarheid te vertel, voordat hy dalk lastige vrae begin vra. “Ek het daar gewerk as kelner ná matriek. En daar was ander kelners met wie ek nie so goed oor die weg gekom het nie. Ek is nie lus om my nou opsetlik in hulle te gaan vasloop nie.”
Blykbaar is hy tevrede met haar verduideliking, want hy begin gewoonweg gesels sonder om weer die voorval op te haal.
Dis donker toe hulle by die huis kom. Hy help haar met die aflaai van die blikke verf, en toe hy daarmee klaar is, nooi hy homself vir ’n koppie tee. “Jy weet mos ek is verslaaf aan tee. As jy nie omgee om vir my te maak nie?”
“Natuurlik nie.”
Hy ry eers ná ’n tweede koppie tee.
En soos sy half en half te wagte was, daag Dimitri op kort nadat hy weg is. “Het jy toe die verf gekry?”
“Ja, ek het. Dit staan hier buite op die stoep. Wil jy sien of dit reg is?”
“Ja, skakel jou stoeplig aan dat ons seker maak, voordat ek Thomas vra om te kom verf.”
Hy drink eers ’n koppie koffie voordat hy opstaan om te loop. “Is dit nog reg vir môreoggend?”
“Ja, maar as die boot sink, kry jy my nie weer op hom nie.”
“Jy kan maar laat slaap, dan kom roep jy my wanneer jy gereed is. Soete drome. Sien jou môreoggend.”
Soete drome … As hy maar weet. Soete drome is haar lankal nie meer beskore nie. Net nagmerries.
Dog, vir ’n wonder slaap sy weer vas en droomloos.
En sy kan nie anders as om die volgende oggend hul bootvaart op die meer te geniet nie.
“Kan jy dink hoe lekker dit sou wees as ons in ons kinderdae so ’n skuitjie gehad het,” sê Dimitri.
“Ons sou baie slae gekry het, want ons sou hier op die water wou boer.”
Hy bring die skuitjie langs een van die rotse dieper in die meer tot stilstand. “Kyk daar by jou voete lê ’n tou. Gee dit vir my aan, asseblief.”
Toe knoop hy ’n lus in die tou en slinger dit behendig om een van die uitstaande rotspunte. Hy maak die ander punt aan die skuit vas. “So ja, nou is ons boot geanker. Ek sal eerste op die rots klim en jou uithelp. Moet net nie te veel ronddans wanneer jy opstaan nie.”
Hulle bereik die rots sonder om nat te word. Hy maak vir haar plek om voor hom tussen sy bene te sit, maar sy maak asof sy dit nie sien nie en neem liefs langs hom op ’n ongemaklike spits deel van die rots plaas.
“Jou skuitjie is toe dig. Dit lek darem nie.”
“Hm, ek sou erg teleurgesteld gewees het as hy moes lek. Die volgende ding wat ek gaan doen, is om vir hom ’n seilkap te maak sodat die son ons nie verskroei nie.”
“En sê nou jy vaar in die rivier af en die seilkap haak aan ’n boomtak vas?”
“Jy’s mos daar om hom los te maak.”
“Jy moenie …”
“Wat moet ek nie?” vra hy fronsend toe sy swyg.
“Staatmaak daarop dat ek elke keer saam met jou sal gaan nie.”
Hy kyk haar onverwags intens aan. “Hoekom nie? Is daar iemand wat jaloers sal raak op ons vriendskap?”
“Nee, natuurlik nie! Maar …”
“Hoekom dan nie? Het ’n man jou seergemaak, Nadia?”
Sy draai vinnig haar kop weg. “Nee. Of eintlik, ja. Dis hoekom ek nie betrokke wil raak nie. By geen man nie.”
“Ek verstaan. Maar jy sal dit van jou moet afskud. Jy sal nie jou teleurstelling te bowe kom as jy jou daarin bly koester nie.”
Sy loer onderlangs na hom. Sy gesig lyk ongewoon strak. “Dit klink asof jy self ondervinding opgedoen het.”
“Ja, ek het,” sê hy stug. “Maar ek het dit oor myself gebring.” Toe draai hy sy gesig plotseling na haar toe en glimlag skeef. “Ons gaan nie morbied raak nie, of hoe?”
“Nee, ons gaan nie,” sê sy, hopende dat haar glimlag meer natuurlik lyk as syne. “Die dag is te mooi vir somberheid.”
Toe stuur sy die gesprek in ’n ander rigting deur te vra wanneer hy met Thomas oor die verwery sal praat.
“Vanmiddag. Wil jy saamry, of het jy ander dinge om te doen?”
“Ek het niks aan nie, so ek kan maar saamry. Op die voorwaarde dat ons met my motor ry, want dis vir my wat hy die werk gaan doen.”
“Nes jy wil. Geniet jy nog jou werk?”
“Ja. Ek leer nog net hard om sommige mense se denkwyse te verstaan. Soos diegene met ipekonders wat sonder ’n afspraak by die spreekkamer opdaag en dan daarop aandring om onmiddellik die dokter te sien, ongeag die mense wat in die wagkamer hul beurt sit en afwag. Maar ek begin nou daaraan ook gewoond raak.”
“Ek moet erken, ek was maar skepties oor dokter Louw se koms hierheen. Maar dit lyk my ek was verkeerd, hy doen blykbaar goed.”
“Ja, dis nogal verbasend hoe besig ons is. Eintlik hou Vissersbaai se mense ons voltyds aan die gang.”
Hulle vertoef nog ’n hele rukkie op die rots, totdat hy opstaan en sê sy maag grom van hongerte. Hy klim dan ook eerste terug in die skuitjie. Toe kyk hy op na haar en sê sy moet spring, hy sal haar vang.
“Nee,