ook afsloof, ou Bienkels. Ons kan mos swart koffie drink as die melk opraak.”
Sy verborge simpatie verdiep net haar weemoed. Beskimmeld sit sy aan tafel vir die vroeë aandmaal wat deels uit die Duraans se kombuis kom. Ja, dink sy, swart sal ons drink as die melk opraak, en dit sal nie saak maak nie. Niks sal saak maak nie. Want Dawid is op hierdie oomblik onder dieselfde dak as sy vrou. En hoe hulle skoorsteen ook rook, hy sal slapenstyd maar weer witvoetjie by haar soek. Hulle sal in dieselfde bed lê, warm teen mekaar. Verder wil sy nie dink nie.
“Dankie, oom Kola,” sê sy net. Hy sal weet waarvoor alles. Haar neus is toe, wat vir Tanna laat kloek: “Dis die natreënery. Kool Estruis, ek het gesê jy moet vroeër ry om haar te kry. Maar nee, toe sit jy soos gewoonlik en slaap. Kyk nou net, sy is klaar onlustig. Sy is koors aan ’t kry. Dubbele longontsteking. Dit het jy nou daarvan, Kool Estruis.”
“Stil jy, ou Antjie. Wat het jy altemit gedoen? Nie eers aandkos gemaak nie. As Rykie Duraan haar nie ontferm het nie.”
“Nou praat jy jou los, en Binatjie is doodsiek.”
“Ek makeer niks, Tanna. Ek is net moeg. En die reën is heerlik.”
Wegkom, dink sy. Hoe gaan ek van hulle af weg, en waarheen? Die plan om te studeer het koud geword, en die destydse skoolhoof is ook weg.
As haar pa in Johannesburg is, kan hy haar daar touwys maak wat werk en verblyf betref. Sy sal niks verder vra, nie by hom in die huis probeer intrek nie. Dis die minste wat hy vir haar kan doen. Maar waar en hoe vind sy hom? As hy werklik posorders vir haar onderhoud stuur of gestuur het, dan beteken dit dat Tanna besonderhede van hom moet hê. Tensy sy elke keer alle spore vernietig.
Maar haar pa is ’n ver, vae spook uit die verlede. Vir haar het hy nie eers ’n gesig, ’n stem, ’n reuk, ’n lyf nie. Sy wil hom nie soek of sien of hê nie. Al mense vir wie sy wil hê, is oom Kola en Tanna.
En vir Dawid.
3
Japie is in die sewende hemel.
Dae aaneen kan hy nie uitgepraat raak oor die middag toe Bina vermis was nie. Hy het van sy werk af gekom en dit het verskriklik gereën, so erg dat hy nie die lug van die aarde kon onderskei nie. Toe dog hy by homself: Vandag is die dag wat hy vir Bina O’Connell by die werk moet gaan oplaai, reg voor oom Daan se winkel, anders loop sy in die reën en kry bronkaaitis. Nie net Bina sou dankbaar wees nie, maar ook oom Kola en Tanna, omdat hy die enigste een was wat verder gedink het as wat sy neus lank is.
As dit nie vas dat sy “whaaipers” vasgesteek het nie, sou hy ook betyds gewees het. Maar toe moet hy eers in die verskriklike wolkbreuk uitklim en die goed met die hand aanhelp. Toe hy eindelik by oom Daan se winkel kom, staan alles morsdood verlate. “En ek jaag oor die rant dat die water in walle onder my wiele uit spat, want ek reken toe so, ek sal jou mos halfpad kry, Bina. Tot by julle huis, geen teken nie, toe moet ek maar eers omdraai huis toe anders bekommer my ma haar morsdood oor my, en ek moet ook die koei melk en alles.”
Japie se storie groei aand na aand as hy kom kuier. Sy heldedaad word so groot dat dit blyk hy het Bina van verdrinking uit die rivier gered. Hoe dit moontlik sou wees, met die rivier ’n kilometer verder en totaal uit haar pad en nie eers in vloed nie maar laag op die sandbanke, blyk nie duidelik nie. Japie moet sy eie nuus fabriseer noudat hy as gevolg van Dawid se vrou nie meer draadloosnuus by die Duraans kan luister nie.
Op die ou end vererg oom Kola hom bloedig. “Sal jy nou ophou twak praat, Kleinveld. As jy soos ’n simpel ding wil rondjaag met jou hoenderstellasie-mouterding, moenie maak of dit van goedgeid of slimgeid was nie. Bina, gee sy koffie dat hy sy koers kan kry.”
Japie runnik. “Oom Kola is weer vol dingetjies vanaand. Ek weet nie hoe Tanna dit met hom uithou nie.”
“Sy hou nie met my uit nie, dis ek wat met haar uithou.”
En aanmekaar is oom Kola en Tanna weer, sodat Bina die vrede moet probeer lap en stop. “Die water kook. Bietjie lekker koffietjies vir almal?” Sy hou haar opgeruimd, al word haar hartseer elke dag groter. Want Dawid is nou voltyds in die winkel en oom Daan wys vir hom die boeke en alles. Hulle werk in byna grimmige stilte, sonder Dawid se gewone opgeruimde lagstem, sodat Bina wonder wat presies aangaan.
Sou Japie dalk iets weet? Wat hy nie op die stasie hoor nie, hoor hy by sy ma. Terwyl die ketel op die primus sing en sy die gevlekte linnekoffiesak op die erdeketel pas om koffie uit die blik af te meet, spits sy haar ore vir wat hy nog kan weet. Dit gaan oor die ontvangs wat vir die nuwe dominee gereël word. Die jong een wat nog nat agter die ore is, en sonder ’n vrou wat die werk kan doen. “Ma sê hoe sal so ’n snuiter die rusies in die gemeente kan oplos en sal hy nou die Skrif kan uitlê?”
“My heiden, Japie,” sê Bina vanuit die kleinkombuis, “dis waarvoor hy jare lank geleer het. Hy ken die Skrif.”
“Maar wat van die dwarstrekkery?” troef Japie haar. “Kyk nou soos in oom Daan se huis, ta’ Rykie en Dawid se vrou sit g’n langs een vuur nie en as hulle nou hier kom intrek …”
“Dan wat?” vra oom Kola uitdagend. “Hou jou neus uit anderman se sake.”
Bina se hande staan oomblikke lank stil. Is daar vir haar nooit en nêrens wegkomkans van Dawid Duraan nie, moet sy die res van haar lewe slyt om haar ore stomp te luister vir ’n woordjie oor hom?
Tanna se nuuskierigheid oor die nuwe dominee se ontvangs is nie bevredig, met oom Kola se inmengery nie. Sy wil self die saak by Japie se ma gaan uithoor, en Bina moet saamgaan, laterig Sondagmiddag. Bina willig in, nie dat sy ’n keuse het nie. Sy gaan saam dat Tanna nie alleen hoef te stap nie, maar ook uit ’n onblusbare drang om tog dalk via tant Miemie Kleinveld meer oor die Duraans se sake te hoor. Soos dit ’n sakeman betaam, hou oom Daan sy kaarte dig teen sy bors. Indien daar sprake is van Dawid se intrede, lek geen woordjie daaroor uit nie. Dis eerder ’n atmosfeer wat in die winkel rondhang.
Miemie Kleinveld is effens hardhorend en praat in ’n raserige stem, asof dit haar hoorders is wat doof is. Sy klim ook amper by jou mond in soos sy luister, en praat dan sommer die laaste stukkie van elke sin klaar voor jy self daarby kan uitkom. Daarby is sy baie lief om elkeen wat kom of gaan, met ’n dubbele druksoen te groet. Dis een van die redes waarom oom Kola nooit loswerk hier wou doen, selfs toe haar man nog gelewe het nie. Hy haal vir Salomo aan, dat die soene van die vyand oorvloedig is.
Japie as werksman is nie veel werd nie, daarom behartig haar ouer seun alles, maar hy woon nie self hier nie. Die huis het ook nie vir nog ’n gesin plek nie. Dis feitlik net een lang rousteenvertrek met ’n slaap-, sit- en kookdeel, nogal gesellig deurmekaar hoewel nie te skoon nie. Japie het die voerkamer vir hom ingerig. Maar daar is ’n geil druiweprieel wat die woonplek se voorkant versag en wat nou, met die aanvang van die herfs, pragtig verkleur. Die gevalle blare wat so in die Sondagmiddagwindjie ritsel, gee aan Bina ’n hartsverlore gevoel van eensaamheid.
“Ek sê, Miemie, Binatjie het so aangehou dat ons vanmiddag ’n bietjie …”
“ … ’n bietjie moet oorkom,” raaspraat tant Miemie. “Dis reg ook, sy is so erg oor Japie.” Sy vat vir Tanna vas vir die dubbele druksoen. Bina sien van agter net hoe Tanna soos ’n wipstertmier spook om los te kom.
Dit duur glad nie lank voor die gepratery oor die Duraans gaan nie. “Heidendom, Anna, Japie vertel my dan Dawid se ou vroutjie het hom verwilder toe hy net ewe onskuldig wil gaan sit en draadloos luister. Hy gaan mos elke aand en jy weet hoe erg Daan en Rykie oor hom is.”
Japie wat ook in die geselskap sit, straal van trots hieroor, nadat hy eers uit sy ma se mond moes verneem hoe erg Bina oor hom is. Almal weet tog die Duraans duld hom net omdat hulle self sulke ordentlike mense is, weet Bina egter.
Tant Miemie raas voort: “Jy weet, Anna, ek was nou die dag daar, en Rykie sê niks, maar ek kan sien trane is haar brood. Om te dink haar deur het vir die merrie oopgestaan. Hoe lank kuier hulle nou al, gaan dit nie ’n maand se koers toe nie? En Rykie moet haar van kop tot tone bedien. Japie sê sy is nog half-Ingels ook.”
Sy is net so min Engels soos ek,