wat ma sê wat tannie Rykie ook sê. Sy sê glo sy bly eerder saam met ’n swartslang in die huis. En hoekom moes Dawid nou sy werk deur sy agterent trek.”
“Nee magtag, jong, moenie jou twakbek hier kom staan en uitspoel nie.” Oom Kola was lank laas so bloedig vererg. “Ontsien dan vir ou Bienkels in die geselskap.”
En meteens weet Bina dat oom Kola weet, alles weet van haar vergeefse liefde , en hoe sy stry teen die begeerte om iets slegs van Dawid se vrou te hoor. Sy hoef hom absoluut niks te vertel, nie eers met ’n enkele woordjie of sug nie.
Japie voel nie te erg in die gesig gevat nie. Sy lewe lank al jak mense hom af, en op ’n manier is dit olie op sy vuur. “Ja maar dit kan by die nuwe predikant beland, oom Kola,” seil hy netjies by die gaping in. “Ek meen, as daar huislike onenigheid is, moet hy optree, word hy nie betaal nie? Word sy spens nie volgepak nie?”
“Het jy al in al die jare ooit iets vir ’n dominee se spens gevat?” kom oom Kola op vir die einste amp wat hy op ’n keer die huis belet het.
Hier sit Japie sonder ’n woord, en dit gee weer vir Tanna die beurt op ’n gaping. “Maar wat se nuwe predikant dan, Japie? Die kerkraad beroep mos nog.” Die vorige dominee het afskeid geneem en sedertdien het ’n ouderling ’n preek voorgelees as die konsulent nie kan kom nie. Sy sê sy glo nie aan “menskerk” nie. Anders ry sy en Bina Sondae saam met oom Daan en tannie Rykie Duraan. Maar noudat die kinders daar kuier, ook nie.
Japie blom soos tien lelies. “Heiden jissie, weet Tanna dan nie? ’n Proponent het die beroep aangeneem. Papnat agter die ore, sê Ma, en dit klink ook nie eers of hy ’n vrou het wat die werk kan doen nie.”
“Jy begin al weer,” dreig oom Kola.
“Stil, Kool Estruis, laat ek tog hoor. Het jy gekyk dat Makkie nie te veel groen lusern eet nie? Aans staan sy opgeblaas, en dan sit ons sonder melk.”
“Ek het gekyk toe ek haar gaan melk, Tanna,” verseker Bina haar. Sy sal nog so nooit toelaat dat Makkie iets oorkom nie, teen wie druk sy dan haar voorkop om te huil? Sy het gehoor die koeimeisies in sekere lande het in die ou tyd bles voorkoppe gekry. Het hulle ook dinge gehad om oor te huil? Het hulle nie net gemelk, gedans en gejodel nie?
Japie sien ’n gaping: “Noudat Tanna so van melkbokke praat, my oorle’ pa het mos eenkeer ’n hanskalf gehad wat …”
Met die lae gegons van Japie se stem in haar ore, ontvlug Bina kamer toe. Sy skuif die vernsterraam hoog op sodat die koeler lug van die afgelope aande kan instroom. Sy giet water in die waskom op die tafeltjie en was haar sommer so in die skemerdonker. ’n Regte bad is daar wel op die toegeboude stukkie agterstoep, maar sy wil nie heen en weer verby Japie nie, en daar is ook net ’n kouekraan.
Die ou dominee is weg, dink sy met spyt, en ek het nie betyds vir hom ’n getuigskrif gevra nie. ’n Nuwe een sal nie ’n getuigskrif wil gee nie want hy ken haar nie, en hy sal ook gou genoeg hoor van haar ongewenste verblyf. Want ja, sy sal ander werk in die dorp moet soek, by oom Daan kan sy nie aanbly as Dawid permanent hierheen kom nie. Dan sal sy ’n getuigskrif nodig hê.
Alles is so anders die laaste tyd. Haar rus en tevredenheid is weg, en die soet, bekende getreur oor Dawid. In die plek daarvan het ’n maling van gemoed gekom, ’n onrus, ’n voortdurende afwagting dat iets moet gebeur, maar daar gebeur ook nie regtig iets nie. Die tyd is vir niks ryp nie. Die dae is wyer en die nagte dieper, asof die horisonne verdwyn het en sy self in onbepaalde ruimtes ronddrywe.
Sy eet so min die laaste tyd, kry net niks in nie, al kook Tanna die jongkool met botter en gerasperde neutmuskaat, en bak die vleisie bruin in die oond. Saans as sy vir Makkie melk, word die geskril van die bekende sonbesie in die kameeldoring ’n refrein in haar kop, een skreeuroepie wat op die verkeerde spoed gespeel word en wat boonop vasgehaak het. As sy die melk ingevat het en die son gaan rooi onder, klim sy teen die lae rantjie agter die kameelboom uit en sit op die hoogste klip tussen die aalwyne en blinkblaarbossies. Sy kyk oor die omgewing, oor die lappies gesaaides en kronkelende leivore, die wit of vaal huisies tussen vrugtebome en afgeoeste wingerde.
Sy kan die winkel en huis van oom Daan net skrams hiervandaan sien. Daar is ’n kortpad waarlangs sy stap as oom Kola haar nie op- of aflaai nie, want met die grootpad is dit ’n hele entjie. Oom Daan se werf is taamlik kaal, nie so groen rondom nie. Hy sê hy hou van oopte. Dit is seker deel van die rede waarom Molly nie hier wil bly nie, die Kaap is mos groen. Oom Kola het ’n verkyker maar sy sal dit nooit vat nie, sy is geen afloerder nie. Maar as sy tog maar ’n mot teen die Duraans se aandmuur kan wees, kan sien hoe die familie teenoor mekaar optree en veral teenoor Dawid se vrou.
Sy kom agter dat sy te lank hier teen die rantjie sit. Japie kom vroeër saans noudat hy nie meer nuus kan luister nie, te wyte aan Molly. Maar sy wil nie haastig wees nie. Sy wil stadig loop, baie sit en baie droom. Sy wil kennis dra van dinge sonder dat sy daarby betrek word. Sy wil luister na Tanna en oom Kola se geskoor met mekaar en Japie se brommende onthullings sonder dat sy een keer haar mond hoef oop te maak om deel te hê daaraan. Sy wil Makkie se wit melk in die beker laat skuim en wag dat die koffiewater op die primus kook. Sy is bang dat iemand kan vra: “Hoe was dit vandag in die winkel?” En tog wens sy dat iemand dit wil vra.
Sy wil nie sê nie. Net weet. Dat Dawid in die winkel was, en dat hy goeters op die rakke kan bykom waarvoor sy te kort is. Dat hy die potlood bo sy oorskulp inwig sodat die donker hare daaroor krul en haar so lus maak om daardie potlood net een keer self vir hom af te haal as hy vinnig iets moet skryf. Want hy skryf baie. Hy is heeltyd met sy pa se boekwerk besig, en dis duidelik dat daar ’n intensie agter skuil. Dit moet waar wees dat hy beplan om oor te neem.
Om te dink dat Dawid, die skoolseun, nou al ’n dogtertjie het wat hy agtertoe vat as sy haar beentjies toeknyp. Hy lag dan helder, met ’n stem soos ’n klok. Bina bied nooit aan om die kind agtertoe te vat nie, dis nie haar voorreg nie. Sy moet haar plek ken.
Sy het nie eers boeke gaan uitneem nie. Die wat sy het, is al oor die datum. Sy het van die winkel af gebel en gevra dat dit hernu word, sy is te besig om self te kom. Wat nie waar is nie, sy is eintlik ’n orige jukskei noudat Dawid alles so noukeurig deurgaan en behartig. Maar sy wil op die oomblik net drywe, net wees. Dit is ten minste geregverdig. Niemand kan sê, as sy sommer net bestaan, dat sy ’n ogie op ’n ander vrou se man het nie. Dat sy rusteloos op hom wag nie, al is dit net om sy rugkant te sien. Nemand kan sê, as sy weier om in sy rigting te kyk, dat sy net vir hom oë het nie. Nee, niemand kan sê nie.
Sy bind haar hare soos elke vorige môre in een dik string wat oor haar linkerskouer val. Daar is geen rede voor nie. Haar hare is net gewoond daaraan, en val reeds vanself so. Dit krul los by die punte. Op skool was dit twee vlegsels. Sy begin wonder of haar hare nog sal krul as sy dit kort sny. Mens kan soveel meer met kort hare doen. Maar vir wie tog? Sy gaan niks verander of aanpak solank Dawid hier is nie, ingeval dit lyk of sy dit vir hom doen. Sy dra niks aan haar gesig nie, en daar is ook geen rede voor nie, behalwe dat dit warm is en dat enigiets sal afsweet. Verder het sy nooit begin grimeer nie, omdat Tanna dit as “besmeer” beskou. Molly besmeer dan seker haar gesig, met rooi mond en omkringde oë.
Smiddae kom sy huis toe vir die uitgerekte etensuur, met ’n middagete van vleis en groente of rys en mieliegruis, met poeding slegs op Sondae. Namiddae is daar amper niks werk by die winkel nie. Daarom kon Bina voorheen by die werk ook sit en lees, en oom Daan het nie omgegee nie. Hy kry self sy koerant elke dag, al is dit meestal die vorige dag s’n.
Alles was so goed en rustig en reg. Maar wil sy dit terughê soos dit was? Nee, eintlik wil sy dit hê soos nou: hierdie swaar, polsende onrus, hierdie onmag om daadwerklik die hand uit die mou te steek soos sy voorheen gedoen het.
Saam met die koeler weer kom wolke. En, uiteindelik, reën. Gelukkig is die druiwe-oes reeds ingehaal, maar daar is altyd oewerboere met lusern op die lande, en lusern wil nie reën hê nie. Die eerste druppels val teen vieruur en toe hulle die winkel om vyfuur toesluit, sous dit behoorlik. “Jy kan nie in die reën stap nie,” sê Dawid. “Kom ek gaan jou gou aflaai, die bakkie staan tog buite.” Hy het voorraad in die dorp gaan haal.
“Bina is g’n potplantjie nie,” wys oom Daan kastig kwaai