veel goed in die tas, die ritssluiter wil nie gladweg toemaak nie en sy durf dit nie forseer nie. Sy besef dat haar verslaenheid oor die klein probleem eintlik net ’n uitlaatklep vir haar dieper onrus is.
In die ander twee se kamers is dit reeds doodstil toe haar lamp nog brand. Sy is bang vir die bed. Tant Rykie, wat soms aan beswaardheid ly, het eendag vir haar gesê: “Mens weet dit kom aan wanneer jy bang is om bed toe te gaan.” Maar nee, sy is nie depressief nie, sy het ’n egalige natuur. Sy is net vanaand onrustig. Dis die verandering, die onbekende.
Dis waar, sy wil ook graag uitgaan in die wêreld, maar nie so stompweg nie. Niks sal erger wees as om te moet tuisgaan in ’n huis waar sy nie regtig welkom is nie.
Sy probeer ’n bietjie lees, maar kan nie konsentreer nie. Sy het nog nie lekker in Blind Path ingekom nie. Het dit maar gister uitgeneem, en vandag was te woelig om te lees. Net vanaand alleen was daar drie besoeke: van Elzar, Japie en Dawid. Sy, wat slegs ’n paar maande terug voor hierdie venster in die aandskemer gestaan en droom het van ’n vreemde jong man wat by die voordeur aankom, besef nou wat ’n futiele droom dit was. Want vir Japie wil sy nie hê nie, vir Dawid kan sy nie kry nie, en Elzar is net wat hy is: die oulike byna-verloofde jong dominee. Sy lippe op hare beteken niks. Teen hierdie tyd soen hy seker al die vroue in die gemeente. Sy meisie sal hy nie só soen nie. Of hulle oor alles saamstem of nie, hy sal haar so styf vashou dat hulle byna in mekaar inklim.
Hoekom kan sy nie tot rus kom nie? Is dit die vreemde gedagteflits wat sy vroeg vanmiddag gehad het toe sy by oom Kola in die bakkie sit? Die weerligbeeld van ’n motor op die oop pad, en sy wat langs iemand anders sit? Maar dit was nag, en sy gaan môre in helder daglig ry.
Sy het oom Kola voor slaaptyd verlangs uitgevra oor die “onbepaalde tyd”, waarop hy gemompel het: “Sommer.” Wat seker moet beteken dat hy net vir Dawid wou ontmoedig.
Dis elfuur. Waarom wag sy? Wat moet nog gebeur?
Dan kom die antwoord: motorligte vee oor die werf, slaan op teen die huisie se mure. En sy weet: dis my pa. Hy het nie gewag nie, maar dadelik na oom Kola se oproep vertrek. Die vraag is: waarom? Is dit oor haar?
Indien nie, wil sy hê hy moet liewer omdraai.
8
In die een minuut wat dit sal duur vandat die motordeur klap totdat die klop aan die voordeur kom, neem Bina haar ’n paar dinge voor. Sy sal haar nie soos ’n stertswaaiende klein hond of skurende kietsie gedra nie. Ook nie soos ’n hans boklam, ’n tjankbalie, ’n bedelaar, mak rivierapie, weeskind of witvoetjiesoeker nie. Sy sal haar nie afsydig hou, of verbaas of senuweeagtig of aanstellerig of minderwaardig of spoggerig of aanklaerig of oorgretig of belangeloos nie.
As dit dalk so is dat Tanna en oom Kola haar pa van sy dogter weggekeer en dalk selfs sy briewe verduister en oor sy geldelike bydrae geswyg het, sal sy hulle nie daaroor verwyt nie.
Aangesien dit koel genoeg en reeds laataand is, trek sy bo-oor die skraps nagklere die lang, lig gehekelde somertrui aan wat sy baie lank terug op die dorp op ’n uitverkoping aangeskaf het. Niemand het haar ooit leer brei of hekel nie, en Tanna self kan nie.
Sy vat die lamp met die bedoeling om die klop aan die deur voor te spring. Sy tik in die verbyloop aan die kamerdeure van Tanna en van oom Kola. Sy draai die garetol-knoppe, stoot op ’n skreef oop, en roep sag na binne: “My pa het gekom, dit lyk of hy vroeër gery het.”
Toe maak sy die voordeur oop, net voordat hy kan klop. Hy staan trouens kneukel in die lug en lyk betrap, byna verleë. “Hoe skrik ek nou.”
“Pa hoef mos nie vir my te skrik nie.” Sy voel so kalm soos een van die rivier se waterkuile. Dis haar pa, o ja. Sy het ’n baie vae herinnering aan hom, asook ’n paar ou kiekies in haar besit. Die soel man met die langerige bolip en die effens uitgestrekte nek, asof hy só beter kan sien en hoor. Dis eintlik ’n effens lelike gesig, maar boeiend. Op ’n manier intens. Dit lyk of hy jou halfpad tegemoet wil kom.
“Hoe moes ek weet dis jy? Ek het jou laas gesien toe jy vyf was.” Hy buk en gee haar ’n groetsoen, niks meer nie, asof hy begryp sy verlang niks meer nie. Sy ruik vreemde sigaretrook, sien van naby die knopies van die witterige hemp met die opgerolde moue.
“Pa het toe vroeër gery. Pa is seker moeg. Ek kan koffie maak en eiers bak.” Vlugtige herinnering aan Elzar.
“Ag, jy moenie moeite doen nie, kind. Daar is nog orige kos in die koelsak, ek het heelpad gepeusel. Dalk net vars koffie.”
Dis die “kind” wat tot diep in haar hart slaan. En sy was juis van plan om ongeraak te wees. Maar dit het so natuurlik gekom, asof hy haar nie net tot op vyf nie, maar lewenslank so genoem het.
“Ek sal dan vir Pa ’n bed opmaak, ons het ekstra matrassies.”
“A, van die buiteslaapnagte, ek onthou. Maar nee, as dit reg is met jou, ry ons vannag nog terug. Jy kan in die kar slaap, vat net ’n kussing en kombersding.”
Hy is dus haastig om tuis te kom. Wil die vrou hom nie langer afstaan nie? Is dit hoekom hy halsoorkop in die kar gespring en deurgejaag het?
“Dankie vir die moeite om te kom, Pa.”
“As jy moet hoor hoe selfsugtig my motiewe is, sal jy nie so dankbaar wees nie.”
“Oom Kola het iets gepraat van onbepaalde tyd,” waag sy.
“Ja, soos ’n maand of twee dalk? Maar as jy nie kans sien nie, kan jy oor ’n week terugkom. Ek sal jou op die bus of trein sit, ek sal jou dalk net nie self kan terugbring nie.”
Aan die geluide van skuifel en kug te oordeel, is Tanna en oom Kola in aantog. By gebrek aan ’n kamerjas het Tanna ’n skoon voorskoot oor haar nagrok aangesit. Aan haar voete het sy afgetrapte draskoene geslof. Haar eerste woorde is ’n verwyt, soos sy teenoor oom Kola gewoond is: “Nou kom jy haar dan nog vroeër wegvat, Pieter. En wat moet ons doen?”
“Ek steel haar nie, ek bring haar weer terug. Ek wil hê sy moet haar boetie leer ken.”
Dit slaan die ander drie met stilte. Dis Tanna wat die meeste moed het: “Het jy dan ’n kind by daardie merrie?”
Hy glimlag skeef. “Nie by Dora nie, nee, ons is geruime tyd al uitmekaar. Ek moet erken ons was nooit getroud nie. Ek is nou getroud met ’n jonger vrou, Alet, en ons het ’n seuntjie. Het ek dit nie geskryf nie?”
Kolskoot. Tanna en oom Kola lyk soos betrapte hase voor ’n jaglig.
Pieter O’Connell lyk nie te verbaas oor die reaksie nie. “Ek het nogal geraai dat Bina nie my briewe kry nie.”
Bina kyk na Tanna, ’n blik wat vra en verwyt tesame. “Dit was ook maar net so ’n ou paartjies,” probeer Tanna loskom. “Lank terug.”
“Ja, ek het opgehou skryf, ek dog sy wil nie antwoord nie. En die een keer wat ek hier aan was, het julle haar soos ’n boklam weggesteek.”
Dis oom Kola wat beheer neem. “Ons het dit die beste vir haar geag,” sê hy kort en klaar. “En oor die geld moet jy jou nie bekommer nie. Ons het dit getrou vir haar gespaar. Waar’s die bankboekie, ou Antjie.”
Bina het nie gedink die klein huis het onbepaalde wegsteekplek vir enigiets, veral nie vir ’n bankboekie nie. Haar eie een is posspaarbank. Sy sit verbyster toe sy sien hoeveel geld sy het. Hoe kan sy hulle nou roskam en hulle welwillende bedrog verder oopvlek? “En die briewe?” vra sy flouweg. Sy verwag om te verneem dat dit oopgeskeur, gelees en daarna vernietig is, maar sy is weer eens verbyster toe Tanna ’n tweede keer gaan vroetel en met ’n pakkie briewe in ’n lintjie terugkom.
Agterop is haar pa se adres, selfs foonnommer, asof hy desperaat was dat sy tog moet antwoord. Sy kan nie sweer dat sommiges nie oopgestoom was nie, te oordeel aan die ongelyke tekstuur van die toegeplakte agterflap.
“Hou die briewe eers hier, tant Anna,” beveel Pieter. “Dis alles ou nuus. Ek sal haar vertel wat te vertelle is.”
Dit dwing Bina se respek af dat hy nie ’n bohaai opskop nie. As iets