Christine Barkhuizen-le Roux

Drieklawerblaar


Скачать книгу

gehad. Die toestemming daar­voor sou nie ’n probleem wees nie.

      Hý, dokter Ludick, het haar na sy spreekkamer laat kom toe hy die bedanking kry. “Jy was nog altyd koelkop, ’n redelike mens, Kate. Wat is dit dan nou van ’n bedanking so uit die bloute?”

      Sy kon kwalik met hom gepraat kry die middag. Op die ou end vol­staan met iets soos: “Ek vertrou nie meer my eie professionaliteit nie.”

      Hy het haar daar laat sit en sweet; gesê nie hy, óf sy, gaan êrens heen voor hy die hele storie gehoor het nie. Op langelaas het sy hortend begin vertel wat haar weke na die voorval steeds snags laat wakker lê.

      Sy het afgekyk op haar skoot terwyl sy praat, haar woorde gesmoord in die somerwarmte van die vertrek. Hy het haar nie in die rede geval nie; af en toe het sy hom hoor keelskoonmaak. Toe sy klaar was, het hy gewag tot sy opkyk voordat hy gepraat het.

      Hy het oorgeleun na haar, tussen die silwerwit hare kon sy sy kop­vel sien deurskyn. “Niemand, nie ’n siel, het iets oor hierdie saak gerep nie. Die Maandagoggend toe ek by die hospitaal kom, het ek Matrone se inskrywing gesien; ons het twee of drie minute oor die geval gepraat. Maar niemand het enigiets genoem van ’n ongerymdheid nie.”

      Hy het afgekyk na sy vingers, die smal, sterk hande wat sekuur en fyn met ’n operasiemes kon omgaan. “Kate, is jy nie te hard op jouself nie? Ek ken jou oor die dertig jaar; nog altyd was jy een van die betrou­baarste susters wat ’n mens maar kan verlang. Ons het byna dieselfde tyd hier begin, dieselfde leerskool deurgemaak. As daar gepeuter is – ek weet dit kon nie jy gewees het nie. En om nou terug te gaan op die saak, om die personeel wat die nag aan diens was te ondervra, sal vir niemand iets beteken nie.

      “Vergeet daarvan, vergeet van so iets, of probeer ten minste. Jou reputasie by Midlands was nog altyd bo verdenking. Ons het jou vaar­digheid en kennis hier nodig; buitendien, suster Visagie wat net onder Matrone is, tree af. Sonder jou is ons dan regtig verlore.”

      Sy het haar eie voetstappe gehoor toe sy die middag wegstap uit die hospitaal, weg van die verweerde buitemure met die afgedopte wit verf. Soveel jare was hierdie plek haar hawe, haar wegkruipplek. Hier kon sy bloed stelp en wonde toewerk, pasiënte probeer gerusstel oor die noodsaaklike en wrede ingrepe op hulle liggame.

      Maar sy kon nie aanbly nie; minder nog kon sy dokter Ludick vertel van die onrus wat sy met haar saamdra. Selfs ’n algehele bloedoortapping sou haar nie kon skoonwas van dit wat sy met DNS en moedersmelk ingekry het nie.

      Haar bedanking het die middag op die superintendent se lessenaar bly lê. Deur die blindings agter dokter Ludick se stoel het die skadu van die bloekom voor die venster op die woorde geval: Hiermee wens ek …

      Sy het tot laat die middag agter haar huisie bly sit, tot ná die donker oorgeneem het. Niks sou haar oortuig om die betrekking weer op te neem nie, al was die hospitaal ook hoe kort aan personeel.

      * * *

      Die wete waarmee sy loop, iets veel dieper as die gebeure by die hos­pitaal, kan sy ná gister en vanmiddag in die kerk nie langer ignoreer nie. Soms, in die nagte wanneer sy wakker lê, die vensterrame bo en onder oopgeskuif sodat die lug kan deurtrek, wonder sy: kan ’n mens iets regmaak wat jy nie self verbrou het nie? Is dit soos Afrikaners ook voel? Dat almal, ook die jongste geslag, ly aan kollektiewe skuld; dat hulle moet jammer sê oor wat gebeur het, al het hulle nie self deel gehad aan die onreg van apartheid en die nawerking daarvan nie?

      Maar ’n mens se bloed dra die reg én die onreg in jou are. So spreek die Bybel. Die onreg en sondes van die vaders word besoek aan die kinders, van geslag tot geslag. Soggens wanneer sy steeds oopoog lê en staar, hoor sy die uil in ’n boom ’n paar strate verder op roep.

      Die dinge van gister en eergister sit met weerhake in haar wese. Sy wou ook nie trou met Dewald van Greunen wat haar lank gelede vir meer as twee jaar probeer oortuig het om sy ring te aanvaar nie. Al was hy ’n internis wat saam met haar lewens probeer red het en al het hulle soos ’n tweeling by mekaar gepas.

      Ná haar bedanking twee maande terug het sy nog eens geweet: sy het reg besluit destyds. Dis beter dat Dewald padgegee het Johannesburg toe en met die fisioterapeut getrou het. Iemand wat met die kennis in haar brein en haar hande die knoppe uit medemense se lewens kon wegmasseer.

      By Mathilde se hekkie staan sy ’n oomblik stil. Haar vingers bewe toe sy die hingsel oopmaak, haar binnekant is wiebelrig soos dié van ’n mens wat die eerste keer in ’n boot op see kom. Sy voel skuldig, asof sy misbruik maak van Alex, maar wie anders kan sy vra? Sy is nie geskool in hierdie kuberruimte-hede nie. Sy druk die knip af, stoot die hek oop; dit skree piepend soos sy dit oop- en dan weer toedruk. Mathilde se man is vyf jaar terug dood; wie olie die skarniere, wie vervang jou gloeilampies as daar altyd iemand was wat dit kon doen? Of hoor sy nie die gekerm van die hekkie nie?

      Vir ’n wonder kry sy die seun buite onder die prieel – sonder oorfone.

      “Sal jy my help, Alex?” vra sy sonder om eers middag te sê. “Asseblief? Ek moet vanmiddag nog ry. Wat jy gistermiddag gesê het oor die man in die Klein-Karoo – ek kan nie anders nie. Ek kan ook nie verduidelik nie. Maar jy ken die internet en Google en al daardie goed. Kan jy nie asseblief vir my kyk waar ek blyplek naby daardie wild­plaas kan kry nie? Barrydale is mos daar naby? Of Riversdal?”

      “Sharp, suster Kate. Moenie worry nie, ek gaan sommer nou kyk. Ek sal jou kom sê wat ek gekry het, jy kan maar jou goedjies gaan pak, ’n blyplek sal ek kry. Maar vir hoe lank? En wat nou van Suster se Cork-toe-ganery?”

      Sy’t klaar na die hekkie begin loop, maar draai ’n halfslag terug. “Ek weet nie, Alex, dit moet eers bly. Ek weet jy het my alles help uitsoek, maar nou moet ek eers Klein-Karoo toe. Miskien net vir ’n paar dae, of dalk vir lank. Ek het geen idee nie. Maak dit sommer twee weke. As ek vroeër moet weg, dan skryf ek maar die ekstra geld af.”

      Die klere glip onder haar hande terwyl sy inpak. Wat vat sy? Wat los sy? Hoe is die weer dié tyd van die jaar in die Klein-Karoo? Herfs. Soms baie warm nog, soms te koud om sonder trui of baadjie te loop? Die weer is niemand se maat nie. Ook nie dié van die weervoorspellers saans na die nuus nie.

      Sy skakel die ketel aan, gooi solank twee lepeltjies van die Jacobs Krönung-kitskorrels in die beker. Dokter Waterfall het haar die eerste keer skeef aangekyk toe hy die flessie koffie in haar kantoor sien: “Duits!” Maar later het hy hom ook die troostende geur laat welgeval na ’n lang teatersessie.

      Terwyl sy wag vir die water om te kook, gaan staan sy in die gang. Lang jare terug het haar ouma een Saterdag op ’n bankrotvendusie ’n afdruk van die Angelus-skildery van Millet gekoop en die aand vir haar sit en vertel hoe die mense met geboë hoofde op die lande gestaan en bid het wanneer hulle die kerkklok hoor slaan. “Om die Here te hoor. Om erkenning te gee aan sy almag, sy genadegawe waarvan ons elke dag nog eet.”

      “Hoekom,” het sy later op vyftienjarige ouderdom wysneusig vir ouma Sarah gevra, “hoekom het Ouma dit eintlik gekoop? Mamma sê dis van ’n Franse skilder en dit het met hulle godsdiens te doen, niks met Ierland of ons nie. Ook nie met Suid-Afrika nie. En meneer Pieterse van ons aardrykskundeklas sê die mense staan by ’n kissie van ’n dooie kind en dat Dali, hy was ’n skilder met ’n snor, gesê het …”

      “Dit kom nie daarop aan nie,” het haar ouma geantwoord, haar hande op die raam van die prent met die biddende mense, “dis dieselfde geloof, dieselfde Here. En dié vent met die snorbaard, wat kan hy weet van ’n kind wat dood is?”

      Kate druk haar hand agter die prent teen die muur in, lig die toutjie van die haak. Dis hierdie God, die God van die Angelus, die Een wat alles sien en alles weet, wat snags met haar praat. En nou, veral in die tyd nadat sy weg is van die hospitaal, noudat sy die vrees al hoe feller in haar voel woeker.

      Sy moet die plek waar die Marais-man bly, gaan soek. Sy het haar lewe daaraan gewy om siek mense te versorg en op te pas, maar dit het die skuld nie weggeneem nie. Die dubbele skuld, maar waarmee sy vir Abel Marais miskien ’n ander kant van die verhaal kan laat sien.

      Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat …