se kamer en sy deur gaan oop. Die klein kamers het geverfde plankdeure, met garetolle as knoppe. Hy kom stil op ’n stoel sit. Dis ongewoon, en sy weet nie wat om te dink nie.
“Hoekom eet jy nie,” sê hy, eerder as vra.
“Ek kry nie juis honger nie. Dis die hitte.”
“Dis hierdie stappery, sê ek.”
“Oom weet ek hou onder die bome langs. Daar is genoeg skaduwee.”
Hy swaai sy gekruisde been in die wye kakiebroekspyp. “Jy moet eet,” sê hy. En toe: “Jy moet die mannetjie vergeet, ou Bienkels.”
Sy skrik yslik, en tog ook nie. Het sy nie altyd vermoed hy is ’n wyse ou man wat alles raaksien, veral waar dit haar aangaan nie? “Oom Kola?”
“Ek sê, vergeet. Die een wat sy nek deur die doringdraad steek, kan vassit. En seerkry.”
“Ek bly aan die regte kant, oom.”
“Maar sal hy?”
“Wil oom sê ek moet vlug?”
“Nee, hoe sal ek nou? Ek wil maar net sê, die lewe is langer as ’n dag. Alles verander. Wag jy maar net.”
“Op wat, oom?”
“Hoe moet ek weet? Ek weet maar net wat ek weet. En dis dat die hart vasgemaak kan word. Soos ’n boklam. En dan, later, gaan dit weer beter. Nooit heeltemal oor nie, hoor jy, maar beter.”
Toe weet sy dat hy ook iemand liefgehad, en verloor het. Hy, die sogenaamde ou nukkebol. Sy gee hom haar soetste glimlag, want sy weet dit kon hom altyd vermurwe. “Dankie, oom. Gaan rus nou maar weer.”
Toe hy weg is, gaan Tanna se deur oop en haar kop met die kastrolletjie-geknipte hare kom te voorskyn. “Wat het ou Kool dan gesê, Binatjie.”
“Sommer, Tanna.”
Snaaks genoeg, is Tanna doodtevrede. Sy skiet net een flou skoot af, bedoel om ook deur hom gehoor te word: “Dis ook oor hy so baie nonsens praat dat hy nooit tot sterwe sal kom nie.”
Oom Kola het gehoor, en roep terug: “Sê jy, ou Antjie, wat met een poot in die graf staan.”
Wat nie waar is nie, want hulle is eintlik albei fris en gesond en nog nie te oud nie. Maar dis die regte troos. Bina voel stukke beter toe sy ’n rukkie op haar warm bed gaan lê voor sy terug winkel toe gaan.
4
Die ontvangs van die jong dominee word toe vir Tanna ontsê. Oom Kola het botweg geweier om hulle te vat, en Bina het op haar beurt geweier om saam met Japie-hulle te ry. Oom Daan Duraan het nie gevra of aangebied nie, en ook maar beter.
Oor die algemeen beter dat sy bly, het Bina besluit. Sy sien nie kans vir mense nie. Die half grappige, half neerhalende manier waarop oom Kola en Tanna gegroet word, en sy is immers hulle aangelapte kind, sonder bande of agtergrond. Sy weet hoogstens dat daar respek vir haar oorlede ma was, en dat haar pa glo ’n vriendelike man is, of was.
Nee, laat hulle drie randfigure maar liewer saamskaar. Al is dit merendeels ’n geval van twis en kerm, is hulle tog veilig by mekaar. Mens weet ook nooit watter onbeskofte antwoord oom Kola kan gee op ’n ondeurdagte groet of opmerking nie.
So kom dit dat die nuwe dominee eerste by hulle uitkom. Nie dat hy wyksbesoek beplan het nie, anders sou die ouderling hulle gewaarsku het. Die een in oom Daan Duraan se plek, want oom Daan het glo gevra om ’n jaar of twee nie herkies te word nie. As dit amptelike besoek was, sou Japie ook vooraf kom vertel het, want met tydings uitsnuffel, is hy beter as ’n windhond.
Ook maar beter dat die besoek onverwags was, anders het oom Kola dalk sommer ’n koers ingeslaan tot die ongewenste besoeker weer weg is. Bina, wat die rusie met die vorige leraar onthou, is angsbevange dat dit weer kan gebeur.
Wat sy afgewag en gevrees het, gebeur dus sommer so onverhoeds. Sy het om vyfuur van die werk af gekom en besluit om eerste te gaan melk, vir ’n vroeë aandete, sodat sy haar lyf skaars kan hou as Japie opdaag. Haar kamer en bed, hoe eenvoudig ook, is ’n hawe van veiligheid. Dit behoort net aan haar, dit berg haar gedagtes en haar hartseer, dit vra nie vrae of maak nie verwyte nie.
Daarby het sy ’n nuwe boek wat mevrou De Wet, die bibliotekaresse, spesiaal vir haar gehou het. Dis uit Duits in Engels vertaal, die verhaal van drie geslagte vroue in Europa tussen die twee Wêreldoorloë. Dis veral Ilona, die beeldskone ouma, en haar destydse verhouding met die tragiese dog wyse prins Taszilo Kontowski, wat haar ure lank kan meesleur. Dit leer haar, soos alle goeie boeke, dat probleme universeel is. Haar klein leed is nie eerste of laaste op aarde nie. Haar algehele begrip van die lewe word verruim.
Sy is dus by Makkie besig toe sy ’n ligte gedreun op die voorwerf hoor, soos ’n motor wat stilhou. Oomblikke later roep Tanna oor die onderdeur: “Binatjie, kry dan klaar. Die dominee is hier.” En, meer vir die besoeker om te hoor: “Ek het vir hom gesê jy melk nog die bok.” Die man lag nou seker in sy mou. Dorpenaars sit saans hulle melkbottels uit met ’n koepon daarby, en kry soggens vars voorraad by die agterdeur.
Maar sy is meer bekommerd oor oom Kola se reaksie. Tanna is so eenvoudig van hart dat sy oor niks aanstoot neem nie. Vir haar is ’n predikant ’n onaantasbare wese en wat hy bo of onder die kansel sê, is evangelie. Daarom het sy haar nie vir die vorige dominee se gekrap in hulle sake vererg nie. Maar oom Kola is ’n ander saak. Hy het laas gesweer dat hy enige “kastige herder” wat weer sy bek hier kom rek, van die werf af sal jaag. Dis eintlik Tanna se werf, maar toe maar.
Sy moet verby die besoeker loop om die melkbeker in die paraffienyskas te sit. Hy staan beleef op. Dis tog sleg dat hier, ter wille van drie slaapkamers, geen sitkamer is nie. Sy knik net eers: “Middag, dominee. Ek groet nou-nou.” Tog weet sy met een oogopslag presies hoe hy lyk: middelmatig gebou, gemaklik aangetrek, meer mooi as lelik, kort hare wat boontoe groei, met ’n duidelike donker V op die voorkop. Opmerksame, half verwonderde oë.
“Hallo, juffrou.” Hy staan hoflik op. “Of moet ek sê Binatjie.” Sy oë terg effens.
“Net Bina, dominee.”
“Wel, -tjie ofte nie, ek hoop daar kom koffie saam met daardie vars melk.”
“Ons kan ’n plan maak,” sê sy en bied hom nou haar hand wat dalk na Makkie ruik. Oom Kola lyk stuurs genoeg, maar bly darem sit, effens dwars gedraai op die regop stoel. Daar is nie juis gemakstoele nie.
“Elzar met ’n z,” stel hy hom bekend. “Enslin.” Asof almal nie teen hierdie tyd sy van weet nie. “Moet dit net nie vinnig probeer sê nie, dan knoop jou tong.”
“Ek is nie van plan om te probeer nie,” verseker sy hom en kry ook ’n stoel. Hulle vier sit ewe regop in ’n halfmaan.
“Die mense wil nog nie aan voorname vir die pastoriemense byt nie,” gesels hy, “maar ek sien dit vir almal kom. Hulle moet maar gewoond raak. Aan my klere ook,” en hy beduie na sy koel wit kortmouhemp. Geen pak, das of baadjie nie. O, hy kan maklik teenspoed optel, voorsien Bina. Die vraag is of dit hom sal seermaak. Sy het soveel ontsag daarvoor, want sy weet hoe dit voel. Maar om mens te wees, is seker om seer te moet kry.
Dis waar, dit sal eintlik snaaks wees om hom formeel aan te spreek, want hy lyk inderdaad jonk, veral met ’n paar swart sproete op die bowange, soos ’n seun wat dikwels buite kettie skiet. Maar as hy na matriek gaan studeer het, moet hy al halfpad in die twintig wees. Dalk lyk hy meer ongedeerd as jonk.
“Dis nie offisiële huisbesoek nie,” gesels hy. “Ons kom nog, ek en die ouderling. Ek ry maar so in vrye tydjies rond. Sommer op elke afdraaipaadjie. As ek ’n voordeur sien oopstaan, hou ek stil.”
“Waar was dominee dan nog oral?” waag Tanna.
“Nie vanmiddag iewers nie, ek kom van ’n vergadering af en het uit my warm pak geklim. Die rivier oorgesteek, sommer gery. Mens kan jou in die groen paradys verlustig. Met vaal rantjies tussenin. Baie mooi wêreld.”
“Ek wil net sê, by rustende ouderling Duraan is