die Saterdag in die koerant gesien het. ’n Onderhoud eintlik, waarin ene Abel Marais gesê het dat hy ’n wild-cum-vakansieplaas op die plaas Doringboomlaagte wou vestig. En dat sy familie jare gelede hulle grond daar naby verloor het.
“Kyk vir my, asseblief,” het sy dié dag vir Alex gevra, “kyk of jy dié man se voorgeslag dalk kan opspoor? Of sy oupa se naam dalk Abraham was? En waar hy vandaan kom, waar hy gebly het voordat hy die plek in die Klein-Karoo gekoop het.”
Haar aanvoeling was reg. Sy was op die regte spoor. Abel wás die kleinseun van Abraham Bier. Maar twee jaar terug was sy nog by die hospitaal. Die stukkies aftyd om sommer die vertes in te ry was nie daar nie. En, sy het geweet: sy was self ook nog nie reg om die man van aangesig tot aangesig te sien nie. Die brokkie inligting het sy agter, in ’n ver onthouplek van haar brein, gebêre. Eendag sou die tyd kom – dan sou sy hom in die oë moes gaan kyk.
Haar koffer staan in die gang. Die Angelus het sy tussen klere toegedraai, seker gemaak dat dit nie sal breek nie. Vir oulaas loop sy deur die huis; in die kamer huiwer sy, vat die breë koperarmband van die spieëltafel af en skuif dit oor haar linkerhand sodat dit die rooi plek aan haar pols toemaak. Op die ingewing van die oomblik draai sy na haar ouma se buffet met die glasruitjies. Sy steek haar hand diep in, tot agter, en haal die porseleingoedjies uit, draai dit toe in die vorige dag se koerant wat langs die vuilgoedsak lê.
Die wolke het weggetrek wanneer sy die tas en drasak met skoene in die kar laai. Maar dit is die uur wat gekom het, al moet sy ook die fel lig in haar oë verduur. Alex het oor die heining gespring, opgewonde, kom sê dat daar ’n gastehuis is wat Doringboom heet; dat dit lyk of dit reg langs Abel Marais se plaas, Doringboomlaagte, is. En dat dit lyk of daar wel plek is. Hy het die nommer, geskryf op ’n stukkie afgeskeurde koerant, uit sy sak gehaal. Hy het ’n paar ander plekke ook genoem. Die Warmwaterberg Spa, ’n paar gastehuise op Barrydale, plekke op Riversdal. Met al dié se nommers ook.
Die vrou wat geantwoord het, was saaklik. Ja, daar was ’n kansellasie by Doringboom. En die dae nadat die mense van die vorige bespreking sou vertrek, is oop. Die veertien dae is hare. Maar sy het skepties geklink. Asof sy nie kon glo dat iemand twee weke lank in die middel van die Klein-Karoo sou wou oorbly nie.
Sy sal op Beaufort-Wes oorslaap, dink Kate. Dit sal donker wees as sy daar aankom, maar sy is nie bang nie, sy was altyd onafhanklik. Sy het nooit toegelaat dat ’n man haar voorsê wat om te doen nie.
Tussen wat haar ouma Sarah verswyg het en wat haar ma vertel het nadat sy dood is, het sy dit aangevoel – dis mans wat die wêreld regeer en mans wat vroue bring tot soveel verdriet dat hulle hul eie menswees verloor. Na haar pa se vroeë dood het ma Grace nog meer in haarself gekeerd geraak. Soms het sy, wanneer sy op haar eentjie besig was om ’n pot te skuur of die vloer te was, ouma Sarah se woorde saggies vir haarself herhaal: “Ek moes nie getrou het nie. Wat het tog daarvan oorgebly?”
Kate het na haar ma se rug gekyk. Gedink: Dan was ek ook nie hier nie. Dalk was dit dan beter.
Daar was tye nadat sy Dewald afgewys het dat sy ’n gesin gemis het, tye dat sy na ander mense se kinders gekyk het, gewens het sy het iemand of iets van haar eie. Maar dan het haar rede ingeskop.
Sy skuif die kantspieëltjie sodat sy nie heeltyd die helfte van haar eie gesig in die weerkaatsing hoef te sien nie. Die hoë voorkop het sy van oupa Jakob geërf, iets waarmee sy moet saamleef.
Die pad is nie besig nie, dis nog ’n rukkie voor die einde van die eerste kwartaal en die begin van Paasnaweek. Die skole is nog aan die gang.
Sy sit die radio aan. Tjailatyd met Amore. The truth is, everyone is going to hurt you. You just got to find the ones worth suffering for … Bob Marley se woorde dwing haar vingers na die kruis om haar nek. Kelties. Onder haar hand voel sy die reliëf binne-in die ring.
Hierdie land is in die moeilikheid. Die regering is korrup, die geld wat moet gaan na die mense wat ’n nuwe bestaan moet vind, word weggemoffel deur amptenare. Parlementariërs skree in die parlementsgebou, jou mekaar uit. Hospitale is oorvol, personeel is min en die kragkrisis het al die dood van meer as een pasiënt veroorsaak.
Matrone het haar die vorige week weer gebel, gevra sy moet asseblief terugkom, al is dit net vir ’n tydelike pos. In Matrone se oë is sy wat Kate is gesond en fiks; sy kan vir die hospitaal nog van groot waarde wees. Selfsugtig, so het sy haar genoem, en ’n ekstra skuldlas op haar skouers gelaai.
Hoe moes sy aan die gesagsvervulde vrou met die vreemd platterige gesig en prominente ken, altyd omgewe deur die reuk van hospitaal, verduidelik wat gebeur het, selfs al het dit miskien net in haar eie gemoed afgespeel. Hoe sê jy van die woorde wat jou ma by jou ingebeitel het dat jy nooit op enige manier aandadig moet wees aan ’n pasiënt se lyding of dood nie; dat jy daar geplaas is om mense se nood te verlig. En hoe sê jy vir die streng blou oë dat daar iets anders is wat jy moet gaan doen, sonder dat sy sal kan verstaan wat so dringend is. Sonder dat jy self weet wat – maar wel dat jy moet gaan bieg.
Na haar bedanking het sy haar begin besighou met die hospies op die dorp. Gewag. Haar ouma sou sê dis ’n bestiering dat die Alex-kind die naam van Marais en sy sebrakopery raakgelees het op die internet. ’n Naam wat haar ouma soms laat val het, en dan onderlangs geprewel het: “Ja, so het die bokant onder gekom, Jakob Doherty, maar waarom moes die onreg wat jy gedoen het, my ook alles laat verloor?”
Twee jaar terug toe Kate die berig gesien het oor die man wat die stuk grond gekoop het om ’n wildplaas daar te vestig, het die koerant die letters met naam en van na haar toe uitgespuug. Implisiet was daar toe al die wete: daar is nie omdraaikans nie. Dit was slegs ’n kwessie van tyd.
En gister, toe Alex so ongeërg Abel Marais se naam noem, het sy geweet, langer kan sy nie wag nie. Sedert sy daardie inligting gelees het, het die ding waarmee sy geleidelik grootgeword het, in haar nesgemaak. Maar ’n nes waaromheen die voëls onrustig heen en weer vlieg, die woning weer uitmekaar pluk en aanhoudend van voor af begin sodat daar geen nuwe lewens gebore kon word nie.
Ís dit haar verantwoordelikheid? Is dit reg dat haar ouma, en haar ma, omdat hulle dit sélf nie kon doen nie, haar hierdie plig opgelê het? Maar sal sy ooit van die las ontslae kan raak as sy versuim? En sal dit vir dié man nie ’n stuk vertroosting bring om te weet daar is nog ’n kant van die saak nie?
Dit kan tog nie toeval wees dat sy daardie berig gelees het nie. Is daar iets soos toeval? Of is daar slegs dinge wat saamval op ’n bepaalde tyd?
Agter haar, tot daar waar sy nie kan sien nie, lê die Vallei van Verlatenheid, weerskante van haar die Kamdeboo-natuurreservaat. In die truspieël sien sy Spandaukop, blou in die laatmiddaglig. Langs die pad is borde met afbeeldinge van skilpaaie om te wys dat hulle dwarsoor die pad voor voertuie kan inloop, dat jy op die uitkyk moet wees sodat jy nie die kraak van die dop onder jou rubberbande hoor nie.
Daar is ’n paar High Accident Zone-waarskuwings. Wanneer die pad reguit is, verloor ’n mens jou konsentrasie, is die kans op ’n ongeluk soveel groter. So waarsku die verkeersowerhede. Hou stil. Rus. Daar kan koedoes voor jou in die pad spring.
Voor haar strek ’n grys lintwurm; tot in die verskiet sluk dit gulsig aan die kilometers na die stuk land waar haar grootouma tereggekom het. Dit trek haar in, teen wil en dank. Ten noodsaak.
Sy laat ’n vallei van godverlorenheid agter haar, maar in haar gemoed word die eensaamheid steeds groter. Weerskante van die pad glip blouapies met wit-omrande oë wat lyk of hulle verskrik is, maar hulle onnutsigheid weerspreek die onthutste blikke. Buite Aberdeen staan daar vir kilometers ver verkiesingsborde wat mense aanmoedig om ANC, DA of SAKP te stem.
Sy ry die dorp in om petrol in te gooi; haar lyf bewe nog altyd. So deurmekaar was haar kop dat sy nie eens by Graaff-Reinet se laaste petrolpomp stilgehou het nie. Wanneer sy stilhou, stamp sy die petrolpomp liggies met die buffer. Sy ry agteruit, bevrees vir die skade aan die kar sowel as aan die pomp. Sy druk die deur oop, klim uit, gaan kyk na die wit merk wat die pomp afgegee het aan die voertuig. Sy sien die petroljoggie naderkom. “Ek is verskriklik jammer, ek het nie bedoel, ag, ek is …”
“Nee wat, Mevrou, daai’s oukei, net ’n ou stampie. Ál