“Ek sal toesien. Mits die briewe darem, hoe sal ek sê, veilig by julle uitkom,” kan Pieter nie weerhou nie.
Dis middernag toe hulle die pad vat. Haar pa het ’n groot, sterk motor met ’n dieproom kleur. ’n Familiemotor. “Outomaties,” deel hy haar mee toe hulle die dorp agterlaat. “Jy sal dit maklik leer bestuur, binne ’n paar weke. Maar liewer met Alet se motortjie.”
“Ek bestuur? In Johannesburg?”
“Johannesburg is ’n mite. Dis eintlik ’n klomp dorpe wat rondom ’n stadskern gerangskik is. En in die kern kom mens selde.”
“Maar hoekom sou ek wou bestuur?” Sy is geensins vaak nie, al is dit ver oor bedtyd. Sy sit voor langs hom, maar die agterkussing is vir haar ingerig vir slaap. Sy geniet sy geselskap en waardeer dit dat hy die nagtelike alleentyd nie gebruik vir berou en vergifnis, navrae en algemene derms uitryg nie.
“Jy sal geskok wees om dit te hoor, maar ek het klaar afsprake vir jou leerlinglisensie en sommer vir jou bestuurslisensie ook gemaak.”
“Maar hoekom?” vra sy weer. Dinge loop nou te vinnig, dit voel sy bly agter.
“Bina,” sê hy, “toe ek Alet ontmoet het, was sy op die punt om oorsee te gaan reis. Sy was ’n alleenloper en het lank daarvoor gespaar. Maar toe die troue tussenin kom, het ek haar belowe dat ons twee saam sal gaan sodra ons gevestig is. Toe kom die baba. Witkoppie, sy naam is Whitie, en die reis is op die lange baan. Maar nou is hy veertien maande, oud genoeg om by iemand te bly. Ons het ’n bekwame dame gehuur, ’n afgetrede verpleegster by wie hy drie dae per week in ’n speelgroepie is. Hy ken haar en sal nie te erg oor ons treur nie.” Hy klink nietemin beswaard oor die vooruitsig.
Bina is nog nie seker waar sy inpas nie. Tot hy weer praat: “Toe bel oom Kola vanmiddag, of is dit reeds gister? In elk geval, toe Alet dit hoor, is sy vuur en vlam dat jy saam met ons op reis moet gaan. Maar …”
“… maar Pa het die plan gekry dat ek liewer die oppaswerk moet kom doen?”
“As jy kans sien.”
“Ek weet niks van kleintjies af nie.” Wat nie heeltemal waar is nie, want het sy nie weke lank ’n oog oor Dawid se klein Lientjie gehou, handjies afgevee, getroos en gepaai en bietjie met haar gespeel sonder dat dit aandag trek nie? Later gewaag om haar toilet toe te vat omdat Dawid nie altyd naby was nie? Deernis gevoel vir die klein wit boudjies?
“Jy kan nog eers oefen en hom leer ken voor ons vertrek. As jy regtig nog huiwer, kan die vrou steeds kom. Dan betaal ek julle al twee.”
“Dit sal nie reg wees nie.” Sy is so gewoond aan spaarsaam lewe. “Ek wil ook nie betaling hê nie, Pa.”
“Wil jy tog liewer saam met my en Alet gaan?”
“Nee, dit glad nie. Derdemannetjie, nee. Ek sal eendag saam met my eie man gaan.”
“Is daar iemand?”
“Nee, maar ek sal so iemand soek.” Iemand, ’n kruising tussen Dawid en Elzar.
Hy lag. “Eensaam sal jy nie wees nie, want ons huis het twee kamers met buitedeure wat ons aan studente verhuur. Broer en suster. Hulle neem saans die hoofete by ons, sorg verder vir hulleself.”
Dit klink veilig en huislik genoeg, en sy besef met verligting dat die mens hom by nuwe omstandighede kan aanpas. Maar dis nogtans ’n groot stap, en sy moet besluit of sy haar op so ’n wyse kan verbind.
Sy wens sy kon by Elzar raad vra. By wie anders? Dawid is buite perke, en Japie kan net “heiden jissie” sê en stories oor “daar oorkant” opdis. Oom Daan is ’n wyse man, maar net plaaslik. En oom Kola en Tanna, so is dit nou bewys, kan lekker konkel as dit om haar welsyn gaan.
Is hierdie totale ommeswaai in haar lewe sowaar noodsaaklik, net om van Dawid af weg te kom? Nie eers oor wat gebeur het nie, maar oor wat moontlik kan gebeur as die bloed dan so erg klop? Op ’n afstand, in die nagtelike motor (dit wat sy in ’n flits vooruit gesien het), lyk dit vergesog. Heeltemal oordrewe. Hiervoor moet sy nou alles agterlaat? Dawid self, die bekende winkelrakke met die mengelreuk van allerlei koopware, Tanna en oom Kola se skadelose bakleiery, die vaal huisie aan die voet van die rantjie, Japie se besoeke soos ’n koerskwyt hommelby, Makkie met haar warm lieste, die lied van die bittereinder-sonbesie. En Elzar wat af en toe moontlik haar pad kruis, met kwinkslag-wyshede en soenlippe wat aan ’n ander meisie behoort?
“Nou begin ek vaak word,” erken sy teen halftwee. Hulle het reeds oor alles onder die son gesels, veral oor haar jeug, die skool, die debat, haar leeswerk, die hoof se gesprek met haar. En sy weet alles van hom, Alet en Whitie, sy werk.
Pieter hou stil en laat haar agter inklim, nadat hulle eers koffie gedrink het uit sy fles wat weer volgemaak is – by die primus, in die vaal huisie teen die rant in die voornag, dink Bina met vretende vroeë verlange.
“Dis nie billik dat ek slaap nie, wat as Pa agter die stuurwiel aan die slaap raak?”
“O, ek sal nie, my gedagtes sal my wakker hou. Ek voel soos iemand wat ’n langverlore skat weer gevind het, en wie kan dan slaap?” Na ’n rukkie vervolg hy: “Ek stel my voor dat jy een groot vraag het: of en wanneer ek van plan was om jou nader te trek, as ou Estruis my nie gebel het nie.”
“Ja, Pa.” Sy kan nie hierteen stry nie. “Ek weet Pa het een keer probeer, maar dis lank terug. Maar nou ja, ek het dan ook nie Pa se briewe geantwoord nie.”
“Omdat jy dit nie ontvang het nie. Die ou twee vabonde. Jy moet maar lees as jy teruggaan. In die jongste brief, na Whitie se geboorte …”
“Het Pa my van hom geskryf?” Spyt en berou stoei in haar. Hoe kon sy hom ooit verkwalik?
“Ja, ek het. Alet sou my ook nie met rus laat nie. Vandat ons getroud is, gee sy my hel oor jou. Toe Whitie kom, nog erger. Ons sal nie nog kinders hê nie, en sy wou hê die sus en boetie moet mekaar leer ken.”
“So, die tyd was ryp,” som sy op.
“Ja, ons planne het vasgestaan. Voor of na die oorsese vakansie wou ons jou ’n rukkie kom haal. Tog vreemd hoe dinge bestem word.”
Haar gedagtes flits na Dawid. Bestemming. Hy is nie vir haar bestem nie, met of sonder Molly. As daar iets moet gebeur wat hierdie feit omvergooi, is dit nie iets wat sy hoef te bedink of te forseer nie.
“Ek is bly dat Alet positief oor my voel.”
“So positief, dat sy ’n porseleinding vir jou bêre wat nog van jou ma af kom. ’n Tipe sopkom. Jou ma het altyd melkkos daarin geskep.” Sy stem is swaar. “Alet het amper my kop afgebyt toe sy dit tussen my losgoed vind, en dat ek spykers en skroefies daarin gebêre het.”
“Hoe lyk dit?” vra sy. Toe hy van die kleure en motief begin uitlê, weet sy meteens dat sy dit onthou. Nou moet sy ook hoor dat dit glo baie kosbaar is, en meer as ’n eeu oud, Alet sal die naam daarvan weet. “Ek het dit nogal probeer memoriseer, maar dit sukkel,” bely hy. “Iets soos Wilgers en Bok. Maar in Frans.”
Sy lag vir die poging. Dat sy en Alet van mekaar sal hou, gee haar genoeg gemoedsrus dat sy, gewieg deur die motor, heerlik in slaap wegdoesel. Dit sal help dat sy vergeet van die pynlike afskeid, van die verlate nagtelike huisie, die Swietse bok wat op die voorwal slaap, die swaar bruin winkeldeur wat binne ure oopgesluit sal word.
Dawid sal inkom, sy skouers in die kortmouhemp. Sy het dikwels so lus gehad om haar kop net eenkeer teen daardie koel skouers te druk en die spanning daarvan teen haar wang te voel. Dalk sal oom Kola hom vanoggend daar inwag. Hy sal haar plek vol staan, sy hoef haar nie te bekommer nie.
Sy weet nie hoe lank sy geslaap het nie, maar word wakker van haar pa se geneurie agter die stuurwiel, seker om wakker te bly. Intussen, weet sy, het hy iewers petrol ingetap, sy onthou die ligte en beweging. Toe sy nou regop kom en deur die venster kyk, begin die dag breek. En dis verskriklik vreemd, die beboude gebied, die drade en torings, die ligte, die aangroeiende verkeer.
“Is Pa nog reg?” vra sy en haar stem klink klein.