want die omset is klein. Die meeste mense ry liewer verby dorpswinkel toe. Maar dan, sy kan by oom Daan teen kosprys koop, sy bly besig, en sy hoor brokkies nuus oor Dawid. Daarby is sy vrymoedig met die klante, sy ken almal en doen lewendig navraag na almal en alles. Sy gee nie om dat hulle oor siektes en kleinkinders gesels nie. Alles boei haar. Sy is nie beskimmeld nie. As jy grootgeword het tussen twee ouer mense wie se afgodjie jy is, en wat bowendien oor jou toutrek, kan jy maklik dink jy is die kat se snor. Maar sy het genoeg goeie verstand en aanvoeling om dit te kanaliseer, nie selfgesentreerd te word nie.
Net soms, heel soms, wanneer sy voor die oop plankvenstertjie van die kombuis staan, soos nou, en uitkyk op die aandikkende skemer, word dit ’n weemoedsuur. Dan dink sy: as ek tog maar hier kan staan en wag vir ’n kêrel, my eie. Hy sal ’n amptenaar op die dorp wees, hierheen verplaas, van iewers ver af. Hy sou haar dadelik raaksien en hulle sou verlief raak. Hy sou haar Alberta noem of Berdine of iets, nie Bina wat van haar doopnaam Albertina afgelei is nie. Dis hoe haar oorlede ma haar wou noem, as laaste wens, pas na Bina se geboorte. Nou ja, die aantreklike jong man sou hier begin kuier, glad nie afgeskrik deur die eenvoudige omstandighede en die twee oumense wat op ’n manier verworpelinge is nie. Hy sal haar van Dawid Duraan laat vergeet.
Nie hoe lank nie, of hy sou vra of sy met hom sal trou. Hulle sal in die dorp in ’n wit huis woon, waar elektrisiteit is en nog meer geriewe wat vir ander mense vanselfsprekend is.
Ja, as sy tog hier by die venster kon staan en uitkyk wanneer sy motor kom. Nou is dit net Japie wat hier kuier, elke liewe aand, en hy tel regtig nie. Dalk skrik hy net ander moontlike kêrels af. Sy weet haar dagdrome is kinderagtig, maar sy wil dit soms wees. Haar lewe het andersins genoeg rede vir erns. Want die oumense word oud en kan sterwe, haar pa het haar afgesweer, en wat moet van haar word?
Op hoërskool het sy wel belangstelling geniet, want sy is goed gebou en haar oë is blou, en die string blonderige hare oor haar linkerskouer is dik en krullerig. Sy was geselserig en grappig, sodat niemand sou raai hoe skugter sy werklik is nie. Maar al die seuns is weg na ’n toekoms elders, die meisies ook, terwyl sy agtergebly het by Tanna en oom Kola. Sy het nie gevoel sy kan hulle in die steek laat nie. Dalk is plaaslike jong mans ook deur hulle ouers belet om hier te kom, wie weet? Die praatjies oor die twee oues het aan haar afgegee. Dis die waarheid, maar dit verander nie hoe sy oor hulle voel nie.
“Dit is ’n sonde dat jy nie verder wil gaan leer nie, Bina,” het die hoof gepraat. Dit was die keer toe hy haar laat roep het om ’n gesprek te voer wat haar oë in meer as een opsig oopgemaak het.
“Ek is te vas aan die huis, meneer.” Sy kon raai wat hy van die “huis” dink. Letterlik, ’n viervertrek-vaalmuurhuisie met ’n kombuis wat sommer ook voorhuis is, en drie klein slaapkamers. Figuurlik, ’n vreemde tuiste met Tanna en oom Kola wat so op losse voet by mekaar woon.
Dit was duidelik dat die hoof hom versigtig probeer uitdruk: “Ek verstaan dat die twee … die oom en tannie, nie eers familie van jou is nie.”
“Hulle het my grootgemaak, meneer. Dis al huis wat ek het. En hulle het my nodig.”
“Lojaliteit is ’n deug, maar nie ten koste van jouself nie. Jou toekoms … jy presteer buitengewoon. Jy hou ons naam hoog in die debatkompetisie. En die bibjuffrou praat met lof van jou tale-aanleg. Jy lees boeke waarvoor min ander kans sien. War and Peace. East of Eden. Dickens. Leroux.”
“Ek sal mos nie ophou met lees nie, meneer. En ek sal hier rond werk kry.”
“Toonbankwerk,” het hy grimmig besluit. “Ons kan beding vir ’n studiebeurs. Dis nie altyd net sleg om die huis te verlaat nie.”
Natuurlik bedoel hy daarmee dat sy van die minderwaardige invloed weggevat moet word. Sy volgende woorde het dit bevestig: “Ek verstaan die oom is maar moeilik, het die dominee weggejaag, is vervreem van kerk en samelewing.”
“Oor hulle met hom bodder, meneer. Ek was daar met die besoek van die dominee. Hy het gepraat oor onwelvoeglikheid en die slegte voorbeeld vir my.”
“Die dominee word betaal om …” Toe haal hy sy skouers op: “Wat sê jy nou van studie? Dink mooi. Stellenbosch. Eikebome en waterstrome.”
“Liewer nie dadelik nie, meneer,” het sy hom afgeweer. Sy het gedink aan die ironie, want sy woon langs ’n groter rivier as menige ander waterstroom. “Ek is jonk vir my klas. Ek kan eers ’n jaar of so werk.”
Dit was duidelik dat hy sy volgende woorde baie versigtig weeg.” Ek verstaan dat hulle twee ook nie eintlik … dieselfde van het nie. Hy is …”
“Esterhuysen,” het Bina gehelp, “sommer Estruis, meneer. En sy is Van Reenen, sommer Verrene.” Ta’ Anna, wat Tanna geword het.
Dit was die skinderstorie waarvan sy bewus geword het toe sy haar kinderskoene begin ontgroei. Hoekom moet mense die slegste dink van twee goeie mense? Sy het na hom toe opgekyk en sy het geweet, want sy bring wel genoeg tyd voor die spieël deur, dat haar oë baie blou is.
“Meneer bedoel, hulle is nie getroud nie,” het sy met eerlike vrymoedigheid gesê. “Maar ek kan vir meneer sê, hulle lewe nie soos man en vrou nie.”
“Hoe het dit dan gekom?” wou hy weet, met ’n mengeling van nuuskierigheid en belangstelling.
“Toe haar man dood is, meneer, het oom Kola haar grondjie help bewerk. Tanna het gesorg dat hy kos kry. Toe brand sy huis af, en hy sit sonder dak. Dis hoe dit gekom het, meneer.”
“Maar dis tog al baie jare terug. Hy kon intussen ’n ander plan gemaak het?”
“Hy het eers in die pakkamertjie gebly. Tot ek gekom het. Ek het glo so oor my pa geskree, dag en nag, dat net oom Kola my getroos kon kry. Toe trek hy in die huis in. En daarna wou al twee maar naby my wees.”
Dis hoe die praatjies begin het, ja: toe oom Kola onder die dak intrek. Albei self kinderloos, het hulle ter wille van “die kind” vrywillig die smaad van die samelewing verduur. Daarvoor sal sy hulle altyd huldig. Sy sorg dat sy ewe veel aandag aan hulle gee, anders woed daar kleinlike jaloesie. Sy tree ook op as algemene vredemaker. Die twee kom so sleg oor die weg dat Tanna glo vroeër sy kos buite die pakkamertjie moes neersit, anders jak hy haar af oor “die vetterige vleis en krummelrige mielegruis”.
“Verstaanbaar dat al twee naby jou wou wees,” het die ervare skoolhoof met opregte waardering gesê. En, na ’n rukkie se diep bepeinsing: “Het die Kinderhof jou ooit in hulle sorg geplaas?”
“Die Kinderhof?” het sy geskrik.
“Ja, ’n weeskind kan nie sommer net meer …”
“Ek is nie ’n weeskind nie, meneer, my pa lewe nog. Ek … ek dink so.”
“Ag natuurlik, ek bedoel eintlik ’n huislose kind.” Toe vra hy, steeds baie versigtig: “Wat is jy oor jou pa vertel?”
“Dat hy te siek was om my op te pas, meneer. Dat hy na ’n ander klimaat moes gaan. Johannesburg, dink ek.”
“Het die oom en tannie jou dit vertel?”
“Ja, meneer. Toe ek my verstand begin kry.”
Hy het deeglik oorweeg terwyl hy ’n potlood op sy omgekeerde wysvinger balanseer. “Ek dink jy verdien die waarheid, jy is verstandig en volwasse genoeg.”
“Meneer?” Onbegrypend, haar blik vas in syne.
“Hulle het die storie van sy gesondheid versin. Ek het gehoor hy is weg met ’n vrou wat nie vir sy kind kans gesien het nie.” Die potlood het afgeval. “Ek sê nie hy is ’n slegte pa nie. Ek het gehoor hy stuur geld vir onderhoud.”
Bina het gefrons, want daarvan weet sy niks. Maar hoe anders sou hulle aan die lewe kon bly? Die huurgeld van Tanna se lusernland is min en ongereeld, afhangende van die oes, wat afhang van die rivier se grille en van peste en plae. Oom Kola het nooit grond besit nie, hy doen sy lewe lank loswerk vir ander rivierboere. Hy het van tyd tot tyd vir Tanna se oorlede man ook gewerk. As jongste kind het hy sy ma versorg tot sy horingoud dood is. Hy het alleenloper gebly, nooit eers ’n wafferse huis gehad nie,