Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 10


Скачать книгу

jy vir daai ma van jou, Japie, die dominee raak verloof aan ’n voorslag vrou. ’n Vorstelike meisie. Weet jy wat vorstelik is?”

      “Heiden jissie, natuurlik, Bina. Soos Queen Victoria mos.”

      “Jou simpel affêre, die ou mens is al in die Boereoorlog dood,” knor oom Kola. Dis duidelik dat hy nou net mooi genoeg gehad het.

      Maar Japie is soos ’n snuffelhond op die spoor. “As my kar nog bietjie ouer word, lyk dit net soos daai hoghe mense se mouterkarre,” spog hy. “Ma sê ek kan hom uitverhuur as troukar. Bina, as jy weet van iemand …”

      “Ek self sal liewer ’n donkiekar huur,” verseker sy hom. Dit help dat hy nooit regtig aanstoot neem of kwaad bly nie. Nie van goedgeid nie, maar van simpelgeid, reken oom Kola.

      En dat Japie nog aand na aand hier kom sit en klets, is tog iets wat dieselfde bly, iets wat alles net soos voorheen laat voel. Terwyl sy, Bina, weet dat alles eintlik aan ’t verander is. Sy weet net self nie waar en hoe nie.

      6

      Bina word vroeër as gewoonlik wakker. Die haas om by die winkel te kom, kriewel byna voelbaar in haar binneste. Terselfdertyd is daar ’n diep huiwering oor wat sy dalk kan aantref: Dawid, geslaan deur nuwe storms by die huis. Dawid, met die donker gebroei wat die lag uit sy oë verdryf. En oom Daan, wie se brilglase alle gevoelens behoedsaam wegblink.

      Die vorige dag lyk ver en vreemd: die besoek aan die biblioteek, die gesprek met Elzar, die vrye middag daarna, die verdraaide skinderstories uit Japie se mond, die talmende nuwe weemoed van die boek wat sy aan ’t lees is. Die skrywer bied ’n blik op uitgelese, soms verdorwe vroue, wat rol in titels en geld en liefde. Hoe skraps is haar lewe daarteen – en tog vergenoeg, aartseenvoudig, koesterend. Sy beny hulle nie werklik nie.

      Maar sy voel ’n band met die hoofkarakter, wat ’n buitestander is, ’n eensameling soos sy. Sy brand om verder te lees, hom te volg op die “blinde pad”. Maar groter is die branding om vir Dawid te sien. Een hele dag het sy hom nie gesien nie. Dis asof daar ontelbare namelose dinge met hom kon gebeur het in hierdie vier en twintig uur.

      Sy kyk in die spieël en terwyl sy haar hare borsel, kom sy vir die eerste keer in opstand teen die string oor haar skouer. Maar hoe anders? Sy kan haar hare nie los dra nie, dan lyk dit wild. Selfs in die string is dit te dik en krullerig om netjies te lyk. Dalk moet sy ’n kort kapsel kry. Dalk krul dit dan ook nie so erg nie. Dis maar net moeilik om ’n gewoonte te breek.

      Hoe dra Elzar se meisie haar hare? Is daar ’n foto van haar, dalk saam met hom, op sy boekrak of lessenaar? Hoe geheim is sy lewe, al is hy ’n openbare figuur met skynbaar uitgaande geaardheid.

      Oom Daan is nog alleen in die winkel. Het Dawid kom oopsluit, of het hy later as gewoonlik bly lê? Dalk vrede gemaak met sy vrou, donkermôre in die bed? Sy draai na die rakke agter haar en begin vinnig en liggies afstof met die verestoffertjie. “Japie het gisteraand gesê hy het weer by oom-hulle gaan nuus luister,” merk sy op toe die stilte lank en dik raak.

      “Ja, die Japie,” sug oom Daan. “Dit pla my nie as hy maar daar sit en sy prate praat nie, mens hoef tog nie te luister nie. Hy kan net dinge so verdraai. Maar jy kon my darem gesê het dat Anna onder die mes gaan,” verwyt hy sagkens.

      “Aag, dis nonsens. Soos oom sê, kan Japie alles verdraai. Tanna het vir dominee gesê …” en Bina herhaal die storie. “Toe sê dominee gister vir my dis dalk nodig dat haar galblaas verwyder word. Maar hy het bedoel later jare, nie nou nie.”

      “Ja, dan het Japie weer oordryf. Hy sê ook jy en dominee het glo so lekker gekuier en gesels.”

      “Tien woorde, oom, oor boeke, hy lees ook graag.”

      “So, jy’t hom nie van ons huislike moeilikheid vertel nie?”

      “Maar hoe sal ek nou, oom?”

      “Nee, ek vra maar, want hy wou gisteraand kom besoek aflê, maar Molly was te omgesukkel, ek was bang sy klim hom ook in, of sy dink dat ons hom laat kom het. Toe sê ek hom maar ons moet slag. Toe slag ek maar, al is die vleis nog genoeg. Dis vreeslik as ’n man hom begin vaslieg om sy kinders te beskerm.”

      “Dalk moet oom maar dat hy kom, hy het ’n slag met mense. Hy sal weet hoe om met die saak te werk.”

      “Ja, hy is ’n agtermekaar mannetjie. Maar jy moet verstaan, ek probeer ook maar my flenters heel hou. So, gisteraand was nie gepas nie. Hy moet liewer kom noudat Molly al weg is.”

      “Weg, oom?” Sal sy dan nooit ophou skrik oor Dawid nie? Sy soek nie daarna, weet ook nie hoe dit inmekaarsteek nie. Dit is net so, van altyd af, en sy kan dit nie ontken nie. Sy kan wel daarteen veg. Maar sal sy dít enduit kan doen? As selfs Elzar aanvoel dat haar situasie gewaag is?

      En die groter, kwellender vraag: was sy, die winkelmeisie, een van die vlieë in die huweliksalf? Dit wou so voorkom, want Molly was ekstra rukkerig en snouerig sodra Bina naby kom. Moet sy nou nog met ekstra skuldgevoel rondloop?

      Oom Daan antwoord nie. Sy hande rus soos knoetse op die toonbank. Sy praat maar verder oor Japie, om te kyk of oom Daan nie tog glimlag nie: “Japie het skoon vir Tanna op hol gehad. Oor wat die dominee van galblaas gesê het, kom die storie by tant Miemie Kleinveld uit dat Tanna geopereer word. En of sy nie sowaar gisteraand vir Tanna ’n ou slaaprok van haar stuur nie, dis al op gedra en vol pluisies.”

      Oom Daan lag nogal lekker, hoewel dit nie die skaduwees agter sy brilglase uit verjaag nie. “Is dit die ewige kardoes wat hy so gesit en vashou het?” Toe word hy weer enstig. “Wat storie hy toe nou weer by julle oor ons?”

      “Hy ’t maar net gesê die Ingelse vroutjie was moeilik, hy glo mos vas Molly is Engels.”

      “Sy glo ook so,” sê hy droog.

      “Maar oom sê sy is weg?” Sy kan tog nie rus voor sy weet nie. Daar is ’n gevoel van onheil in die atmosfeer. Is dit waar Dawid is, by die stasie? Ander dae hierdie tyd woel en werskaf hy. Soos oom Daan eenkeer gesê het, as hy ’n windpomp was, het al die damme oorgeloop.

      “Ja-nee, Dawid het haar en die ou kleintjie op die trein gaan sit vanmôre. Seker gemaak sy kry ’n koepee. Hy sê sy vrou en kind gaan nie saam met enige janrap ry nie.” Sy stem is dik. “Ag genade toggie, Bina-kind. ’n Ouer het darem maar swaar. En ’n grootouer in dubbele maat. Ek en die vrou het nie troos vir mekaar nie. Die ou babbelstemmetjie wat net stil is. Die frilletjiegoedjies op die wasgoedlyn. Die handjies se merke teen die vertoonkassie se ruite.” Hy haal sy bril af, sy sakdoek uit, en begin vrywe, vrywe.

      Weg, Molly en die kind met Dawid se bloed in haar klein blou are wat mens onder die wit velletjie kan sien. Bloed sal mos terugroep. Na ’n rukkie sal Dawid begin rondspring, agter vrou en kind aan begin ry, beloftes maak. “En nou, oom? Moet ek bietjie na tant Rykie toe oorstap?”

      Hy sug so swaar soos net ’n hartseer ou man kan doen. “Ek het gesê sy moet goedjies inpak, ek vat haar bietjie na ’n rusoord toe. As ek en sy net ’n paar dae …”

      Bina se hande word stil, rus teen die rakke van hout. “Ek kan mos nie alleen saam met Dawid hier bly nie, oom Daan.”

      “Hoe nou?” Oom Daan kom nader gestap. Toe hy by haar kom, val die lig anders, en sy kan duidelik sy oë agter die pas gepoetste brilglase sien: verbaas, ontredderd.

      “Ek sê, oom: ek kan mos nie hier so alleen saam met Dawid nie.”

      “Maar julle ordentlikheid sal mos …. Bedoel jy die mense sal praat? Dan moet hulle tog maar praat. Môre, oormôre is daar weer iets anders om oor te praat. En dan is ek en Rykie ook al weer terug.”

      “Dis waar, dis so waar wat oom sê.” Sy draai na hom toe, kyk hom vas in die oë. “Maar dan nog, oom. Dawid is ’n man. En ek … ek is ’n vrou, oom.”

      “Bina …” Daar blink die glase weer. Dit moet die manier wees waarop hy sy kop hou: so half luisterend, filosofies teen die lig. “Jy wil my tog nie sê …”

      “Nee, daar is niks, oom.