Maar hy is fluks en handig. Vir hulle kweek hy langs die voorwal altyd een of ander groente vir huisgebruik. Daar is gereeld ’n tamatie, ’n pampoen, ’n aartappel, ui, wortel of patat op tafel. Met kool het hy opgehou toe Tanna skimp: “Hierdie koolkop is net so stokkerig soos jy, Kool Estruis.”
Hy bring steeds iets in met katoen pluk, leivoorwalle opwerk, ertjies of lensies oes, masjinerie of meubels regmaak, ’n muur uitslaan, ’n deur inbou. Dis soldeer, sweis, karweiwerk dorp of stasie toe in sy afgeleefde bakkie. Hy het ’n slim kop en hande. Verder is hy ’n goeie swemmer en mense huur hom soms om vee deur te vat eiland toe, of te gaan haal.
Maar wat hy inbring is nie genoeg vir drie mense om van te lewe nie. Die meeste rivierboere behartig hulle eie herstelwerk in en om die huis. Dit help dat Tanna laas jaar begin “pay” kry het, ouderdomspensioen. Oom Kola is ietwat jonger en herinner haar gereeld daaraan deur haar “ou Antjie” te noem.
Hy en Tanna haal altyd self die pos by die poskantoor se toonbank af. Daar kon koeverte met posorders van haar pa af gewees het. Sê nou daar was soms briefies by? Vir haar? En sy ontvang dit nooit? Sy was verward, daar in die skoolhoof se kantoor. Wat moes sy glo?
Hy het voortgegaan: “Hy het glo wel eenkeer ’n naweek hier vertoef . Jou probeer sien, maar die twee het gesorg dat jy weg is.”
“Maar ek was in al die jare nooit weg nie.” Toe byt sy haar lip, want sy onthou die algemene veldpiekniek, en hoe sy nie kon verstaan toe sy so ewe skielik saam met oom Daan Duraan-hulle mag weggaan nie. En tog was dit wonderlik, want daardie naweek het sy haar hart op Dawid verloor, tot vandag toe, al is hy vier jaar ouer as sy. Sy het nogal gedink dit was dalk hy wat haar saam wou hê. Sy was dertien en in staat tot ware liefde, so het sy geglo.
Sy was nou pas een en twintig, en sy glo dit nog. Nou verstaan sy alles, en dis ’n dubbele ontnugtering: haar pa, en Dawid … dit het nooit oor háár gegaan nie. Ook maar beter Dawid woon met sy vrou en kind in die Kaap, het sy die dag in die skoolhoof se kantoor gedink.
Op daardie oomblik wou haar moed haar begewe, en die hoof moes dit raakgesien het. “Toe maar, Bina, ek wou net my plig doen. Niemand kan jou forseer om iets teen jou sin te doen nie. Wat van studie deur korrespondensie?”
“Ek dink daaraan, maar dit sal ook geld kos, meneer. Ek sal na matriek eers ’n jaar of so geld spaar.”
“As jy intussen anders besluit, kom praat met my.”
Nou werk en spaar sy reeds meer as twee jaar, en sy kan nie veel wys nie. Dis lekkerder, en nodiger, om oom Kola en Tanna te bederf met bydraes vir die huishouding. Om plate te luister en haar eensaamheid weg te lees met boek na boek. Sy hou veral van Dickens, omdat die karakters haar so baie aan oom Kola en Tanna laat dink.
Daardie gesprek het wel haar perspektief verander, maar nie haar besluit nie. Al kom haar pa terug, sy wil hom nie hê nie. Dis nie hy wat haar in die nag getroos het, wat haar koffie koudgeblaas het soos Tanna, haar met ’n ou bakkie skool toe gery het soos oom Kola nie.
Bina draai weg van die plankvenstertjie waar die ondergaande son die soel, bleek lug tot ’n sagter rooi begin indamp. Sy gee die primus ’n paar pompe sodat die water gouer kan kook. Die groter vlammetjie suis gesellig. Dankie tog sy hoef nie vuur in die stoof te maak nie, dis te warm daarvoor. Daar is ’n stukkie oorskietvleis wat oom Kola met ’n koue aartappel en ’n tamatie sal eet, terwyl sy en Tanna in die aand volstaan met brood en bokmelk. ’n Beskeie stukkie kookvleis kry sy billik by oom Daan Duraan, waar hy eenkant aan die winkel sy slaghuisie het.
’n Vreemde, diep weemoed lê vanaand in haar, soos wat sy nie ken en van weet nie. Is dit oor Dawid wat wil kom, maar sy vrou is dikmond? Hulle was voor die kind se geboorte laas hier, sy vrou het met die magie en gevoude arms en vies wipneus gestaan en rondkyk. Dit was of sy gril vir haar skoonpa se winkel en sommer vir alles en almal.
Sy wens Dawid wil liewer gou oud word en grys hare kry, jonk ofte nie. Dan sal haar versotheid op hom dalk bedaar. Sy sien hom so duidelik: nie groot van postuur nie maar met goeie skouers, gesellige stem, altyd ’n laggie, sy donker krulhare en effens gekromde neus. Hy is mos so skielik getroud, sodat Tanna gesê het: “Ek wonder darem.”
“Bly tog stil, ou Antjie,” het oom Kola gesnou, “dis omdat jy gedurig wonder dat jy so baie wonder.”
Bina dek die kombuistafel met die geruite tafeldoekie, brood en smeergoed. Alles in die huis is ’n bietjie min. Op pensioendag sal Tanna weer roekeloos raak en dinge koop soos kaassmeer en blikkies sardiens en polonie en winkelbrood. Oom Kola sal haar deurvat poskantoor en winkel toe, en sommer Japie se ma ook oplaai. Hy sal tant Miemie Kleinveld in die middel laat sit, nie vir Tanna nie. Hy hou vir Tanna altyd ten minste een armlengte ver van hom af, en dan dink die mense nog hulle slaap saam.
Met die terugkom word Japie se ma eers afgelaai. Dan is dit ook tyd vir middagete, en oom Kola laai sommer vir Bina by oom Daan se winkel op. “Jy kan nie so in die hitte loop nie, ou Bienkels,” knor hy dan. Sy knor vir Bina het ’n teer ondertoon, anders as sy grommerige knor vir ander mense. Oom Daan Duraan sê Bina is die enigste een wat hom om haar pinkie kan draai.
Kom hulle dan tuis, word daar heerlik geëet aan die winkel- en kafeelekkernye, tot gaskoeldrank. Op so ’n dag tel Makkie se melk nie juis nie.
Maar vanaand val in die skraps tyd, en daar is nie veel om op tafel te sit nie. Alles is buitendien eenvoudig ingerig. Niks is sierlik, of op effek gemik nie. Wat daar is, is sigbaar en dienlik.
“Die aandkos is reg,” roep Bina, en Tanna kom uit die kamer, nie sonder ’n gekraak van bed en litte nie. Somertyd loop haar middagrus byna aaneen met die aandroetine. Dan roep Bina ook by die agterdeur, as dit lyk oom Kola in die waenhuis het nie gehoor nie. Daar is hy maar meestal met ’n werkie besig.
Hulle kom te voorskyn, met Tanna wat haar winkelbril op haar neus sit, en oom Kola wat die sweet op sy gesig met ’n voorarm afvee en sy broek hoër optrek. “Jy moet jou roer, Kool Estruis,” snou Tanna. “Aans kom Japie en jy’t nog nie hout en water ingebring nie.”
“Bly jy stil, ou Antjie. Ek ken my werk.”
Maar hulle is nog besig om te eet toe Japie kom. Bina is sommer vies, want hoekom is hy vroeër as ander aande? Sy sal maar in die geselskap moet bly, want dis te warm in die kamer en almal sal stoele uitdra om buite op die grondwerf te sit.
“Dis nou vir jou ’n ding,” val Japie met die deur in die huis.
“Wat se ding dan, Japie?” wil Tanna nuuskierig weet.
“Seker ’n wonderlike ding,” knor oom Kola.
“Bly stil, Kool Estruis. Laat mens tog hoor. Vertel maar, Japie. Moet jou nie aan oom Kola steur nie. Was daar iets oor die nuus?”
“Nee, heiden jissie, Tanna, daar was nie vanaand tyd vir nuus by oom Daan-hulle nie. Dis daar by hulle omtrent ’n deurmekaarspul.” Hy swyg afwagtend.
Tanna stel hom nie teleur nie. Haar oë word spits soos pylpuntjies: “Nou wat dan, Japie?”
“Nee, hulle kry toe laatmiddag ’n telegram dat Dawid-hulle môre vroeg hier sal wees, hulle ry deur die nag, vir die hitte, vir die kind, sien. Dwársdeur die nag,” beklemtoon hy vernaam.
In plaas van bly te word, kry Bina ’n groot verdriet in haar. Hulle ry deur die nag. Dalk lê Molly met haar kop teen sy skouer en slaap, want sy mag. Dawid is haar man.
Dawid sal môre eerste ’n draai by sy pa se winkel maak, want hy stel lewendig belang. En sy, Bina, sal ongeërg moet “Môre-Dawid-hoe-gaan-dit,” en voortgaan met haar werk. Haar hand, klein en wit, sal een oomblik in sy sterker, bruiner hand wees. Dawid aard na sy ma, want tant Rykie word ook maklik bruin van die son, al dra sy ’n kappie.
“Tanna,” kla Bina, en haar stem klink soos toe sy klein was, “ek voel nie so lekker nie, ek gaan ’n bietjie lê.”
Tanna lê bekommerd haar hand teen Bina se voorkop om te voel of sy koors het. Oom Kola knor: “Hierdie lopery in die son vir ou Duraan se bankrot winkeltjie moet end kry.”
Japie lewe op