Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 10


Скачать книгу

hy sing maar valserig. “Sing Pa vir Whitie aan die slaap?”

      “Ja, wel, maar ek moet sê, hy raak aan die slaap sodra ek ophou sing.”

      Sy het nie geweet dat hulle so goed sal klaarkom nie. Maar is dit die prys werd? Die vreemdheid wat haar inneem? Wat op aarde soek sy hier? Is dit moontlik dat sy net gistermiddag totaal onwetend van die winkel af gekom het en deur oom Kola opgelaai is? Die warrelwind daarna, het dit met haar gebeur?

      Die son is nou behoorlik op. Hulle ry deur die strate van ’n pragtig hoog geleë woonbuurt totdat Pieter regs draai en op twee strepe beton by ’n motorhuis inry. “Soos ek vir Alet ken, het sy gewaak. Sy het die ure uitgewerk en glad die deur oopgemaak vir my om in te ry.”

      Alet kom uit met Whitie op die arm. ’n Vrou in haar dertigerjare, stewige bene en heupe, egter met ’n dun middel en vol boesem. Popmooi is sy nie, maar haar gesig het karakter en sy lyk na iemand met wie mens nie speletjies sal speel nie. Op haar arm hou sy die mollige outjie, witblond tot by die ooghare. Slierterige spierwit babakuifie hang oor die ewe wit voorkop. Dis ’n belaglike vergelyking, maar Whitie laat haar dink aan Makkie se vars melk as dit in die erdebeker skuim. Elzar se skuimsnor, gisteraand. Was dit net gisteraand?

      Pieter klim uit, rek hom, en loop hulle dan tegemoet om albei met een gebaar in sy arms toe te vou. “Alet, dis nou my meisiekind Bina.”

      “Maar sy lyk dan net soos Whitie!” Dis ’n spontane uitroep, van harte opreg.

      Alet soen haar, met ’n wangdruk daarna. “Voel hom net,” beveel sy en plaas vir Whitie in Bina se arms. Hy moet pas gebad wees, babageurig en met ’n blink kuifie. Eers beur hy ’n bietjie weg maar toe daar geen redding uit bekende oorde kom nie, bêre hy sy gesig skaam teen haar skouer.

      “Hy dink as hy jou nie sien nie, sal jy hom nie sien nie,” lê die moeder uit. Hulle lag al drie, hulle eerste lag saam. En daarmee is die brug geslaan, die onmoontlike brug wat verlede en hede moet saambring, soos twee kontinente.

      Toe word sy die warm, bedrywige huishouding binnegevoer, en sy raak deel daarvan sonder dat sy enige poging hoef aan te wend. Sy kry ’n heerlike ontbyt. Die Villeroy et Boch-erfstuk word aan haar getoon. Dis deur haar ma of ouma of grootouma op wie-weet-watter vendusie aangekoop, ’n sopkom met ongelooflik mooie blomme op, veelkleurig maar gedemp. “Ek het dit so hoog gebêre dat geen mens of kat of hond dit kan bykom nie,” verklaar Alet trots, “en ek is dankbaar dat dit hiervandaan jou verantwoordelikheid sal wees.”

      “O, hou dit maar eers daar,” keer Bina vinnig, want dit voel of die ding so kosbaar is dat dit kan verkrummel as sy net daaraan raak. ’n Opskepkom vir melkkos vir ’n melkmeisie, dit klink paslik. Sy moet dit tog vir Elzar vertel. Maar hoekom voel hy so vreeslik ver en vaag?

      Dis nog donker toe die telefoon op Elzar Enslin se bedkassie lui. Hy het eers die lawwe gedagte dat dit die sonbesie in daardie kameelboom van gisternamiddag is. Toe hy besef waar hy is, moet hy besluit: wekker, voordeur of telefoon? Toe hy uiteindelik sy slaapverwarde gedagtes gefokus kry op die skrillende vaal kriek hier naby sy oor, is hy ook sommer dadelik wakker. Dis glo instink, mos. Die man, die jagter, slaap maklik maar lig.

      “Hallo? Ja, Enslin hier. O, goed, ek bly aan.”

      Hooflynoproep. Bellville. Dit kan net Tanja wees. Normaalweg bel sy nie so vroeg nie. Sy is ’n nagwolf, wat die “vroeë vinkie” uitsluit. Sy sê die twee moeilikste dinge vir haar is om saans in en soggens uit die bed te kom. Hy moet haar oor twee dinge waarsku: as hulle getroud is, sal sy bedag op vroegoggendbesoeke moet wees. Mense kom sake in die dorp doen en gaan dan by die pastorie wag as die winkels en kantore nog toe is. Tweedens sal sy moet leer om elke oop aand (wat min genoeg sal wees) vroeër in die bed te kom, want daar sal ’n huwelik wees wat gebou moet word. En, behalwe dat sy kaal kolle tussen die mure sal moet help vul, moet sy die kaal ruimte in sy dubbelbed opvul. ’n Dubbelbed waaroor hy baie geterg is nadat van die lidmate sy goedjies wat vooruitgegaan het, moes uitpak en rankskik.

      “Haai jy, ou Haan,” groet sy. Die troetelnaam erger hom soos gewoonlik, maar haar sterk stem in sy oor vul hom met emosie. Dis sy meisie, sy verloofde sodra hy ’n ring aan haar vinger kan bekostig. Hulle weef saam drome oor die toekoms. Die ou mite dat alles in die lewe vir altyd sal regkom as julle tweetjies net eers getroud is.

      “Ja, Tante,” straf hy haar. Dis sy vervorming van Tanja, en dit maak haar ook lekker vies, maar darem nie boos nie. Hy bly knellend bewus daarvan dat die telefoonsentrale kan inluister. Almal in die dorp wag reikhalsend op die proses van outomatisering.

      “Wat doen jy?” vra Tanja. Logiese vraag, sy is ’n doenmens.

      “Ek lê in die bed en antwoord die telefoon.”

      “Het jy nog nie my raad probeer volg om soggens ’n bietjie te draf nie?”

      “Raad wat jy self nie volg nie? En my liewe mens, wil jy hê al die honde van die buurt moet my skraap? Hier draf mens net as jy groot behoefte het of vir die polisie vlug.”

      “Of vir die duiwel?” vul sy gevat aan.

      Hy wonder of sy dalk gaan aankondig dat sy op besoek kom. Hy verwag dit sedert sy aankoms, toe sy nie hier kon wees nie vanweë die verstandtandoperasie wat skeefgeloop het.

      “Hoekom bel jy so vroeg? Hoop nie daar’s fout nie. Almal gesond?” Haar familie woon ook in Bellville, ouers nie meer so jonk nie. Sy is die laatlam.

      “Nee, geen fout nie,” stel sy hom gerus. “Ek wou net bel om te sê ek het vannag van jou gedroom. En jy weet hoe is dit met sommige drome, hulle glip weg as mens dit nie dadelik neerskryf of met iemand deel nie.”

      “Hoekom het jy teen die neerskryf besluit?”

      Sy huiwer ’n rukkie, en toe kom dit byna beskroomd, teen haar aard: “Ek sou liewer nie hierdie een neerskryf nie.”

      “Dan sou ek dit liewer ook nie oor die foon meedeel nie,” probeer hy subtiel waarsku.

      Sy is flink van begrip. “Jou verlies,” terg sy ernstig. “Toe maar, ek wou jou eintlik ook vertel, ek het ’n mooi kleurafdruk van Het Melkmeisje laat maak, en dit geblok. Laat gisteraand. Self. Heel oulik. Ek kon nie wag om jou te laat weet nie. Moet ek dit per pos stuur, of dit self bring, of kom jy dit haal?”

      “Om te?” vra hy ietwat dom. “Vir my … vir ons mure?”

      “Nee, dominis. As geskenk vir daardie dogter in jou gemeente, die een wat nog bok melk. Ek het die inligting oor die skildery sowel as oor Vermeer se werk ook afgedruk en agterop geplak, dan kan sy alles daaroor lees.”

      “Wie sê vir jou sy kan lees?” vererg hy hom. Dit voel of sy onskuldige, heel spesiale vriendskap met Bina O’Connell deur hierdie goedbedoelde gebaar binnegedring is. Dit voel ook of sy vir Bina as ’n soort karikatuur sien.

      “Ag, jammer, man, dis nie meewarig bedoel of iets nie. Ek voel net ek kan nie verkeerd wees om in jou gemeente te begin bande knoop nie.”

      “Wat het geword van liewer-’n-minder-bekende-oorspronklike werk as ’n goeie afdruk?” wen hy tyd.

      “Dis mos nie vir ons self nie.” Sy begin ongeduldig klink.

      “Hoekom moet dit vir andere goed genoeg wees as dit nie vir ons is nie?”

      “Wat se katkisasie is dit? Ek wou maar net die modus operandi bespreek. Hoe kry ek dit daar? As jy wil kom, daar is hierdie naweek in die Nico Malan …”

      Elzar weet dat dit onbeleef is om mense in die rede te val. Dis een van sy pastorale voornemens om iemand altyd die geleentheid te bied om klaar te praat en uit te praat. Om nie premature antwoorde te sit en bedink nie, net eers luister. Hy oefen fluks, en hy vorder. Maar op hierdie oomblik kan hy hom nie keer nie. “Met tyd wat ek waar kry? Ek is nie meer ’n sorgvrye student nie. Jy werk in die week, ek werk in die week én naweke, Tanja. Kry dit in jou kop, liewer te vroeg as te laat.”

      “Elke liewe naweek?”

      “Behalwe as ek behoorlik en betyds verlof insit. Sodat die konsulent kan kom preek. En die meeste Saterdae