dankie, oom,” weier sy byna oorhaastig. “Ek loop graag in die reën.”
“Wag dan net dat dit bietjie afbreek, kom solank oor na ons toe. Gaan bêre maar die bakkie, Dawid, ons stap sommer, ek en Bina is ewe lief vir die nat op ons koppe.”
Kan dit wees dat oom Daan ook praatjies probeer afkeer? Dat sy tog nie saam met Dawid moet ry nie? Hy, die man wat altyd sag praat, in sy fynerige stem, wat nooit iemand probeer verkul nie en wie se skaal altyd reg weeg. Sy brilglase blink as hy opkyk, sodat mens nie maklik in sy oë kan lees wat hy dink nie. Hy hou sommer ’n platgedrukte kartonboks oor hulle koppe. Sy koes saam met hom huis toe, vreemd teensinnig en tog opgewonde oor die geleentheid om die hart van die huishouding te betree noudat Dawid-hulle ook hier is. As sy maar net gou genoeg weer die pad kan vat, voordat oom Kola haar kom probeer haal.
Die huis staan teen ’n skotige opdraand en het ’n verandastoep reg rondom, wat dit yslik groot laat lyk. Van kleins af was Bina beïndruk met die huis, wat soveel plek vir die Duraan-kinders gehad het.
Hulle vee hulle voete aan die ou lorrie-verkoeler by die agterdeur af. “Ja, kom in, julle reent nat,” maan tant Rykie onnodig uit die stoof se koers. Die kombuis is broeiwarm. Sy is besig om lewer met uie in ’n pan te braai, en die geur daarvan vul die kombuis en verdring dié van die warm, klam grond buite. Oom Daan wou al ’n gasstoof koop, maar Rykie staan en val by haar Ellis de Luxe, winter en somer.
Op die rakke is “kleidjie” soos almal die stywe plastiek met die flennierug noem, en wat tant Rykie geduldig self in ’n saagtandpatroon geknip het. Dit het ’n motief van veelkleurige vrugte. Daar is die ry blink panne en lepels aan hakies teen die muur langs die stoof, die houtkis vol fynhout en dikker stompies. Alles adem ’n vreemdheid wat dit voorheen nie vir Bina gehad het nie. Sy voel so buite alles, alleen en sonder die reg om hier te wees, asof sy ’n wet oortree.
“Sit tog, Bina,” nooi Rykie Duraan.
“Dankie, ta’ Rykie, maar ek wag net dat die reën afbreek. Oom Kola kom my dalk ook soek.”
Rykie lag. “Ja, jy is die enigste een wat die ou kan sagmaak. Hy kom met min mense klaar.”
“Hy het ’n goeie hart,” verweer Bina.
“Ja, dis waar, hy sal iemand ’n guns doen, solank daar nie oor gepraat word nie. En hy het ook nie ’n lui haar op sy kop nie.”
Bina vermoed dat tant Rykie en oom Daan van die min mense is wat nie aanvaar dat Tanna en oom Kola soos getroudes lewe nie. Anders steek hulle dit goed weg.
Buite suis die reën, en hier binne sis die vetterige sousies in die pan op die swart stoof. Molly en die kind is tot dusver nie te sien nie. Dawid het die bakkie gebêre en kom binne. “Nou sit jy tog maar vasgekeer hier by ons ou klomp, Bina,” lag hy.
As hy maar weet dat sy nêrens anders vasgekeer sou wou wees nie. Of nee, hy moenie weet nie. ’n Goeie skoot reën het hom van agter bygekom en die dun somerhemp klou aan sy blaaie toe hy na sy ma toe draai. “Allawêreld, Ma, dit ruik lekker. Maar Ma moet tog leer dat Molly nie lewer of enige binnegoed eet nie.”
“Dan moet sy maar ’n stukkie brood eet,” antwoord tant Rykie stroewerig. “Ek het gebak.”
“Sonder semels, Ma? Onthou sy eet net fynbrood.”
Rykie antwoord nie, en dit praat harder as tale. Toe sy spens toe loop, volg Dawid haar. Hy begin in ’n dringende fluisterstem praat, met sy ma wat in ’n lae stem kort-kort teenwerpsels lewer. Bina probeer om nie te luister nie, maar haar ore spits vanself. Sy hoor grepies: “ … het Ma nou al …” “… genoeg kinders grootgemaak, Dawid …” “… ek sal mos ook hier wees, Ma …” “Hoe sal ek nou ook … inmeng … van een duiwel twee maak …” “Asseblief, Ma, ek sal …” “…antwoord bly nee …”
Kan dit waar wees? Pleit Dawid by sy ma om die kind vir hom te help grootmaak? Hier? En Molly, wat van Molly? Die antwoord kom taamlik hard en duidelik toe die mooi krulkoppie vanuit die gang die kombuis binnegestrompel kom, reguit na Bina toe. Sy ken immers al hierdie tannie, daar in die wonderwêreld van oupa se winkel, en sy weet die tannie druk soms iets te ete in haar mondjie, vee haar taai handjies af.
Bina se reaksie is ewe spontaan toe sy haar hand uitsteek om die wankele treetjies op koers te probeer hou. Maar die volgende oomblik warrel ’n furie binne in die vorm van Molly, wat verontwaardig haar kind kom weggryp, so bruusk dat die kleintjie verskrik aan die skreeu gaan. Oom Daan was sy brilglase aan ’t blink vrywe met sy sakdoek, en hy werk net vinniger. Dawid en sy ma bondel tegelyk in die spensdeur. Dit alles sien Bina soos flitse.
“Jy los my kind uit, hoor jy?” Molly moet haar stem verhef en sy gluur vir Bina aan asof sy die kind die grootste kwaad wou aandoen. In die bohaai is Bina sonder woorde. Toe sy wel praat, berou sy dit dadelik, want dis giftige woorde: “Moet jy nie Engels praat nie?”
Nog ’n warreling, en die ma is met kind en al weg, die diep huis binne. Bina besef die omvang van haar flater toe die twee ouer mense en Dawid elkeen ’n glimlag probeer wegsteek. Dalk het nie een van hulle nog die moed gehad om Molly so op haar plek te sit nie.
Daar kon geen groter verligting kom as dat die bekende ou bakkie die opdraand opgery kom nie. “Hier is oom Kola nou,” kondig sy onnodig aan en staan ook sommer deur se kant toe.
“Wil hy dan nie bietjie inkom nie,” huiwer oom Daan, duidelik onwillig dat iemand hierdie gespanne atmosfeer moet betree. Hy moet tog ook weet dat oom Kola nie van los kuiertjies hou nie. Kom oom Kola haar haal om te keer dat Dawid haar aflaai? Tant Rykie bied haastig aan: “Vat dan ’n bietjie lewer vir ou Kola en Anna saam, dan hoef jy jou nie nog vir ete uit te sit nie.” Sy begin sommer skep in ’n erdebakkie met ’n deksel en draai ’n vadoek om. Bina wil nee dankie sê, maar dit sal net nog ’n affront wees. Die mense hier rond gee graag ’n ietsie saam, dis die vaste gebruik. Maar die seerkry knaag in haar. Sy weet wat Molly eintlik wou sê: Jy los my man uit, hoor jy.
En sy dink, terwyl oom Kola se ou bakkie haar stampend oor die reënwasige rantjie voer: sy moet gouer wegkom as wat sy gedink het, en verder weg ook. Nie net dorp toe nie. Sy sal haar tuiste moet opgee. En juis vanaand is alles so knus en bekend. Die reën het die geure van die kleipleistering en rietdak losgemaak. Tanna kloek tevrede oor die lewer en ontevrede oor Bina se welsyn, asof sy in ’n tornado vasgevang was. Sy raas omdat oom Kola nie vroeër gery het nie, “nou moes sy by die Duraans gaan sit en ginnegaap, en die ou vroutjie van Dawid is juis so onsmaaklik, vertel Japie my.”
Bina wil kreun: Japie. Dis te veel gehoop dat die stortbui hom sal wegkeer. Buite reën dit nog sag, en sy sien hoe die klam rooi bougainvilleablommetjies by die voordeur spelerig aan die ranke klou. Dis die enigste blomme op die werf. Sy versamel altyd dié wat afval en droog rondritsel. Sy knip dit en hou dit in ’n boks onderin haar klerekas. Sy het dit eintlik begin doen vir die mollige weduweetjie Malie Rossouw, wat weer sou trou en dit as konfetti wou hê. Maar die man was ’n nikswerd rondloper, wat op listige wyse haar man se klein erfporsie uitgemors en toe padgegee het. Maar uit gewoonte doen Bina dit steeds. Dalk moet sy ophou, en die ou voorraad weggooi voor dit verbleik en dalk goggatjies kry.
Die harde neerslag het die ballerjak op die voorwal gekneus, en die skerp kruisementgeur hang in die lug. Hoe bekend en gelief is alles tog. Sal sy dit ooit regkry om weg te gaan?
Sy vat die groot erdebeker en gaan uit om vir Makkie te melk. Oom Kola het haar onder die afdak vasgemaak teen die reën. Die liewe swart bokooi wil nie lekker sak nie. Is dit omdat sy nie op haar gewone plekkie op die voorwal staan nie, of omdat sy agterkom dat haar melker gespanne is?
As Dawid tog maar vanaand in plaas van Japie kon kom. Al sit hy in die verste hoekie en gesels met oom Kola, wat nogal van hom hou omdat hy nie ’n windlawaai is nie. Of as hy en sy saam in lamplig kon sit, al is dit aan weerskante van die tafel. Verder as dit durf sy nie dink of droom nie.
“Makkie wou nie juis sak nie,” vertel sy toe sy die halwe beker bokmelk op die kombuistafel neersit.
“Ja’k,” sê oom Kola, “sy is dalk ook aan ’t opdroog.”
Sy