sitkamer sit. “Ek dag dis net dié kontrei se mense wat daarvan hou.”
“Dis hier wat ek so lief geraak het daarvoor. My ouers het ’n vakansiehuisie in Vissersbaai gehad toe ek ’n kind was. In die somermaande het ons vis geëet wanneer ons tydens skoolvakansies hierheen gekom het, en in die wintermaande sop en patats.”
Toe hulle besluit dis tyd om oor te gaan tot die ete, vra sy om verskoon te word sodat sy die badkamer kan besoek.
“Dis reg. Ek wag solank in die kombuis sodat die kosgeure my goed honger kan maak.”
Toe sy ná ’n rukkie die kombuis binnegaan, sit hy rustig langs die kombuistafel. Sy haal twee sopborde uit die kas om vir hulle op te skep.
Maar toe hou hy ’n stukkie koerantpapier na haar uit. “Ek tel dit hier onder die kombuistafel op. Dit lyk vir my na iets wat seker nie veronderstel is om deur almal gelees te word nie.”
Sy weet nie onmiddellik wat hy bedoel nie, maar toe sy die koerantuitknipsel in sy hand herken, raak sy doodsbleek. Die woorde is in haar geheue afgeëts. Me. Nadia Pretorius is gister vrygespreek op ’n aanklag van poging tot moord op haar minnaar, Johny Marais. ’n Rusie het daartoe aanleiding gegee dat Pretorius ’n vuurwapen op hom gerig het. In ’n worsteling om die pistool by haar af te neem, het ’n skoot afgegaan wat Marais in die kop getref het. Marais se vorige minnares, me. Joan Niewoudt, ’n weduwee, het getuig dat sy vier maande in ’n verhouding met Marais was, en dat hy die betrokke pistool by haar gesteel het. Sy het hom as ’n dwelmverslaafde en swendelaar beskryf, en vertel hoe hy haar finansieel geruïneer het. Marais is ná die voorval in die Karel Bremer-hospitaal opgeneem, maar is onlangs na ’n versorgingsoord oorgeplaas.
’n Bord gly uit haar hand en spat aan stukke op die vloer. “Hoe durf jy! Wie het jou die reg gegee om dit te lees?”
“Moenie so ontsteld wees nie. As jy dit geheim wil hou, is ek die laaste mens wat daaroor sal praat.”
“En nou? Noudat jy weet?”
“Nou niks. Enige mens kan in sy lewe ’n flater begaan. Dis duidelik genoeg uit die berig dat hierdie Johny Marais nie goeie bedoelings met jou gehad het nie. Jy’t ’n oordeelsfout begaan, net soos ek ook in my lewe ’n oordeelsfout begaan het. Dit plaas ons in dieselfde bootjie.”
Haar hele lyf is die ene bewerasie. “Jy was nie in die tronk nie!”
“Nee, ek was nie in die tronk nie, maar my lewe was ook omvergewerp. Kom sit, ek sal die skerwe opvee.”
“Los dit! Los alles! Ek wil liewer alleen wees!”
“O nee, jy gaan nie só maklik van my ontslae raak nie. Ek kan nie net op die geur van die sop leef nie. Het jy nog ’n bord?”
Sy rustigheid het tog ’n effek op haar. Hoewel sy nog ver van kalm voel toe hulle vir die ete aansit, besef sy dis kinderagtig om aggressief op te tree. Sy sou tien teen een dieselfde gedoen het as sy ’n stukkie koerantpapier onder sý kombuistafel sou bemerk.
“Ek is jammer ek het so te kere gegaan,” maak sy verskoning. “Dis net … ek probeer vergeet. Ek probeer om ’n nuwe lewe te begin.”
“Ek verstaan dit baie goed. En jy hoef regtig nie bekommerd te wees dat ek teenoor enigiemand iets sal rep nie. Jy kan my vertrou.”
“Ek sal bedank.”
“Bedank! Vir wat?”
“As die mense uitvind … Dit kan jou werk hier beïnvloed. Die mense sal jou nie meer wil besoek nie.”
“Ag, jy’s laf. Dit kan dalk net die teenoorgestelde uitwerking hê.” Hy glimlag effens. “Mense hou van sensasie. Almal sal wil sien hoe jy lyk. En dan skryf ek vir hulle al die duurste pille en medisyne voor. Maar grappies op ’n stokkie: jy hoef regtig nie bang te wees ek sal daaroor praat nie. Ek het genoeg moeilikheid van my eie.”
“Wil jy daaroor praat?”
“Nee.”
“Dan is ons kiets.”
Hy vul hul glase met wyn, tel dan syne op om dit teen hare te klink. “Kiets.”
Iets in die situasie is skielik vir Nadia snaaks. Sy glimlag sinies. “Hier sit ons, elkeen in sy eie kokonnetjie van geheime toegespin. Is ons selfsugtig, bang of sommer net plein simpel?”
Hy lag en begin sy patat afskil. “Ek dink dis iets van alles. Maar moenie glo ons is die enigste mense met geheime nie. Ek skat amper elke ou op straat het iets wat hy wegsteek vir ander. Is daar nie ’n liedjie daaroor nie? Iets van mense met geheime wat vergeet hulle woon in huise van glas, of so iets.”
“Ek herinner my ook so iets, ja. Dis seker maar goed ons weet nie van almal se ongelukkigheid nie, want dan sou ons dalk nooit kon slaap nie.”
“Jou sop is heerlik. Om van hierdie patats nie te praat nie!”
“Wel, ek is bly jy geniet dit. Ek was bang dit smaak so sleg dat jy jouself gaan verwens dat jy nie liewer Marda se aanbod aanvaar het nie.”
“Van Marda gepraat … Noudat ek jou geheim ken, kan ek net sowel een van my geheime ook met jou deel. Hoe goed ken jy Marda?”
“Ek weet niks van haar af nie. Net die stories wat die rondte doen dat sy geskei is, en dat niemand nog ooit die pa van haar kinders gesien het nie.”
Hy gee ’n suggie. “Ek was ’n eerstejaarstudent toe Marda-hulle langs my ouers kom woon het. Sy was in matriek en het my as maat gevra vir haar matriekafskeid. Ek is nie trots op wat daardie aand gebeur het op pad terug huis toe nie. Sy’t haarself vir my op ’n skinkbord aangebied, en ek het daarvoor geval. Vir my was dit sommer net pret. Maar ek is bevrees sy het dit ernstig opgeneem en glo tot vandag toe nog ek het háár lief, al was ek intussen met Tilla getroud. Haar koms na De Meer was nie toeval nie. Ek was kwalik hier, toe kom sy ook hier aan. In elk geval, sy is nie geskei nie. Haar man is die een wat wil skei, maar ek glo sy wil eers kyk of sy my vasgetrek kan kry voordat sy haar man sy vryheid gee.”
“Nou verstaan ek hoekom jy bang is vir haar tong. Jy’s bang sy vertel vir die mense wat destyds tussen julle gebeur het. Maar dis mos darem al baie jare gelede.”
“Ja, maar soos ek Marda ken, sal sy die storie só aandik en verdraai dat die mense sal glo ek is ’n regte rokjagter wat haar verlei en toe eenkant gesmyt het.”
Toe hy ná ete ry, stap sy saam met hom buitentoe. Sy bly ’n rukkie op die stoep staan nadat sy motor se agterliggies om die draai verdof het. Die aand het nie goed afgeskop nie, maar tog voel sy verlig dat hy nie deur iemand anders ingelig is oor haar verlede nie.
Die dowwe getimmer uit Dimitri se buitekamer laat haar wonder wanneer hy van plan is om te gaan slaap. Dis amper middernag. Voor haar geestesoog sien sy weer die foto van sy grootouers se weelderige huis in Griekeland.
Selfs toe sy ouers hier gewoon het, was hulle nie so onbeskaaf en versukkeld soos die res van die oewer se mense nie. Hy sal glo sy is maar net die produk van die soort huis waarin sy grootgeword het as die gebeure in haar lewe sy ore bereik.
Die volgende oggend voor werk gaan klop sy aan Dimitri se deur.
“Hm, ek het gedink jy gaan verslaap,” sê sy toe hy duidelik nog deur die slaap in net ’n oefenbroekie geklee die voordeur oopmaak. “Ek het jou tot tweeuur vanoggend nog in die buitekamer hoor werskaf.”
“Hm, ek het ’n bietjie laat eers in die bed geklim. Is jy al op pad werk toe?”
Sy draai haar kop weg om die prentjie van sy sonbruin, forsgeboude borskas en bene mis te kyk. “Ja, dit was so pas agtuur. Ek moet halfnege oopsluit. Eintlik kom ek net dankie sê dat jy oor Thomas toesig gehou het. Sal jy asseblief vandag weer ’n ogie oor hom hou?”
“Ja. Daar kom hy nou net die hoogte af op sy fiets. Jy kan met ’n geruste hart gaan werk.”
“Dankie. Ek sal probeer om op die een of ander manier te vergoed daarvoor.”
“Jy kan vergoed