Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 10


Скачать книгу

hoor sy hom weer ’n keer sug, maar nie so swaar nie. “Ja, Bina,” sê hy byna gedwee. “Dis goed dat jy so reguit is daaroor. Ek vergeet soms. Vergeet van as ’n mens jonk is, en die bloed klop.”

      Hy stap weg na die slaghuis waar die gaasdeur geklap het. Sy help ander klante wat inkom, ’n geselsie maak, goedjies uitsoek, betaal, groet, uitstap. Toe hy terugkom, sê hy: “Ons wou namiddag al ry. Maar laat ek een van die ander kinders bel om hulle ma bietjie te kom wegvat.”

      “Nee, gaan julle, oom. Ek sal ook ’n bietjie verlof vat. Soos oom sê, ek het lank laas. As Dawid alleen hier is, moet hy sy sokkies optrek. Dalk is dit die beste ding wat met hom kan gebeur.”

      “Jy wil nie maar dalk saam met my en Rykie gaan nie? Jy vrolik haar altyd op.”

      “Nee wat, oom, julle verdien om ’n slag op julle eie te wees.”

      Hy vra niks uit nie en sy sê niks verder nie, want daar is waarlik niks. Sy moet die enigste meisie op die dorp wees, indien nie op aarde nie, wat nêrens het, ver of naby, om heen te gaan nie.

      Toe Dawid teen nege-uur inkom, voel Bina huiwerig om hom aan te spreek. Hy sal seker ingedagte wees, en norserig, want hy het sedert gisteraand moeilike dinge beleef. Om ’n trein met jou geliefdes daarin te sien wegstoom, is ’n hartseer saak.

      “Môre, Dawid,” sê sy dus net en vee die dikpens-lekkergoedflesse met ’n klam lap af. Buite is oom Daan besig om gedroogde velle op die groot skaal te sit. In ’n houtkis kir en vroetel verkoophoenders.

      “Môre, miss O’Connell,” groet hy grappig. ’n Teenstrydige vreugde laai in haar op toe hy opgewek klink. Dis asof daar ’n swaar sluier van sy gemoed af gelig is. Maar hy moet ligloop. Hy voel dalk opgelug omdat die bron van rusie onder sy voete uit is, maar teen vanaand sal hy die gemis begin voel. Boeie kan skaaf, maar dit kan veral vashou.

      “Jou pa sê Molly en Lientjie is bietjie na haar ouers toe. Dan het jy genoeg tyd om hier reg te vat. Want jou pa en ma wil mos vanmiddag bietjie weggaan, so ek het gedink ek vat ook sommer verlof.”

      Hy frons liggies. “Gaan jy weg, waarheen?”

      “Wat traak dit jou, Dawid?” Watter reg het hy om so iets te vra? Of grief dit haar net omdat sy regtig nêrens het om heen te gaan nie? Dalk vir mevrou De Wet gaan help boeke regpak, sonder betaling? Nee, dit sal lyk of sy witvoetjie soek om ’n pos daar te kry. Daar is nie regtig werk vir twee mense nie, dis maar kleinerig, nie ’n provinsiale biblioteek nie. En mevrou De Wet, gaaf soos sy is en saam met haar man ’n leier in kerk en samelewing, praat darem net te maklik en te veel. Kyk nou sowaar wat sy alles gister opgetower het uit niksbeduidende dingetjies.

      “Nee, dit traak my seker nie. Maar nou moet ek alleen regkom, en ek het ook net twee hande. Maar ’n week is darem nie te lank nie.”

      Hy fluit liggies, asof haar wegwees hom nie regtig pla nie. Is sy belaglik om te kon gedink het dat iets sal gebeur as hulle alleen is? Dat mense sal skinder? Of is sy bloot verstandig? As die bloed klop, het oom Daan gesê, en hoe waar is dit. Daar is juis so baie skuilhoekies in die winkel. Agter die rak met klere, agter in die stoorkamer. As Dawid haar soontoe afkeer, wat sal sy kan doen om haar te handhaaf? Die blote feit dat sy aan hierdie hoekies dink, behoort vir haar ’n rooi lig te wees.

      Maar, anders gestel: as sy vir Dawid soontoe lok, nie met woorde of gebare nie maar bloot met haar verborge hunkering, wat sal hy kan doen om hom te handhaaf?

      Oom Daan het haar gistermiddag laat tuisbly om te lees, sy kan nie weer vandag dieselfde vra nie. Maar hy is ’n man van aanvoeling en takt, en hy bied self aan: “Jy kan mos maar weer namiddag tuisbly, as jy reëlings het om te tref.”

      Dis genoeg om van te lag. Wat se reëlings tog? Maar dit help haar om te besluit, half onbesonne: sy sál weggaan. Sy sal aan iets dink. Sy sal oom Kola se raad vra, dalk het hy ’n verre, gawe familielid iewers. Nie vir Tanna nie, sy is te broeis om los te laat. Kyk maar mooi, dink sy, môreaand is ek weg. Sy kan die trein De Aar toe vat en ’n paar dae lank daar op die stasie sit en kyk hoe die lokomotiewe uit alle oorde blaas en kruis, haha.

      Meteens kry sy ’n eienaardige flits, byna soos weerlig wat deur haar kop trek: van haar, in ’n motor, op die lang pad, en iemand langs haar agter die stuurwiel. Maar hoe die persoon lyk, kan sy nie sien nie, want hy is in donker gehul. Die pad ken sy nie, en die dag weet sy nie. Maar sy weet sy het dit gesien.

      Omdat oom Daan haar die middag vry gegee het, werk sy ’n bietjie later as eenuur. Sy is dus nie te verbaas toe oom Kola haar teenkom en oplaai nie. Die ou bakkie is verreweg nie die gelyke van die Duraans se nuwe model nie, maar dit dien menige doel, behalwe betaalde karweiwerk. Hy kan veral op pensioendag vir Tanna dorp toe te vat, en hy gaan gereeld pos uithaal en goedjies vir die huis koop. Want oom Daan hou nie alles aan wat hulle nodig het nie.

      “Ek hoop nie oom Kola het my spesiaal kom soek nie,” groet Bina hom bly. Hy is tog maar die enigste pa wat sy ken, hoe knorrig en knoetsig hy ook is. Hy het haar in huilnagte op sy skoot gehou, maar was versigtig met troeteling. Hoe groter sy word, hoe deegliker het hy sy lyflike afstand bewaar. Hy sal haar nooit probeer aanraak nie, draai hoogstens sy wang as sy hom af en toe ’n groetpikkie wil gee.

      “Nee, Rykie het laat vra ek moet ’n stuk plank saag wat bo-op die kot pas. Soos ’n tafel, sien. Met ’n doek oor. Dis bêreplek en neersitplek en so.”

      “Dalk was die leë kot vir haar te erg,” raai Bina. “Het oom geweet die ma en kind is weg?”

      “Ja’k. Hulle het dit verwag. Dit dreig mos lankal. Daan het my laas week al gesê, of die skoondogter nou bly of ry, hy wil vir Rykie bietjie wegvat.”

      “Wel, sy is nou weg, en hulle vertrek ook. Tant Rykie het oom seker gesê.”

      “Ja’k. Sy pak die soetkys. Dit staan sommer alte lekker op die nuwe plank. Sy hoef nie laag te buk nie.”

      “Betaal sy oom darem vir die plank?” Sy waak konstant oor oom Kola se “loswerk”, want hy vra te min, of hy vra niks, of hy laat hom verkul.

      “Sy het my die foun laat gebruik, dis genoeg betaling.”

      “Maar wat is ’n oproep nou, koöperasie toe of so?” Oom Kola se behoeftes is gering.

      “Hooflyn,” sê hy kortaf, asof hy elke dag ver bel. Dan voeg hy by, asof hy besef sy moet darem weet: “Johannesburg toe.”

      “Oom?” vra sy verbyster. Sy weet van net een mens in Johannesburg wat hy kan bel.

      “Ja’k,” sê hy. “Jy moet ook ’n bietjie wegkom.”

      Weet oom Kola dan ook? Onthou hy, van jong bloed wat kan klop? Was daar wel iemand in sy lewe? Maar dringender is die vraag: het hy haar pa gebel? Hoe durf hy dan? Het haar pa haar nie afgeskryf nie? Sy wil nie in sy lewe gaan indring nie.

      “Oom Daan het gesê ek kan ook maar ’n bietjie afvat.”

      “Dis goed. Ek het ook vooruit al die ding so bedink.”

      “En die nommer? Waar het oom dié gekry?”

      Hy vroetel ’n papiertjie uit sy hempsak. Dis van ’n stuk bruinpapier afgeskeur.

      Toe weet sy verseker dat haar pa die nommer verskaf het, hoe en wanneer ook al, en dat dit vir haar weggesteek is. Was daar ’n brief? Meer as een? En het hy tog geld gestuur? Dan het oom Kola en Tanna haar willens en wetens in die duister gehou. Vir haar beswil, soos hulle sou glo. Maar nou is die nood aan die deur, en Pieter O’Connell is die enigste uitweg. Verseker weet Tanna niks. Oom Kola bespreek nie dinge met haar nie. Hy sal hoogstens ’n woordjie blaf as dit nie anders kan nie.

      “Jy moet maar jou goedjies regkry. Hy het gesê hy ry môre douvoordag uit Johannesburg. So agt ure op die pad, werk ek uit. Hang af of hy ’n harde ryer is. Hy kan hoogson se koers hier wees.”

      Bina is sonder woorde. Ook sonder gevoel, asof die skok dit skoon weggeslaan het. Net een gedagte oorheers: so ernstig staan die saak dus eintlik. So gevaarlik ag oom Kola haar en Dawid se alleenwees, dat hy agter haar rug